Mina loop in trane huis toe, en begin haar kaste vol mooi klere verwoed uitpak. Sy sal alles weggee. Miskien sal die mense dan ophou pik op haar. Sy sal lokasie toe gaan en die goed weggee. Sy wil nie meer anders wees nie. Toe sy al snikkende die laaie begin uitpak waarin haar winter- en onderklere is, kom Sara in. Terwyl Sara mooipraat, smyt Mina klere met geweld in bondels op die bed neer.
“Jy kan nie jou klere weggee nie, Minatjie! Dit sal nie help nie; daar’s te veel kinders in die lokasie! Dis mos nie jóú skuld dat Mara soveel kinders het nie! Ek sal jou sê wat: kom ons soek ’n klomp van jou ouer klere en speelgoed uit, dan neem jy dit vir Mara …” stel Sara radeloos voor.
Mina gaan dieselfde middag nog lokasie toe met die pakkaas klere en speelgoed, na Mara se vuil huisie waar snotneus-kleintjies heeldag skree en baklei op die kaal werfie. Die kinders bestorm haar gillend en gryp die goed uit haar arms terwyl sy sprakeloos bly staan. Mara kom uit en staan willoos en toekyk hoe die kinders oor die speelgoed baklei en sê smalend: “Jissis … ek wietie of ek jou ou weggooigoed wil hê nie …” Toe Mina wegstap, is twee kleintjies besig om in die stof tou te trek met ’n feitlik nuwe rooi trui.
“Jy sien,” troos Sara by die huis, “dit gaan nie oor velkleur nie! Dit gaan oor wat binne-in jou is. Dit gaan oor wat in jou hárt is. Eendag sal almal dit moet begin besef. Dink aan die verskil tussen Ida van ouma Aletta, en Mara Jacobs. Ida is ’n ware Xhosa-lady. Mevrou Oortzen is ongeskik met jou, en juffrou Lubbe is weer baie lief vir jou. Gaan kyk – daar lê al weer ’n boks Black Magic in die sitkamer wat sy vir jou gebring het. Gaan kuier en sê dankie, hoor? Sy sê jy’t ’n glimlag soos ’n sonstraaltjie …!”
Tietser Meraai stuur ’n boodskap saam met klein Emily van Selina: kan Sara haar kom sien? “Tietser sê ek moet vir nôi Sara sê haar ou bene dra haar nie meer so goed nie!” verkondig Emily belangrik in ’n skerp, skril stemmetjie.
Een oggend toe Mina in die skool is, stap Sara met die wingerdpad af tot by die spruit, en oor die bruggie na Tietser se werf. Tietser sit onder die vyeboom, en laat Sara ’n stoel in die kombuis gaan haal.
“Sara,” sê sy ná die groetery, “dis oor Minatjie. Sy word nou groot. En sy begin vrae vra. Lyk my die kind weet nie mooi watter kant toe nie. Sy begin nou goed besef sy’s bruin, en dat dit ’n verskil maak. Ek het jou destyds gevra vir watter wêreld maak jy die kind groot …”
“Vir alle wêrelde.” Sara is dadelik op die verdediging.
“Jy droom, Sara. Weet jy dat sy nie verder wil gaan leer nie? Omdat sy bang is haar eie mense verstoot haar nog meer?”
“Ja, ons weet.” Sara speel met haar vlegsel en staar ver na die wasigheid wat oor die voetheuwels van die berge hang. “Ai, Tietser, dis waar – ek wou die kind so graag ‘wit’ grootmaak.”
“Dis moeiliker as wat jy sou dink. Maar kyk, jy het haar só ver gebring – jy los my kind nie nou nie. Een van die dae is ek nie meer hier nie en na wie gaan sy dan met haar probleme?”
“Probleme? Ek weet sy’t probleme met die skoolkinders …”
“Sy voel sy word nêrens werklik aanvaar nie: nie deur haar eie maats of die dorp se bruin mense nie, en natuurlik kyk die blankes haar met lede oë aan … Sy begin nou eers besef hóé groot die verskil tussen wit en bruin is!”
“Wat moet ek doen?” kapituleer Sara.
“Praat met haar oor die weggaan hoërskool toe; sorteer daai ding uit met haar. Dan moedig jy haar aan om by maats in die lokasie te gaan kuier, en by Erik se plaasmense …”
“… Tietser! Nee! Die invloede … !”
“… Nonsens. Ek en jy maak haar mos groot om vir haarself te dink. Dink jy dan die lokasie is vrot van uitvaagsels? Wat van al die goeie mense? Jy kan haar nie langer weghou van haar eie mense nie, Sara. Jy moet help dat sy met haar eie mense meng.”
