Tussen die bloeiende struike in groot vate hang liggies wat net ’n flou-flou skemering oor die hele tuin gooi. Elmarie stap soos in ’n droom na die muurtjie en staar oor die toneel voor haar uit. Soos ’n juwelekissie belaai met al die edelgesteentes van die aardbol flits en glinster die kleurryke liggies van Kaïro van hier digby haar voete af tot in die verskiet. Sy sien ook die blink, kronkelende pad van die Nyl soos die ketting waarom die edelgesteentes gerangskik is – die geheel ’n halssnoer van asemrowende prag en fantasie.
Maar die man se oë bly op haar gerig, en toe die stilte langer rek, vra hy sag, digby haar: “Geen kommentaar nie?”
“Dis … absoluut volmaak pragtig!” kry sy dit uit.
“Dit ís … saam met jou.”
Sy kyk vinnig na hom op en dan weer weg.
“Moenie.”
“Wat?”
Haar hande bewe. “Moenie sulke dinge sê nie.” Sy vervolg dadelik: “Ek sal nou moet gaan …”
Sy hande lê weer op haar skouers toe sy omdraai. Hulle staan reg teenoor mekaar.
“Voordat jy gaan … Daar is nog iets wat jy nie gesien het nie. Kyk op, bokant ons koppe.”
Sy gehoorsaam en daar ver bo haar sien sy ’n silwerwit Egiptiese maan. Haar lippe gaan effens oop terwyl sy boontoe staar. Skielik word dit donker voor haar en die volgende oomblik voel sy hoe haar lippe gevange geneem word en arms besitlik om haar sirkel. Dis ’n lang, eisende soen en sy is magteloos om haar teen die magnetiese bekoring van hierdie maanlignag te verset. Sy weet nie dat haar lippe in antwoord onder syne roer nie; ook nie dat haar liggaam sag en gewillig teen syne aandruk nie. Maar die man kom dit agter en sy lippe raak nog dringender, die aanraking van sy hande eisender.
Dan is dit asof daar iets deur die newels na die oppervlak bars. Dit is die man van wie hulle vertel dat hy ’n harem aanhou … die man wat Deon verdink …
“Nee!” Sy skeur haar lippe onder syne weg en druk met haar hande teen die breë bors. Die donker oë gloei af in hare, die arms weier om haar te laat gaan.
“Wat is dit, Elmarie? Dis seker nie nodig dat daardie ou speletjie tussen ons twee gespeel moet word nie, of hoe?”
Sy wring haar onder sy hande uit en keer haar rug vinnig op hom, ’n bewende hand teen haar keel.
“Ek … ek weet nie wat jy bedoel nie. Ek … moet nou dadelik gaan. Dankie …”
“Dankie waarvoor? Vir die toneel wat jy kon sien of vir die ervaring wat jy kon belewe?”
Sy voel ’n warm gloed oor haar gesig en hals sprei, maar weier om na hom op te kyk of hom te antwoord. Sy begin in die rigting van die deur beweeg.
“Goeienag, Hoessein.”
Maar hy is voor haar by die deur en sy fors gestalte versper haar pad.
“Ek sal nie toelaat dat jy gaan voordat ek weet waarom jy my nie vertrou nie. Is dit omdat jy dink dis my gewoonte om meisies na my woonstel te bring en hulle die hof te maak? Dan dink jy verkeerd, Elmarie. Voor jou was daar nog net een vrou wat ek hierheen gebring het.”
“Farah.” Die woordjie glip onverhoeds uit en sy sien sy wenkbroue in ’n donker frons saamtrek.
“Ja, Farah. Dan weet jy van haar. Dit is dus stories wat jou so laat optree. Kom sit en vertel my wat jy alles van my gehoor het.”
“Nee …”
Daar word geen ag op haar protes geslaan nie. Sy word beslis na ’n bank gelei en daarop neergedruk. Hy neem regoor haar plaas en steek ’n dun sigaar aan.
“Nou toe. Laat ek hoor. Wat is dit wat hulle jou vertel het? Dat my en Farah se name die afgelope twee jaar gekoppel word; dat ek ’n harem by my oase aanhou; dat ek nie eintlik vriende het nie; dat ek geheimsinnig is, en so meer?” Die verslaentheid op haar gesig vertel hom dat hy gelyk het en hy kyk haar stip aan. “En as ek jou sê dat jy jou nie aan daardie stories moet steur nie, gaan jy my woord bo dié van die skindertonge stel?”
