Maar nou gaan dit sommer stukke beter. Jy hoef jou werklik nie meer oor my te bekommer nie, Bernard. Die wiel draai stadig, soos my ma altyd gesê het, maar hy draai. En as hy té stadig draai, nou ja, dan kan mens hom seker ’n paar stote gee. Allesverloren, inderdaad.
Groete van die moeder van (sommige van) jou kinders
Clara
Kry al die bestanddele bymekaar
Laatnag, 9 Julie 1998
Johannesburg
Bernard jou Bliksem!
En dan praat ek nie eens van daardie skynheilige slet wat kamtig my vriendin was nie!
Ek kan nie glo hoe blind, doof, stom en onnosel ek was nie! Ek kan nie glo hoeveel uitroeptekens ek gebruik nie! Wat de fok het van my skryfstyl geword?!?
Saam met my huwelik in duie gestort, blykbaar.
As kosskrywer behoort ek tog te weet dat uitroeptekens so oordeelkundig soos brandrissies gebruik moet word.
Hulle se ’n vrou wéét wanneer haar man haar bedrieg. Wie’s “hulle”?!? Waarom het ék niks vermoed nie?!? Almal om ons het blykbaar lankal snuf in die neus gekry – maar as een van my kwaadwillige kollegas my nie kom wakker skud het nie, het ek dalk nog maande lank in my gekkeparadys lê en droom. Nee, verkeerde beeld. In my gekkekombuis staan en kook.
“Hulle sê” ook die pad na ’n man se hart loop deur sy maag. Miskien waar, maar die pad na sy bed loop deur sy ballas. Dit het A pas weer bewys. Jissis, Bernard, sy kan nie eens ’n eier kook sonder dat die dop kraak nie! Wat de donner eet julle wanneer julle saam is? Of verraai ek nou net weer my stiksienigheid met so ’n vraag? In die eerste verruklike maande van verlief wees en wellus kan mens seker sonder kos lewe. Ek het dit self ook gedoen, lank lank gelede, as tiener en jong vrou. Die eerste ruk saam met jou was ’n waas van sigarette en onderdrukte hongerpyne en seksuele ekstase. Ja.
Maar as die aanvanklike jagsgeit oorwaai, word mens wel weer honger. Jy sal sien.
Daardie laaste toneel in Woman of the Year, waar Spencer Tracy se vrou vir hom ’n fiasko van ’n ontbyt maak, was vir jou nog altyd skreeusnaaks. Maklik om vir sulke onbeholpenheid op die silwerdoek te lag – veral as die onbeholpe kok soos Katharine Hepburn lyk – maar in die regte lewe sal so ’n grappie gou verflou. Jy sal sien.
“Hulle sê” ook die een wat bedrieg word, is dikwels die laaste wat weet. Niemand so blind soos hulle wat nie wil sien nie, nè. Die vernedering, Bernard, die ondraaglike gedagte dat soveel mense my bejámmer het omdat hulle iets geweet het wat ek nie wóú weet nie. Dis amper erger as die uiteindelike gewaarwording van die bedrog wat gepleeg is.
Jissis, nee, ek kan nie so naïef wees soos ek nou klink nie! Jy weet tog ek was nog altyd skepties oor die ideaal van lewenslange monogamie. Behalwe miskien vir swane en tortelduiwe. En waarskynlik ook net omdat hulle nie lank genoeg lewe om voor seksuele versoekings te swig nie. Maar mense? Soos Minette graag sê, bigamy is having one husband too many; monogamy is the same. (’n Bietjie bitterbek, het ek altyd gedog, terwyl ek nog gedog het ek’s gelukkig getroud.)
En vir mans soos jy, miskien veral vir mans soos jy wat dikwels ver van die huis af moet werk en vele nagte alleen in hotelkamers moet deurbring, vir julle moet die versoeking soms onweerstaanbaar wees. Daarom het ek my lank gelede voorgeneem, as ek ooit moes hoor dat jy iewers langs die pad ’n eennagstaning elders gehad het, jou tentpenne vir ’n paar uur rondom ’n ander vrou ingekap het, sou ek sorg dat ek dit oorleef. Ek sou jou knaters met ’n stomp mes wou afsny, natuurlik, maar ek sou ons verhouding aan die gang hou. Ek sou nie toelaat dat ’n nag of drie van afwisseling, nuuskierigheid, opwinding – kies jou eufemisme, skrap wat nie van toepassing is nie – ’n langdurige huwelik, ’n gesamentlike huishouding en jare van gedeelde ouerskap verwoes nie.
