Lobola vir die lewe. André P. Brink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167345
Скачать книгу
hoe kan jy seker wees? Hoe weet jy jy’t nie verkeerd gekyk nie? Daar kon iets in jou oog gewees het. Jy kon in die lig gekyk het en ’n swart kolletjie gesien het. Jou oogsenuwees kan verkeerd werk. Jy kon jou dit alles verbeel het. Hoe kan jy wéét?”

      Verbystering allerweë.

      “Jy antwoord nie. Jy WEET nie! Jy weet niks en ek weet niks en niemand weet niks!”

      “Nee wag nou, mense, wag,” skemer die kroegman tussenbeide, groot soos ’n meulsteen, onversetlik soos ’n dogma. “’n Vliegie meer of minder is tog nie regtig só belangrik nie.”

      “Vir mý is dit belangrik!” raas hy terug, leun vooroor op die toonbank, bewoë, verlate, hou neulerig vol: “Dit is, dit is. Vir my.”

      (Hoeveel engele dans op die punt van ’n naald?

      Hoeveel engele dans op die punt van ’n naald?

      Hoeveel engele dans op die punt van ’n naald?)

      Hy maak ’n moedelose gebaar. Sy glas word vol, soos almal s’n. Onderneem die groot odusseia deur die rook na die glas en terug, en drink, en dit brand nie meer nie, doen niks meer nie, maak alles net lomer en moeër en gryser, en sonder sy toedoen word die patrone van weleer meer en meer, voor hom en om hom, bo hom, deur rook, soos konstellasies vreemde somber sterre in die lug, gepluim soos riete van die rook, meer en meer, flapper teen hom aan, sketterend deur flitse helle lig, hewiger, en sluit hom vas en sluit hom af van alle dinge, weg, dit is vir hom belangrik, is, dit is, maar waarom, skielik, ewige vraag, waarom, want kan daar iets nog wees wat wel belangrik is soos engele op ’n speldekop ’n naaldekop ’n speldenaaldekop, belangrik, baie belangrik die ganse mistroostige mislike lewe op ’n speld se kop en ons sal ewig daaroor redeneer.

      (Belangrik soos die kleiner, nederiger en nutteloser ontdekkingsreise van elke dag: die voorspel van die weer, die uitstort van die saad, die môresê vir die vreemdeling agter die koerant, die stap oor die bruggie. Want die laaste Everests is lankal oorgesteek en dis vlak wêreld voor en die stralende lig het flets geword.)

      Maak vol maak vol laat trane rol

      en mors die hele wêreld vol

      ag rook ag rook as ek nog langer bly dan gaan ek kots

      hier sit ek eensaam teen my rots

      en die ewige sterre sal oor my snot en trane ween.

      “Nee, ek hét betaal,” sê hy toe die kroegman se oop hand voor hom flons. “Ek het, ek het, EK HET!”

      Van alle kante druis die neë op hom toe, golf hom toe, storm hom toe.

      “EK HET!” Hy smyt die glase oor die toonbank om en slaan met sy skraal wit vuis daartussenin. “Ek het!” Die ewige geboortesterftekreet teen alle tye en wesens in en nou is die leviatan om hom op hom in hom wriemelend en duwend en woes, met driftige stemme en dreigemente en een lag wat klater soos ’n klip wat bergaf stort.

      “Maak dat jy hier uitkom!”

      Buitenste duisternis, ween en kners die tande, weeklaag teen die ewige hemele aan want Lucifer het geval, o weep for Adonais he is dead, die Filistyne is op jou, liewe Simson.

      Sypad en randsteen en kei. Koud in die donker, met die donker berg teen die donker kim en die donker hemel bo die donker stad.

      Klere heel.

      Een elmboog geskraap.

      Sit.

      Sit en dink, of.

      Sometimes I sits and thinks and sometimes I just sits

      a. Van waar? b. Waarheen?

      a. Nêrens. b. Nêrens.

