Hy staan ook op, en die kelner staan dadelik nader met die rekening.
“Goeiste,” sê sy verleë. “Ek het amper geloop sonder om te betaal.” Sy maak haar handsak oop en haal haar beursie uit, maar hy maak ’n afwerende gebaar en betaal vir hulle albei.
“Dankie,” sê sy. “Dit was nie nodig nie.”
Hy antwoord nie, beduie net dat sy voor moet stap, en eers toe die swaaideur hulle weer uitgestoot het tussen die gedrang van mense, kyk hy na haar.
“Sal ek die boek vir jou bring?”
“Nee, nee,” keer sy. “Dis nie nodig nie. Ek het u mos gesê, dis ’n vervelige boek. Een van daardie kitsverkopers waaroor almal praat sonder om te noem dat dit swak geskryf en vervelig is, tensy mens ’n besondere voorliefde het vir bloed en gemene mense.”
’n Haastige jong seun druk by hulle verby met soveel geweld dat hy haar laat steier en sy gryp na Charles se arm om nie te val nie.
“So ’n onbeskofte seun,” sê hy, en sy sien hoe koud sy oë kán word.
“Ons staan ook in die pad van die mense. Tot siens.”
Maar dis asof hy haar nie wil laat gaan nie. “Sal jy vanaand saam met my kom eet?” vra hy.
“Vanaand? Nee. Ek bedoel … dis vriendelik van u om my te nooi, maar ek gaan nie saans uit nie.”
“Waarom nie?”
“Ek … ek doen dit nie. Ek is saans te moeg.” Sy weet dis ’n ellendige verskoning, maar sy weet nie wat om te sê nie.
“As ons vroeg gaan eet?”
“Maar nie vanaand nie,” sê sy wanhopig. Nie na ’n oggend by die hospitaal en ’n dwase uur in die stad nie.
“Saterdagaand?”
Sy dink vinnig. Sy het op die aarde niks anders om Saterdag te doen nie, maar sy kan ook kwalik drie dae voor die tyd reeds weet hoe sy gaan voel.
“Ja, goed,” stem sy lammerig in.
“Ek sal jou sesuur kom oplaai. Ons kan uit die stad ry. Ek ken ’n plek waar hulle vroeg al begin bedien.”
Seker vir kinders, dink sy bitter. Maar sy sê ja.
“Dan bring ek tog die boek saam,” sê hy. “Dit hinder my nou al twee weke lank. Ek kon dit al teruggebring het.”
Die vermaledyde boek, dink sy toe sy aanstap na die bushalte. Sy wens sy het genoeg geld by haar gehad om ’n taxi te bekostig, want sy is nie nou lus vir staan en wag nie. Dit was ’n verwarrende uur, en sy wil so gou moontlik by die huis kom.
En asof alles teen haar gekant is, slaap sy die Vrydagnag sleg. Sy weet dis die nuwe medikasie, maar elke keer as sy vas slaap, word sy rukkend wakker van die vreeslike nagmerries totdat sy vroegdag maar opstaan en in die sitkamer gaan sit. Haar hare is papnat gesweet en klou teen haar voorkop vas, en sy voel lighoofdig van die slegte nag. Sy drink ’n handvol vitaminepille en maak vir haarself ontbyt, maar toe die son deur die mistigheid breek, weet sy dat dit nie ’n maklike dag gaan wees nie. Terwyl sy haar hare later was, word sy so duiselig dat sy op die ou end op die rand van die bad moet sit met albei hande klouend aan die wasbak. En sy huil van frustrasie omdat sy tóg uitgesien het na die aand. Teen haar wil en beterwete in het sy uitgesien daarna. Om weer soos ’n mens te voel. ’n Jong meisie wat op ’n Saterdagaand uitgaan. Sy het selfs die vorige dag ’n nuwe rok gekoop; iets wat sy nie dikwels meer doen nie omdat sy gewoon nie opgewasse is teen die bejammerende blikke van verkoopdames nie wat meer daarop ingestel is om oorgewig klante te troos. Hulle weet hoe om ’n gul lyf te verdoesel, maar hulle staan verslae as iemand ’n rok soek wat haar ’n bietjie lyf sal bygee.
