Ek sug diep. Uit die hoek aan my oog sien ek hoe die meisie met die baie vlegseltjies haar skinkbord vat en opstaan. Snaaks, ek het haar nie vroeër raakgesien nie, al deel die meisie- en seunskoshuise die eet- en studiesaal.
Haar vlegsels wip parmantig toe sy neus in die lug verbystap. Dis eers toe sy al by die deur uit is dat ek die papiertjie opmerk wat langs my stoel lê. Het sy dit laat val?
Ingedagte tel ek dit op en wil dit net opfrommel toe ek sien wat in vet, ronde letters daarop geskryf staan: Juffrou Klaradyn.
Juffrou Klaradyn?
My kop slaan oor na vyfde rat. Natuurlik! Dis mos die afgetrede juffrou wat alleen in haar huisie op die hoek van die skoolterrein woon. Nuwelinge word sommer met die intrap gewaarsku om uit die ou fossiel se pad te bly en ek kan verstaan waarom.
Sy dra altyd swart klere en met haar krom figuur en toiingrige grys vlegsels sal sy nogal tuis lyk op ’n besemstok. Maar soos ek van my ma verstaan, het sy baie jare terug hier kom skoolhou. As daar iemand is wat die storie van die studieklok ken, sal dit sy wees! Hoe gouer ek en Hamburger by haar uitkom, hoe beter.
Ek moes geweet het Hamburger gaan dink my plan stink.
“Het jy dit nou heeltemal verloor, my ou?” baklei hy toe ons laatmiddag koes-koes by die koshuis se sydeur uitglip. “As Vince agterkom ons bank studie, is ons so goed soos geskors. En wat laat jou dink die ou heks sal ons help? Kans is beter sy verander ons in brulpaddas.”
“Ons bank nie studie nie,” skets ek die groter prentjie. “Ons gebruik net die tyd vir noodsaaklike navorsing.” Ek wil hom gerusstel oor juffrou Klaradyn, maar aangesien ek vermoed hy is reg, hou ek liewer my mond. Toe ons uiteindelik voor haar windskeef huisie staan, moet ek my sweterige hande eers aan my hemp afvee voor ek klop.
Tot my verbasing swaai die pers houtdeur byna dadelik oop. Juffrou Klaradyn loer deur die skrefie. “O, dis julle,” sê sy opgeruimd asof sy ons verwag het en maak die deur wyer oop.
’n Benoude uitdrukking verskyn in Hamburger se oë en ek moet hom vinnig in die rug stamp om te keer dat hy laat spat. Saam steier ons oor die drumpel. Ons bevind ons in ’n skemer vertrek wat na katpiepie en laventel ruik.
Juffrou Klaradyn druk die voordeur toe. ’n Swart kat knip sy gloeiende geel oë en spring met ’n miaau van die koffietafel af, waar ’n wolkie stoom uit die tuit van ’n geblomde teepot trek. Juffrou Klaradyn vra: “Tee?”
Ek en Hamburger kyk na mekaar terwyl ons probeer om nie te proes van die lag nie. Wie gee nou vir koshuisbrakke tee? Maar ten minste is sy nice. Hopelik kry ons die inligting wat ons soek en kan ons weer aangaan met ons lewens.
“Nee dankie, Juffrou,” sê ek vinnig en glimlag op my sjarmantste. “Ons het net gekom om …”
“Ek weet.” ’n Fyn glimlag plooi om haar dun lippe. “Julle wil die storie van die studieklok hoor. Dis goed so. Lyk my die ander het lankal vergeet.”
Sjoe, ek het nie gedink dit sal só maklik wees nie. Ek volg haar met my oë terwyl sy ’n koppie tee skink en op ’n riempiesbankie by ’n venster gaan sit. In die lig wat deur die stowwerige ruit val, lyk sy amper deurskynend. Vir ’n paar lang sekondes speel sy met die silwer teelepeltjie tussen haar knopperige vingers.
Toe begin sy vertel. “My pa het die studiesaal en die kloktoring gebou. Hy was ’n weldoener wat wou hê die jongmense moet hulle studie ernstig opneem. Aanvanklik het dit goed gegaan. Maar toe begin die skool die saal vir ander funksies ook gebruik. Eers die matriekafskeid. Toe die skoolkonsert. Later vir sokkies ook.
“Uiteindelik kon my pa hom nie meer inhou nie. Hy het voor die kloktoring gaan staan en begin skree: ‘Waag julle skarminkels dit net om weer jollifikasie in die studiesaal te hou en die blou bliksems sal op julle koppe losbars! As hierdie klok ooit weer lui vir iets anders as studie, is Bloubaai Hoër gedoem. Gedoem, sê ek julle!’
