Ek kon nie glo dat jy jou eindelik verwerdig het om een van my briewe te beantwoord nie. Jy was nog nooit een om ondeurdagte emosies op papier uit te stort nie. Dit kan dalk later teen jou gehou word.
Resensies was iets anders. Wanneer jy oor ’n rolprent of ’n toneelstuk of selfs die simpelste TV-program moes skryf, was jou woorde altyd weldeurdag. Selfs wanneer die onmoontlikste spertye soos die spreekwoordelike swaard skaars ’n haarbreedte bo jou kop gehang het. Onmoontlike spertye het jou beter laat skryf, het jy soms beweer, die spanning van die tikkende horlosie het jou verstand verskerp. Dis die verskil tussen ’n joernalis en ’n akademikus. Nog een van jou bewerings.
Maar die emosies in jou persoonlike lewe wou jy nie “resenseer” nie. Jy kon darem daaroor praat, wat meer is as wat baie ander mans kan sê, en vir my was dit meestal voldoende. Nou weier jy om met my te praat, behalwe oor wanneer jy die kinders kan sien, wanneer jy jou boeke kan kom inpak, al die praktiese en prosaïese reëlings wat getref moet word om die ruïne van ons verhouding ’n skyn van ordentlikheid te gee. En ek het ’n oorweldigende behoefte om op ’n ander vlak met jou te praat, om te verstaan wáárom jy doen wat jy doen, wat in jou kop aangaan, wat van jou hart geword het. Missing in Action, vermoed ek, daardie bloedpomp in jou borskas.
Ek het met jou getrou omdat ons kon kommunikeer, omdat ons verskeie passies gedeel het en ander by mekaar aangeleer het, omdat jy die enigste man is met wie ek ooit uitgegaan het wat eerder ’n goeie rolprent as ’n goeie rugbywedstryd sou gaan kyk. Oukei, nie altyd nie, soos alle wit mans in Suid-Afrika het jy ’n ding oor rugby. Selfs my moffie-vriende in hierdie land kyk rugby. Soos ek al jare lank, sonder sukses, aan verbaasde buitelanders probeer verduidelik.
Daarom het ons ook soms op ’n Saterdagmiddag saam TV-rugby gekyk, albei effens geamuseerd deur ons onverklaarbare gedrag, terwyl ons ’n bottel goeie wyn deel. Wanneer ons rolprente kyk, het jy dikwels hardop kommentaar gelewer, asof jy reeds besig was om jou resensie uit te dink, selfs lank nadat jy opgehou het om resensies te skryf. Jy het opgehou omdat jy bang was jy verloor jou passie, dis hoe jy dit gestel het, omdat plesier besig was om plig te word. Eintlik, dit het ons albei geweet, omdat jy besluit het die kunsredaksie is ’n doodloopstraat vir ’n ambisieuse koerantman soos jy. Jy wou die korporatiewe leer klim, vinniger “bo” uitkom, waar “bo” ook al was, en daardie leer het in die vuil water van die politiek gestaan. Kantoorpolitiek, natuurlik, maar vir ’n koerantman soos jy het dit ook landspolitiek beteken. “Regte” politiek, sake van die dag, dis waaroor jy moes skryf, eerder as oor rolprente, teater, musiek.
Dis toe jy begin verander het. Nee, dis nie ’n verwyt nie, dis te laat daarvoor, en buitendien, ek besef dit nou eers, noudat ek terugkyk. As lid van die politieke redaksie moes jy baie meer rondreis, gedurende die parlementsitting was jy kort-kort in die Kaap, en die laaste jaar of wat was daar boonop die emosionele uitmergeling van die WVK, waarvan jy goddank nie ’n permanente getuie moes wees nie. Ons het albei gesien wat daardie ervaring aan party van ons kollegas in die pers gedoen het. Minette werk saam met my by ’n vrouetydskrif – waarvoor sy vroeër haar intellektuele neus sou optrek en haar spottende oë sou omdop – omdat die WVK haar tot ’n senu-ineenstorting gedryf het. Omdat selfs ’n siniese persvrou soos sy nie sinies genoeg was vir wat sy dag ná dag dáár moes aanhoor nie.
Ieder geval, jy het ook verander toe jy wegbeweeg het van die kunswêreld na die “werklike” wêreld. Jy het wegbeweeg van my en die kinders, eers bloot fisiek, omdat jy so gereeld uitstedig was, afwesig by skoolkonserte en sportwedstryde, maar geleidelik ook op ander maniere. Jy het nie meer jou werk met my bespreek nie. Miskien omdat jy my wou beskerm. Miskien omdat ek nie genoeg belang gestel het nie.
Niks wat ek jou nou vertel, is nuut nie – al het ons nooit daaroor gepraat nie. Maar dís waarom die koevert op my toetsbord my ’n paar oomblikke van bewende hoopvolheid besorg het. Uiteindelik weer ’n poging tot kommunikasie! Het ek gedog. As jy op daardie oomblik by my kantoor moes instap, sou ek jou moontlik alles vergewe het.