Sy antwoord nie, maar kyk op haar hande af. Sy wil hom so graag glo. Sy frons. Hoekom wil sy so graag glo dat al daardie dinge wat van hom gesê word, nie waar is nie? Wat het dit nou eintlik met haar te doen? Wat het dit met haar uit te waai watter soort lewe hierdie man voer? Sy kyk op. Daar is ’n paar vrae wat sy wil stel …
“Wat het jou vanoggend laat stilhou by ons motor en jou die gedagte gegee dat ek in die moeilikheid verkeer?”
“Ek het reg agter julle gery. Jy was bleek en ontsteld. Die man langs jou het gelag, die taxibestuurder op die skouer getik en toe het hy net nog vinniger gery. Ek het gewonder of hulle nie dalk besig was om jou te ontvoer nie.”
“Hoekom het jy juis aan ontvoering gedink?”
“Omdat daar deesdae so baie ontvoerings plaasvind.”
“Ek het jou vanmiddag in ons gang gesien. Het jy iemand daar besoek?”
Hy is ’n oomblik stil. Dan glimlag hy.
“Goed. Ek was daar. Skort daar iets mee?”
“Ek weet nie.” Sy aarsel. Wel, sy is al so ver dat sy maar kan voortgaan. “Jy het by daardie kamer ingegaan waar jy my vanaand gekry het. Die kamer is nie in gebruik op die oomblik nie.”
“Wel?” Sy wenkbroue lig.
“Wat het jy daar gemaak, Hoessein?”
“Dit was nie ek wat in jou kamer ingebreek het nie, Elmarie – as dit is wat jy dink.”
“Jy … jy weet daarvan? Is daar iets wat jy nie weet nie, Hoessein?” Sy trek haar asem skerp in.
Hy lag en neem langs haar op die bank plaas.
“As daar iets is waarvan ek nie weet nie, is dit iets wat nie van belang is nie.” Hy lê sy hand liefkosend teen haar agterkop. “En nou is dit my beurt. Hoe lank gaan jy en jou kêrel nog in Kaïro kuier?”
Elmarie kom nie agter hoe oulik hy die gesprek van hom af weggeswenk het nie. Sy is intens bewus van sy hand teen hare en sy antwoord nou sonder om verder te dink: “Deon is nie my kêrel nie.”
“Nie?” Hy lyk eerlik verbaas en ongelowig. “Jy is verlief op hom. Of liewer, was … toe julle hier aangekom het.”
Sy verbleek. Weer eens voel sy die onrus in haar roer. Sy hoor die veraf refrein van Deon se stem: Bly weg van daardie man af! Hy is gevaarlik! Sy kyk verslae terug in die donker oë wat haar uitdaag om te weerspreek wat hy gesê het. Deon is reg. Hoessein Abd-el-Rahman is ’n gevaarlike man. Soveel gevaar lê verskuil in sy magnetiese aantreklikheid, in sy sterk persoonlikheid, in sy oplettendheid. En sy weet ook nou dat sy bang is vir hom, hoewel hy haar aantrek. Sy is bewus van hom soos sy nog van geen ander man bewus was nie. Veral ná vanaand weet sy dat sy nie opgewasse is teen hierdie vreemdeling nie. Sy voel soos ’n benoude dier wat in ’n hoek vasgekeer is.
“As hy nie jou kêrel is nie, wie is hy dan?” hoor sy hom weer vra, en sy weet dat hy nie sal rus voordat sy hom ’n antwoord gegee het nie.
“Hy … hy is my suster se verloofde,” bieg sy eindelik.
“Jou … suster se verloofde! Elmarie! Verwag jy werklik ek moet glo dat jy oorsee sal kom reis met jou suster se verloofde!” Hy leun effens nader. “Jy is werklik ernstig! Jy het werklik die waarheid vertel!” laat hy verbaas hoor. “Ek sou dit nooit kon glo nie! Ek sou nooit …”
“Dis nie waar nie!” roep sy ontsteld uit, skielik byna in trane. “Jy verstaan nie …”
“Jy’s reg. Ek verstaan nie.” Sy stem klink