Mina vererg haar. “Moenie laf wees nie, Sanet!” Die trane is hoorbaar in haar stem. “Ons het saam grootgeword; vir wat sal ek geheime hê wat jy nie mag weet nie?”
“Nou praat dan, my kind …” moedig Tietser aan.
“Ag …” Nou vee Mina die trane af. “Dis sommer baie dinge. Party goed het my nooit vantevore gepla nie, en nou wonder ek skielik … Soos …” Sy sluk. “Niemand het my destyds gevra of ek in Missara-hulle se bediendekamer wil gaan bly nie. Ek verlang na Tietser se huisie …”
“Mina, jy is te groot om agter my rug te slaap.” Tietser sê nie hoe sy Mina se dartelende teenwoordigheid in haar huisie mis nie.
“Aag … ons kon ’n plan gemaak het … Missara is goed vir my, maar …”
“Lief vir jou, Mina, lief!”
“Ja. Miskien. Sy sal baie vir my doen. En gee.” Mina lig haar betraande gesig op na Tietser. “Maar hoekom is ek in die bediendekamer? Hoekom nie in die huis, soos toe ek klein was nie? As hulle my so danig liefhet?”
“Haai sies, skaam jou, Mina!” roep Sanet uit en stamp haar gemmerbier om. Sy vlieg op om ’n nat lap te kry. “Hemel! Ek moet ’n kamer deel met die simpele Ansie; ons huis het net een badkamer en soggens is daar altyd ’n bakleiery daaroor, en Mina kla! Sy het haar eie, yslike slaapkamer en haar eie badkamer! Jislaaik!” Verwoed vee sy die gemmerbier op en gaan spoel weer die lap in Tietser se skottelwater uit.
“Maar … Ag man, Sanet, dis nie waaroor dit gaan nie! Jy’s jou ma en pa se kind. Wie se kind is ek? Missara sê sy wil my ‘goed opvoed’, maar ek is nie goed genoeg om ’n slaapkamer in die huis te kry nie! Ek is lief vir Sarel en Pietie, maar ek voel darem ook … uitgestoot! Ek help al klaar middae kinders oppas! Tietser, ek wil nóóit ’n bediende word nie!”
Tietser se swart katjie kom in en spring op haar breë skoot. Sy streel ingedagte oor die spinnende diertjie.
“Mina, jy moenie jouself bejammer nie! Ek laaik dit niks nie! Sara het buitendien haar vrykamer nodig. Aletta sê vandat Erik voorsitter van die boerevereniging is, slaap daar baie besoekers oor. Sara meen niks kwaads nie, en jy’s nie nou skielik ’n bediende nie. Jy’s ’n bevoorregte meisie! Waardeer wat jy het!” Sy verander die onderwerp: “Sê my: wat hoor jy van jou pa?”
Toe Erik ’n paar jaar gelede ’n tweede plaas naby Doornrivier koop, het hy Gert Afrika en sy vrou soontoe gestuur om te help omdat die bestuurder wat hy aangestel het, pas uit die landboukollege en heeltemal onervare was.
“Dit gaan goed.” Mina pruil kop onderstebo en haar stem is stroef. “Sy vrou is al weer in die ander tyd …” Mina het haar pa al byna afgesterf.
“Jy vra netnou wie se kind jy is. Jy het ’n ma gehad, Mina, ’n dierbare vrou. Jy lyk baie na haar, maar smaak my jy’s mooier. En jy het mos ’n pa, al is julle nou nie meer so na aan mekaar nie. Ek weet hoe trots jou pa op jou is! En verder het jy vir my en die De Graaffs, en Sarel en Piet en Sanet en Schoeman …”
“Maar Tietser, ek bly in die buitekamer by Missara en baas Erik, en die kinders by die skool – en hier op die plaas – noem my nog altyd Mina Witgatspreeu!” Mina bars in trane uit. “Ek weet nie wat ek is nie! Ek weet nie wat julle almal wil hê ek moet wees nie! ’n Witgatspreeu is ’n nare, geniepsige voël wat die ander voëltjies wegjaag by die kos! Hy het kwaai ogies en … en ’n wit gat!”
Sanet onderdruk ’n giggel en Tietser gee haar ’n kwaai kyk. Maar Sanet kom agter dat Tietser sowaar nie antwoorde op alles het nie. Sy let op hoe Tietser haar hekelwerk vat, weer los, en dan met ’n lappie onnodig oor die bont plastiektafeldoek vee voor sy weer praat.
“… Ai, julle is op ’n moeilike stadium! Twaalf … Dan begin ’n mens maar wonder oor dinge … Hoe voel jy oor Erik en Sara, Mina? Ek meen nou, is jy lief vir hulle?”