En toe sien ek dis nie jy wat die briefie in die koevert geskryf het nie.
Dis jou nuwe geliefde wat my wanhopige brief aan haar beantwoord het. Jy weet waarvan ek praat, sy maak dit duidelik dat sy daardie brief met jou gedeel het, “soos ek alles met hom deel”. Verskoon my dat ek gou gaan kots. Haar toon is selfvoldaan simpatiek, die waardige wenner wat die klaende verloorder troos. Wat tussen julle twee gebeur het, deel sy my goedgunstig mee, moet nie beskou word as die einde van ’n huwelik of ’n gesin of enigiets nie (gaan vertel dit vir my kinders wat elke aand wil weet wanneer hulle weer hulle pa sal sien), maar as “die begin van iets beter”.
Vir ’n ongelooflike en absurde sekonde het ek gedog sy bedoel ’n menage à trois. Ek en jy en sy almal saam, soos lede van die Bloomsbury Circle of ander boheemse Europese siele – en lywe, moenie die lywe vergeet nie – of erger, dat ek soos ’n onderdanige Moslem- of Zoeloe-eggenote moet aanvaar dat my man ’n tweede vrou gevat het.
Toe besef ek nee, ek word nie ingesluit by daardie “iets beter” nie. Al wat sy bedoel, is dat jy en sy iets beter sal hê as wat ek en jy ooit gehad het, en tant pis vir my of die kinders of enigiemand anders wat in die proses seerkry. Daar was nog ’n sin of drie, maar ek kon nie verder lees nie, die woorde het wasig geword voor my oë. Nie weens trane nie, o nee, dit was woede en verontwaardiging wat my tydelik verblind het. Ek was so kwaad dat ek nie asem kon kry nie. Ek moes by die kantoor uitvlug om onder in die straat ’n sigaret te gaan rook. My masochistiese manier om my longe net nog meer te straf.
Minette het my daar aangetref, één kyk gegee, en my na die koffiekroeg op die grondvloer gesleep. As hulle whisky bedien het, het ek ’n dubbele dop bestel. Ek moes tevrede wees met ’n cappuccino. Ek het vir Minette die brief gewys.
As A my briewe vir jou kan wys, kan ek hare seker ook vir iemand anders wys.
“Die fokken bitch,” het Minette gesê. Net dit, niks anders nie. “Die fokken bitch.”
Ek het niks om by te voeg nie.
Clara
13 September 1998
Stil Sondag in Suburbia
Liewe Nita
Wie sou nou kon dink, toe jy skaars twee maande gelede sak en pak hier weg is, dat my eerste brief aan jou in jou nuwe tuiste ’n treurmare oor my “verbrokkelende huwelik” sou wees? Getik op my sukkelende ou skootrekenaar, terwyl ek uitkyk oor my verwaarloosde tuin. Things are falling apart, voorwaar, the centre cannot fucking hold.
Goddank vir telefone. Al is dit onbekostigbaar duur om Skotland toe te bel, kan mens dit darem nog in noodgevalle doen. En die afgelope twee maande het my ganse lewe een groot noodgeval geword. Dankie tog ek kon jou bel en vertel wat aangaan, so oor duisende kilometer heen op my sus se skouer huil, anders moes ek nou die hele droewige sage hier neerskryf. Ek het nie die krag daarvoor nie, ek het die meeste oggende skaars die krag om my tande te borsel, om die smaak van die vorige aand se whisky en sigarette uit my mond te skrop voor ek werk toe ry, ek het ’n regte voëlverskrikker geword.
My beenhare moet geskeer word en my wenkbroue moet gepluk word en my snor moet gebleik word, moenie lag nie, ek oordryf nie, ek is in ’n toestand! My hare kort ’n knip, dringend, en dis nie al wat ’n knip kort nie as ek nou vulgêr wil wees. Maar ek wil nie, nee, ek wil nie eens dink aan seks nie, dit het ’n donnerse doodloopstraat geword waaruit ek sweerlik nooit weer gaan ontsnap nie. En dan bly ons maar liewers diplomaties stil oor die gewig wat ek aangesit het. Ander vroue teer uit ná liefdesteleurstellings, verloor hulle eetlus en word bleek en fragiel soos kerse in die wind, maar ek kry dit reg om binne twee maande meer gewig op te tel as toe ek my kinders verwag het. Pateties, nè.
Dis die innerlike wat saak maak, sal jy my probeer troos, nie die uiterlike nie. (Nee, jy sal nie sulke snert kwytraak nie, jy wéét hoe lewensbelangrik die uiterlike vir ons sogenaamde bevryde vroue geword het.) Maar as my uiterlike nie juis die aptyt prikkel nie, dan is my innerlike waaragtig