ENA MURRAY
KEUR 13
Merk van die skarabee • Hartklop van Hawaii • Vlug van die albatros
Jasmyn
1
Die reëlmatige dreuning van die kragtige motore van die passasiersvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens verhoog die passasiers se lomerigheid, sodat die oorgrote meerderheid ontspanne in hul sitplekke sit en dut.
Elmarie loer na die jong man langs haar en haar oë verteder wanneer sy opmerk dat hy die voorbeeld van die ander passasiers volg. Met haar blik op die slapende gelaat voel sy hoe haar hart saamtrek terwyl sy die lyne van vermoeienis en kommer opmerk. Arme Deon! Net sy weet hoe erg hy gely het en nog steeds ly sedert die berig hulle ’n maand gelede bereik het. Is dit maar net ’n maand gelede?
Met moeite skeur sy haar blik van hom af weg en staar by die kajuitvenstertjie uit, maar sien niks raak nie. Haar gedagtes is gevul met die man langs haar en die sending waarop hulle twee saam vertrek het. Deon … wat sou sy nie wou gee om hom uit hierdie hel te verlos nie!
Die lugwaardin buig langs haar en vra vriendelik of sy nie ’n tydskrif wil hê nie. Elmarie knip vinnig haar oë om na die werklikheid terug te keer. Toe die lugwaardin se netjiese gestalte met die paadjie af beweeg, volg haar blik haar. Marcelle het seker dikwels dieselfde vrae gestel: Wil u nie iets hê om te lees nie? Is u gemaklik? Geniet u die reis? Ja, in presies dieselfde uitrusting as waarin hierdie lugwaardin geklee is, het Marcelle twee jaar lank gestap, op en af in die gangetjie tussen die sitplekke deur, haar glimlag stralend terwyl sy van die een na die ander beweeg. En nou … sal sy ooit weer daardie uniform dra?
’n Ligte siddering trek deur haar. Nee, sy durf nie toegee aan sulke morbiede gedagtes nie. Wat meer is, hoe kan sy een enkele oomblik die gedagte koester dat Marcelle – sonnige, sorgelose, borrelend-van-lewenslus Marcelle – miskien … miskien nie meer lewe nie?
Dis ondenkbaar. Marcelle en die dood kontrasteer so geweldig dat ’n mens hulle nooit sal kan vereenselwig nie. Van kleins af was Marcelle die toonbeeld van lewe in alle volheid en vreugde …
Elmarie se gedagtes dwaal terug na daardie dae toe sy en Marcelle nog kinders was. Daar is net vyftien maande verskil tussen haar en haar suster. Dus, toe Elmarie haar verstand gekry het, was Marcelle maar daar, deel van haar lewe. Hulle het soos ’n tweeling grootgeword en is dikwels as sodanig aangesien, wat nie vreemd was nie. Die twee susters het amper identies gelyk. Maar daar het die ooreenkoms geëindig. Elmarie, die oudste, was altyd ’n bietjie te ernstig, miskien omdat sy van jongs af ’n sterk beskermingsdrang teenoor haar geliefde jonger suster gehad het. Sy het altyd die gevoel gehad dat sy as buffer tussen Marcelle en die minder aangename sy van die lewe moes dien. Marcelle was net nie ’n mens vir teleurstelling en smart en pyn nie. Van haar geboortedag af was sy soos ’n helder, blink sonstraal …
En so het hulle grootgeword … Elmarie wat altyd die seerkry en teleurstelling op Marcelle se pad wou afweer. En Marcelle, dartelend soos ’n vlinder, skynbaar onbewus daarvan dat daar ook minder mooi en minder aangename dinge in die lewe is.
Eindelik was hulle klaar met skool. Elmarie het die besadigde beroep van musiekonderwyseres gekies. Marcelle het hot en haar van die een kursus na die ander rondgeval asof sy maar net nie rigting kon kry nie. Totdat sy op ’n dag by die huis aangekom het met die aankondiging dat sy lugwaardin wil word. Haar ouers was sterk daarteen gekant. Die eerste keer in haar lewe het Elmarie ook nie saamgestem nie. Maar Marcelle het onverwags getoon dat sy ’n wil van haar eie het, en sy het by haar besluit gebly.
Toe hulle later alleen was, het Marcelle na haar suster gestap en tergend in die ouer meisie se oë geglimlag.
“Ag, kom nou, sus! ’n Mens sal sê ek wil ’n Kongolese huursoldaat word!”
