Natuurlik, juffrou Valkenburg. Reël nommer 10: Skenkers sal alle skoolwerk getrou en stiptelik doen.
“Nommer 62, wie was verantwoordelik vir die ondergang van die beskawing soos ons dit in 2045 geken het?” Juffrou Valkenburg stap arms gevou tussen die rye skoolbanke deur.
’n Seun staan op. Hy lyk soos ons almal– wit spanbroek, knielengte silwer baadjie met ’n hoë kraag en breë lapelle, grys stewels met silwer gespes. Maar daar is ook iets anders aan hom.
“Dit was die inwoners van die planeet Lukarna wat die Aarde met gifgas oorweldig het. Driekwart van die bevolking het gesterf.”
Ek is gewoonlik verveeld in die geskiedenisklas. Maar vandag mis my hart ’n slag. Dis hy! Dis sy bruin oë wat anders is. My wenkbroue lig. H’m. Nommer 62. Ek wonder wat sy naam is?
Dis stil in die slaapsaal. Al wat ’n mens hoor, is die rustige asemhaling van Skenkers. Ek lig die klap van my slaapkapsule, kom regop en swaai my voete af. Ek voel na Tazmin onder my. Haar kapsule se deksel is ook oop. Toe ek aan haar skouer raak, weet ek sy is wakker.
“Kom,” fluister ek.
Ons sluip uit die slaapsaal en gaan sit buite in die helderverligte gang.
“Hoekom slaap jy nie? Is jy bang?”
Tazmin vee deur haar kort rooi hare. Die sproete op haar wange lyk dof in die skerp neonligte, maar sy glimlag.
“Is jy´ bang, Ember?” vra sy.
Ek skud my kop. “Nee. Ons doen dit vir ’n goeie rede. En ons hou mos een oog.”
Ons is Skenkers. Ons skenk ons oë. Vandat ons twaalf is, gaan ons skool in die Akademie vir Skenkers. Kom nooit buite die Akademie nie, want dis nie nodig nie. Ons liggame word geoefen, ons verstande geskool, ons gesondheid gemonitor, ons oë elke week getoets. Ons is perfekte, gesonde tieners.
En dan, op ons veertiende verjaarsdag, word ons na ’n operasieteater geneem. Een oog word geoes. Geskenk aan die jong kinders wat blind gebore is ná geenmutasies in hulle ouers wat blootgestel was aan die gasse.
Ons het almal groen of blou oë. Sterker visie as bruin oë. Maar lyk my daar is tog skenkers met bruin oë? Ek het blou oë wat soms pers lyk teen my swart hare.
“Ja, ons sal regkom met een oog. En dan het ons ’n huis en kan universiteit toe gaan op regeringsonkoste!” Tazmin steek haar hand uit en trek my op. “Kom ons gaan slaap, voor die naginspekteurs ons hier vang.”
My lyf gly glad deur die blou water. Ons kies almal een sportsoort wat ons elke dag mag beoefen, net soveel ure as wat ons wil. Myne is swem.
Dis stil, my asem en die geluid van my arms wat die water ritmies klief, is die enigste klanke in die warm lug van die binnenshuise swemsaal.
Maar toe my kop weer bo die water uitkom, is ek nie meer alleen nie. Hy staan op die rand van die swembad, ’n wit handdoek oor sy skouer. Nommer 62.
“Swem jy altyd alleen in die aand?”
Ek voel skielik ontbloot en sak dieper in die water. Hy is so naby, ek kan fyn haartjies op sy voorarms sien blink.
Hy steek sy hand na my uit om my uit die water te trek en ek neem dit instinktief, sonder om te dink.
“My naam is Daneel Oon, joune?”
“Em- … Ember Taylor.” Ek stotter soos ’n dogtertjie. My wange word warm.
En so vind ek uit wat sy naam is. Ek vind uit hy is twee weke gelede na my afdeling oorgeplaas sonder dat enige rede gegee is. Reël nommer 11: Skenkers sal nie die bestuur van hulle daaglikse roetine bevraagteken nie en hulle volle samewerking gee. Dat hulle hom aanvaar het, al is sy oë bruin, omdat sy Toegangspunt bogemiddeld was. Ek vind uit hy kan vinniger as ek swem. Ek vind uit sy bruin oë lag in myne en ek hou daarvan.
