Lisa voel hoe sy yskoud word. Die meisie se gesig doem voor haar op. Sy sien weer haar verskrikte oë. Haar lippe wat beweeg. Pasop! verstaan sy skielik wat die meisie vir haar wou sê. Pasop vir die orkesmeester.
Paniekerig kyk Lisa rond. Die meisie sou haar nie verniet gewaarsku het nie. Vir al wat sy weet, hou hy haar op hierdie einste oomblik dop. Maar wie is hy? Of is dit dalk ’n sy? Dalk Toonleer wat op die manier ontslae raak van haar losers? Ja, dit kan net die goor musiekjuffrou wees! Niemand anders praat ooit van die orkesmeester nie.
Maar hoe gaan sy dit bewys? Net toe gewaar sy Wolfgang se blonde kuif waar hy met lang treë uit die rigting van die ou hoofgebou aangestap kom. Fantasties, hy sal haar glo, dink Lisa verlig terwyl sy na hom drafstap.
Wolfgang luister in stilte. “Dalk moet ons in Toonleer se musiekkamer gaan kyk of ons enige bewyse kan kry,” stel hy voor nadat sy hom alles vertel het.
Geskok kyk Lisa na hom. “Is jy mal? As sy ons daar betrap, slag sy ons lewend af.”
Hy glimlag skeef. “Wat is die kans? Dis Saterdag, of het jy vergeet?”
Lisa byt haar onderlip vas en besluit om niks te sê van die klaskamer se gordyn wat vroeër die oggend geroer het nie. Dit was seker net haar verbeelding, en as sy wil weet wat aan die gang is, sal sy doodeenvoudig van haar bangheid moet vergeet.
Terwyl hulle onder die laning bome deurloop, loer sy onderlangs na Wolfgang. Hy is amper ’n kop langer as sy. Die oggendson toor goue vlekkies uit sy lang bleekwit wimpers en sy mond is sag. Kwesbaar.
Hoe sal dit voel as hy haar soen? skiet dit deur Lisa se gedagtes. Sy voel hoe haar wange warm word en kyk vinnig anderpad. Die ou doen iets vir haar, maar nóú is nie ’n goeie tyd vir muisneste nie. Sy moet haar kop bymekaarhou en uitvind wat aangaan voor sy ook geheimsinnig verdwyn. Intussen moet sy bly wees Wolfgang glo haar storie en is bereid om haar te help.
Uiteindelik staan hulle voor Toonleer se toe klaskamerdeur. Wolfgang druk sy oor daarteen. Luister fyn. Toe knipoog hy gerusstellend en draai die knop. Lisa betrap haarself dat sy wens dis gesluit. Toe nie. Stadig swaai dit oop …
Soos Wolfgang voorspel het, is die klaskamer verlate. Met die swaar donkergroen brokaatgordyne toegetrek is dit skemer binne en ’n bedompige reuk hang in die lug, amper asof hier jare laas ’n lewende wese was.
Die ronde tafel voor die venster waar Toonleer altyd haar koffie skink, is netjies met ’n kantdoekie toegegooi, maar daardeur kan Lisa die bekende blou koffiefles en die juffrou se geblomde koffiebeker sien. Ook die plakboek waardeur sy die vorige dag geblaai het.
Sonder om te huiwer stap Wolfgang na die tafel. Hy lig die kleedjie en maak die plakboek oop. Vasgenael staar Lisa na sy sensitiewe vingers terwyl hy deur die boek blaai.
Regte kunstenaarsvingers, dink sy. Kunstenaarsvingers wat elke bladsy streel terwyl hy duidelik geïnteresseerd daarna kyk. Wat sien hy? Lisa stap nader en kyk oor sy skouer.
Die vars geur van natgereënde kruie wat hom omring laat haar weer effens bedwelmd voel en dit vat ’n sekonde voor sy kliek wat sy sien.
Die plakboek is vol koerantuitknipsels! Van musiekleerlinge van dwarsoor die land wat die laaste jare geheimsinnig verdwyn het.
Lisa sluk swaar. “Ek het dit geweet,” fluister sy. “Dis ou Toonleer! Sy´ is die orkesmeester.” Haar stem word dun. “En die volgende slagoffer is ek.”
Voor Wolfgang kan antwoord, is daar ’n geluid by die deur. Lisa se lyf ruk toe sy omkyk en sien dis Toonleer wat die vertrek binnekom.
Die juffrou se oë pen hulle vas waar hulle langs haar tafel staan en ’n bose uitdrukking gly oor haar gesig. Seker omdat Wolfgang nog haar boek vol donker geheime in sy hande vashou, dink Lisa en haar knieë wil-wil knak van vrees.