“Dis amper so erg. Regtig, Marcelle, wil jy nie weer oor die saak dink nie? Daar kom vandag so baie sabotasie voor. Kyk hoe val die vliegtuie. Daar het nou die dag weer –”
Marcelle het haar vinnig in die rede geval. “Sus, sabotasie kom nie net in die lug voor nie. Dis oral om ons. As julle my daarteen wil beskerm, sal julle my in ’n glaskas moet opsluit.” Haar stem was doodernstig. “Elmarie, moenie dink ek waardeer nie wat jy en Mamma en Pappa in die verlede vir my gedoen het nie. Ek weet hoe julle my nog al die jare beskerm het. Maar dink jy nie die tyd het aangebreek dat ek selfstandig word nie?”
Elmarie se oë en stemtoon het duidelik getoon dat sy seergemaak gevoel het.
“Dit klink amper asof jy ons kwalik neem …”
“Nee, maar die een of ander dag sal ek móét uitgaan in die lewe …”
“Maar jy weet niks van die lewe af nie!”
“Dan is dit tyd dat ek begin leer. Asseblief, sus, ek het nog nooit iets teen jou sin gedoen nie. Ek sal nou ook graag jou goedkeuring wil hê.”
Elmarie het toegegee en later ook hul ouers. Marcelle het lugwaardin geword. Dat sy ’n groot sukses was, was nie te betwyfel nie, en die Wiids was heimlik baie trots op hul jongste dogter en suster.
En toe het Deon Rabie op die toneel verskyn …
Hy is onderwyser aan dieselfde skool as Elmarie. Hulle het bevriend geraak en hy het ’n gereelde kuiergas by die Wiids se huis geword. Elke keer het dit egter so gekom dat wanneer Deon besoek aflê, Marcelle weg was op een van haar vlugte sodat hulle mekaar die eerste keer ontmoet het toe daar reeds ’n hegte vriendskapsband tussen die jong onderwyser en Elmarie ontwikkel het. Elmarie het toe reeds geweet dat sy in Deon haar toekomstige man gevind het.
Elmarie kon nie wag om Deon aan Marcelle voor te stel nie. Sy het geweet haar jonger suster sou saam met haar bly wees dat sy eindelik met ware liefde kennis gemaak het. Sy het Marcelle egter niks vertel van haar gevoelens vir Deon nie. Sy wou dit as ’n verrassing hou vir wanneer Marcelle eendag vir Deon ontmoet.
Aan Deon kon sy nie genoeg vertel van haar begaafde sussie wat lugwaardin is nie, totdat hy haar begin terg het daarmee.
“As jy Marcelle ontmoet, sal jy verstaan. ’n Mens kan nie help om haar lief te kry nie,” het Elmarie haarself verweer.
En toe, een aand, het Marcelle onverwags by die huis opgedaag. Die binnelandse vlug waarop sy die volgende oggend sou vertrek, is deur ’n ander lugwaardin waargeneem sodat Marcelle dié middag op haar eerste oorsese vlug kon vertrek in die plek van ’n kollega wat skielik siek geword het. Marcelle en Deon het mekaar die eerste keer ontmoet.
Elmarie vee oor haar oë en leun terug in die sitplek. As sy nie self so smoorverlief op Deon was nie, sou sy daardie selfde aand agtergekom het dat daar iets tussen Marcelle en Deon plaasgevind het. Maar sy het nie. Sy was te opgewonde oor die feit dat hulle mekaar eindelik kon ontmoet en in die wolke toe sy sien dat hulle sommer uit die staanspoor goed met mekaar oor die weg kom. Dis wat sy begeer het, dat haar suster en die man wat sy liefhet van mekaar moes hou.
Een ding het egter nog ontbreek – Deon het haar nog nie gevra om met hom te trou nie. Dit sou binnekort volg, daarvan was sy seker. Die dae het egter weke geword en nog het Deon nie die groot vraag gestel nie.
Een mooi middag het hy haar weer ná skool huis toe vergesel vir ’n koppie koffie. Op pad het hy die bom gelos.
“Ek het Marcelle gisteraand gesien.”
Elmarie het nog nie onraad gemerk nie. Marcelle, asook van die ander lugwaardinne, slaap gewoonlik die nag voordat hulle op ’n vroeë vlug moet vertrek by die lughawe. Daar is gerieflike kamers vir hierdie doel.
“Sy het gisteraand gebel en gesê sy moet vroeg vanoggend vertrek en daarom het sy nie gisteraand huis toe gekom nie,” het sy opgemerk. “Waar het jy haar gesien?”
“Ek het haar gaan opsoek.”
“O.”
Daar was ’n oomblik stilte en toe het Deon onseker vervolg: “Elmarie, ek het Marcelle gisteraand gevra om met my te trou.”
Sy oë was op die pad gerig en hy het nie die bleekheid van haar wange gesien nie. Hy het byna dadelik voortgegaan: “Maar