Die verdwyning van Mina Afrika. Zuretha Roos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Zuretha Roos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624077992
Скачать книгу
dit was ’n dwase ding – skandalig – wat Erik en Sara aangevang het! Dit moes end kry. Net jammer die bruin kind is glo tot in “die afgrond bederf …”

      “… En wat as ou Tietser iets moet oorkom? Daardie kind sal mos nie meer in die lokasie aanpas nie! Klaar wit!”

      “En arme ou Tietser Meraai sit op haar oudag met ’n kleuter! Wys jou net: die kind moes van die begin af in die lokasie gebly het waar sy hoort.”

      Sara voel beter soos die maande van wag verbygaan, maar Erik belet haar om Mina weer voltyds in die huis te neem. Sy kom wel soms oorslaap wanneer Sara mooipraat, maar Erik is vasbeslote dat sy nie weer kan intrek nie.

      “Ek is tog nie lus dat die onaangenaamheid oor Mina weer begin nie, Sara. Een van die dae het jy die kinderkamer vir ons eie kind nodig …”

      Maar Sara se dokter se woorde bly haar by; maak haar meer vasberade om Mina nie aan haar lot oor te laat nie: “Ja, die mense praat, maar Mina is myns insiens die direkte rede dat jy swanger geraak het: met die kind in die huis, op wie jy jou liefde kon uitstort, het jy ontspan en siedaar! Dit gebeur nogal baie. ’n Kinderlose egpaar sal byvoorbeeld ’n kind aanneem, en dis nie lank nie dan vind die vrou uit sy is moeiteloos swanger!”

      In die stilligheid maak Sara planne, en een koue wintermiddag besluit sy dit is nou die geleentheid om te praat.

      “Tietser, ek bly by wat ek jou laas jaar gesê het oor Mina …” Hulle twee sit en tee drink en kyk hoe die kinders met Schoeman se karretjies speel. “As Mina so tien of elf is – dalk vroeër – wil ek haar terughê. Jou jare stap ook aan …”

      Sara en Julia de Graaff giggel oor die feit dat hulle albei daardie Desember van 1946 swanger geraak het. Julia, wat fyn en broos lyk, het egter ’n probleemlose swangerskap; die normaalweg gesonde, rooiwang-Sara is bleek en tam, en nege maande lank nooit haarself nie. In September word hul babas twee dae uit mekaar gebore. Julia se baba is weer ’n dogtertjie. Hulle noem haar Ansie. Erik en Sara het ’n fris en gesonde seun, en hulle vernoem hom na sy oupagrootjie: Sarel Johannes de Graaff. Die Vallei se mense lag goedig in die dorp, want Erik loop met ’n permanente glimlag op sy gesig rond. Hulle stuur stapels geskenke en arms vol blomme na die huis en die kraaminrigting. Die episode met Mina Afrika is vergewe. Tydelik.

      Tietser Meraai se tweevertrekhuisie staan alleen op ’n werf omring met wingerdblokke. Voor die agterdeur is ’n reusevyeboom. Daar is ’n ry verknotte ou kweperbome neffens die wingerde aan die oostekant, ’n grenadillaheining aan die spruit se kant, ’n woeste granaatbos, en opslaankappertjies al rondom die wit mure.

      In die kombuis staan ’n witgeskropte tafel waaroor Tietser soms ’n bont tafeldoek gooi, ’n dresser met haar beste breekgoed, ’n koskas met ogiesdraad in die deurtjies, vier kombuisstoele, twee veldstoeltjies met riempiesitplekke, en ’n Welcome Dover-stoof. Langs die stoof is die houtkas met fynhout en ou koerante. In die hoek naby die deur staan die werfbesem en ’n ingeduikte ou emmer met kole vir die stoof.

      Die ander vertrek is Tietser se slaapkamer. Haar groot dubbelbed het ’n kopstuk en voetenent van kopertralies. Die bed is altyd spierwit oorgetrek, en die gansdonskussings het valletjieslope. Teen die voetenent is ’n kanferkis waarin Tietser ekstra lakens en kussingslope en komberse bêre. Teen die een muur staan ’n hoë embuia-wardrobe wat ’n diep laai onderin het. Tietser se dreskas is langs die een venster. Voor die twee vensters hang gordyntjies van geel-en-wit ruitjiesgoed wat bol maak as die wind deur die vensters waai.

      Mina, nou ses jaar oud, is ’n vrolike babbelbekkie. Tietser, voel sy, luister goed na haar, amper asof sy ’n grootmens is. Mina weet ander grootmense luister nie regtig mooi wanneer kinders met hulle praat nie.

      Sy en Tietser bak vanmiddag pannekoek.

      “Gaan die Keurbosspruit weer hierdie somer afkom en in baas Erik se wingerde oorloop?”