“Natuurlik is ek lief vir hulle, maar Tietser moet onthou ek is nie ’n regte pa en ma gewoond nie! Nou hoe moet ek weet hoe voel liefde vir regte ouers? Missara voel vir my soos – Sanet, het jy ’n tissue? – soos … ’n baie liewe antie. So iets. Ek weet nie hoe om te sê nie. Baas Erik is soos ’n oom. Hulle kan mos nie regtig my ma en pa wees nie! Hulle is wit! Ek is bruin! Ag, julle maak sommer my kop deurmekaar!” beskuldig sy en begin weer huil: troosteloos, met haar kop op haar arms.
Tietser vat Mina se onwillige hand. “My kind, ons verstaan. Los dit nou maar. Vat net elke kans wat die De Graaffs jou gee. Wys die Vallei wat daar in Mina Afrika steek! Kyk, die ding dat die mense jou nie wil uitlos nie, het begin toe Sara jou as kleintjie vat en haar tong uitsteek vir apartheid en al daai stront … En al bly jy in die agterplaas en nie in die huis nie, dit maak g’n verskil nie. Almal sien jou mooi klere en jou goeie maniere en dat Sara jou behandel soos ’n wit kind. Strykdeur.
“Nou weet jy nie mooi wie jy is nie …
“Beloof my net vandag één ding: sorg altyd dat jy jou kop hoog kan hou! Moenie dat bruin of blank ooit ’n vinger na jou kan wys nie! Want dis wat hulle wil hê: dat mooi Mina wat die De Graaffs met soveel moeite grootmaak en opvoed, ’n verkeerde ding moet doen. Dan sal hulle lekker kry!”
Mina luister nie. “Daai buitekamer! Dis die ding van die buitekamer! Gaste se maai!” Mina vee haar oë met Sanet se tissue af. “Of ek slaap in die huis soos toe ek klein was, of ek loop bly in die lokasie! Dan weet ek ten minste wie en wat ek is! Dis alles baas Erik se skuld! Hy wil my nie in die huis hê nie!”
Tietser Meraai vat Mina se hand, maar sy trek dit vies weg. Tietser sug. “Mina, moet Erik nie kwalik neem nie. ’n Bruin mens in ’n wit huis sal nie betaal nie. Jy’s nie meer ’n baba nie. Jy sal mos net nóg anderster wees as onse mense as jy in die huis bly! Los tog nou maar die ding van die kamer! Jy’t genoeg ander voorregte!
“En jy’s nogal hoofdogter van jou skool vanjaar! Ons is so trots op jou, my kind! Dalk sou jy nooit so presteer het as Sara en Erik jou nie weggevat het van …”
“… O, so?” Mina, wat nog nooit haar stem teenoor Tietser verhef het nie, haal haar verwarring nou op die ou vrou uit. “O, as die wit mense my nie weggevat het van die bruin man nie, was ek vandag ’n flop?” skree sy huilend. “Ek gaan in die lokasie woon! Dis mý mense daai, maar hulle hou nie van my nie! Maar as ek hierdie wit lewe los … Tietser dink tog nie die wit mense gaan my eendag wit sien nie?” Mina slaan met haar regtervuis op Tietser se tafel. “Wat moet ek doen? Wat moet ek doen dat mense van my hou? Dat mý mense van my hou? Ek wil nie Mina Witgatspreeu wees nie!” Mina huil nou kinderlik droefgeestig.
Sanet sit met groot oë en toekyk.
“Daar’s net een manier, Minatjie. Wie ’n mens ook al is, jy is net op jouself aangewys. Jy moet self jou pad deur die lewe loop. Soos jy ouer word, en nog slimmer, wen almal na jou kant toe: die bruin mense wat jou ’n witgatspreeu noem, en die wit mense wat nog altyd sê jy’s net ’n bedorwe hotnoskind …”
“Tietser het ook nie juis raad nie, nè?” Mina lig ’n betraande maar verontwaardigde gesig van haar arms op.
“Dit is raad! En wat Sara en Erik betref: moet nooit vergeet wie’t jou stere afgevee en wie’t snags met jou rondgestap toe jy siek was nie. Nie jou eie pa nie. En jóú portret staan in ’n silwerraam op Sara se klavier. Erik en Sara maak miskien ook foute met jou: wys my die ouer wat nie soms foute maak nie!”
Mina se trane het opgedroog asof sy haar verwardheid weer diep weggesluit het. Sy staan op. “Ek moet huis toe. Ek help met die aandwerk …” Sy vra skielik weer ewe bedaard: “Tietser, waar kom ons bruin mense vandaan? Wie is ons?”
Tietser lag ongemaklik. Die kat glip van haar skoot af en gaan kyk nuuskierig hoe Sanet papier frommel en fynhout vir Tietser in die stoof steek.
“Nou hoekom vra jy so uit die bloute? Ons kom van oral en van nêrens. Ons dra die bloed van al die verskillende soorte mense in ons land. Daar is baie wit bloed in party van ons. Ook Griekwabloed, Hottentotbloed, bloed van die swart nasies, bloed uit die Ooste, van die Maleiers en