Lobola vir die lewe. André P. Brink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167345
Скачать книгу
nee ek het g’n huis nie en jy hoef my nie te bejammer nie dit sal nie die eerste keer wees nie. Uitgeskop. Padgegee. Weet self nie meer hoe en hoekom nie

      duisel duisel lekker draai

      totdat al die hane kraai

      loop jy maar aan loop slaap en mag jou gewete jou hel gee.

      “Kom saam met my. Ek sal jou wel ’n plekkie vir die nag kan gee.”

      Hoe heet jy vriend? Salvation Army? Of soek jy iemand om jou bed met jou te deel lekker warm bed maar ek is oor die muur vannag en buitendien gaan ek nie in vir sulke dinge nie. Kom ons sing.

      “Daar’s ’n leë matras vir jou in my kamer as jy wil saamkom.”

      Kom ons sing.

      “Kom, gee my jou arm. Kom.”

      (Kom na my toe almal—)

      Oppas nou. Oppas. Moenie sommer gaan trek aan my arm asof dit ’n Dawidswortel is nie dit behoort nie aan jou nie en ek sal dit waardeer as jy my eiendom ook kan respekteer. Oóóóóóppp! Een kant op en die ander kant af en daar lê die ding. Nou lê ons altwee vriend. Oppas die braaksel daar ek het jou gewaarsku. Nou lê ons altwee. Sappho se appeltjie het geval of het Sappho nie ’n appel gehad nie wat sy ook al gehad het sy het dit goed gebruik hoe slinger ons dan nou so heen en weer asof die aarde soos ’n jongperd op loop gesit het vashou boere lekkerlyf vashou. Jóú bene is ook maar wankelig oubaas, en jou bottel kon gebreek het. Skade. Onberekenbare skade. Die hael en teëspoed van hierdie harde ou land en die boere kla weer dat dit dreun.

      “Versigtig nou. Moenie aan my ruk nie. Stadig. Stadig.”

      Eenderige wegslinger in die donker, straatop, straataf, tesame in ’n nuwe snaakse broederskap, wandelende geeste deur die strate van Rome met die dood van die deurlugtige Caesar, verby Maleise buurt, verby kleiner en groter pleine, die berg alomteenwoordig met of sonder Van Honk

      Afrikaners is plesierig en dan maak hulle só—

      en later sukkel hy sy gulp oop en water teen die paal soos ’n perd: ag heerlike welbehae! net sy kop dreun nog, draai nog, slinger nog. En eers as hy onhandig weer met die knope staan en sukkel, tas die bedelaar se twee lang arms soos twee swart soekligbane uit die donker na hulle op. “Seblief dan tog, my basie, my goeiste basie, dis so ’n koue aand.”

      Sal ons aanstryk in die donker (in die nag onder die berg) en hom aan sy ellende laat soos hy óns, want wie is erbarmliker? Kom, kom moenie nog staan nie, laat ons loop.

      Maar die oubaas staan sowaar en sukkel met sy jas, en knot sy hande uit sy baadjiesakke met enkele verlate stukkies geld. Is jy mal vriend gek vriend dis baie min vir ’n sikspens en boggerol vir niks en jy staan en weggee soos ’n verwaarloosde apostel jy moenie dink jy kan my beïndruk met jou offerandes nie. (Vuur en swael by Karmel en Sodomengomorra, gillende vroue en kinders in Kartago en op Druïde-altare.)

      Die sukkelende bedelaarslyf, geldstukke in die oop hande, vodde en vlees gekruisig aan sy beendere, beur steeds roerloos vorentoe op, verknotte bruin stingel uit die sypaadjie by die paal, maar hulle het niks oor om hom te gee nie, niks, behalwe op ’n laaste ingewing die bruin bottel kwartvol verdriet en warmte.

      “Vat dan maar so, jong. Kyk of jy daar ’n gebruik voor kry.”

      Gek wat jy is en jy dink omdat ek jou gas is ek moet my bek hou maar weet jy wat jy daar weggegee het en as jy dink ék is verleë oor jou verdomde matras dan maak jy ’n groot fout, groot fout, die ouvrou met die groot boud, jy weet nie hoe dankbaar ek jou is nie, my innige opregte hartlike dank by voorbaat vir die matras aan my belowe en ek hoop om so gou doenlik daarvan gebruik te maak

      o stywekwas stywekwas

      lekker matras

      Kom ons sing—

      Die ou man bly woordeloos die hele tyd, straat na straat, blok na blok, met slingerende treë en self onvas, ingedoke in ou hoed en groot jas, af en toe met lamplig oor gesig en skouers, maar steeds anoniem, byna amorf. (Waarheen? Na Gretchen in die kerker of ’n kluisenaar na sy skryn of is jy ’n arme mankgeworde kreupel oue Pegasus wat my na Olimpus neem?)

