'n Tydreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030. Frans Cronje. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Frans Cronje
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Социология
Год издания: 0
isbn: 9780624081418
Скачать книгу
Deur dit alles, stuksgewys en bladsy vir bladsy, sal wat tussen nou en 2030 in ons land sal plaasvind, duidelik word.

      Hoofstuk 2: Baie ver vooruitskouend

      Mense hou nie van onsekerheid nie, en mediese navorsers het die redes daarvoor ontdek. In sy boek On Intelligence skryf Jeff Hawkins (uitvinder van die PalmPilot): “Jou brein registreer patrone van die buitewêreld, berg dit as geheue en maak voorspellings deur dit wat hy voorheen gesien het en wat nou gebeur, te kombineer. Voorspelling is nie net een van die dinge wat jou brein doen nie. Dit is die primêre funksie van die neokorteks, en die grondslag van intelligensie.”

      Sielkundiges sê die hunkering na sekerheid is soortgelyk aan die behoefte aan suurstof of sekere kossoorte. Verslawing aan sigarette is ’n goeie voorbeeld van so ’n hunkering of behoefte. Mense is geprogrammeer om na sekerheid te soek en dan besluite te neem wat gebaseer is op die redelik seker wete van wat volgende gaan gebeur. Om die brein vertroue in sodanige sekerheid te ontsê, lei tot ’n fisieke reaksie van groot ongemak en selfs onrustigheid – soortgelyk aan wat kan gebeur wanneer jy ’n roker sigarette ontsê. Dit is waarom die laaste senutergende minute van ’n baie gelykop rugby- of krieketwedstryd jou emosies laat bokspring – van ekstase tot trane van wanhoop en terug. ’n Kliënt het tydens ’n voorligtingsessie gesê dit is waarom spoorwegstasies elektroniese borde het waar passasiers kan sien oor hoeveel minute die volgende trein kom. Dit kalmeer mense wat daarvoor wag en verminder aggressiewe en antisosiale gedrag.

      Dit alles is ’n uitdaging vir ekonomiese en politieke ontleders. As jy dink die angstigheid rondom ’n rugbywedstryd is erg, moet jy ’n kleinhandelaar probeer oortuig verbruikerstendense oor die volgende kwartaal is onseker, of vir ’n vertrek vol beleggers sê dit het moeilik geraak om wisselkoerstendense te voorspel. Ek het al gesien hoe korporatiewe direksies en strateë skoon emosioneel raak omdat daar scenario’s is wat nie by hul strategiese planne inpas nie. Dit is nie dat hulle oor die scenario verskil of dit op grond van die feite of gehalte van die argument in twyfel trek nie – hul reaksie is neurologies gedrewe, ’n natuurlike menslike reaksie wat veroorsaak word deur die vrees van nie te weet nie. Dit is ’n hoogs ongemaklike sensasie wat mense verontrus.

      Die gewaarwording is soveel intenser wanneer lewensveranderende besluite geneem moet word. Ouers wil weet dat hulle die beste langtermynbesluite vir hul kinders neem. Boere wil weet dat die geld wat hulle leen om hul plase te ontwikkel of te plant ’n opbrengs sal lewer. Beleggers wil weet dat hul bates veilig is teen onteiening deur politici. Politici wil weet dat hulle nie in toekomstige verkiesings hul setels (en salarisse) sal verloor nie.

      Net soos rokers wat voor die hunkering na ’n sigaret swig, begin mense voorspellings waag wanneer hulle swig voor die hunkering om te weet wat anderkant die horison wag. Dit kan baie gevaarlik wees omdat ’n voorspeller iets uitsonderliks doen – hy of sy sê een besondere stel omstandighede sal met ’n besondere punt in toekomstige ruimte en tyd saamval. In twee artikels wat in die 1980’s in Harvard Business Review gepubliseer is, het die voorvader van moderne scenariobeplanning, die Fransman Pierre Wack, verduidelik voorspelling is uiters gevaarlik omdat voorspellings dikwels reg is. Wack het geskryf dit is egter net reg omdat die wêreld waarop dit gebaseer is nog nie verander het nie. Wanneer daardie wêreld wel verander, presies op die oomblik wanneer die voorspelling die nuttigste sou wees, is dit nutteloos en die voorspeller moet dan weer van voor af met die proses begin en hom- of haarself noodwendig aan meer mislukkings blootstel. Wack het vir die oliemaatskappy Shell gewerk, waar hy wêreldwyd naam gemaak het toe hy die skerp verhoging van die olieprys in die vroeë 1970’s, wat die res van die globale oliebedryf grootliks onverhoeds gevang het, akkuraat voorspel het. Hy het ook ’n verbintenis met Suid-Afrika omdat hy die scenariobeplanningspan van Anglo American help oplei het. Ook hierdie span het in die 1980’s onder Clem Sunter roem verwerf met die High Road−Low Road-scenario’s.

