Lobola vir die lewe. André P. Brink. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167345
Скачать книгу
lank werk ek nou al hier in jou kantoor. Ses weke lank sidder ek by die gedagte aan wat jy sal doen as jy uitvind wat in die eindeksamen gebeur het. Sidder, omdat dit vir my die grootste skande denkbaar was om te dink dat ek moes druip, jou moes teleurstel, selfs al was dit jy wat my gedwing het in ’n rigting waar ek nooit wóú in nie. En nou—dít—en jý—!

      MIDDELJARIGE MAN (Buite homself): Dan het dit tóg gebeur. Dan het jy op die ou end tóg maar jou ware, verfoeilike afkoms met jou saamgedra —!

      JONG MAN: My afkoms—?

      MIDDELJARIGE MAN: Ek kon dink dat geen kind van mý so ’n gemors van alles sou maak nie. Ék het jou ’n huis gegee, ék het jou ’n opvoeding en ’n toekoms gegee, ek het jou ’n naam gegee! Maar nou kan jy in jou maai in loop en moenie weer by mý iets kom bedel nie, verdomde optelkind!

      “Die pap is gaar,” sê Serfontein en stoot die bord oor die vloer na hom toe aan.

      “Dankie.” Hy buk en tel dit op. “Terloops,” sê hy, “as jy dit nodig vind om met my te praat: jy kan my François noem.”

      “Dis goed.” Hy proe aan die klontjiespap. “En bly jy nou hier?”

      “Dalk. Maar as jy weet van ’n goedkoop kamer naby—”

      “Het jy geld?”

      “Ek kan kry.”

      “Hoe?”

      “Daar is maniere.”

      (Maniere om aan die lewe te bly hardnekkig klouend soos ’n neet aan enigiets wat vatplek het dis beter noudat alle dinge gelyk geword het nul gelyk aan nul gelyk aan nul maar al die tyd van soek sonder vind klop sonder oopmaak roep sonder antwoord verskoon my asseblief maar weet jy dalk wie ek is ek het myself verloor ek weet nie waar nie en dis nogal ongerieflik en nêrens spore nie in reën of wind soos hare vanslewe die duisternis langs afgronde deur eeue—moenie weer met my die loop neem nie.)

      “Nog suiker?” vra Serfontein.

      Hy skud sy kop en stoot sy bord weg; duik dan met sy hand onder die bed in en soek ongenooid sy gasheer se halwe bottel; sy oë vra gretig—Mag ek?—en dan keer hy dit in sy keel om en laat dit deur hom sprei, behaagliker, behaagliker.

      En later klim hy bottel in die hand op die bed, druk teen die muur om staande te bly, en sê: “Dames en here, ons het geen gode en afgode meer oor nie, ook nie meer onsself nie en selfs die aarde is nie wat hy was nie.” Hy buig effens, kuif oor sy voorkop, en sê: “Laat ons sing.”

      Bring weer die bottel na sy mond, maar probeer gelyktydig sing, en verstik, en struikel, en die ou man help hom terug op sy voete en slaan hom op die rug tot hy boosaardig losruk.

      “Ek sal een van die dae opruim en begin werk,” sê Serfontein toe hy bedaarder eenkant sit. “Een van die dae. Maar wat sal ek dan met die meisiekinders doen—?”

      vierde stasie

      En nou: wat omtrent Marie? Dis tyd dat jy van haar praat.

      —Nee. Dit spyt my innig, maar ek het nie die geringste idee van waar sy vandaan gekom of van waar ek haar gesien het die eerste keer nie.

      Was dit wel die eerste keer?

      —Dit kon ook ’n ander keer gewees het.

      Die hoeveelste?

      —Die laaste, byvoorbeeld.

      Of?

      —Of enige ander.

      Kan jy dit toelig?

      —Met die kringe van die glas se boom die nat glas se boom die glas se nat boom.

      Hoeveel kringe?

      —Twee of drie of enige denkbare getal oormekaar.

      En het jy in elkeen van die kringe ’n aparte bestaan?