      My liewe hospita het my uitgegooi

      nou sit ek sonder huis of kooi

      huis of kruis

      kind of kraai

      Eensamer as berg of lug, en voel dit saamtrek, optrek in sy maag, op, ontstellend, aaklig, totdat hy handeviervoet oor die straat se afloopvoortjie staan en hoor hoedat dit teen die randsteen spat, met langsame, moeër ná-rukkings—hemel, soos ’n kat maar wat de bliksem maak dit saak—moeg, verlate, passief, heeltemal gedaan. Nou moet dit maar kom. Enigiets. Die ergste het lankal gebeur.

      KLEIN BEDESNOER

      Tweede Kraal

      Ek het ’n hond gehad.

      My hond se naam was Wagter.

      Ek was lief vir my hond.

      My pa het gesê dis ’n optelhond.

      Een dag was ek dorp toe.

      Toe het die veearts vir Wagter doodgemaak.

      Ek was baie hartseer.

      Toe het my pa vir my ’n horlosie gekoop.

      ’n Horlosie is ’n goeie soort ding.

      Net jammer dit kan nie blaf nie.

      Totdat hy eindelik die stem hoor en die donker gestalte tussen hom en die berg sien bonk

      tweede stasie

      en opkyk na die vreemdeling en wonder hoe dié dan staan en wag asof hy verwag het om hom hier te vind en hoe hy self weer opkyk asof hý verwag het dat die vreemdeling sou kom, een of ander uur, een of ander dag, ’n late eeu, soos ’n Dief in die nag (Vergilius om Dante uit sy hel te lei sy purgatorium binne, goddelike gesant om Prometheus los te maak van sy daaglikse ellende, Vishnu in die Kalki Avatara met sy sens en op sy groot wit perd om hierdie gans-te-late tyd te laat verbygaan en Brahma weereens uit sy slaap te roep, die Komer-op-die-wolke met die arms uitgestrek)

      en alles duisel weereens soos tevore, berg en lug en enkele laat ligte en die ewigdurende basuin wat in sy ore blaas en alles laat versplinter soos ’n glas wat breek

      Maar skielik nugterder die woorde: “Kan ek handgee, maat?”

      Maar hy, ten antwoord, krimp weer soos tevore inmekaar, en spat oor die grond en vee met ’n moeë mou oor sy mond, bleek en barstend, woedend ook: “En wie dink jy is jý? Goeie herder, of ’n doodgewone Samaritaan?”

      Kort moeë laggie in die donkerte: “Ek matig my nie eers meer aan om myself te wees nie, boeta.” ’n Bewerige hand soek onseker na sy gehurkte gestalte.

      Nee los my gee pad van my af en sit net êrens ’n lig aan ek bars hier in die donker dit is heerlik ellendig dankie barmhartige erbarmlike samaritaan ek het niks van niemand nodig nie van niemand niks. Kom laat ons sing:

      Gaudeamus igitur

      Nog ’n dag is in sy moer!

      Sing saam onbekende donkervriend of loop maak dat jy wegkom sing nee sing saam met my. Ever seen a fly on the wall fly on the wall fly on the wall ever seen a fly on the wall fly-on-the-wall tweede versie ever seen a fly on the blerrie wall waarom sing jy nie saam nie of dink jy ek kan nie sing nie dan moet jy praat of padgee ek het nie die heelnag tyd nie ek het die ganse ewigheid

      “Ek het ’n bottel hier,” sê die ou man. “Kom drink ’n laaste sluk.”

      Dink jy nie ek het klaar genoeg gehad nie gans genoeg ou maat as jy met jou hand hier teen die geut wil voel sal jy weet wat ek bedoel. Maar gee, maar gee. Ek sal nie weier nie. En moenie aanstoot neem nie.

      (Laat die broers en susters tog nie op mekaar wag nie.)

      “Nou toe. Voel jy beter?”

      Moenie nou probeer geselskap soek nie daar het ek ’n broertjie aan dood sy agterwiel het uitgeval.

      “Laat ek jou huis toe neem. Kom.”

      Ek kan jou amper laat begaan net om te sien wáár jy my sal aflaai.

      “Jy moet tog êrens bly.”

      Daar is geen moete nie. Jy sal dit uitvind as jy ouer word.

      “Ek