      Daar is nou ’n afdeling van teoretiese navorsing wat toon die toekoms van lande en ekonomieë kan nooit akkuraat voorspel word nie. Dit is die teorie van stelsels, in die besonder ’n vertakking van die teorie wat as die kompleksestelselsteorie bekend staan. Dit is alles baie eenvoudig en maklik om te verstaan. Kompleksestelselsteorie verklaar ’n tipiese komplekse stelsel sal vier eienskappe toon:

      In die eerste plek is dit saamgestel uit ’n groot aantal deelnemers binne die stelsel, byvoorbeeld ’n mierkolonie. Weer- en verkeerspatrone is komplekse stelsels. Dit is maklik om te sien hoe Suid-Afrika (of enige land), met tienmiljoene mense, tienduisende sakeondernemings, allerhande soorte belangegroepe en ’n menigte ander deelnemers, op grond van hierdie eienskap sou kwalifiseer.

      Tweedens is hierdie deelnemers in wisselwerking met mekaar binne die stelsel in die nastrewing van hul doelwitte. Miere doen dit, klimatologiese magte ook, en so ook motors en bestuurders in die oggendverkeer. In die geval van ’n ekonomie is die mededinging tussen sakeondernemings vir kliënte ’n voorbeeld van sulke interaksie. Dit geld ook vir die pogings van mededingende aktiviste of politieke partye. Elke individu se nastrewing van welvaart en geluk is ’n voorbeeld van sulke interaksie.

      Hierdie deelnemers rig wat bekend staan as “terugvoering” aan die stelsel – die derde eienskap daarvan. Deelnemers wat tevrede is met hul vordering in die stelsel, rig ’n tipe terugvoering wat daarop ingestel is om die status quo van die stelsel te handhaaf. Deelnemers wat ontevrede is, rig ’n ander tipe terugvoering, wat ingestel is op verandering van die stelsel. Dit is maklik om hierdie gedrag in ’n land te identifiseer. Toe studente in 2015 en 2016 by Suid-Afrikaanse universiteite moles gemaak het, die Uniegebou bestorm het en deur die hekke van die parlementêre ruimte gebars het, was dit ’n voorbeeld van terugvoering met die doel om Suid-Afrika se status quo te verander. Pogings om interdikte teen die studente te verkry en die ontplooiing van polisielede op die kampusse was voorbeelde van pogings om die status quo te handhaaf. In enige stelsel (of land) vind verandering plaas wanneer die deelnemers wat die stelsel wil verander ’n mate van terugvoering rig wat diegene wat die status quo wil handhaaf, oorweldig.

      Ten slotte het ’n komplekse stelsel ’n vierde eienskap ten opsigte van die interaksie tussen sy verskillende deelnemers; dit staan as ’n opkomende eienskap bekend. Wat dit beteken, is dat die resultaat van dié interaksie groter sal wees as die som van die dele daarvan. Kyk byvoorbeeld na die eenvoudige vergelykings hieronder.

Verbeel jou daar is vyf deelnemers in die stelsel (ons noem dit stelsel X). As ’n deelnemer tevrede is met die status quo van daardie stelsel, sal hy of sy ’n nominale waarde van 2 tot die stelsel bydra. Diegene wat ontevrede is, sal 1 bydra. In die geval waar elke deelnemer in die stelsel tevrede is, sal die stelsel soos volg lyk:Kom ons stel ons nou voor dat een van die deelnemers ontevrede raak en ’n 1 tot die stelsel bydra. In daardie geval sal die stelsel soos volg daar uitsien:Stelsel X is 2 + 2 + 2 + 2 + 1 = 9Die stelsel het van ’n tien na ’n nege verander – ’n beduidende verandering, maar nie dramaties of aardskuddend nie.Kom ons stel ons nou voor stelsel X is ’n komplekse stelsel wat die terugvoering wat deur sy deelnemers gegee is, vermenigvuldig, in plaas daarvan om dit bymekaar te tel. Waar al die deelnemers tevrede is, sal die stelsel soos volg lyk:Stelsel X is 2 x 2 x 2 x 2 x 2 = 32Kyk nou wat gebeur wanneer een deelnemer ontnugter raak met die stelsel en die status quo wil verander:Die stelsel het van ’n waarde van 32 na 16 verander – ’n dramatiese verandering.

      ’n Goeie voorbeeld van die opkomende eienskap van komplekse stelsels in aksie is die verkeer. Baie van ons moet elke oggend deur die verkeer worstel. Duisende ander motoriste worstel saam met ons waar ons almal wedywer om by ons bestemmings te kom. As ons almal saamwerk, sal die verkeer voorspelbaar dog stadig vloei. As net een bestuurder egter uit die status quo losbreek en ’n ongeluk veroorsaak, kan sy of hy ’n verkeersknoop veroorsaak, wat duisende ander motoriste vertraag. Hulle vertraag op hul beurt duisende ander mense wat by vergaderings en sakeondernemings vir hulle wag. Transaksies kan verbeur word en geld kan gemaak of verloor word – alles weens die optrede van net een deelnemer in ’n stelsel