      —Ek het, na die beste van my oordeel en vermoë.

      Hoe groot is jou oordeel en vermoë?

      —Nie baie groot nie.

      En in elkeen ’n aparte realiteit?

      —Ja; ek vermoed so, glo so.

      Of wel ook nie-bestaan en on-realiteit?

      —Dit kan wees.

      En het jou bestaan in een kring enigiets te doen met jou bestaan in enigeen van die ander of al die ander?

      —Nee, dit is heeltemal afsonderlik.

      Behalwe?

      —Behalwe dat dit ook ek is wat in die ander bestaan.

      Jy kan egter geen bewyse aanbied nie?

      —Geen.

      Het jy enigiets om aan te bied—in verband met Marie se eerste koms?

      —Enkele hipoteses.

      Hoeveel?

      —’n Paar.

      Hoeveel?

      —Vyf.

      Gaan asseblief voort.

      (a) KAMER

      Wakkerword in die môre in die oubaas se kamer.

      (Die kuiken wat pik aan die kosmiese eier om gebore te word en pik pikpikpik pik pikpik dan stil en luisterend na die wêreld buite en moedswilliger weer pikkepikpikpik stilte pik al dringender en dwingender pik en pik en tiktiktikketaktik van ’n tikmasjien wat in ’n perskantoor aanhoudend ratel en sy spastiese staccatostorietjie van skande of skandaal uitknetter met ’n laaste paar dawerende slae die swaar hout op die verhoog agter die skerm voordat die spel begin dieselfde spel van gister (matinée op Sondag en teater gesluit op Woensdag) en eergister en ses maande gelede en oor sewe weke dag vir dag soos die kweeldeuntjie van die versierde draaiorrel oor en oor piktikdoef piktikdoef pikketikkeDOEF doef en die groot swaar dreun van Thor)

      “Waarom kon jy my nie laat slaap het nie? Wat de duiwel bedoel jy daarmee om my wakker te maak met hierdie lawaai van jou?” (Toneel immer dieselfde met hamerslae van die lig teen sy pynende oë en om hom die heuwels en dale van die kakiejas maar die ou man is weg verdwyn het hy deur ’n gat in die heelal geval of het die engele of muise hom weggedra? hy sal met die opsigter moet praat dat hy die gate heelmaak waardeur ons arme sterflike wesens so maklik tuimel sedert Lucifer.)

      Sy staan bo sy matras laggend teen die oorverdowende lig van die venster met ligte wanordelike hare en met donkerrooi trui en ronde borste (nie foppertjies nie ’n mens leer baie gou onderskei) besem in die hand en ’n bruin romp met ’n verspotte klein voorskoot bo-oor.

      “Ek het gedink jy word nooit wakker nie.”

      “Wat maak jý hier? Wie is jy? Wie het jou hiernatoe gestuur?” (Is jy die boerin wat na die kuiken uit sy dop kom kyk; die jong aktrise van die eerste toneel; die tikster van die nuusredakteur?)

      “Moet ek vir jou koffie gee?” Sy lag asof hy ’n grap is. “Foei, jy lyk maar mistroostig.”

      “Wat máák jy hier? Wie is jy?” vra hy moorddadig.

      Sy loop weg van hom na die primusstofie by die wasbak met die suggestie van tergende boudbeweginge soos die gees wat swewe oor die waters. “Ek maak maar net aan die kant hier,” sê sy oor haar skouer toe sy by die stofie kniel.

      “Waar kom jy vandaan?”

      Haar rooi skouers roer. “Miskien het die wind my ingewaai. Wat maak dit saak?” Met skamper nágedagte: “Jy moet net nie dink ek het om jóú ontwil gekom nie.”

      “Daar is ek dankbaar voor.” Skielik bitsig: “Jy neem my seker kwalik dat ek jou slaapplek afgeneem het? Of slaap julle altwee op die enkelbedjie?”

      Sy lag opnuut en begin die koffie skink. “Ek dag jy weet dat hy impotent is?” sê sy. “Kan ek vir jou suiker ingooi?”

      “Hy kan jou altyd