As dit kom by die dinge van die lyf, mag mens maar jou trots sluk. Mans het nou eenmaal die gewoonte om hulle geslagsdele in enige beskikbare gat te druk, blitsige verligting te soek, sonder die geringste oordeelsvermoë. In die afgelope kwarteeu het vroue ook in al groter getalle begin om hulle lus soos hulle dors te les. As jy in ’n woestyn ronddwaal, kan jy nie bekostig om kieskeurig te wees oor water nie. Jy drink wat jy kry. Ek weet waarvan ek praat. In my jongvroudae was ek ook soms in daardie woestyn. Dit gaan oor die lyf en niks anders as die lyf nie. As jou kop begin praat – of, die gode behoed jou, jou hart! – is jy in die moeilikheid. Dan druk jy die paniekknoppie, skop die noodruit uit, maak dat jy wegkom.
Daarom kan baie vroue, en selfs heelwat mans, deesdae ’n huweliksmaat se lyflike ontrouheid vergewe.
Maar as dit gaan oor die dinge van die hart . . .
Wat jy gedoen het, jou bliksem, kan nie weggegrinnik word as ’n seksuele oomblik in die wind nie. Nee. Dit was nie net ’n ondeurdagte knippie in die donker of ’n roekelose naai teen die niet nie. Nee. Jy en A het weke lank, máánde lank – meer as ’n jaar? jissis, hoe moet ék nou weet? – ’n geheime verhouding vertroetel. Julle moes die mense naaste aan julle belieg en bedrieg, dag ná dag, week ná week, maand ná maand.
Hoe de fok het julle dit reggekry?!?!?!?!?!?!?!?!?
Na die hel met skryfstyl, na die hel met valse ordentlikheid van my kant af, na die hel met jou en A albei! Ek bedoel dit, ek hoop julle gaan hel toe hiervoor. Wat my betref, ek is klaar daar. Ek luister opera en ek drink whisky en ek huil, dwarsdeur die nag, nou al drie nagte lank. Ek het die opera en die alkohol nodig om die trane te laat vloei, want bedags moet ek alle emosie wegsteek, ter wille van die kinders. Hulle dink jy’s net weer op een van jou werkreise.
5 OPERAS MET VROUE IN HULLE LIEFDE VERLAAT
Mozart se Don Giovanni (arme Elvira)
Verdi se Rigoletto (arme Gilda)
Donizetti se Lucia di Lammermoor
Bellini se Norma
Puccini se Madama Butterfly
My whisky word warm, laat ek eerder my ewige lysmakery los en verder drink, van Clara.
Nog ’n nag, 13 Julie 1998
Galbitter in Gauteng
Die storie van A, dis waaroor ek vannag sit en tob, terwyl Cio-Cio-San so lieflik liries oor haar ontroue Pinkerton treur. Ja, ek luister steeds aanmekaar opera. Gewoonlik verkies ek blues, soos jy weet – as jy nog enigiets van my weet – maar die afgelope week is ek blouer as blou, te blou vir blou, nou soek ek die bloedrooi van opera. Oordrewe emosies en bloedige eindes, dis wat ek nou nodig het.
En ek vergryp my aan whisky en sjokolade, nag ná nag, asof ek myself in ’n alkoholiese, obese, belaglike Butterfly wil verander, net om dóódseker te maak dat jy nooit na my sal terugkeer nie.
Die storie van A, B en C. Dis nie dat ek aspris kripties wil wees nie. Ek kan letterlik nie haar naam skryf sonder om fisiek naar te word nie, daarom noem ek haar A. Sy herinner my aan die onderduimse Anne Baxter in All about Eve. (Gróót jaar gewees vir aktrises daardie, soos jy al meermale opgemerk het, Baxter en Bette Davis in All about Eve, Gloria Swanson in Sunset Boulevard . . .) Die hemel hoor my, as daar iéts in ons verhouding is wat ek gaan mis, wat ek rééds mis, is dit al daardie klassieke films wat jy my leer waardeer het, wat ons so gereeld saam gekyk het, wat ’n soort geheime taal tussen ons geword het. In ’n wêreld waar ’n woord soos “Rosebud” vir die meeste mense niks oproep nie, behalwe miskien ’n blomknop, was ons twee rare voëls van eenderse vere.
Was?
Nou het jy ’n nuwe leerling gekry met wie jy al die oorbodige kennis kan deel wat jy