Tinkie is meteens stout. “Ek is nie lus om nou al te bad nie en ek wil nie vanaand by tannie San bly nie. Mamma moet by my bly.”
“Maar jy en tannie San kuier dan altyd so lekker saam. Wat is dit dan nou?”
“Ek … is nie … vanaand lus vir haar nie. Ek wil vir Mamma hê!”
“Tinkie, jy is sommer nou net stout! Kom nou …”
“Nee! Jy is hardgebak en ek gaan vir oom dokter Ben vertel jy is vol lollery!”
Met sukkel en spook en mooipraat is sy darem eindelik gebad, maar teen daardie tyd besef Marlene dat dit nie net stoutigheid is nie. Tinkie is siek.
Tog maak sy maar gereed en kyk skaars na haarself in die spieël toe sy klaar is. Wat maak dit tog saak hoe sy lyk? As sy en Hennie alleen gegaan het, sou sy miskien nog uitgesien het na die aand. Maar met Ben en die onbekende Josephine in die geselskap …
Tinkie is reeds in haar bedjie toe die klokkie lui. Hennie stap binne, gevolg deur ’n pragtige, lang donker meisie en Ben.
“Marlene! Vanaand móét jy ja sê!”
Sy probeer saamlag, maar daar is tog ’n ligte frons tussen haar oë. Die ander twee paar oë wat op haar rus, lyk ook nie juis geamuseerd nie.
“Pasop! Netnou sê ek regtig ja en dan sit jy in die knyp. Wil julle nie binnekom nie?”
“Net ’n oomblik sodat ek Josephine aan jou kan voorstel.”
Sy neem die eksotiese skoonheid se hand en haar hart krimp. Geen wonder Ben het in haar teenwoordigheid ontdooi nie! Agter die meisie se rug ontvang sy net ’n vae kopknik van hom.
“Ons kan maar gaan. Ek wil net gou by Tinkie inloer. Sy is ’n bietjie koorsig vanaand. Verskoon my, asseblief.”
Toe sy oor die bedjie buk, voel sy meteens iemand langs haar en Ben se gesig is baie naby hare toe hy sy hand uitstrek en liggies oor die klein keeltjie streel.
“Sy is koorsig en die kliertjies in die keel is taamlik geswel. Sy slaap onrustig.”
’n Oomblik vergeet sy van haar griewe teen hom, en kyk hulpsoekend na hom op. Sy het hom verloor. Sy weet dit nou. Alles wat sy gedoen het om hom weer te bereik, was vermorsing van asem en energie. Nou het sy nog net haar kind. As sy Tinkie ook moet verloor …
“Toe nou maar. Dis nie so erg nie …” sê hy sussend hier digby haar en skielik vul haar oë met trane. Sy kan kwalik die begeerte om haar kop teen sy bors te lê en verligting in haar trane te kry, onderdruk.
“Ek wil nie gaan dans nie, Ben. As my kind siek is …” Sy is onbewus daarvan dat sy hom spontaan op sy voornaam aanspreek, en die hand wat netnou Tinkie se keel gestreel het, vou warm om hare.
Hennie kom die slaapkamer ingestap. “Marlene, as jy regtig nie lus voel om Tinkie alleen te laat nie … Dit maak nie saak nie, meisie. Ek verstaan. Ek sal ongelukkig moet gaan, want ek is een van die offisiere, maar dis heeltemal reg as jy liewer by die kleintjie wil bly.”
Marlene vang haar bewende onderlip vas. Dis nie Hennie se begrip wat dit al moeiliker maak om die trane te keer nie. Dis daardie enkele, warm blik van Ben, daardie stille begrip en teerheid wat in die aanraking van sy vingers was. O, Ben! Ben!
Hennie soen haar liggies op die voorkop. “Moet jou nie so erg ontstel nie, meisiekind! Dis seker darem nie ernstig nie, of hoe, Ben?”
“Nee. Kleintjies kry dikwels maar ’n bietjie koors. Dit gaan gewoonlik net so vinnig weer oor. Miskien het sy net ’n bietjie te lank in die son gespeel.”
“Goed dan. Dan gaan ons maar.”
“Ag, Hennie, sal jy net vir tannie San sê dat sy nie meer vanaand na Tinkie hoef te kyk nie, asseblief? Ek het met haar gereël.” Sy kyk hom verskonend aan. “Ek is regtig jammer, Hennie.”
“Alles reg. Moet jou nie verder bekommer nie. Totsiens. Ek hoop sy word gou beter.”