Ek soek na hom in die eetsaal en is bly as ek sy goudbruin kuif herken. Ek stuur vir hom briefies in die geskiedenisklas. Ek swem saam met hom saans. Ek raak verlief. En hy? Sy oë word sag as hy na my kyk.
Reël nommer 13: Skenkers sal nie verhoudings met die teenoorgestelde geslag begin in die jaar voor skenking nie.
Ons begin ’n verhouding.
Drie weke na ons eerste aand in die stil swembad voel dit of ek nie meer kan asem kry waar ek in my slaapkapsule rondrol nie.
Tazmin … sal ek haar ooit weer sien?
Ek swaai my voete oor die slaapkapsule se rand, mis haar onder my, haar leë slaapkapsule oop en donker soos ’n doodskis. Ek sluip oor die koue vloer en lig die stukkende vensterknip wat die naginspekteurs gelukkig nooit hoor nie.
Buite in die tuin sak ek neer op die bank waar ons altyd gesit het. Om my is dit stil. ’n Kat loop op die hoë muur rondom die Akademie, aan die verste punt van die tuin. Tazmin het altyd die rondloperkatte gevoer.
Trane vloei warm oor my wange, my kop op my bors. My rooikopvriendin met die groen oë …
“Hoekom is jy so hartseer?”
Ek ruk. Daneel. Hy moes gesien het hoe ek deur die venster klim. Kon hy ook nie slaap nie?
“Tazmin. Sy is vandag teater toe. En al sê hulle ons sal mekaar weer sien wanneer ons in die Gemeenskap terug is … voel dit vir my of sy … weg is.”
Daneel skuif nader en sit sy arm om my.
Ek sug en ontspan teen sy bors. Dankie tog hy is nog hier! Ek gaan drie dae voor hom teater toe.
Sy vingers trek deur my kuif en druk my hare agter my oor in. “Jy sal haar weer sien. Ons doen die regte ding. Dit moet so wees. Ons eie behoeftes is nie nou belangrik nie.” Sy hand vou om my nek, sy vingers verstrengel in my hare.
Skielik verstar hy. “Wat is dit dié?” Sy vingers voel nou doelbewus onder my hare, hoog teen my nek. Hy frons. Pluk aan iets.
Ek gil. “Eina!” Ek vryf agter my nek.
Ons staar na die inplanting tussen sy vingers, duidelik in die maanlig. ’n Stukkie silikoon. Twee klein naaldjies.
“Die ding kom uit jou nek!” Skielik word sy oë donker. “Moenie my sê …”
Hy voel agter sy eie nek, hoog op. Sy vingers word stil. Hy pluk en snak na asem van die pyn. Dieselfde silikooninplanting lê in sy handpalm.
“Hulle beheer seker ons denke deur ’n rekenaarprogram, sodat ons hulle nie bevraagteken nie!” Daneel se fluisterstem klink vies. Ons dryf op ons rûe in die warm water. Daar is vanaand meer kinders in die swembad as gewoonlik en ons kan nie gesels soos altyd nie. “En waarom moet óns ons oë skenk? Waarom vat hulle nie platannas en kloon oë uit optiese stamselle nie? Moet dit nou juis ons s’n wees?”
Ek lag. “Dalk is daar nie meer platannas in die Gemeenskap oor nie? Dalk het hulle ook almal in die gasoorloë uitgesterf, onthou jy?” Maar ek stem saam met hom. Skielik maak die program nie meer sin nie. Skielik wil ek beide my eie oë hê, vir ewig. En wanneer is daar ’n silikooninplanting in my nek gedoen? Waarvan ek nie weet nie?
“Ek dink ons moet by die skoolhoof se kantoor inkom. Probeer uitvind wat die plan met die silikooninplantings is. Ek is seker daar sal antwoorde wees.”
Ons het niemand vertel dat ons die inplantings gekry het nie. Deesdae lyk almal vir my soos glimlaggende plastiekpoppe, wat spring om juffrou Valkenburg en haar onderwysers gelukkig te hou. Was ek ook so? Waarom is almal in die Akademie so vriendelik en voortreflik en gedienstig? Is Daneel reg dat dit iets met die inplantings te doen het?
Daneel draai op sy maag en swem na die kant van die swembad. Sy stem is skor. “Vannag.”
Ek knik.
My flits se lig bewe dun oor die vloer. Langs my lyk Daneel kalm, maar my hart klop in my keel. Die naginspekteurs patrolleer