      “Net as daar ’n groot donderstorm kom, en as dit baie bo in die kloof by Keurbos reën.”

      “Is Tietser bang vir donderweer?”

      “Nee. Hulle sê daar bo in die Transvaal word die weer vreeslik swaar, maar vir onse Vallei se donderweer hoef ’n mens nie bang te wees nie. Toe, roer beter; ek wil nie klonte in die mix hê nie!” Mina het aanvanklik ’n paar keer gevra wanneer sy teruggaan na Missara en baas Erik. Tietser se: “Nee, ek sal nie weet nie …” het haar nie juis gepla nie. Deesdae vra sy nie meer nie. “Ek het twee huise!” het sy self op ’n dag verklaar toe Sara se tweede baba pas gebore is.

      Sara se klein Sarel is nou al byna twee jaar oud. Aanvanklik was Mina jaloers op die baba, maar toe die tweede seun, Pieter, sestien maande ná sy broer opdaag, het sy vrede gemaak met die indringertjies. Nou hardloop sy byna elke middag met die pad langs die weikamp op om Sara te gaan help met die kleintjies se aandroetine. En as sy weer uitasem die onderdeur van Tietser se huisie oopstoot, se Tietser: “Ja, kom, kom, kom! Ons sopper is reg; loop was jou hande buite onder die kraan.”

      In Tietser se slaapkamer net langs haar bed, bokant die bedkassie met die Bybel op, hang ’n swart-en-wit afdruk van ’n mooie engel met twee groot wit vlerke. Voor hom draf twee argelose, vet kindertjies en hulle is feitlik al op die rand van ’n afgrond. Maar die engel hou sy hand oor hulle uitgestrek, en Mina weet sommer hulle sal nie afval nie.

      “Elke mens het so ’n engel,” vertel Tietser haar, “al kan jy hom nie sien nie. Hy pas ons op. ’n Mens noem hom ’n beskermengel.”

      “Ouma Aletta ook? Missara ook? Én juffrou Lubbe …?”

      “Almal. Ek sê mos.”

      Hieroor het Mina goed nagedink. Juffrou Lubbe is baie lief vir haar, weet sy. Juffrou Lubbe woon so alleen in haar klein huisie en wanneer Mina daar kuier, voel sy altyd ’n atmosfeer van heimwee en verlatenheid aan wat soos ’n vaal wolk onder die donker plafonne hang. Sy kan haar gewaarwordinge nog nie verwoord nie; kan nie die deernis uitdruk wat sy vir die klein, eensame vroutjie voel nie.

      Weke later vra Mina, toe sy weer intens na die afdruk staar: “Kan die engel nie maar met juffrou Lubbe gesels nie?”

      Tietser, wat skoon wasgoed op die bed staan en opvou, is dronkgeslaan. “Watse engel moet dan nou met haar gesels?”

      “Hierdie een!” Mina druk ongeduldig met haar vingertjie teen die prent.

      “Ag heidenland, kind! Vir wat? Los tog nou maar die engel!”

      “Hoekom het haar engel nie vir haar ’n man en kinders gestuur nie? Sy is baie alleen …”

      “Maar Minatjie, ek het dan ook nie ’n man en kinders nie! Ek is mos ook alleen! Beskermengele soek nie vir ’n mens ’n man en kinders nie! Die kom of hulle kom nie!”

      “Nee …” weifel Mina. “Tietser is anders alleen. En ek is mos hier! Tietser kry baie kuiermense, en Tietser kan koekies bak, en hier kom kinders speel, en hierbinne is dit …” Sy beduie woordeloos met swaaiende armpies om Tietser se hele domein in te sluit. “… Dit vóél lekker in Tietser se huisie!”

      “Wat praat jy tog, my kind? Kom ons loop kyk of die melktert al gaar is …”

      “… Dis lig hier in Tietser se huis, en die wind waai deur, en partykeers het Tietser blomme op die kombuistafel. Juffrou Lubbe woon in … in bruin … ’n Mens ruik nooit koekies of lekker kos of blomme by haar nie. Sy hou haar hortjies toe, want sy sê die son bleik die gordyne …”

      “Elke mens leef maar op sy eie manier. Kom nou, dan maak ons koffie by die tert …”

      Saans maak Mina en Tietser beurte om in die groot sinkbad voor die Dover te bad. Dan lees Tietser mooi stadig ’n stukkie uit die Bybel, en elkeen kniel by ’n kombuisstoel, en dan bid Tietser. Sy vra altyd dat die Here sy hande oor almal moet hou, en partykeer noem sy stringe name.

      Dan vat Tietser die paraffienlamp van die kombuistafel, en hulle gaan kamer toe. Mina slaap agter Tietser se breë rug, en voor sy insluimer, lê en snuif sy saggies die geure van Tietser se naghuisie in: die rokende pit van die doodgeblaasde lamp, die speserygeur van die smeulende