Die son skyn al helder toe Emma ontwaak uit wat vir haar soos ’n koma voel. Sy is nogal uitgerus, al is sy effentjies styf van die vorige dag se tien ure sit in die motor. Sy trek die gordyne oop, want sy het die vorige aand nie veel opgemerk nie. Die kamer kyk op ’n lieflike tuin uit. Sy maak die stoepdeur oop en rek haar lustig in die son uit.
Koffie? Sal daar so iets hier wees? Sy sal seker vandag eers moet gaan inkopies doen.
Toe sy by die kombuis in loop, sien sy tot haar groot verligting dat Rita vir haar koffie en beskuit op die toonbank gelos het. Daar is selfs ’n klein melkie in die yskas.
Ai, Suid-Afrikaanse gasvryheid darem.
Emma gril bietjie toe sy die poeierkoffie in die koppie gooi, want sy erken ruiterlik dat sy ’n geswore koffiesnob is. Wanneer laas het sy poeierkoffie oor haar lippe gehad? Vanoggend is egter ’n noodgeval, en dit was darem baie gaaf van Rita om dit vir haar te los.
Sy sal sommer dadelik haar koffiemasjien moet inprop – dis die een ding wat gisteraand in die kar agtergebly het. Intussen grawe sy haar melkskuimer uit en maak vir haar lekker warm melk vir die koffie. Sy kan ten minste die beste van ’n slegte saak maak.
Nadat sy haar kleretas uitgepak en die goed in die sitkamer so half uit die pad geskuif het, besluit Emma om eers ontbyt te gaan soek. Dankie tog dat haar ma dinge so beplan het dat sy stapafstand van die dorp af is. Sy gaan sommer kyk wat by Chantilly aangaan. Terwyl niemand weet wie sy is nie, kan sy die plek en die diens lekker incognito gaan ondersoek.
Sy stap in die rigting van die dorp en kom agter dat sy naby aan Woolies en Checkers is. Sy mik see se kant toe om met die kuspaadjie langs te stap. Dis ’n idilliese dag. Windstil … en die see lyk soos iets op ’n poskaart. Die berge is ’n sagte groen, so anders as die landskap waaraan sy gewoond is. Daardie dorheid en oormaat rooi stof het haar neus gereeld laat bloei en haar regtig begin onderkry.
Sy staan eers ’n lang ruk en tuur oor die see en sien selfs ’n paar walvisse, toe haar maag haar ernstig begin aankla en sy ou hawe se kant toe stap. Chantilly is net oorkant die ou hawe en ’n instelling op Hermanus. Toe sy voor haar vertrek gou op die internet gaan loer het, het sy gelees dat dit nie net die twee oudste huisies op Hermanus is waarin die restaurant geleë is nie, dit word ook gereken as die oudste restaurant in die streek. Dit was eens op ’n tyd een van Absa se top tien, maar in die laaste paar jaar het dit nie so goed gegaan nie, kon sy uit resensies aflei. Dis waarskynlik waarom hulle nooit saam met haar oom daar gaan eet het nie.
Die plek se ligging is ideaal, en hulle maak moontlik baie op die toeristemark staat. Seker dié dat die eienaar dink die kwaliteit maak nie eintlik saak nie. Die volume verseker die omset, al kom kliënte nooit weer terug nie. Teen volgende jaar is daar weer ’n nuwe vrag toeriste wat wil eet.
Die feit dat die eienaar dikwels nie teenwoordig is nie, laat dinge natuurlik ook nie vlot nie. En wat sou die storie wees omtrent die vorige sjef wat glo – soos sy – uitgestap het? Sy sal al dié stories seker in kleur en geur by die personeel hoor.
Die tuin sit al vol mense, maar Emma kry nog ’n tafel buitekant. Die restaurant is natuurlik leeg binne omdat almal op hierdie idilliese Sondag buite wil sit. Sy gril haar byna dood vir die sif, vetterige spyskaart met ‘n klomp vuil los velle papier binne-in, wat aan haar gegee word. Dit sal moet waai. Al span sy voorlopig net iemand met ’n seeplap in en laat druk nuwe blaaie vir die binnekant totdat sy die nuwe spyskaart beplan het.
Daar is ook hopeloos te veel geregte. Hoe op aarde hou hulle al die bestanddele aan vir hierdie verskeidenheid uiteenlopende disse? En dan is daar nog ’n klomp reëls ook: ontbyt word slegs vanaf agtuur tot twaalfuur bedien. Middagete weer slegs vanaf twaalfuur tot drie-uur. Dan tee tot vieruur en in die aand begin hulle weer van sesuur af. En moet asseblief nie variasies van geregte op die spyskaart bestel nie: disse slegs beskikbaar soos hier aangedui.
