Die verdwyning van Mina Afrika. Zuretha Roos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Zuretha Roos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624077992
Скачать книгу
en Mina hoenderkerrie en mesh by die kombuistafel. Mina is stil en sy eet ingedagte, want sy dink aan Sara se wonderwoorde van vroeër vanmiddag: “Jy moet Baba en Stien kom help koekies en beskuit bak, Mina: strandtyd kom nader …”

      Sy het opgewonde afgehuppel plaas toe en sommer oor die draad gespring en kortpad deur die wingerde gehardloop, haastig om vir Tietser te kom vertel dat dit al weer amper strandtyd is.

      Sedert Sarel se geboorte gaan Mina saam Kleinmond toe. Daaroor het Sara na daardie eerste Desember haar voet neergesit: “Niemand steur hulle eens aan die Kleurlingkinders nie! Dis ’n boere-strand, en almal bring hul bediendes se kinders saam! Jy kan sê dis ons kinderoppasser as jy wil! Sy kom saam, en basta!”

      Ou Tietser is vanaand bewus van ’n emosie wat sy nie juis ken nie: so ’n effense jaloesie oor die plesier wat die kind het aan die vakansie, weg van haar. Tietser maal haar kos stadig in haar mond; so baie tande makeer al. Dis ’n lou aand. Die Dover ruik na smeulende wingerdstompies, en die agterdeur staan wyd oop.

      Asof Mina haar gedagtes lees, vra sy: “Kan Tietser nie vanjaar saamkom Kleinmond toe nie? Dis altyd so lekker, maar ek verlang na Tietser.”

      “Nee, daar’s nie vir my ook plek nie. Julle is al klaar so ’n treksel in daai huis. Gee maar die kosbak vir my aan, seblief …”

      “Ken Tietser die see? Partykeer is dit blou en partykeer is dit groen, en die branders maak sulke wit skuim as hulle omslaan …”

      “Kén ek die see?” Tietser se lyf skud ’n diep lag uit. “Ja, ek was baie saam met oorle’ Sarel en oorle’ Stiena see toe, maar die see is te onrustig vir my. Maak my so ongedurig. Kom nooit tot rus nie …”

      Dit verstaan Mina nie, want die branders wat maar altyd aanrol en breek, aanrol en breek, betower haar.

      “Tietser is partykeers vir my snaaks …!” Hongerig steek Mina die vurk in haar kerriekos. Sy wonder hoeveel nagte se slaap is dit nog voor die vakansie aanbreek.

      Mina Witgatspreeu

      Dis 1955, en vanjaar is Mina twaalf. Sy en Sanet is albei in standerd 5. Mina stap elke oggend die twee kilometer na die primêre skool in die lokasie. As dit reën, neem Sara of Erik haar met die motor.

      Mina hou nie van skool nie, want die kinders spot haar; hulle hou nie van haar nie. Soos vanoggend weer. ’n Troepie kinders uit haar eie klas het haar al drawwende ingehaal. Een meisietjie het voor Mina uitgedans, haar rok agter en haar ken voor gelig, en in ’n aansit-stemmetjie gesê: “Ek is Mina Witgatspreeu! Ek hou my neus in die lug en ek wip my wit gat solat ammal dit kan sien! Ek woon mos by ryk wit mense!”

      “En ek is so ’n kwaai voletjie, met sukke kwaai ogietjies! Ek dink mos ek’s wit!” het ’n seuntjie in ’n falsetto gesing en Mina se springjurk gegryp en opgelig. Mina het hom geklap, dwarsdeur sy grinnikende bakkies, sodat hy sy boeke laat val en terstond op haar begin skel het. “Jou moer, Mina Witgat! En jou pa se moer ook! En al die De Graaffs se moere ook!”

      Sy’t ’n skop na hom gemik, maar hy was te vinnig vir haar.

      So gaan dit nou al jare lank. Boonop is sy doodongelukkig dat sy die slimste in die klas is, en vanjaar ook hoofmeisie – die personeel kies die prefekte. Sy wens sy was dom, maar vreeslik populêr. Sy hunker na vriendinne met wie sy ook speeltye kan staan en fluister en giggel.

      Maar die bruin kinders wil nie eintlik met haar maats wees nie: daar is so twee of drie wat haar darem groet en soms met haar gesels, maar tot dusver het sy nog nooit daardie begeerlikheid – ’n beste vriendin – gehad nie.

      Mina woon nie meer by Tietser nie.

      Meer as twee jaar gelede het Sara gesê sy wil Mina weer naby haar hê, en Erik het die ongebruikte bediendekamer in die agterplaas laat verbreek en verbou. Sara is kort-kort met Mina Kaapstad toe, en daar moes Mina help besluit oor haar nuwe kamer en badkamer se binneversiering. Soms het Mina skool gemis, want dis nie verpligtend vir haar nie. Dan was sy baie bly.

