Diep in sy hart besef Ben dat dit seker nie nodig is dat hy hom die verandering van personeel so erg ter harte neem nie. Maar dan, sy lewe het die afgelope jare gelykmatig en rustig verloop. Daardie eerste weke op Rondekuil sal hy – nes die res van die personeel – nie lig vergeet nie. Benewens die ontwrigting in sy persoonlike lewe, moes hy ’n geweldige aanpassing maak vanaf ’n stadspraktyk en ’n stadshospitaal na ’n plattelandse praktyk en ’n klein plattelandse hospitaaltjie.
Hy kon soms ten hemele skreeu. Maar mettertyd kon hy met sy nuwe werksomgewing vrede maak en deesdae vra hy niks meer nie as net om met sy werk voort te gaan. Die gedagte aan die ontwrigting wat die nuwe suster gaan veroorsaak, maak hom kortgebaker en knorrig. Hy is nie lus om weer van voor af te sukkel met ’n onnosel en onervare sustertjie wat nie sommer vanself weet wat hy verlang en hoe hy ’n ding gedoen wil hê nie.
’n Week later parkeer dokter Ben, soos hy op Rondekuil bekend is, en soos sy oorlede pa óók bekend gestaan het, sy motor voor die hospitaal. Dis sý plek daar in die koelte van die seringboom. Dit weet almal, besoekers inkluis. Maar vandag staan hier ’n motortjie parmantig onder sý boom ingetrek. Hy vererg hom dadelik. Wonder wie die vreemdeling in Jerusalem is. Dis ’n stadsnommer. Hy voel glad nie in die beste van buie vanoggend nie. As die nuwe suster nog nie opgedaag het nie, sal hy maar vir suster Brink inspan, en dan weet hy sommer dinge gaan weer skeefloop.
Telkens as suster Eloff met verlof was, was hy én Brink byna senuwrakke teen die tyd dat sy teruggekeer het.
Maar dis nie al rede hoekom hy vanoggend minder joviaal as gewoonlik voel nie. Hy voel tam. Hy het die hele nag met ’n kraamgeval gespook en het net tyd gehad vir bad en skeer voordat hy nou met sy hospitaalrondes en operasielys moet begin.
Ek begin oud word, dink hy grimmig toe hy begin aanstap na die voordeur met ’n laaste ontevrede blik na die klein motortjie. Diep in hom weet hy egter dat dit nie ’n nag sonder slaap is wat hom so sonder geesdrif en kort van draad gelaat het nie.
Dis of daar ’n lamlendige moedeloosheid, ’n gevoel van futiliteit oor hom toegesak het.
Miskien is dit Piet Venter se lawwe geterg, of tant Miemie se hoopvolle betigtigings, of suster Eloff se onverwagse vertrek wat op sy senuwees werk. Hy weet ook nie. Hy trek hom hierdie dinge seker onnodig aan. Dis alles goed bedoel, en hy weet dit ook en dis seker darem nie net suster Eloff wat iets van teaterwerk af sal weet nie …
Maar soms is daar ’n onverwagse leegheid, ’n ontstellende pyn oor en in hom. Hy het dit verlede nag weer ervaar en dis of hy dit nie vanoggend van hom afgeskud kry nie.
Hy was net gereed om bed toe te gaan, toe Jan Coetzer van Leliedam gebel het. Bettie het gegly en geval en volgens die simptome sou dit gevaarlik wees om haar oor die slegte plaaspad te vervoer. Die geboorte sou haar baie maklik op pad dorp toe kon oorval. Ben is inderhaas uit na die afgeleë plaas en ná ’n paar benoude ure kon hy Jan Coetzer se seun in sy arms lê.
“Toe, daar is jou erfgenaam vir Leliedam. Is jy nou tevrede?”
Die jong boer het trots op sy seun afgekyk, toe breed met die moeë dokter geglimlag. “Dit lyk my nie jy gaan ooit kinders van jou eie hê nie, dokter Ben. Gee jy om as ek hierdie knaap van my na jou vernoem?”
Die pyn het verskiet en toe hervat, maar hy het niks laat blyk nie. “Ek voel geëerd. Met graagte.”
