Dis koue kos, skat. Marita van der Vyver. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marita van der Vyver
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624079774
Скачать книгу
nie, al sewe doodsondes, dis wat jy in my binneste sal vind. Ek dink darem nog nie daaraan om iemand dood te maak nie. Wel, ek moet erken ek wens soms iemand wil namens my van my man se lover ontslae raak, sê nou maar soos in Hitchcock se Strangers on a Train. Kan jy gló wat ek skryf?

      Jy’s die enigste mens op aarde teenoor wie ek kan erken hoe opgefok ek eintlik is, my liewe sus. Vir my kinders moet ek voorgee dat ek oukei is, vir my kollegas en vriende, wel, hulle kan sien dat ek nou nie juis ’n voorbeeld van diep innerlike vreugde is nie, maar ek kry dit tog reg om die stank van my wanhoop vir hulle weg te steek. Om die deksel soort van op die vullisdrom te hou. Net nou en dan snags of douvoordag is ek besope of babelaas genoeg om die deksel vinnig op te lig en vir arme Marita ook so ’n virtuele snuif op internet te gee. Ek vermoed sy gaan binnekort ophou om my e-pos oop te maak, siestog, ek sou dit lankal gedoen het as ek sy was.

      Verder vermy ek my vriende, weier alle uitnodigings, antwoord nie die telefoon nie. By die werk sonder ek my af in my proefkombuis waar ek na bulderende operamusiek luister terwyl ek bak en brou. Die musiek dien as afskrikmiddel vir indringers, werk beter as traangas, glo my. Verdi se La Traviata oor en oor, Violetta se hartverskeurende “Addio del passato”, vaarwel aan die verlede, die rose het reeds verwelk … Ek hou ’n hele verskeidenheid van Violettas in my proefkombuis aan, Callas, Tebaldi, Sutherland, en terwyl hulle een vir een singend sterf, kook ek snikkend voort. As iemand sou vra waarom my oë rooi is, kan ek altyd die uie of die brandrissies beskuldig.

      Ek proe nie meer aan die geregte wat ek vir Eva se kosblaaie optower nie. Dit sou nutteloos wees, want alles smaak vir my eenders. Solank dit goed lyk op ’n foto, het ek wat my betref my plig vervul. En ek het lankal geleer dat selfs ’n bak hondekos smaaklik kan lyk op ’n foto; al wat nodig is, is die regte bykomstighede en beligting. Onthou jy hoe ek altyd beklemtoon het dat kos met liefde en geesdrif gemaak moet word? Dan kan selfs die eenvoudigste gereg ’n feesmaal wees? Nou ja, met al die bitterheid wat op die oomblik in my binneste opgaar, kan selfs ’n feesmaal nie anders as ’n fiasko wees nie.

      En soos die wrede noodlot dit wil hê, moet ek juis nóú die grootste feesmaal van die jaar kook. Toe ek vanoggend met die hond gaan stap (wat ek weke laas gedoen het, die arme Tjoklit is besig om so vet en onfiks soos sy ounooi te word), merk ek dat die jakarandaboom onder in die straat pers spatsels begin wys. Vir my elke jaar die teken dat ek my met Krismiskos moet bemoei. As jy by ’n maandblad werk, lewe jy mos altyd drie maande vooruit, vanweë die sperdatums. In November vier ons Valentynsfees en in Februarie gedenk ons Moedersdag. Daarom moet jou ousus binne die volgende week in aller yl ’n paar geskikte resepte vir ’n onvergeetlike Kersmaal vind. Dit word vir my elke jaar ’n erger marteling. Nie die maal nie (wel, ja, dit ook, saam met onaangename familielede en selfs meer onaangename skoonfamilie), maar hierdie vervroegde poging om iets oorspronkliks en verbeeldingryks vir Eva se lesers op te tower (maar nie té oorspronklik of té verbeeldingryk nie, dan word dit volksvreemd) wat nie te veel moeite, tyd of geld kos nie. Met bestanddele wat lesers van Naboomspruit tot Nababeep maklik in die hande kan kry.

      Ek wens ek kon sê kom ons onthou ’n slag dat die Kind waarom die hele fees veronderstel is om te draai, in ’n stal gebore is. Kom ons smeer dik snye tuisgebakte brood met skaapvet, soos die herders wat die stal besoek het, en sluk dit af met ’n gebraaide lamstjoppie as ons uitspattig wil wees. En basta met al hierdie aangeplakte pretensie van opgestopte kalkoene en twintig bykosse en tafels vol pronkende poedings.

      Intussen sit ek alleen op die stoep van my huis wat vanoggend so leeg soos ’n skulp voel. As ek my oor teen ’n venster druk, sal ek sweerlik die see deur die vertrekke hoor suis. Ek sit op die stoep, ja, soos ouma sonder oupa, geen menslike geluide om my nie, selfs ’n poepende oupa sou nou nogal welkom gewees het, en ek staar uit oor my tuin waar selfs die voëls onverklaarbaar ophou sing het. Hulle sê mos diere weet instinktief wanneer aardbewings en ander natuurrampe aan die kom is. Dalk het hulle ook ’n aanvoeling vir menslike rampe soos egskeidings en moeders wat vir die eerste keer ’n kinderlose Sondag moet deurbring. Dalk swyg die tuinvoëls uit simpatie en respek vir my, soos mans in die ou dae hulle hoede afgehaal het wanneer ’n begrafnisstoet verbyry, want Bernard het vanoggend die kinders kom haal om die dag saam met hom en A deur te bring.

