Die jaar toe Emma begin kook het. Ilse de Korte. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ilse de Korte
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624063964
Скачать книгу

      Die twee brandmaer vrouens pik-pik natuurlik slegs aan die kos met ’n alwetende “’n oomblik op die lippe, jy weet,” en ’n stywe knipoog.

      Emma bespreek met hulle die verskillende opsies vir die ete en beskryf elke gereg in detail. Kreatiewe kombinasies en fyn geure is Emma se sterk punt, maar nee, ná elke gereg frons mevrou Benade so effentjies en lyk nog meer gepynigd.

      Uiteindelik kan Emma dit nie meer hou nie. “Is daar iets verkeerd, mevrou Benade?”

      “Nee, dis net dat ek meer in die lyn van ’n bietjie boeresjiek gedink het. Boerekos met ’n twist, jy weet? Ons is after all ’n klomp Afrikaners en ek is net bang die mense skrik hulle dood vir dié byderwetse kos.”

      Emma sit asof iemand haar met ’n pap snoek bygedam het. Dít het sy nie verwag nie.

      “Ag, skattebol, moenie so geskok lyk nie. Ek praat nou nie van paptert of so iets nie, maar miskien hoenderpastei met ’n twist.”

      Wat? Emma sit vir ’n oomblik nog haar oë en knip voor sy beheer oor haar tong kry en die woorde uitwurg: “Hoenderpastei? Oor my dooie liggaam.”

      Mevrou Benade lyk soos ’n vis op droë grond. Sy is seker so gewoond daaraan om haar sin te kry dat sy nie mooi weet hoe om te reageer nie.

      Asof hy om die hoek gestaan en luister het, maak Marius sy opwagting en vra met ’n aangeplakte glimlag of alles nog in orde is. Emma kners op haar tande. O, die man weet net hoe om haar grensloos te irriteer.

      “Ag, Mariussie, ons wil hoenderpastei hê, maar jou sjeffie dink dis benede haar.”

      Marius gluur Emma aan en sê terselfdertyd paaiend: “Maar mevrou Benade, wat julle wil hê, is al wat saak maak. As julle hoenderpastei wil hê, sal julle natuurlik hoenderpastei kry.”

      En op die plek is alles afgehandel en moet Emma “hoenderpastei met ’n twist” vir ’n troue in die somer naby Upington voorsit. Die tjekboek word uitgepluk en die deposito met ’n groot gebaar aan Marius oorhandig.

      Toe die Benades wegtrek, keer Marius hom woedend na Emma en vreet haar van ’n kant af uit omdat sy die Belangrike Benades durf teëgaan.

      “Wat het jou besiel?”

      “En wat het jóú besiel?” kap Emma terug. “Dis Upington in die somer, die gemiddelde temperatuur is 40° C. Die geregte moet die vorige dag berei word en hier is nie genoeg yskasspasie om alles koud te hou nie. Wil jy hê die mense moet almal omkom van salmonellavergiftiging?”

      “Moenie belaglik wees nie. Hier is meer as genoeg yskasspasie en jy maak mos die donderse pasteie weer warm. Hoe op aarde gaan hulle nou daarvan siek word?”

      “Dit is juis wanneer die donderse pasteie weer warm gemaak word dat … Wel, moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

      “Fokus jy eerder op die kos, en ek sal my bekommer oor wat ons kan en nie kan doen vir mense wat actually betaal nie. Besigheid is klaarblyklik nie jou sterk punt nie!”

      Met hoenderpastei op die spyskaart is die saak afgehandel en storm Marius binnetoe.

      Emma is die hoenders in. Sy gryp uit frustrasie ’n toebroodjie en vat ’n ergerlike hap. “Aaarrrggh,” gil sy en gooi die res van die broodjie agter Marius aan waar hy ’n paar oomblikke gelede deur die deur verdwyn het.

      Haar ma het altyd gesê sy het ’n lelike humeur aan haar. Maar hoenderpastei vir ’n formele troue?

      Nee, sif man.

      En in die somer. Is hulle miskien aangetas?

      Die volgende paar weke boer die Benades daar. Elke keer kom hulle met nog ’n stapel tydskrifte en die “oulikste idees” op die plaas aan. So asof Emma nog nooit in haar lewe ’n troue gereël het nie. Afgesien van haar kookkuns, is sy immers in beheer van al die funksies op Oranjedrif.

      Die laaste toets van haar geduld is toe die voornemende bruid kom met die mees onlangse Sarie en dit met fanfare oopgooi. “Emmatjie, ek móét hierdie tent net vir my troue hê.”