Teen die tyd dat haar lang hare droog is en sy opgekrul op die wit rusbank lê, het sy al ’n halfdosyn kere deur die telefoongids geblaai en stilgestaan by Charles Ashton se nommer. Eenkeer het sy selfs begin skakel en toe weer opgehou en die gehoorstuk neergesit. Waarom weet sy nie. Miskien omdat sy ’n sekere determinasie in sy oë gelees het. As sy nie vanaand gaan nie, sal hy haar volgende week uitneem. Dan maar liewer vanaand dat dit verby is. En bowendien: hoeveel meisies kanselleer afsprake met hom omdat hulle sleg geslaap het? Dis verspot om die minste te sê. Dis die soort rede wat sy ma sal gee, of sy ouma, as sy nog leef.
Sonder dat sy dit so beplan, raak sy tog aan die slaap, en toe sy vyfuur wakker skrik, voel sy wel effens sterker. Sy drink weer al die pille wat die uur voorskryf en trek toe haastig aan, maar toe sy na die voltooide produk in die lang spieël kyk, dreig die trane om te loop. Eenkeer, lank gelede, het sy met grimering probeer regkry wat die siekte van haar weggeneem het, maar sedertdien het sy geleer dat dit niks help nie. Dit laat haar net lyk na ’n winkelpop wat deur ’n oorywerige kunstenaar en ’n palet beetgekry is.
Toe Charles Ashton sesuur aan haar deur lui, skrik hy toe hy haar sien. Die hele dag al loop hy op en af deur sy huis en tuin en wonder waarom hy die meisie uitgevra het, en noudat hy voor haar staan, ken hy die antwoord nog steeds nie. Dis nie asof sy hulpeloos is nie. Die teenoorgestelde is eerder waar. Sy staan trots voor hom, byna uitdagend, asof sy hom uitlok om te skrik, om weg te draai en te loop. En hoe kan ’n mens skrik vir iets so breekbaar?
“Ek is reg,” sê sy en tel haar reënjas op.
Hulle loop woordeloos na die hysbak, staan langs mekaar met hul oë op die stuk glas waardeur ’n mens die verbyskietende verdieping kan sien en stap dankbaar uit na die motor. Ook in die motor praat hulle nie veel nie. Hy help haar met die sitplekgordel en konsentreer verder op die verkeer. Sy kyk by haar venster uit en is baie bly toe hy die radio aanskakel en hulle na die nuus kan luister. Dit gee hulle ten minste iets om oor te praat.
Die plek waarheen hy haar neem, is inderdaad baie mooi. Net buitekant die stad lê dit onder groot kastanjebome weggekruip en lyk na ’n boerdery wat omgeskep is in ’n restaurant. Die vriendelike egpaar wat hulle by die deur ontvang en innooi, versterk die indruk, en die eetkamer het ’n lae, berookte plafon en ongelyke geplaveide vloer.
“Dit was eens op ’n tyd die kombuis,” vertel Charles. “Kyk die pragtige ou vuurherd. Is die teëls nie mooi nie?”
“Fraai,” stem sy saam en gaan dankbaar sit. Die plek is verlate. Daar is nie eens ’n kind wat sy aandete sit en eet voor die son ondergaan nie. “Is u seker dis nie te vroeg vir hulle nie?” vra sy gedemp.
“My naam is Charles,” sê hy gelykmatig. “En nee, dis nie te vroeg nie. Hulle sou ons weggejaag het as dit te vroeg was.”
Die man, vermoedelik die eienaar, bring die wynlys vir Charles en hy kyk vraend na haar. “Wat sal jy drink? ’n Sjerrie, iets sterkers of miskien net ’n glas wyn?”
“Nee, nee,” sê sy haastig. “Geen alkohol nie. Tamatiesap sal lekker wees.”
Hy kyk haar ’n oomblik nadenkend aan en plaas toe hulle bestelling. