“Het u miskien probleme?”
Sy stem is besonder sag en goed gemoduleer, en sy Engels is perfek.
Daar flits verbasing in Elmarie se oë.
“Nee … dankie, meneer.”
“U lyk ontsteld, juffrou. Is u miskien teen u sin in hierdie motor?”
Daar is ’n ondertoon in sy stemtoon wat sy nie begryp nie. Deon lyk ook verbaas.
“Nee, natuurlik is die dame nie teen haar sin in die motor nie!” sê hy verontwaardig. “Wat dink u – dat ek besig is om haar te ontvoer? Sy is net ontsteld omdat hierdie man soos ’n besetene deur die strate jaag. Ons is nie daaraan gewoond nie.”
Die strak gelaat toon verbasing en dan helder dit op in ’n ongelowige glimlag wanneer sy blik na Elmarie terugkeer.
“U is net ontsteld oor die snelheid – nie oor iets anders nie?”
“Nee, natuurlik nie,” antwoord sy vinnig, skielik ongemaklik onder die donker aanstaring.
’n Sagte laggie vertel die twee Suid-Afrikaners dat die vreemdeling dit amusant vind.
“Ek neem aan u is toeriste?”
Elmarie en Deon kyk vinnig na mekaar en dis Deon wat antwoord: “Ja … e … toeriste.”
“U het maar so pas in Kaïro aangekom?”
“Ja.” Hy kyk die vreemdeling fronsend aan. Hy begin hom so stadigaan vererg vir die buitengewone, amper ongemanierde kruisverhoor.
“Dan wil ek voorstel dat u na die Kaïro Grand gaan. Dit lê op die oewer van die Nyl en –”
“Ons is op pad daarheen,” val Deon hom effens kortaf in die rede en kyk vererg vorentoe.
Die vreemdeling se oë is egter op Elmarie gerig en dit lyk nie asof hy agterkom dat Deon se antwoord nie so vriendelik was nie.
“Dis gaaf. Ek sal die bestuurder aansê om stadiger te ry.” Hy spreek die taxibestuurder in sy taal aan en die man knik sy kop. Elmarie lyk verlig en dankbaar. ’n Oomblik hou die vreemdeling haar blik gevange.
“Baie dankie, meneer.”
“Ons sien mekaar weer.”
Die volgende oomblik slaan die deur toe en kom die motor in beweging. Elmarie kyk effens onseker na Deon. Sy is innig dankbaar vir die vreemdeling se inmenging, want hulle ry nou teen ’n redelike snelheid. Maar dit lyk nie of Deon veel daarvan gehou het nie.
“Dit was gaaf van hom om te hoor of ons in die moeilikheid is,” waag sy dit om op te merk.
“Hy was oor jou bekommerd, nie oor my nie. Dit het gelyk asof hy jou met sy oë wou insluk. Jy moenie so vriendelik met vreemdelinge wees nie, Elmarie. ’n Mens kan hierdie Oosterlinge nie vertrou nie, en as daar iets met jou ook moet gebeur …”
Elmarie se hart klop onwillekeurig vinniger. Sy weet baie goed dit is net broederlike besorgdheid wat hom so laat praat. Tog … Krummels is beter as niks.
“Is hy ’n Oosterling? Hy het nie vir my na een gelyk nie.”
“Dis die Europese kleredrag wat jou mislei. Sy blas vel en daardie donker oë verraai hom.”
Die res van die kort rit is hulle stil. Net een keer kyk Elmarie om, maar daar is geen teken van die vreemdeling se motor wat agter hulle in die wagtende ry gestaan het nie. Tog het Elmarie so ’n voorgevoel dat dit nie die laaste sien van hom is nie. Sy stem het so beslis geklink toe hy gesê het: “Ons sien mekaar weer.”
Eindelik hou die taxi voor die Kaïro Grand stil. Met die eerste oogopslag heers hier, net soos in die res van Kaïro, ’n kosmopolitiese atmosfeer. Daar is mense van alle nasionaliteite op die groot grasperke onder die palmbome. Elmarie eien Europeërs, Arabiere en Egiptenare en sien ook ’n vrou in ’n kleurryke sari by een van die tafeltjies sit.
