“Melly, wag!” skree Kabous en hardloop agter haar aan.
“Wat is jou storie?” sis Melly toe sy uitasem langs haar inval.
“Hu?”
“Aag, moenie dom speel nie!” Hande in die sye kyk Melly na haar. “Dis daardie aaklige masker. Die ding is getoor. Vandat jy dit het, dans jy ewe skielik soos ’n ballerina en kom almal wat naar is met jou iets vreesliks oor. Raak ontslae van die ding voor nog goor goed gebeur!”
Kabous kan haar ore nie glo nie. Hoe kan Melly sulke onsin kwytraak? Is sy dalk jaloers omdat sy, Kabous, vir ’n verandering in die kollig is?
Die hele pad huis toe spook Melly se woorde by haar. In haar kamer haal sy die masker uit haar sportsak en hang dit teen die kasdeur op. Toe gaan sit sy op haar bed en bekyk dit.
Die bleekwit elfgesiggie kyk met leë oë terug na haar. Dit lyk maar nes ’n gewone mombakkies. Melly is seker nie ernstig as sy dink die simpel ding is getoor nie? Tog stuur die skewe glimlag om die masker se mondhoeke skielik ’n nare gril teen Kabous se ruggraat af.
Die nag maak Kabous amper nie ’n oog toe nie. Wanneer sy wel insluimer, is haar drome vol bose maskers, bloed en gille. Die volgende middag, toe sy by die saal instap vir die laaste repetisie, het sy besluit die masker moet weg, net vir ingeval.
Toe sy daarmee in haar hand na die kostuumkamer stap, roep Papie haar terug. Die juffrou se gesig lyk grys, asof sy oornag jare ouer geword het. “Asseblief, Kabous.” Haar stem soebat. “Jy is al een wat ons revue kan red. Sal jy asseblief die hoofrol dans?”
Kabous kan haar ore nie glo nie. Sy, die ster van die revue? Great! ’n Oomblik huiwer sy. Vrek, sê nou sy maak weer ’n aap van haarself? Skielik raak sy bewus van die masker in haar hand. Dit voel warm, amper asof daar ’n lewende vel onder haar vingers is. En weer is dit vir Kabous of iets vreemds in haar lyf klim. Asof van ver, hoor sy haar eie stem. “Natuurlik! Juffrou kan op my reken.”
Met dié woorde trek sy die masker oor haar gesig.
Die repetisie verloop vlot, al is Kabous die hele tyd bewus van Melly wat verwytend van agter die klavier na haar kyk. Gmf, wie dink Melly is sy? Voor sy haarself kan keer, trek Kabous vir Melly skewebek agter die masker.
Onverwags swiep ’n yskoue wind deur die saal. Die swaar gordyne wapper woes en die klavier se deksel klap toe – op Melly se hande waar sy besig is om die laaste akkoord te druk. “Au, my vingers!” gil sy terwyl haar gesig wit word van pyn.
Dis al donker toe Kabous uiteindelik in die kostuumkamer instap. Asof in ’n dwaal hang sy die elfgesig op teen die haak langs die deur waar sy dit gekry het. Die gebeure van die laaste paar uur spook nog in haar kop: Melly wat onophoudelik kerm dat haar vingers gebreek is en sy nooit weer sal kan klavier speel nie. Die graadagts wat doelloos rondmaal. Juffrou Papie wat uit die saal storm en een van die swaar kolligte onderstebo hardloop sodat dit op haar kop val.
Die sirenes van die ambulans wat die juffrou kom haal het, skree nou nog in Kabous se ore. Sê nou Papie gaan dóód?
“Ek weet dit was jy,” fluister sy amper onhoorbaar vir die masker. “Al die nare goed wat gebeur het – dit was jy.”
Vir ’n oomblik lank is dit tjoepstil in die kostuumkamer. Toe, so sag dat dit haar verbeelding kan wees, kom die antwoord: “Moenie nou vir my´ die skuld gee nie.” Die hol gate, waar die masker se oë is, vernou. “Ek maak net wense waar. En dit het jy tog agtergekom, nie waar nie, Kabous?”
Die orkesmeester
“EEEEEK!” Skrik skiet deur Lisa se brein toe Carla se gil soos ’n alarm bokant haar kop afgaan. Deurmekaar steier sy orent en staar na haar kamermaat wat histeries voor haar bed rondtrippel.
“Moenie vir my sê jy slááp nie! Dié tyd van die dag?” snak Carla terwyl sy met haar wysvinger op haar selfoon se horlosie tik. “Nog tien minute en dis tickets.”