“Die kinders het gekrul van die lag, gekoggel hy is ’n kens ou man. En dit na alles wat hy vir die skool gedoen het! Maar nie vir lank nie. Presies om twaalfuur daardie nag het die studieklok begin lui.
“Deur die slaap het die koshuisouers en die kinders uit hulle beddens gespring en na die vensters gestrompel. Buite was die studiesaal gebaai in die maanlig. Terwyl een slag na die ander deur die naglug dreun, het die kinders na hulle mae begin gryp. Erge krampe en diarree.”
Juffrou Klaradyn bly lank stil terwyl sy haar tee om en om roer. Ek hou my asem op. Wat nou? Dit lyk amper asof sy van ons vergeet het.
Gelukkig gaan sy verder. “Tragies. Die helfte van die koshuiskinders het in die hospitaal beland. Later die nag is die hoofseun dood.”
Ek hoor hoe Hamburger sy asem skerp intrek. My eie mond val skaamteloos oop.
Juffrou Klaradyn gee ’n rinkellaggie. Sy sit haar teekoppie neer, gooi haar dun grys vlegsels oor haar skouers, staan op en maak die voordeur oop. “Nou weet julle. Die vloek wat my pa oor die studieklok uitgespreek het, was nie ’n grap nie. Daarna het niemand ooit weer gewaag om dit te lui nie. En die studiesaal is nooit weer vir iets anders as ernstige studie gebruik nie.” Haar stem bewe. “Wee die dag as dit ooit weer gebeur!”
Buite in die skerp sonlig kyk ek en Hamburger verdwaas na mekaar. So iets het ons nie verwag nie. Maar ten minste het ons die inligting wat ons nodig het. Ten minste gaan ons die sottekonsert oorleef!
Die volgende oggend stap ons windmakerig by die eetsaal in. Toe ons by die prefekte se tafel verbystap, moet ek myself keer om nie vir Jac tong uit te steek nie. Ons gaan sit en my oë soek na die meisie met die vlegseltjies. Een of ander tyd sal ek vir haar ’n roomys moet koop. As sy daai papiertjie nie laat val het nie, was ek en Hamburger nou in groot bollie.
Daar is egter geen teken van haar nie. Die hele oggend kyk ek rond, maar niks. Dis so goed of die aarde het haar ingesluk.
Daardie middag lê daar ’n papiertjie op my studietafel. Ek snak na asem en kan dit nie vinnig genoeg oopvou nie. Dadelik herken ek die vet, ronde handskrif.
Sy jok vir julle! lees ek. Dit was sy´ wat die klok gelui het. Dalk was dit ook sy wat die kos met giftige sampioene gedokter het. Sy wou haar pa wreek. Hy is vroeër die aand aan ’n hartaanval dood.
Studietyd sleep verby. Ek swot niks. Staar net na die briefie wat oop tussen my wetenskapboek se blaaie lê. Nee kyk, nou probeer die girl my met ’n slap riem vang. Die tingerige juffrou Klaradyn ’n hele skool se kinders vergiftig? Ek glo dit nie! Buitendien, toe dit gebeur het, was sy seker self nog ’n skoolkind. Ek stoei nog so met my gedagtes toe die blinkste plan ooit my tref!
Natuurlik brand ek om vir Hamburger daarvan te vertel, maar hy sit ewe ernstig met sy neus in sy boek en ek moet geduldig wag tot die prefek met sy kneukels op die tafel kap om die einde van studietyd aan te kondig.
Skaars is ons egter by die deur uit, of ek keer Hamburger vas en druk die brief onder sy neus. Sy oë rek toe hy dit lees, maar toe ek hom van my plan vertel, trap hy amper een van die stoeptrappies mis.
“Het jy nou jou laaste varkie verloor?” stik hy.
“Nee, ek’s flippen briljant,” kap ek terug. “Sien jy nie? Toe die ding met die klok gebeur het, was juffrou Klaradyn nog op skool. Haar pa maak ’n aap van homself en kry ’n hartaanval toe die kinders met hom spot. Sy neem wraak en lui die klok om hulle bang te maak. So eenvoudig as dit!”
“O ja, en wat van die kinders wat siek geword het. Die hoofseun wat dood is?”
“Bloot toevallig. Voedselvergiftiging miskien,” antwoord ek nugter. “Maar dink net! Dis die perfekte storie om die spul prefekte mee terug te kry …” Ek beduie met my hande terwyl ek my plan stap vir stap verduidelik.
“Hmm, ek weet darem nie …” gooi Hamburger wal toe ek klaar is, maar hy kou aan sy onderlip, ’n duidelike teken dat hy besig is om my meesterplan ernstig te oorweeg.
Teen Saterdagaand het ons alles haarfyn uitgewerk. Soos ek