Nadat hulle gebad en hulle verklee het, neem hulle by ’n tafeltjie onder ’n palmboom plaas en bestel ’n vrugtedrankie. Elmarie se blik dwaal nuuskierig om haar. Hoe het sy al begeer om ook hierdie lande te besoek waarvan Marcelle haar so geesdriftig vertel het! Nooit het sy gedink dat ’n tragedie hierdie hartewens sou verwesenlik nie. Dit bring haar gedagtes dadelik terug na die rede vir hierdie besoek aan Egipte, en sy draai na Deon.
“Ons moet nog die polisie laat weet dat ons hier is.”
“Ja. Ek het gedink om persoonlik met hulle te gaan praat. Ek dink jy moet solank die kabelgram aan jou ouers by die toonbank gaan indien. Dan bel ek solank die polisie en hoor wanneer ons hulle kan spreek.”
By die hoofingang gaan elkeen sy eie koers – Deon na die openbare telefoonhokkies en Elmarie na die ontvangstoonbank om die kabelgram aan haar ouers weg te stuur.
Toe sy klaar is, draai sy om en loop haar byna vas teen ’n breë bors. Sy kyk verskonend op – in die oë van die nou al bekende vreemdeling.
“O!”
Hy glimlag, staan beleef opsy.
“U lyk verbaas, juffrou. Ek het tog gesê ons sal mekaar weer sien.”
“Ja, maar …” Sy weet nie presies wat om te antwoord nie en voel verlig toe sy Deon uit die telefoonhokkie te voorskyn sien tree. “O, daar is Deon. U sal my moet verskoon, asseblief.”
“Seker.” Daar is ’n tergende glinstering in die donker oë toe hy byvoeg: “Ons sien mekaar weer.”
Sy laat haar ooglede vinnig sak. Ná ’n oomblik van aarseling knik sy net vinnig haar kop en stap weg, bewus daarvan dat sy blik haar volg. Sy voel eienaardig verlig dat Deon hom blykbaar nie opgemerk het nie.
“Wat sê hulle? Het hulle al …?”
Deon sug, sy gesig weer bekommerd.
“Nog niks nie. Hulle sê hulle kan ons dadelik te woord staan. Ek gaan net gou ’n taxi ontbied.”
“Dis nie nodig nie. Die hotel stel motors met chauffeurs tot die beskikking van hul gaste. Maar ek gaan nou weer in stad toe. Kan ek u miskien êrens aflaai?”
Elmarie en Deon draai om. Die vreemdeling staan voor hulle. Deon is duidelik onverhoeds deur die vriendelike aanbod betrap.
“O! E … e … ja, maar ons wil u nie moeite aandoen nie,” begin hy onseker, maar die vreemdeling vee sy beswaar met ’n handgebaar opsy.
“Geen moeite nie. Ons kan maar ry. Hierlangs, asseblief.” Hy lei hulle na ’n duur Amerikaanse motor wat voor die hotel geparkeer staan. Die deur word vir Elmarie oopgehou. “Waarheen wil u gaan?”
“Na die polisiekantoor, asseblief,” antwoord Deon.
Op daardie oomblik sien Elmarie hoe die glimlag op sy gesig verstrak en die oë vernou. ’n Eienaardige trek flits oor sy gesig. Dan stap hy om en skuif agter die stuurwiel in. Sy stem is egter doodnatuurlik toe hy laggend opmerk: “Dis ’n eienaardige plek om eerste te besoek – veral as dit die eerste keer is dat u in Kaïro kom.”
Elmarie se mond gaan oop om te verduidelik, maar sy voel skielik ’n druk in haar sy en hoor Deon sê: “O, ons wil maar net navraag doen oor iets. Niks besonders nie.”
Die vreemdeling antwoord nie hierop nie, maar begin hulle al die vernaamste plekke uitwys en meer besonderhede verstrek van hierdie interessante stad. Hulle ry deur straatjies waar kraampies op die sypaadjies aangebring is en al wat denkbaar is te koop aangebied word.
“Hierdie plekke maak natuurlik ’n fortuin uit toeriste, want hulle gee voor dat omtrent alles egte vondse uit ou grafte is. Die toeriste sluk dit natuurlik,” verduidelik die vreemdeling.
“O, maar dan is dit hier …” roep Elmarie uit en sluk weer haar woorde vinnig in toe sy die tweede keer ’n pomp in die ribbes van Deon ontvang.
Die vreemdeling neem vlugtig sy blik van die verkeer