Dit sal die gaste en die personeel mos net frustreer. Sy sal beslis verskillende spyskaarte moet hê as hulle die gaste gelukkig wil hou – hoe kan jy alles op dieselfde spyskaart sit en dan vir mense sê hulle mag net van sekere bladsye op sekere tye bestel?
“Wel, dit is môre se worries,” sê Emma sommer hardop toe sy onthou dat sy nog nooit haar foon aangeskakel het nie. Sy is seker daar is al ’n honderd-en-een boodskappe van haar ma af.
Jip, agt stemposse van Ma.
Terwyl sy ’n redelike sif koppie koffie drink, bel sy haar ma.
“My liewe hemel, Emma, wat het jou besiel?” val haar ma sommer met die deur in die huis toe sy antwoord.
“Ag, Ma, ek was al vroeg deur Vanrhynsdorp en het besef ek gaan sommer vroegmiddag al op Clanwilliam aankom. En hier is ek nou. Dis beter dat ek vandag bietjie rustig kan wees en uitpak en inkopies doen voor ek môre begin. As ek vanmiddag eers hier aangekom het, was ek môre doodmoeg.”
“Hoe is jou akkommodasie? Die plek het vir my op die foto’s baie oulik gelyk.”
“Dit is netjies en skoon, en lekker ruim. En dis stapafstand van alles af. Ek sit nou juis hier by Chantilly en wag vir ontbyt. Ek wou die plek so ’n bietjie uittjek voordat hulle weet wie ek is. Ek dink daar lê harde werk voor. En hulle koffie is vieslik. Galbitter. Ek sal sommer môreoggend al iemand aansê om daai masjien ordentlik skoon te maak.”
Emma sit seweuur die volgende oggend al voor die deur en wag. Hier is nog nie ’n siel op die perseel nie. Wie de hel sluit soggens oop? Dis mos onmoontlik om agtuur oop en aan die gang te wees as die plek teen seweuur nog soos ’n grafkelder is. Teen kwart voor agt is Emma al aan die rondtrippel op die trappies toe sy die eerste siel gewaar wat lyk asof sy dalk hier kan werk.
“Ons maak eers agtuur oop,” sê die meisie toe sy Emma voor die restaurant gewaar.
“Ek weet. Ek is jul nuwe sjef en ek wag al van sewe-uur af hier.”
“O ja, Henry het gesê die nuwe sjef begin vandag. Ek is Yvette, ek is een van die waitresses.”
“Hello, Yvette, ek is Emma. Wanneer sluit julle oop as julle agtuur vir die gaste oopmaak?”
“Henry sal seker nou hier wees. Ons kom gewoonlik so kwart voor agt hier aan.”
“Wow, dis laat vir voorbereiding.” Emma wil nog uitbrei toe ’n minibus stilhou en seker omtrent die hele personeel by die verskillende deure uitpeul.
“Ah, ons sjeffie is hier!” roep iemand en Emma aanvaar dat dit net Henry kan wees. ’n Goue tand blink in die son toe hy breed vir Emma glimlag.
“Hallo, jy’s seker Henry.”
“Die einste. Kom ons kry die klomp kinders aan die gang, dan wys ek jou alles.”
“Ek’s g’n jou kind nie, Henry. Moenie vir jou kom larnie hou nie,” gil iemand uit die bondel toe Henry die deur oopsluit.
“Ja, dank die jirre daarvoor. Maar gewoonlik act julle soos kinders,” spot Henry terug. “Toe, toe, gaan kry daai koffie reg. Ek sien die toeriste begin al sirkel vir brekfis soos vultures rondom ’n karkas.”
Almal spaander met ’n gekwetter in verskillende rigtings in. Skielik is dit net sy en Henry wat op die voorstoep staan.
“Henry, julle kom darem baie laat hier aan as julle agtuur al op dreef moet wees.”
“Jy klink soos Mister Greg. Maar dis die transport van Hawston af wat so laat kom.”
“Ek sal kyk wat ek kan reël vir ons personeel, maar kwart voor agt kan julle beslis nie eers hier opdaag nie. Teen die tyd dat die deure oopmaak, moet ons gereed wees om bestellings te neem.”
So asof hulle haar punt wil beaam, kom sit daar juis twee vroue, wat hulle aandag probeer trek, by die tafeltjies in