Ena Murray Keur 13. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624082125
Скачать книгу

      “Ek het jou ook gehoor roep, maar ek het hom beslis duidelik gehoor.” Sy sug en strek ’n bewende hand na die kledingstuk langs haar uit. “Help my om dit aangetrek te kry, asseblief.”

      Sy trek haar asem in. “Dit voel of die vagevuur op my rug aangesteek is. Is die hale diep?”

      “Nee, nie te diep nie, maar dit sal nog lank seer bly.”

      Marcelle se oë is teer terwyl sy die rok oor haar suster se skouers laat glip en versigtig oor die rou rug trek. Sy is dankbaar dat Elmarie nie alles gehoor het wat gepraat is nie. Soos sy kan aflei, is hulle van plan om haar suster op ’n slawemark te verkoop, en haar hart krimp ineen as sy dink aan watter lot daar op haar wag. En dan … Deon is op pad hierheen. Dis wat Nektanebo gesê het. Met ander woorde, Deon is ook in hul mag. Die moontlikheid van redding raak al skraler. Maar Marcelle vertel Elmarie niks hiervan nie. Dis beter dat sy dit nie weet nie.

      En bo hul koppe, in die vertrek net bokant die keldervertrek, staan die man en vrou teenoor mekaar. ’n Skraal, bleek hand word op die bykans ontblote bors van die man gelê.

      “Nektanebo! Jy het die afgelope tyd nie veel belangstelling getoon nie. Is daar iemand anders?”

      Hy staan roerloos onder haar aanraking.

      “Dit was jou eie keuse, Hatsjepsoet. Jy het jou formeel tot man laat verklaar.”

      “Jy weet ek kon niks anders doen nie. Eeue gelede al is my lot neergelê.”

      “Maar jou bloed is warm – nie uitgedroog soos dié van die mummie waaruit jy gebore is nie. Wat maak jy wanneer jy die bloed warm deur jou are voel stroom? Omhels jy dan die sarkofaag wat jou gebaar het? En skenk dit aan jou bevrediging?”

      Die gesig bly uitdrukkingloos, maar die oë wat na hom opkyk, gloei met ’n vreemde lig.

      “Wanneer ons alleen is …”

      “Ons is nooit alleen nie. Jy weet dit. Daar is altyd oë wat kyk. Waar is jou lyfwag nou?”

      “Ek het hom weggestuur. Ons ís alleen.” Sy beweeg nader sodat hul velle teen mekaar skuur, haar bloedlose lippe na hom opgehef.

      “Nektanebo, jy weet ek is ’n vrou!”

      Hy aarsel nog ’n oomblik en dan gly sy gespierde arms om haar en die lang, donker wimpers val oor die donker oë wanneer die man sy kop oor hare buig. Agter hulle roer ’n paneel in die muur skaars merkbaar … en in ’n bloedlose hart gloei die donker haat terwyl die oë die hartstogtelike omhelsing tussen die man en vrou aanskou.

      Ná ’n paar oomblikke onttrek die man hom uit die omhelsing en vee moeg oor sy oë.

      “Ek gaan rus. Ek is doodmoeg. Ons kan môre verder praat wanneer Deon Rabie hier is.”

      Sy antwoord nie, maar haar blik volg hom totdat hy uit die vertrek is. Agter haar skuif die paneel wyer oop. Selfs toe ’n stem digby haar praat, bly die vrou se oë gerig op die deur wat agter haar minnaar toegegaan het.

      “Is dit moontlik dat die skone Hatsjepsoet die belangstelling van Nektanebo verloor het?”

      Sy kyk uitdrukkingloos oor haar skouer na agter.

      “Jy vergeet jou plek, Naton. Het jy gedoen wat ek gesê het?”

      Die lag is gedemp en hol.

      “U bevele is uitgevoer. Die vrou met die goue hare is op pad. Nektanebo sal haar nooit weer sien nie.”

      “Wat bedoel jy?”

      Die laggie klink weer tartend op.

      “Het die eeue u oë versluier sodat u nie die lig in Nektanebo se oë gesien het toe hy na die vrou met die ligte hare gekyk het nie? Daar was ’n gloed in hulle wat ek nog nooit tevore daarin gesien het nie – selfs nie in die intiemste oomblikke tussen u en hom nie.”

      Die donker oë lyk nou skielik lewendig.

      “Loer jy nog altyd af? Eendag sal jy nog my geduld te ver beproef.”