Hennie is reeds terug in die sitkamer toe Ben sê: “Ek sal ná die dans weer kom kyk.”
Sy knik net en hy volg Hennie. Sy sluk swaar. Sy durf nie weer in sy oë kyk nie, nie solank hy hierdie vreemde, teer Ben is nie. Sy is kapabel en gooi haar arms om sy nek en bieg daar en dan alles wat sy in haar hart omdra.
Marlene neem langs haar kind se bed plaas en kyk op die slapende, warm gesiggie af. Sy moenie dinge uit perspektief sien nie. Dis omdat Tinkie siek is. Enige siek mens – en sy naasbestaandes – het Ben Roux se simpatie en menslike warmte. Dis al.
Op die oomblik is Tinkie ’n siek pasiëntjie en sy die bekommerde ma. Daarom dat daar meteens begrip en teerheid vir haar en haar kind in sy oë is. Sodra Tinkie gesond is, sal hy hom weer terugtrek. En miskien is hy maar net vanaand in so ’n goeie bui dat hy selfs kans sien om teenoor háár meer menslik te wees. Josephine is hier en ’n aangename aand saam met haar lê voor. Selfs nie eens sy gewese vrou sal hom vanaand kan ontstig nie.
Later trek sy maar uit en neem weer in haar kamerjas langs Tinkie se bed plaas. Sy het die kleintjie al ’n paar keer afgespons en ’n pilletjie gegee om die koors te help breek, maar Tinkie bly maar rusteloos, slaap ’n bietjie, ruk dan sommer wakker, bly huilerig en knieserig. Tot dusver was sy nog baie gelukkig met haar kind, en het Tinkie nog nie ’n noemenswaardige siekbed gehad nie. Wat sal gebeur as die kind regtig iets moet oorkom? Sê nou maar sy moet Ben dan eers vertel dat Tinkie sy kind was … Hy sal haar in der ewigheid nooit vergewe nie!
Maar skielik is hy weer hier langs haar. “Hoe gaan dit nou?”
“Sy is nog baie rusteloos. Sy sê haar keeltjie is baie seer.”
“Ek het sommer dié inspuiting saamgebring.”
Natuurlik is Tinkie onmiddellik wakker en aan die huil toe die inspuiting toegedien word, maar toe sy sien wie by haar is, verminder die trane. Sy strek haar arms uit en Ben neem op die kant van die bed plaas en tel haar op sy skoot, draai die kombers om haar en hou haar styf vas.
“Alles reg, ounooi. Oom Ben gaan jou in ’n japtrap gesond hê. En weet jy wat?”
Die koorsige ogies kyk hom verlep aan, en hy vervolg: “Onthou jy ons geheimpie?” Die koppie knik en hy trek iets agter sy rug uit. “Ek weet Mamma sal nie omgee nie. Ons kan haar ook nou maar van ons geheimpie sê.” ’n Toegedraaide doos word na Marlene uitgehou. “Mamma, maak vir haar oop, asseblief.”
Marlene se bewende vingers begin die pakkie oopskeur en dan kom die groot geheim te voorskyn: die pop in die winkelvenster! Die verlepte ogies blink ’n oomblik bly en Marlene lê die pop in haar armpie. Sy moet met alle mag die bewing van haar lippe keer toe sy sê: “Hoe sê ’n mens, Tinkie?”
“Dankie, oom dokter Ben. Sy is my mooiste pop en ek sal altyd met haar speel.”
Ben knik, druk sy lippe op die warm voorkoppie en lê haar dan weer neer. “Nou moet ons groot meisie soet slaap. Jou pop kan in jou arm lê. Kyk, so.”
Marlene sit terug en dis of haar oë nie genoeg van die toneel voor haar kan kry nie. Tinkie gehoorsaam dadelik, maak haar ogies toe, die nuwe pop styf in haar armpies.
’n Lang ruk is dit stil en dan vra Marlene saggies: “Waar is die ander?”
“Plaas toe. Gaan lê jy nou ook. Ek sal nog ’n rukkie hier sit. Die inspuiting behoort haar rustiger te laat slaap.”
Sy staan op. “Kan ek nie vir jou ’n koppie koffie bring nie?”
“Nee, dankie. Josephine het vir ons gemaak voordat sy en Hennie terug is plaas toe. Kom nou tot ruste, Marlene.”
Sy gehoorsaam dadelik en sak terug teen die kussings, haar oë op die vertroude gestalte waar hy by Tinkie se bedjie sit. Hoeveel geruster voel sy nie vandat hy hier is nie.
Dis ’n