Ontsnap!. Albert Blake. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Albert Blake
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624069980
Скачать книгу
het ’n uitgebreide netwerk van informante en agente gehad wat met die soektog na ontsnaptes meegewerk het.11 Op 8 April 1900 berig The Cape Times dat 13 krygsgevangenes nog op vrye voet is: “The chances of recapture of the prisoners now at large are very remote owing to the many Dutch sympathisers in the district.”

      Dit was allesbehalwe maklik vir die ontsnaptes om weer in die Boererepublieke en by die kommando’s uit te kom. Daar was in werklikheid net twee haalbare opsies: deur die afgeleë Karoo of om per skip na Delagoabaai in Mosambiek te reis en van daar na Transvaal. In die Karoo het honderde kilometers van dorre landskap gelê en ’n reis per skip sou beteken dat hulle verby die waaksame Britse wagte in die hawens moes kom.

      Luidens verskeie persberigte het van die burgers per skip weggekom en is hulle waarskynlik in Delagoabaai by Lourenço Marques afgelaai. Van daar het hulle hul weg na Transvaal gevind en weer by die Boeremagte aangesluit. The New York Times het dié berig van sy korrespondent in Lourenço Marques ontvang, wat praat van 12 ontsnaptes: “The French steamer Coratellas picked up at sea, off Table Bay, twelve Boer prisoners, escaped from Simonstown. They were in an open boat with but few provisions. The Coratellas landed them here, and they have gone on to Pretoria.”12

      Daar is nie duidelikheid oor presies hoeveel uiteindelik suksesvol weggekom het nie. Volgens Willie van den Berg (wat weer gevang is) het 12 burgers uiteindelik in Transvaal aangekom en weer by die kommando’s aangesluit.13 Uit Britse amptelike lyste van die name van die ontsnaptes wat onder die opskrifte “Prisoners who escaped” en “Prisoners still at large” opgestel is, kom dit ook voor dat minstens 12 krygsgevangenes ná ’n week steeds op vrye voet was.14

      Elkeen van die krygsgevangenes wat weggekom en daarin geslaag het om weer by die Boerekommando’s uit te kom, het ’n merkwaardige verhaal. Die volgende besonderhede kon oor hulle opgespoor word vir die tydperk direk ná hul ontsnapping:

      •Kepler de Meillon het sy weg deur die Kaapkolonie na Oos-Transvaal gevind waar hy weer by ’n Boerekommando aangesluit en tot aan die einde van die oorlog as bittereinder geveg het (sien hoofstuk 1).

      •Fred Kannemeyer was soos De Meillon ’n Johannesburger en is ook by Elandslaagte gevang. Volgens die herinneringe van ’n medegevangene, D.J. du Toit, het Kannemeyer sy weg na Port Elizabeth gevind en op ’n Franse skip gaan skuil wat daar geanker was. Daar is hy amper deur ’n Britse speurder betrap wat ondersoek kom instel het en hom begin ondervra het. Kannemeyer het koelkop gebly en die speurder ’n rat voor die oë gedraai, waarna dié hom uitgelos het. Kannemeyer het daarna via Lourenço Marques weer by die kommando’s uitgekom.15

      •Charles Brink was verbonde aan die Heidelberg-kommando en is tydens die Slag van Paardeberg gevang. Gert Jooste beskryf hoe hy Brink vanuit die kombuis by South Camp dopgehou hoe toe dié op 6 April 1900 deur die veiligheidsheinings ontsnap het: “Met gespanne senuwees het ons ander Heidelbergers … staan en kyk hoe hy deur die draadheining kruip, en toe op sy maag oor die wag se sandpaadjie tot in die kreupelbos naby die see seil.”16 Daarna het Brink die grootste deel van die nag in die rigting van Kaapstad gestap en die volgende oggend daarin geslaag om ongemerk die laaste deel na die stad per trein af te lê.

      Brink het vir hom plek bespreek in ’n losieshuis in Breestraat en toe ’n boekie gaan koop waarin hy terugwerkend dagboekinskrywings gemaak het sodat hy dit as ’n alibi kon gebruik. Dit sou aantoon hoe hy die voorafgaande maande kwansuis by allerlei transaksies betrokke was. Hy het hom as “Philip Moore” voorgedoen en hom verder nors en eenkant gehou en net Engels gepraat wanneer hy iemand moes antwoord.

      Die volgende dag is hy per trein na Stellenbosch waar hy ’n vriendin, die 21-jarige Maria van Niekerk, gaan opsoek het wat voorheen in sy tuisdorp skoolgehou het. Dié merkwaardige vrou was ’n vurige ondersteuner van die Boeresaak en word allerweë beskou as ’n pionier in die Afrikaanse vrouejoernalistiek. Sy is later met die bekende opvoedkundige prof. Gawie Cillié van Stellenbosch getroud en een van hul seuns was Piet Cillié, ’n redakteur van Die Burger.17

      Maria help Brink wegkruip totdat hy ná ’n week op haar advies by F.S. Malan, die redakteur van Ons Land in Kaapstad, om hulp gaan aanklop het. Deur Malan se bemiddeling het Brink geldelike hulp gekry om met die Santa Fé, ’n Franse skip, na Lourenço Marques te reis. Malan is kort daarna weens pro-Boere-beriggewing in sy koerant tot een jaar gevangenisstraf gevonnis.