      ’n Hand skiet uit en gryp die maer pols vas.

      “Eendag sal jy my liefde een keer te veel uittart, Hatsjepsoet. Daardie dag wanneer ek moet agterkom dat jy volkome aan Nektanebo behoort. Die sarkofaag wat jou gebaar het, sal jou dan weer ontvang.”

      Marcelle kyk nie eens op toe die deur oopgaan en voetstappe nader kom nie.

      “Waar is jou suster?”

      Dan draai sy na die man.

      “Hulle het haar weggevat.”

      ’n Donker frons verskyn tussen die oë.

      “Waarheen?”

      “Na die slawemark, soos jy voorgestel het.”

      Hy staan roerloos. Dan, met ’n gedempte kragwoord op sy lippe, swaai hy om en storm die trap op.

      4

      Toe Elmarie so skielik beveel word om die wagte te volg, het sy en Marcelle skaars tyd om mekaar te groet. Hul hande het mekaar net vlugtig aangeraak en in albei se oë het die vraag gelê: Sal ek haar weer sien?

      Daarna is Elmarie weggelei en Marcelle het alleen agtergebly om ’n halfuur later aan Nektanebo die nuus mee te deel: Elmarie is reeds op pad na die slawemark.

      Gelukkig vir Elmarie het sy nie geweet waarheen sy geneem word nie. Maar al sou sy ook kon raai, is dit te betwyfel of dit veel indruk op haar sou maak. Haar rug was nog te rou en seer om haar veel aan die onmiddellike toekoms te steur. En dan was daar nog die vraag wat haar gedagtes oorheers het: Wie is Nektanebo, die man wat vir haar gefluister het? Want hoe meer sy daaroor dink, hoe sekerder raak sy dat sy haar dit nie verbeel het nie, dat hy werklik gesê het sy moenie praat nie. En saam met daardie sekerheid groei ’n ander sekerheid in haar: sy ken hom. Net – sy ken hom nie by die naam Nektanebo nie, maar as Hoessein!

      Elmarie word weer geblinddoek en in ’n motor gelaai. Dis ’n lang rit en nie een van die twee mans by haar in die motor praat ’n woord nie. Later kom hulle by ’n klein oase aan en daar word sy aan ’n ander man oorhandig. Die reis word voortgesit op kamele. Elmarie is te uitgeput om weerstand te bied toe sy op die kameel se rug getel word, selfs al is die blinddoek verwyder. Daar is ’n soort skerm van penne en materiaal bo-op die harige boggelrug gebou sodat sy nie sigbaar is van buite af nie.

      Later in die dag is sy innig dankbaar vir hierdie skerm toe die hitte van die woestynson in al sy felheid oor die sandduine neerbak. Net een keer sien sy ’n karavaan kamele teen die horison afgeëts staan.

      Dis eers teen die aand, toe ’n bloedrooi son in die weste sak, dat Elmarie eindelik die doel agter hierdie lang reis agterkom.

      Dis ’n redelik groot oase wat hulle nader. Daar heers groot bedrywigheid tussen die palmbome wat soos eensame wagte oor ou ruïnes waak. Sy sien baie mans, almal geklee in die los kleed van die Arabier. Dis donker onder die bome en die bewegende gestaltes lyk spookagtig in die flou lig van die sekelmaan.

      Toe sy en die Arabier die binnekring nader, skemer die volle werklikheid tot haar deur. Op ’n verhogie, rooi verlig deur die gloed van ’n vuur, sien Elmarie ’n ry meisies. Die oorgrote meerderheid is Europese meisies van alle ouderdomme. Party van hulle lyk nog soos blote kinders. Almal is skamel geklee sodat die gloed van die vlamme oor die vroulike rondings speel, tot die genot van die gulsige blikke wat aan hulle kleef. ’n Man staan voor hulle en swaai wild met sy arms in die lug – hy is besig om hulle op te veil.

      Elmarie verys in haar spore. Is dit die lot wat op haar wag? Sy deins terug, maar staalharde vingers om haar pols sleep haar vorentoe. Daar kom uitroepe van die bieërs toe sy in die ligkring ingestamp word. Die ou Arabier aan haar sy glimlag ingenome. Vanaand gaan hy baie geld maak.

      Die horde swart oë staar gretig na die blonde hare, die sagte rondings, die groot oë soos diep poele in die wit gesig. Nuwe geesdrif vaar onder die bieërs in. ’n Opgewonde gemurmel styg op.

      Elmarie