      Sara is gek oor inkopies doen, en met Mina by haar, neem sy sommer die kans waar om haar so met verdrag te leer van kleurskemas, teksture, materiale, kwaliteit. En Mina toon reeds, meen Sara, ’n aanvoeling vir wat Sara as goeie smaak beskou. Nogtans ervaar Mina ’n snaakse skuldgevoel op hierdie inkopietogte, en sien telkens haar eie mense se armoedige huisies voor haar.

      In die winkels leer ken Mina verskillende soorte materiale, en Sara vertel haar waarvoor ’n mens elke soort kan gebruik. Sara kla dat daar ná die oorlog nog nie ’n groot genoeg verskeidenheid huisware en matte beskikbaar is nie. Sy neem Mina na die kunsgalery, verduidelik en beduie, en stap geesdriftig vooruit terwyl Mina verward agterna drentel.

      “Mina Witgatspreeu …” fluister Mina saggies aan haarself. Sy sien hoe ander mense in die plek nuuskierig en soms geamuseerd na haar en Sara kyk: die vrou met die vlegsels op haar kop gedraai, gee skynbaar die skraal bruin kind ’n lesing oor die Impressioniste. Sara en Mina besluit op ’n wit en liggroen kleurskema vir Mina se kamer, met ietsie donkerpienk hier en daar. Dis nie vreeslik modieus nie; die huismodes neig deesdae eerder na ’n bontspul ná die grysheid van die oorlogsjare, sê Sara.

      “Ek wens ek kan juffrou Lubbe se huisie spierwit uitverf, of met ’n helder geel, sodat dit lyk asof die son inkom. En sommer ’n rooi lap oor haar kombuistafel gooi …!”

      “Sies tog, Mina, sy is seker maar gewoond aan haar outydse donker huisie! Maar hoekom soek jy nie vir haar iets vroliks nie? Dalk hierdie bont tafeldoek …?”

      Op ’n versengende Maartmiddag dwaal Sanet en Mina luiweg met ’n wingerdpad na Tietser se huisie. Tietser sit in die koelte van die vyeboom in haar rottangstoel en hekel. Bo teen die bult ry ’n trein verby en blaas skril sy fluit. Die vinke sing in die riete langs die spruit. Oor Tietser Meraai se werf hang ’n vreedsame atmosfeer – soos altyd in volkome kontras met die gewoel in die najaarswingerde. Die werf is skoon gevee met die rietbesem. Die vrugtebome en struike sluit dit af van die omringende wingerde.

      “Ahaa! Sien ek geselskap? Hoor julle hoe baljaar die vinke? Ou Ghoen loop verniet en sweep klap in die wingerdpaaie! Julle moet vir Erik sê hy beter kom vinke uitroei!”

      Mina gaan druk haarself styf teen Tietser vas, en Tietser slaan haar arm om Mina se skraal heupies.

      “Dis darem warm, nè? Kom ons gaan liewer in …” Tietser sukkel om uit die stoel op te staan; sy gee ’n kreun toe sy aanstap kombuis toe. Dit ontstel die kinders: albei dink angstig aan Tietser se ontsagwekkende ouderdom – 87! Hulle kan hulle skaars indink dat mens so oud kan word!

      Veral Mina aanskou die ou vrou se moeisame opstaan en aanstap met ’n skielike ysigheid om haar hart, meteens verskriklik bewus van Tietser se sterflikheid. Sommer net so, ontstellend onverwags is die gedagte daar. Kan sy nie maar ewig en onveranderlik wees nie? Soos die berge om die Vallei.

      “Is … is Tietser orraait?”

      “Ag ja wat! Wie kla nou, met so ’n goeie oudag soos ek? Dis maar net die bietjie rumatiek, maar hierdie hitte is goed vir my ou lyf …”

      Hulle sit by Tietser se kombuistafel en maak kleingesels: oor die oes; oor wie vanjaar die uitvoer-pakkers is; wie Saterdagaand moles gemaak het in die huise onder teen die rivier. Tietser vertel dat Aletta kom kuier het en vir haar geelperskes en ’n hele rolkoek gebring het, maar dié het die kleingoed wat so knaend kom kuier, alles verorber.

      “Ons twee gesels tog altyd so lekker oor die ou dae. En daar’s mos maar altyd ietsie te skinder, soos oor voorman Tienie se vet vrou. Sy’t mos ’n stem soos die laaste basuin, en dan skreeu sy hoeka so oor die werf na haar man. Haal vir ons die gemmerbier uit die koskas, Mina, en skink …”

      Mina is al stil sedert Sanet haar in haar kamer by haar huiswerk gekry het en hulle twee afgestap het pakskuur toe. Nou skink sy die gemmerbier ook in stilte, en kom sit weer. Sy vou haar hande om haar glas en kyk af in die amber vloeistof.

      “Tietser …”

      “Ja, ek kan sien iets pla jou, Minatjie. Wat is dit dan, my kind? Jy’s so stil vandag!