      Brink moes ’n maand wag voordat die Santa Fé sou vertrek. In dié tyd is sy identiteit amper onthul toe ’n Engelssprekende uit Heidelberg hom in Adderleystraat herken en vra wat hy daar maak. Hy het kalm gebly en die persoon uit die hoogte in Engels tereggewys dat hy hom misgis, waarna hy in ’n groot winkel verdwyn het.

      Die hawe in Kaapstad is fyn dopgehou deur speurders en Brink moes dus uiters versigtig te werk gaan om aan boord van die Santa Fé te gaan. Hy het ’n bruin bootsman gehuur om hom met ’n skuitjie na die skip te roei. Steeds was hy nie buite gevaar nie … Tydens die vaart tussen Durban en Lourenço Marques het die Britse oorlogskip die Thetis die Santa Fé voorgekeer, waarna dit deur soldate deurgesoek is. Ná ’n spanningsvolle halfuur vir Brink is die Santa Fé toegelaat om verder te vaar.

      Brink het by Lourenço Marques aan land gegaan en sy weg terug na die Heidelberg-kommando gevind, waar hy genl. Cornelis Spruyt se adjudant geword het. Brink het tot aan die einde van die oorlog geveg. Later het hy die kwartiermeester-generaal van die Unieweermag geword.18

      •Johannes Bosman en Salmon Maritz het amper weens honger en dors omgekom in hul poging om hul kommando’s deur die binneland te bereik. Nadat hulle ontsnap het, het hulle deur die nag aangehou loop totdat hulle die Kaapse Vlakte bereik het, waar hulle van uitputting in die veld aan die slaap geraak het. Daarna het hulle te voet voortgegaan totdat hulle drie nagte later by Pieter en Hester van Aarde se Swartlandse plaas opgedaag en daar oornag het. Van Aarde het hulle die volgende oggend met sy kar en muile na ’n vriend op Kanonberg geneem, wat hulle die dag daarna weer na Piketberg geneem het.

      Daarna moes hulle te voet verder en is hulle by Pienaarskloof oor die berg en met die Olifantsriviervallei af na Clanwilliam. Daar het ’n Namakwalandse boer hulle met sy kar en vier perde tot in Calvinia geneem. By die soutpanne oos van Sakrivier het nog ’n egpaar hulle oor Bosman en Maritz ontferm.

      In die woeste Boesmanland het hulle van koers af geraak en te ver wes beweeg. Ná twee dae het hulle begin glo hulle gaan van dors, honger en vermoeienis omkom. Hulle was op hul laaste bene toe hulle teen sterk skemer in ’n klofie ’n rokie gewaar. Dit was die afgeleë huisie van bruin mense. Die gasvrye bewoners, Anna en Freek Erasmus, het die twee Boere ingeneem en drie dae lank versorg totdat hulle sterk genoeg was om verder te gaan. Die Erasmusse het hulle ook van genoegsame proviand en water asook advies voorsien.

      Bosman en Maritz het uiteindelik weer by hul kommando’s uitgekom, maar die twee mans het later van mekaar verwyder geraak. Bosman is later in die oorlog ’n tweede keer gewond en het weer in die vyand se hande geval. Hy is toe na Indië verban.19

      •Die 20-jarige George Truter Robertson van Vrede in die Vrystaat se wedervaringe is danksy ’n medeburger, Hugo van Niekerk, se optekeninge baie volledig. Van Niekerk het Robertson se verhaal in Junie 1900 in die Groenpunt-kamp neergepen op grond van wat Robertson hom vertel het.20

      In sy haas om weg te kom van die soldate wat op sy spoor was, het Robertson in ’n vullisgat by die wagte se kamp geval en hy kon vir die volgende vier dae nie van die stank ontslae raak nie. Toe hy die Vrydagaand van die ontsnapping in die tuin van ’n Engelse vrou by Simonstad probeer wegkruip, het sy hom opgemerk. Hy kon haar nie ’n bevredigende antwoord gee oor wat hy daar maak nie en sy het die soldate se aandag getrek. Hy slaag egter daarin om van hulle te ontsnap en in die rigting van Kalkbaai weg te hardloop.

      Vier dae lank drentel hy rond totdat hy so moeg en uitgehonger is dat hy besluit om ’n kans te waag en by ’n huis in Woodstock aan te klop. Hy doen homself aan die jong egpaar voor as ’n messelaar wat werk soek. Veral die huisvrou is aanvanklik wantrouig teenoor die gehawende vreemdeling met die onaangename reuk wat om hom hang. Hy vat ’n kans en stuur die gesprek in die rigting van die krygsgevangenes wat kort tevore uit South Camp ontsnap het. Toe dit deurskemer dat die egpaar die republikeinse saak goedgesind is, maak hy bekend dat hy een van die ontsnaptes is. Daarna is hy met ope arms ontvang.