      Dit begin in Emma kook. Sy gebruik altyd dieselfde betroubare tentmaatskappy en het die tent weke gelede al bestel. Sy forseer haar oë af na die bladsy.

      “Kyk, dit lyk soos ’n feëtroue. Sprokiesagtig,” klingel bruid Benade hier in haar oor.

      Emma maak haar mond oop, maar geen geluid kom oor haar lippe nie.

      “En oom Lukas het reeds gesê dis sy geskenk aan sy liewe kleinniggie,” tjip Ma Benade in.

      Emma maak haar oë ’n oomblikkie toe. Wat is die kanse dat dit nou juis op daardie dag sal reën? Dit is Upington, en die gemiddelde reënval in Desember is minder as vyf millimeter, so hulle sal seker veilig wees. Want waterdig is daardie tent beslis nie. Miskien sal hulle almal in elk geval sonsteek deur die kammaseil kry.

      Sy kyk egter op, glimlag en knik net haar kop. Geen geluid kan verby die knop van irritasie in haar keel kom nie.

      Die dag van die troue kom al nader. Emma verfyn vir hulle ’n hoenderpastei met ’n twist sodat selfs sý op die ou end nie heeltemal ontevrede met die keuse is nie.

      Met al die wyn, vrugte en koek, waarvan die versiersel beslis nie kan smelt nie, en genoeg gebottelde water om ’n hele peloton modelle aan die gang te hou is die yskaste tot oorlopens toe vol. Emma stel die maak van die pasteie vir so lank sy kan uit sodat daar so min as moontlik tyd tussen die maak en eet sal verloop, maar dit bly vir haar ’n risiko.

      Sy verduidelik vir die kameraspan om asseblief net uit die kombuis te bly, want natuurlik word die dag deur die span van Pasella vasgelê sodat die hele land in hierdie boerebarok-affêre van die Benades kan deel. Die hoenderpasteie staan naderhand op Marius se kantoorvloer met die lugverkoeling op sy koudste aan sodat Emma ten minste haar gewete kan sus dat sy probeer het.

      Die tent langs die rivier lyk werklik sprokiesagtig, maar dit bly drukkend en warm. Daar is so ’n enkele wolkie in die lug toe Emma haar oog vir oulaas gaan gooi voor die gaste begin aankom. Dit behoort alles oukei te wees, sug sy toe sy kombuis toe stap om vir haar ’n skoon sjefbaadjie te gaan aantrek en te wag dat die sirkus begin.

      Teen die tyd dat Emma en die personeellede in gelid met die hoenderpasteie uitstap om die hoofgereg te bedien, het die enkele wolkie wonder bo wonder ’n hele klomp maats bygekry. Hier is nou sommer ’n kolonie wolke. En dis wraggies seker een van die warmste dae wat sy nog ooit op Upington beleef het. Die vroue se grimering smelt seker al teen dié tyd af. Emma moet haar eie voorkop met haar mou afvee.

      En soos dit enige melodrama betaam, val die eerste groot ronde druppel in die stof agter haar toe sy die eerste skep hoenderpastei op ’n gas se bord lê. Emma stuur ’n skietgebedjie die heelal in dat dit net asseblief by sulke groot, los druppels moet bly tot alles verby is.

      Die gode is obviously nie op hul pos nie, want teen die tyd dat die laaste gas die laaste hap hoenderpastei in sy mond sit, begin die eerste kind op sy ma se skoene opgooi. Vir ’n breukdeel van ’n oomblik hoop Emma dat dit net aan die hitte en opwinding toe te skryf is, maar toe maak die hemele oop en hardloop die eerste grootmens deur die reën na die badkamer.

      Binne enkele oomblikke is die materiaal van die tent swaar van die water en begin dit in ’n fyn sproeireën na binne val. Gelukkig is almal al redelik getrek. Emma bly net hoop dat dit sal bly by ’n fyn sproeireën, toe ’n stuk tent bokant die bruidstafel meegee en ’n sluis oor bruid Benade oopgaan.

      Die volgende paar oomblikke sal seker vir ewig in Emma se brein ingeëts wees. Dis soos iets uit Magersfontein, O Magersfontein! toe die kameraspan skarrel om al die toerusting onderdak te kry en ten minste tien gaste tegelyk na die badkamers hardloop.

      Emma maak haar oë toe en voel hoe die aarde om haar vergaan. Die gaste se drankluim het plek gemaak vir naarheid en hulle hardloop almal naderhand soos nat hoenders rond om by skuiling, karre, toilette of sommer net die naaste bos uit te kom terwyl die vinnigste koskiem wat Emma seker nog gesien het, hul gestelle aantas.

      Januarie: