Elmarie se ontsteltenis groei aan. Sou haar suster se verstand nie miskien al geknak wees nie? Sy praat asof sy feite opnoem! Elmarie doen haar bes om haar kalm voor te doen.
“Kaf, Marcelle! Daardie vrou wat daar staan, is ’n mens van vlees en bloed soos ek en jy!”
“Is sy? Haar vel is blas, maar tog kry jy die gevoel, wanneer jy daarna kyk, dat daar geen bloed daaronder vloei nie. En wanneer sy naby jou kom, ruik jy dit …”
Elmarie voel haar keel toetrek met ’n vrees wat sy nog nooit tevore ervaar het nie.
“Wat … ruik jy?”
“Muf. Sy ruik muf … soos ’n ou, vergane mummie.”
’n Yskoue rilling sidder deur Elmarie. Sy dwing haarself tot nugterheid. Sy durf nie langer na Marcelle luister nie, anders sal sy begin glo dat die vrou hier voor hulle werklik is wat Marcelle wil voorgee – die opgestane mummie van ’n Egiptiese koningin van eeue gelede! Hemel, wat ’n bloedstollende gedagte, dink sy en voel skielik mislik. Maar sy kan haarself nie keer nie. Sy moet net weet …
“En die man agter haar? Wie is hy?”
“Nektanebo – haar minnaar in die geheim.”
“Hoekom in die geheim?”
“Hatsjepsoet is tot man verklaar. Sy mag nie ’n minnaar hê nie, maar vir die skyn staan hy bekend as haar raadgewer.”
“Wáár kom jy aan al hierdie dinge, Marcelle?” Elmarie skud haar kop radeloos.
“Die slaaf wat my kos bring. Dis hulle in die wit klere en gordyntjiekoppe. Pas op! Hier kom sy.” Marcelle gryp haar suster se hand pynlik styf vas. “Onthou, Elmarie, jy mag nie praat nie, al doen hulle ook wát! Onthou dit!”
Met glyende bewegings, amper slangagtig, stap die vrou die trap stadig af en kom eindelik voor die twee susters tot stilstand. Elmarie raak yskoud. Nog nooit in haar lewe het sy so ’n uitdrukkinglose gelaat gesien nie. Dis asof ’n masker oor die gesig span, sonder om ’n spiertjie, ’n plooitjie, die vaagste beduidenis van ’n emosie te verraai. Die koue sweet slaan op Elmarie se handpalms uit. ’n Opgestane mummie? ’n Paar oomblikke gelede het sy dit as onsin bestempel. Nou, met haar blik vasgenael op die gesig voor haar, weet sy nie …
Selfs die oë wat na hulle staar, lyk glasig blink, onnatuurlik, asof daar geen lewe in hulle is nie.
“Het julle toe tot ’n besluit gekom?” Die stem klink dof, sag asof sy uit die verte praat. Maar weer is dit suiwer Engels en Elmarie wonder of hierdie koningin en haar ontvoerder nie dieselfde persoon is nie.
“Jy mors jou asem. Ons kan jou nie help nie,” antwoord Marcelle.
Daar volg ’n oomblik van volslae stilte. Elke senuwee in Elmarie trek saam en langs haar wag Marcelle ook met ’n strak gesig.
“Jou suster het jou vertel waar dit is.” Die oë draai na Elmarie.
“Nee. Sy het nie.”
Elmarie voel ’n bewing deur haar liggaam gaan. Dis asof die swart oë haar wil hipnotiseer en met ’n skok dring dit tot haar deur dat dit presies is wat sy beoog. Dit verg al haar wilskrag om haar oë van daardie starende, lewelose blik af weg te trek. Sy trek die deken stywer om haar liggaam vas asof sy koud kry, hoewel die sweetdruppels op haar voorkop blink. Wat nou?
’n Maer hand met lang vingers word omhoog gelig en twee slawe in wit geklee tree nader. Die volgende oomblik word Elmarie omgeswaai en die deken gly van haar skouers af. Sy gryp dit desperaat om haar middel vas en hoor terselfdertyd hoe die bostuk van haar nagklere skeur. ’n Hand met lang, skerp naels gly oor haar ontblote rug.
“Jou suster se vel is sag en teer en … ongeskonde,” sê die sagte stem agter haar rug. “Dit sal jammer wees om dit te skend.”
Elmarie staan asemloos, te vreesbevange om die geringste beweging te maak.
