Ek het my soos ’n hond met ’n lam onderlyf teruggesleep werk toe. Terug na hierdie enorme gebou waar soveel koerante en tydskrifte daagliks, weekliks, maandeliks, uitgebroei word. Die wete dat jy en my man (ja, hy is steeds my man, al woon én werk hy nou saam met jou) op ’n ander verdieping iewers onder my besig is met julle eie duistere broeiwerk, konkelwerk, samesweerdery, steek my verskriklik dwars in die krop. En moet my asseblief nie beledig deur dit af te skryf as blote jaloesie wat sal oorwaai nie. Ek weet wat jaloesie is.
Of dalk het ek net gedog ek weet.
Ek het al voorheen ligte aanvalle van hierdie vieslike siekte gekry. Enkele kere, in my jonger dae, vóór Bernard, selfs ernstige aanvalle. Veral saam met James, ’n man wat te mooi en te ydel en te selfsugtig vir enige vrou was. Ek het jou van hom vertel, onthou ek, omdat ek jou wou troos oor jóú verhouding met ’n mooi en ydel en selfsugtige lover wat nie uitgewerk het nie. Wat was sy naam nou weer, die vent oor wie jy soveel krokodiltrane in my kombuis gestort het? As dit nie vir dié bliksem was nie, het ek jou dalk nooit jammer gekry en huis toe genooi nie, het ons dalk net vriendelike kollegas in ’n vrouetydskrif se redaksie gebly, het jy dalk nie …
Hier gaan ek al weer. As, as, as. Ek maak myself mal, dwaal in eindelose sirkels om elke enkele ding wat ek die afgelope jaar of twee gedoen of gesê het – of erger, nie gedoen of gesê het nie. Nie gesien of gehoor het nie. Terwyl alles volgens jou seker so bestem was, written in the stars, jy glo mos aan sulke snert. Gerieflik, nè, nou hoef jy nie skuldig te voel oor enigiets nie, dis Jupiter wat in Venus was. En my man wat in jou was. Waarom maak dit so séér elke keer as ek daaraan dink?
Na James het ek ’n soort immuniteit teen jaloesie verwerf. Hoe meer onseker ’n vrou van haar eiewaarde is, hoe makliker word sy die prooi van jaloesie. Die Evangelie van Eva en ander vrouetydskrifte. Ek het werk gemaak van my onsekerheid, ’n muur van selfvertroue om my gebou, baksteen vir blerrie baksteen, jare lank. Ek het ’n intelligente, sensitiewe, kunssinnige man getrou, ’n kenner van rolprente en musiek en boeke, en ons het drie gesonde en gelukkige kinders in die wêreld gebring, hoe geseënd kan ’n vrou nie wees nie. Ek kon my passie vir kos en vir woorde in ’n beroep omskep, kosskrywer vir koerante en tydskrifte word, betáál word om te kook en te eet! Hoe geseënd kan ’n vrou …
Selfs wat die uiterlike betref, het ek geleer om van myself te hou. Dwarsdeur my tienerjare en tot in my twintigerjare het ek nooit enigiemand geglo wat my “Mediterreense voorkoms” aantreklik vind nie. Ek het bly hoop ek gaan een oggend my oë oopmaak en ontdek – o, die vreugde! – dat ek oornag lank en slank en sportief en blond geword het. Teen dertig het dit oplaas tot my deurgedring dat dit nooit gaan gebeur nie. Ek het weer eens na Eva se raad gegryp. Eva en Cosmopolitan en Elle en Glamour en al hulle pragtige papiersusters. Maak die meeste van wat jy het, nie van wat jy nie het nie. Ek het my donker vel en my rojale kurwes begin beklemtoon, geleer om klere te dra wat my voorkoms vlei eerder as om al daardie lang, skraal, blonde modelle op die modefoto’s te probeer naboots, en dit het waaragtig gewerk. As ek dink aan al die jare wat ek gemors het in die verkeerde outfits. Die afgelope dekade het ek oplaas gemaklik in my eie vel begin voel, tuis in my eie lewe, oukei oor wie en wat ek is.
En hier bars jy by my lewe in, ’n cliché van lang, skraal, sportiewe, blonde skoonheid, en ek voel nie eens bedreig nie, want ek is mos oukei, al is my bene miskien ’n bietjie kort en al neig my boude miskien na plomperigheid en, en, en … En sowaar, my intelligente, sensitiewe, kunssinnige man val vir jou. Soos enige breinlose bastard sou, enige lieplapper wie se voël harder werk as sy verstand, enige man wat …
Soos enige man sou?
Hulle kan tog nie almal sulke dose wees nie! Of kan hulle? As dit gaan oor toegang tot ’n begeerlike vroulike doos, is hulle dalk almal verdoem tot ewige doosagtigheid.