Die middagson stroom helder deur die koshuiskamer se venster. Lisa sak terug teen die kussings en gooi haar arm oor haar gesig. “Maagpyn,” kreun sy en draai op haar sy. “Ek dink nie ek kan …”
“Nonsens!” Sonder seremonie pluk Carla die duvet weg. Sy gryp Lisa se gekreukelde skooljurk van die stoel af en gooi dit na haar. “Almal het maagpyn as dit tyd is vir ou Toonleer se les. Maar niemand is ooit – OOIT – laat nie.”
Teensinnig kry Lisa se trae ledemate lewe. Sy kruip uit die bed, gooi haar trui oor haar skouers en soek met lam hande onder haar bed rond na haar skoolskoene. Uiteindelik aangetrek, strompel sy na haar lessenaar. “Bladmusiek … bladmusiek …” mompel sy terwyl sy tussen die deurmekaarspul grawe.
“Hier!” Carla druk ’n verfrommelde papier in haar hand. Jy het dit in die gang laat val.” Haar oë vernou. “Weer nie geoefen nie, nè?”
Lisa antwoord nie. Sy sien haar musiektas nêrens en besluit om nie tyd te mors om daarna te soek nie. Met die bladmusiek onder haar arm vasgeknyp, vlieg sy by die deur uit.
Sy spring die koshuistrappies twee-twee af. Van daar is dit net ’n paar treë met ’n geplaveide paadjie, omsoom deur ’n laning eikebome, voor sy die klassieke lyne van die ou hoofgebou gewaar.
La Serenata Musiekakedemie, lees sy die sierletters op die gewel bokant die ingang. Instinktief word haar pas stadiger. Sy haat die crummy plek met sy witgekalkte mure en versiersuikerpilare. Prestige musiekskool se voet. Flippen martelhuis, as jy haar vra.
Gespanne spits sy haar ore. Luister vir die klank van klaviernote wat vanuit die oop skuifraamvensters in die vleuel links van die imposante houtvoordeur kom. Maar vandag hoor sy niks. Net die wind wat deur die droë boomblare ritsel.
’n Sprankie hoop fladder in haar bors. Tydens haar vorige les het ou Toonleer hoeka so ’n nare hoesie gehad. Miskien is sy siek. Longontsteking dalk. Afgeboek vir die res van die kwartaal. Sal dit nie great wees nie?
Ja, right. Asof sy só gelukkig gaan wees, raps Lisa haarself oor die vingers terwyl sy sleepvoet verder loop. Soos sy haar musiekjuffrou ken, sal sy uit die graf opstaan om les te gee.
Onder haar skoensole kraak die bruin herfsblare soos uitgedorde beentjies. Geraamtebeentjies, dink sy en ril. En ’n hopie beentjies is al wat gaan oorbly as Toonleer klaar is met haar, dit voel sy aan haar bas.
Carla was reg. Sy het nie ’n steek geoefen nie. Elke keer as sy agter die klavier inskuif en die musiekstuk uithaal, doem haar musiekjuffrou se witgepoeierde plooigesig voor haar op en vries haar vingers. As dit so aangaan, gaan sy die eksamen druip en in hierdie skool is daar nie plek vir losers nie.
Skielik gee die wind ’n wilde ruk. Lisa se skooljurk warrel op en ’n vlagie droë blare piets geniepsig teen haar kaal bobene. Toe sy skree en probeer keer, pluk die wind die bladmusiek onder haar arm uit en skep dit in die lug op.
“Nee!” Vervaard storm sy agterna. Sy gryp na die papier, maar dis of die herfswindjie haar aspris op sleeptou neem. Elke keer as sy die musiek raakvat, glip dit deur haar vingers.
Net-net buite haar bereik dwarrel dit in die paadjie af, al hoe nader aan die hoofgebou. Paniek skroei in haar bors terwyl sy dit agternasit. Sy móét dit in die hande kry voor dit bo-oor die dak vlieg.
Dit gaan erg genoeg wees om aan juffrou Kahlenberg te probeer verduidelik hoekom sy die mislike musiekstuk nie perfek kan speel nie. Sy wil nie eens dink wat sal gebeur as sy sonder die bladmusiek opdaag nie.
“Wow! En wat waai vandag hier rond?” Die ou kom so onverwags van agter een van die pilare te voorskyn dat Lisa briek moet aanslaan om hom nie onderstebo te loop nie. Hy hou sy hande uit om te keer. Die bladmusiek swiep in sy rigting en beland in sy handpalm, amper asof dit presies daarheen op pad was.
“Gee