      Hulle gaan inderdaad ’n hoogte op in ’n gebou in ’n stil blok, trappe boontoe, geen hysbak nie, trappe, stel na stel, pelgrims na saligheid of akrobate na die slingertou bo, op en op, en keer op keer moet hulle eers gaan staan en rus as die naarheid die jong man weer pak en aan hom begin ruk.

      Dan, skokhelder: sleutel in slot, flou maar blakerende lig—en hulle knipperoog soos hoenders op ’n vaak stellasie voor diewe in die nag (hoe sal ek weet in watter waak die diewe kom?). Vuilgeruite venster. Ysterkatel, klerekas, sinkbak in die hoek.

      “Sit jy daar op die stoel. Ek gooi vir jou my jas oop oor die matras. Lekker dik army-jas.”

      Kan ons sing?

      “Jy sal die mense wakker maak.”

      Mense, mense, oral, snags en bedags, en steeds in alle hoekies besig om aan te teel. Here, en die ou aarde dra al so bitter swaar aan sy groot vrag. Wanneer skud hy iets af? En waar dra hy ons heen, winkel-wankel deur die donker strate van die ruim?

      “Daar’s jou bed. Rol maar om as jy wil. Jy’t seker genoeg plesier gehad vir een dag.”

      Dadelik ergerlik, gekrenk, oë gepynig deur die lig, kuif deurmekaar: “Jy’t dit verdomp mis as jy dink ek kry ’n kick daaruit.”

      “Nou toe,” paai die oue. “Jy’t in elk geval genoeg gedrink, selde waarom—of jy nou iets het om te vergeet of te versuip—”

      “Moenie my laat lag nie. My kop sal bars en jy sal hel hê om die kamer skoon te kry. Wat sou ék hê om te vergeet? Ek het nooit iets gehad om te verloor nie.” Hy is byna selfbejammerend; en hy flapper op die matras neer en begin met sy skoene sukkel soos met meetkundeprobleme. “En ek versuip ook niks.” Hy ruk ’n veter af. “Ek kon die tale van mense en engele spreek, so to speak. Ek het selfs die liefde gehad, elke denkbare en ondenkbare soort.” Snaakse glimlag, vir niemand in besonder nie. Dan, eentonige kinderrympie: “My liewe impotente vader en my liewe sletmoeder en my liewe vrekbang Diana en die liewe vose mensdom. En moet ek jou sê wat dink ek van dit alles? Moet ek jou sê?” Die eerste skoen dreun neer. “Fokkol. Ek gee geen dêm daarvoor om nie.”

      Waar’s jy nou vriend onbekende vriend met jas en hoed waar’s jy jy moet vashou die kamer gooi jou af soos ’n verveelde slet ’n verveelde moeë slet ein-de-loos moeg sit af die lig sit af die blerrie lig anders gaan ek hom flenters gooi met my skoen totdat hy vrek daar lê nes ek en jy—

      KLEIN BEDESNOER

      Derde Kraal

      Liewe Jesus sag en teer

      sien op my u kindjie neer

      leer my om tot U te bid

      maak my hartjie rein en wit

      derde stasie

      Lasarus ek sê vir jou staan op en kom uit

      Vervaarde hooggety en golwe in al kleiner deining

      Roepend tussen bome en donker struike in die Tuin: Kom uit

      rukkend om tot sin en helderheid te kom

      Of dreunend uit die berg wat brand: My volk

      verblindende pyne skielik in die laag van eerste bewustheid

      Of in die grot: Gaan uit Mohammed en verkondig aan die wêreld

      oproeiend, paniekerig, deur vlakke duisternis

      Of in die donker tempel aan die kind wat slaap: Samuel

      met helderder en helderder spatsels en plasse lig

      En Zeus donder van die wolkomkranste berg Olimpus af

      En also sprach Zarathustra

      En die bronstige bul bulk na die koeie wat in die laagte wei

      En bulk

      En