Hoor hoe bitter klink ek. Alles waarin ek geglo het – intelligensie en eerlikheid in intieme verhoudings, wedersydse respek tussen geslagte, liefde-tot-die-dood-ons-skei – alles het die afgelope maand verdwyn, spookasem wat in die yskas gelos is en klam geword het, daar’s niks oor nie. Net hierdie galbitter smaak in my mond, ek vermoed dit moet een van die newe-effekte van jaloesie wees, dat selfs my gunsteling-geregte vir my soos aalwynsap smaak. Sjokolade is al wat ek nog kortstondig kan proe, hoe soeter en goedkoper hoe beter, my enigste oorblywende smaaksensasie, dis ’n katastrofe. Vir my om my smaaksintuig te verloor, is soos ’n verspringer wat sy voete verloor, ’n operasangeres wat haar stem verloor. Van opera gepraat, ek is nou by Verdi se Otello. Van slagoffers in hulle liefde verlaat tot slagoffers van jaloesie. Hoewel ek die sterkste identifiseer met die siniese Iago. E credo l’uom gioco d’iniqua sorte … Inderdaad, op die oomblik glo ek die noodlot speel met ’n mens, van die wieg tot die graf. Vien dopo tanta irrision la Morte! En ná soveel sotheid kom die dood!
Ek het gedog ek weet wat jaloesie is – maar niks, niks in my vorige lewe, kon my voorberei op die intensiteit van wat ek nou beleef nie. Ek voel of ek my tong met ’n vleismes uit my mond wil slag, net om nie langer hierdie bitterheid te proe nie.
As ek ’n greintjie trots oorgehad het, sou ek jou nooit hierdie brief laat lees het nie. “Ag, shame, sy suffer rêrig,” sal jy vir Bernard sê. “Die arme vrou,” sal Bernard vir jou sê. Die lááste ding wat ek van julle wil hê, is bejammering. Wat ek wil hê, weet ek nie. Miskien net ’n behoorlike besef van die verwoesting wat julle saai? Ek het nie ’n keuse nie, ek moet my tot jou rig, want Bernard het totaal onbereikbaar geword. Verblind deur die glans van jou blonde hare, verdoof deur die beloftes wat jy in sy oor fluister, heeltemal betower deur wat jy ook al aan hom doen. In die bed, seker, want in die kombuis is jy hopeloos. Behalwe as ons praat van seks op die kombuistafel, of langs die wasbak, tussen die koffiemasjien en die vuil skottelgoed. My fliekvlooiman het te veel films met onwaarskynlike sekstonele in stomende kombuise gesien, die jeugdige Jessica Lange met meel besmeer in The Postman Always Rings Twice, Glen Close waansinnig van wellus in Fatal Attraction, dit bly sy langdurigste fantasie, soos jy seker ook al agtergekom het. Ek wou nooit eintlik saamspeel nie, ek sal eerder op ’n tafel eet as naai, en vuil skottelgoed laat my wellus verdwyn soos seepskuim in vetterige water.
Jy’s klaarblyklik anders. Jy’t jouself graag aan Bernard beskryf as “die wêreld se swakste kok”, met so ’n suggestiewe soort spoggerigheid wat ek te onnosel was om te begryp. Ek kan miskien nie kook nie, dis wat jy eintlik wou sê, maar ek weet hoe om mans op ander maniere op te stook …
Dus skryf ek nou aan jou, my gewese vriendin, want my man is besig om weg te dryf in ’n see van wellus. Ek staan op ’n hawemuur en waai my arms wild om hom te waarsku, maar hy voel nie die stroom wat hom al hoe dieper insleep nie. Dit gaan sy einde beteken, hierdie sinlose jagsgeit, die einde van sy huwelik, die einde van sy gesinslewe, die einde van alles behalwe miskien melerige seks op ’n kombuistafel.
En hoeveel keer kan mens in meel rondrol voor dit ook vervelig raak? Wag, hier’s nog ’n lysie vir jou, om jou fliekopvoeding ’n stap verder te voer.
5 FILMS MET ONGELOOFWAARDIGE VRYTONELE
From Here to Eternity (1953, daardie branders wat so aanmekaar oor die vryers breek)
The Postman Always Rings Twice (1981, daardie kombuistafel)
Last Tango in Paris (1972, mens kan beter dinge met botter doen)
Max Mon Amour (1986, Charlotte Rampling en ’n groot aap)
King Kong (1931, Fay Wray en ’n baie groot aap)
Jou gewese vriendin
Clara
10 Augustus 1998
Op kantoor, Goudstad
Bernard
Toe ek vanoggend by my kantoor instap, my kop dof ná nog ’n nag van opera,