Sara oortuig Mina met groot moeite om ’n paar van haar skoolmaats te nooi om te kom kuier. Hulle kom huiwerig maar nuuskierig, en aanvanklik is hulle dikbek-skaam, maar ontdooi toe Baba en Stien koek en koeldrank grasperk toe aandra, en Mina haar kamer en badkamer vir hulle wys. Die afguns slaan hier en daar deur, maar die middag is ’n sukses.
Daarna begin ’n paar tentatief maats maak met Mina.
Ná ’n paar weke word Mina soms lokasie toe genooi, en later gaan sy partykeer ná skool na een van haar klasmaats se huise, en doen haar huiswerk daar. Sy kry selfs ’n uitnodiging na ’n troue.
Die bruin kinders se kritiese houding teenoor Mina verander egter nie oornag nie. Die proses neem lank, en Sara en Erik moet Mina telkens maan om nie oorgevoelig te wees, of te bekkig as iemand haar terg nie. “Hou jou regtervuis en jou skopvoet in toom!” lag Erik.
Op Erik se aandrang gaan kuier sy deesdae met ’n geskenk by die plaasmense as daar ’n nuwe baba of ander viering is.
“Onse harte gaan vir jou oop soos gousblomme vir die son …” verseker tandelose ou Marta een Saterdagmiddag vir Mina. “Jy was mos altyd so stywenekkie-opstêrs gewees! Maar nou kom jou hart reg …”
Ou Marta eet genadebrood in een van Erik se volkshuisies onder teen die rivier. Sy sit met ’n bottel hanepootwyn tussen haar skurwe tone en haar rooi ogies lê diep in die kasse as sy oplag na Mina, haar gesig ’n spinnerak plooie. Mina het vir ’n soveelste agterkleinkind ’n kombersie as geskenk gebring, en ’n koek wat sy self gebak en baldadig bont versier het, sodat Sara gesê het die koek lyk giftig. “Koek! Van die klein wipgat nogal …” mompel die ou vrou.
Sy lig die bottel na haar mond en sluk “ghloep-ghloep-ghloep …” Mina stribbel vredesonthalwe nie teë nie, want almal weet in watter vreeslike tale ou Marta kan skel as sy eers die langnek beetgehad het … Mina lag maar saam en vat aan Marta se dun boarm by wyse van tot siens sê.
“Skaam jou, Mina!” verwyt Sanet op ’n dag. “Wat van my? Ek is mos jou beste vriendin! Ek sien jou te min!”
Maar teen die laatlente word Mina bewus daarvan dat sy anders voel as aan die begin van die jaar. Sy sing weer as sy laatmiddae in die kombuis help, en sy lag weer vir Sarel en Piet se skoolgrappies: “Hoe vang jy ’n haas? Jy sit agter ’n bos en skree soos ’n wortel!”
“Ek het nou al baie maats, Tietser!” vertel sy. “En dis lank laas dat iemand my ‘witgatspreeu’ genoem het, en as iemand dit weer doen, sal ek nie my kop laat sak nie: ek sal hom opneuk!”
“Jy moenie begin lelik praat nie, Mina! Skop en slaan sal ook nie help nie; lag eerder saam! Ek is bly jy maak nou vriende onder jou eie mense, my kind. Nou wat nou van volgende jaar?”
“Ek gaan nie weg nie. En niemand sal my dwing nie!”
“Maar my kind! Toe Sarel de Graaff my destyds die kans gee om te loop leer in die Kaap, toe gryp ek dit met albei hande! En ek was vreeslik bang; ek was toe nog nooit anderkant hierdie berge nie! Gaan, my kind! Jy’s ’n moderne meisie, nie die arme hotnosmeidjie wat ek was nie!”
Teen Oktober bereik die rusie oor Mina se weiering om weggestuur te word na ’n hoërskool, ’n hoogtepunt. Gewoonlik inskiklik ten opsigte van Erik en Sara se voorstelle of planne, sit Mina nou haar fyn voetjie met mening neer: as standerd 5 goed genoeg is vir haar bruin maats, is dit goed genoeg vir haar. Sodra die ryk wit mense help om ’n hoërskool vir die Kleurlingkinders te bou, sal sy verder gaan leer. Al is sy ook twintig. Maar weggaan na ’n kosskool, sal sy nie.
Mina koester reeds geruime tyd gemengde gevoelens jeens Erik, en die skoolkwessie word vir haar hierin ook ’n handige wapen. Sy onthou die dae toe hy haar saans op sy skoot getel het en vir haar stories vertel het. Sy onthou dat hy haar op sy skouers of in sy arms rondgedra het, al was dit meestal net binne die vier mure van die huis. Sy het veel meer liefdevolle aandag van Erik gekry as wat haar eie pa haar ooit kon gee, maar wanneer laas het Erik ’n