Om regop te bly gryp sy Wolfgang se boarm vas en kyk paniekerig rond. Hulle moet hier uitkom! Maar hoe? Toonleer blokkeer die deur. Die venster is die enigste ander uitkomplek, maar sal hulle dit betyds oopkry?
Sy sukkel nog om die swaar gordyne weg te druk toe sy agterkom hoe stil dit is. Verskrik kyk sy oor haar skouer. Toonleer staan nog op die drumpel. Maar iets is nie pluis nie. Sy kyk na Lisa met ’n snaakse uitdrukking op haar gesig, amper asof sy haar jammer kry.
Haar mond beweeg. “Hoekom het jy nie geoefen nie?” hoor Lisa. “Hoekom?” Dan draai Toonleer se oë na Wolfgang. “Orkesmeester,” fluister sy skaars hoorbaar en maak ’n kniebuiging.
Verskrik kyk Lisa op na hom. ’n Gerusstellende glimlag plooi om sy lippe. “Moenie jou aan haar steur nie, sy is ’n regte pretbederwer,” sê hy en Lisa voel hoe sy regterarm om haar middel sirkel.
Hy stoot haar in die rigting van die deur. “Kom! Die ander losers wag vir jou. Diep in die donker kelder waar ek julle goed kan dophou. Van nou af gaan jy oefen. Dag en nag. Vir ewig en altyd– tot die muse uiteindelik tevrede is.”
Toe gooi die orkesmeester sy kop agteroor en sy lag stuur ysige rillings teen Lisa se ruggraat af.
Kyk diep in my oë
Okerbruin. Kastaiingbruin. Sy oë is bruin. Waarom? Skenkers se oë is gewoonlik groen of blou?
“Enige probleme die afgelope week, Nommer …?”
Dokter Cyrus Abravo probeer ongemerk na sy rekenaarskerm loer. “Nommer 53?”
“Alles gaan goed, Dokter.” Beweeg die skandeerder oor my maag, meet my temperatuur, voel aan die kliere agter my ore, ontleed die urienmonster wat ek in die blou bottel geskenk het, dan sal jy weet, Dokter. Alles reg. Die projek is nie in gevaar nie.
“Jou keel is rooi. Is dit seer as jy sluk?”
En sy oë is bruin. Ek kyk na die glasvenster agter die dokter se rug, waar hy nou net verbygeloop het. Waarom het ek hom nie voorheen opgelet nie?
“Ek voel gesond, Dokter.”
Die stetoskoop lê koud teen my bors, ek haal diep in en uit asem.
“Onthou om dadelik aan te meld as jy siek voel. Jy kan maar aantrek.” Dokter Abravo draai terug na sy rekenaar en tik ’n paar vinnige notas.
Ek rits my silwer baadjie toe, trek my stewels se gespes vas en loop uit die vierkantige glaskamer. Ek wonder hoe dit met Tazmin se ondersoek gegaan het? Sy het gister gekla sy het oorpyn. En dit net drie weke voor haar veertiende verjaarsdag. Amper tyd.
“Haai! Kyk waar jy loop!”
Die meisie se hare is blond en swaai parmantig om haar kop. Sy skuur ongeduldig verby my en verdwyn in die gang op pad eetsaal toe. Ek ken haar gesig, maar nie haar naam nie. Reël nommer 7: Skenkers sal nie hegte vriendskappe vorm in die jaar voor skenking nie.
Maar dis anders met Tazmin. Ons het saam by die program aangesluit toe ons twaalf was. Saam moeg en deur die slaap uit die vlugkapsule gestrompel een koue nag, op pad na ons nuwe lewe by die Akademie. Beide ons ouers het in die gasoorloë gesterf toe ons maar vier was. Ek sug. En nou gaan ek háár oor drie weke verloor. Maar dis goed so. Dit hoort so. En my veertiende verjaarsdag? Oor ses weke. 12 Augustus 2055. Dan is dit my beurt.
“Wat het die dokter oor jou gesê?” vra ek.
Tazmin skuif verby my in die skoolbank en sit haar geskiedenistablet sag neer. “Ek is gesond. Alles op skedule. Ek is só verlig, sal vanaand weer kan rustig slaap.”
Juffrou Lexy Valkenburg skuif haar duur nagemaakte perlemoendopbril agtertoe oor haar perfekte spitsneus en vee ’n blonde krul agter haar fyn oor in. Sy is ons skoolhoof, saam met tien onderwysers, wat skoolhou vir tweehonderd Skenkers. Sy bedryf die program effektief, werf gereeld nuwe deelnemers, bestuur kalm dié van ons wat reeds deel van die program is.
“Goeiemore,