Agter haar rug verbleek Marcelle. Haar vingernaels vreet in haar handpalms. Haar stem is skor, vol haat. “Jou duiwel!” Sy kyk vas in die swart oë. “Dit sal nie help nie – ek sê jou, dit sal nie help nie!”
“Selfs nie wanneer hierdie rug vol bloederige rafels hang nie?
Elmarie se liggaam ruk toe sy haar suster se antwoord hoor: “Jy kan haar doodmartel, ek sal nie praat nie!”
“Miskien sal jou suster praat as die sambok haar rug oopkloof.”
“Sy kan nie praat nie, al wil sy ook. Het jy gedink dat ek so ’n gek sal wees om haar te vertel?”
Die vrou wys met ’n vinger en ’n tweede slaaf tree nader en trek sy arm na agter op, sambok in die hand. Elmarie deins terug, wasbleek, en struikel oor die deken sodat sy oor die divan val. Die volgende oomblik land die eerste wrede hou op haar rug. Haar liggaam ruk en ’n kreun ontsnap oor haar lippe. Haar hande gryp die kante van die divan krampagtig vas.
Asof van ver hoor sy Marcelle se stem in hul moedertaal na haar aangesweef kom: “Moenie praat nie! Hou uit! Moenie praat nie!”
Die slaaf se hand gaan weer omhoog en die gestalte wat nog steeds roerloos op die platform staan, kom vinnig in beweging. Die vrou se oë is op Marcelle gerig, meedoënloos, terwyl laasgenoemde se liggaam ruk met elke dowwe slag wat val. Die man beweeg vinnig by hulle verby en buk oor die krullende lyf wat oor die divan uitgestrek lê.
“Moenie praat nie!”
Sy lippe roer skaars, maar die aandrang in sy stem laat Elmarie haar dig toegeknypte oë vinnig oopmaak, al kan sy hom nie duidelik sien nie. Daar is ’n waas van pyn voor haar oë en toe sy vingers oor haar pols skuif, gryp haar hand syne krampagtig vas. Die man se donker oë gloei op die pynverwronge gesiggie af. Dan kom hy vinnig orent.
“Staak dit!”
Die slaaf laat sy arm sak en die vrou se kop keer vinnig in sy rigting. Die man ontmoet haar beweginglose oë onverskrokke.
“Dit sal nie help nie, Hatsjepsoet. Jy het gesê haar verloofde is reeds op pad hierheen. Ek dink jy sal daar meer sukses behaal. Hierdie meisie sal ’n goeie prys behaal. Jy skend haar nou so dat jy niks met haar sal kan maak nie. Ek het jou van die begin af gesê jy moet die suster uitlos en die verloofde vat. Stuur hierdie een na die mark. Sy is vir ons niks werd nie.”
Die oë staar hom nog ’n oomblik uitdrukkingloos aan. Dan maak sy ’n afwerende gebaar en die slawe retireer. Sy draai om en begin die trap bestyg. Ná ’n oomblik van aarseling volg hy haar.
Salf en ’n rok word langs die halfbewustelose Elmarie neergesit en dan gaan die deur toe. Marcelle is dadelik op haar knieë langs die divan. Terwyl snikke deur haar liggaam skok, begin sy die bebloede rug reinig en met die uiterste versigtigheid die salf aansmeer.
“Is … is hulle weg?” kom die hortende vraag.
“Ja. Ek dink hulle sal jou laat gaan. O, sus, dis alles my skuld!”
Elmarie byt op haar tande en kom stadig orent. Ook haar oë swem in trane toe sy na Marcelle kyk.
“Moenie jouself verwyt nie. Wat bestem is, dit sal wees.” Sy tas in haar suwwe verstand rond. By wie het sy dit gehoor? “Jy het gelyk gehad, Marcelle. Ons sal geen genade van hierdie mense kry nie. Ons enigste behoud is dat ons nie moet praat nie.” Sy frons en vee met ’n bewende hand oor haar oë. “Marcelle, daardie man … Hy het by my gebuk …”
“Nektanebo?”
“Ja. Hy … hy het ook gesê ek moenie praat nie.”
Marcelle kyk haar skerp aan.
“Dis onmoontlik, sus. Jy het jou dit seker maar verbeel.”
“Nee, ek het nie. Ek is seker. Hy het oor my gebuk en gemaak asof hy my pols voel. Toe het hy dit gesê. Hoe lyk hy? Ek wou opkyk,