En sedert daardie oomblik wou die dowwe pyn, die gevoel van frustrasie en verydeling nie wyk nie …
Waar Marlene hom vanuit die matrone se kantoorvenster staan en dophou, is sy ook bewus van ’n pyn waarvan sy al byna vergeet het, wat opnuut in haar begin klop. Ben …
Sy sien hoe hy haar motortjie beskou, fronsend, asof iets hom hinder, hoe hy stadig begin aanstap na die hoofingang toe. Sy eien die bekende skouers, maar tog is dit vir haar asof daar ’n geboë tamheid in hulle is wat sy nie onthou nie. Verder is die fors gestalte nog dieselfde, maar soos hy nou al nader kom, kan sy tog sien dat hy die fiere jeugdigheid al begin inboet en dat hy ’n bietjie gewig verloor het sedert sy hom laas gesien het …
Dis ’n paar arendsoë wat hom beskou en waarvan hy heeltemal onbewus is. Hulle gaan oor elke lyn van sy gesig, sien elke verandering wat die afgelope vyf jaar aangebring het, raak. Die vreemde strakheid wat sy nie geken het nie. Die stywe saampers van die lippe, die frons tussen die wenkbroue. Ben … en tog ook ’n vreemde Ben …
“Gou, suster! Jou motor staan op dokter Ben se plek. Gaan verwyder dit liewer. Ek moes jou gewaarsku het.”
Sy aarsel. Dis reeds te laat. As sy nou uitstap, sal hulle mekaar by die voordeur raakloop, en sy verkies dat hulle mekaar formeel in matrone se kantoor ontmoet. Dit sal dit makliker maak. Maar dan sien sy iets wat haar vinnig laat beweeg.
Ben loop die klein mensie byna onderstebo op die trappies voordat hy haar gewaar. Twee groot, blou oë kyk daar van onder naby die grond af op na die yslike man wat bo haar troon. Maar sy streng gesig en die hewige frons ontstel haar blykbaar nie.
Sy glimlag na hom op. “Hallo! Is jy ook ’n oom dokter, oom?” wil sy weet.
Hy beskou die mensie sonder om te antwoord. Dan hurk hy sodat die nekkie nie so ver agteroor hoef te buig nie. Hierdie gesiggie ken hy nie. Op Rondekuil ken hy ’n ieder en elk.
“Ja. Ek is dokter Ben. En wat is jou naam?”
“Ek is Tinkie. Dis nie my rêrige naam nie, maar Oupa en Ouma noem my so. Nou is ek sommer net Tinkie.”
Hy glimlag. Sy is baie fyn en klein, maar heel bekkig! “En waar is Ouma en Oupa?” vra hy uit, en sonder dat hy bewus is daarvan, klaar sy frons op. Maar terselfdertyd is dit of die pynklop hierbinne toeneem.
“Doééér in die stad. Ek het saam met Mamma gekom. Daar staan ons kar,” wys sy ewe voorbarig uit.
“So? En wat het julle hier kom maak? ’n Bietjie kom kuier?”
“Nee.” Die blonde krulle dans soos die koppie geskud word. “My mamma het vir ons brood kom werk.”
“O?” Die groot man glimlag meteens breed.
In die deur hou Marlene haar asem op. Tinkie is nes ’n opgewende orreltjie vandag. Op pad hierheen wou sy knaend weet hoekom hulle dan nou weggaan van Ouma en Oupa af. Uit skone radeloosheid het sy haar naderhand geantwoord dat sy vir hulle brood moet kom werk, hulle kan nie vir altyd op Ouma en Oupa se nekke lê nie.
“Ek lê nooit op hulle nekke nie,” het sy verontwaardig laat hoor. “Ek sit op hul skote of ek slaap in my eie bed!” Marlene het maar net moedeloos gelag. En nou is sy besig om alles oor te dra.
“Ja. Mamma sê ons lê net op Ouma en Oupa se nekke. Ons moet self werk vir ons brood.”
Die groot man moet die begeerte onderdruk om nie die klein lyfie teen hom vas te druk nie. Wat ’n oulike kind is sy tog nie …
“En wat is jou verstandige Mamma se naam?”
“Sy is net Mamma.”
“Ja, maar wie se dogtertjie is jy?”
“Sy is my kind en sy het natuurlik haar oppasster ontglip. Tinkie, weg is jy! Onthou wat ek jou vertel het, hoor? Wanneer Mamma werk, kom jy nie naby die hospitaal nie. Toe, terug, en jy loop nie weer vir Lappies weg nie!”
“Ons het net gesels!”
“So het ek gehoor. Maar dis nou genoeg,” laat sy droog hoor. Onder haar waarskuwende blik draai die kleintjie skoorvoetend om en begin onwillig wegloop in die rigting van die verpleegsterstehuis.
’n Entjie weg draai sy weer om. “Mamma, sy naam is Ben en hy is ook ’n oom dokter soos oom Herman.” Marlene knik net, hou haar blik op haar kind vasgepen, intens bewus van die groot man wat nog steeds gehurk op die boonste trappie sit, stom voor die beeld wat meteens uit die verlede in die hede ingestap het.
Dan,