      Na my mening is dit gans te vroeg vir die kinders om hulle pa nou al saam met “die ander vrou” te sien. Sy teenargument is dat hulle reeds die ander vrou ken (omdat sy my vriendin was!) en daarom nie bedreig sal voel nie. Ek wonder watse verwronge lesse oor lojaliteit en vriendskap ons kinders uit hierdie ervaring gaan leer. En tog kon ek nie weier nie, hulle het my almal in ’n koor staan en smeek – selfs Paula – vermoedelik opgesteek deur hulle agterbakse pa. Maar ek kan mos ook sien, elke liewe dag, hoe hulle hom mis. En ek wil hulle nie méér laat ly as wat hulle reeds ly nie. So, ek het hulle laat gaan.

      Wel, om heeltemal eerlik te wees, iewers diep in hierdie vullisdrom wat my binneste geword het, is daar ook die perverse hoop dat hulle vanaand wanneer hulle terugkom, teenoor my gaan bieg dat hulle niks meer van die verfoeilike A hou nie, dat hulle nooit weer hulle pa saam met A wil sien nie, dat hulle dalk selfs, wie weet, niks meer van hulle pa hou nie …

      Clara

      PS: DIESELFDE AAND, AMPER MIDDERNAG

      Dit het nie gewerk nie. Dit het só nie gewerk nie! Soos Nicolas sou sê. Lang storie kort: Die kinders het in ekstase teruggekeer van “’n fantastiese dag saam met Pappa-hulle”. Heeltemal hyped-up van te veel suiker, hamburgers en milkshakes by McDonald’s, woeste elektroniese speletjies in die een of ander “games arcade”, ure van inkopies en verbruik, verbruik, verbruik. Al my Gebooie oor die Grootmaak van Kinders in ’n enkele dag verbreek deur my moedswillige eggenoot. Paula het histeries begin huil toe haar pa wou groet en ek is gedwing om haar uit sy arms los te skeur. Wat my natuurlik soos die skurk in die verhaal laat voel het. Wat de hel het van regverdigheid geword? Hallooo?!? Is daar iemand daar bo wat luister??? Niemand wou die pampoensop hê wat ek vir aandete gemaak het nie, almal was te vol gemorskos geprop. Nicolas en Sebastian het soos soldate op speed oor ’n elektroniese speletjie gebabbel: Toe skiet ek daai ou … blaas ek die hele gehou op … drie op een slag soos in morsdood … dit was cool, nè …

      Ná ek vir Paula ’n slaaptydstorie gelees het, terwyl haar oë toeval, wou sy slaperig weet: “Hou jy van Nanas, Mamma?”

      Nanas is wat sy Anaïs noem, omdat die naam vir haar te moeilik was om uit te spreek toe sy jonger was.

      Soos dit nou vir my ook te moeilik geword het om uit te spreek.

      Wat kon ek sê wat die kind nie sou traumatiseer nie? Toe mompel ek maar hmm, ek hou van haar – en ek dink, soos ek van motorongelukke en hospitale en musiek met Hawaïse kitare hou. En my liefste Paula-kind knik en sug: “Ek hou ook van haar …”

      Nou weet ek hoe die arme Caesar gevoel het. Selfs jy, Brutus, selfs jy.

      Ag, liewe hemel, skryf tog vir my oor Edinburgh en hoe jou huis lyk en hoe jou kinders aanpas in hulle nuwe skool en enigiets, net wat jy wil, maar skryf asseblief. Ek het kontak met normale mense nodig, ek weet ek het, maar ek sien nie kans om my normale vriende met hulle normale lewens in die oë te kyk nie. Dis makliker so op ’n afstand.

      From: Clara Brand [[email protected]]

      Sent: Fri 02/10/98 22:58

      To: Marita van der Vyver [[email protected]]

      Subject: S.O.S.S.O.S.S.O.S. (steeds!)

      Die mooiste mooiste maand se moer. Soos die lentebloeisels van die bome grond toe dwarrel so val stukkies van myself aanmekaar af stukkies vel en vleis en binnegoed. Verskoon die melodramatiese metafore ek luister steeds snags na Puccini dis seker besig om my brein aan te tas. En ons is nog nie eens “amptelik” aan die skei nie die eintlike opera het nog nie begin nie (soap opera is seker ’n beter woord) ons is nou eers by die ouverture. Daar gaan waaragtig niks van my oorbly teen die tyd dat ons by die slottoneel in die skeihof uitkom nie ’n verskrompelde stuk stomp dis al wat ek gaan wees g’n kans dat ek ooit weer bloeisels of blare of selfs net ’n onvergeetlike ete gaan voortbring nie. Ek wens iemand kan my help jirre want ek weet nie meer hoe om myself te help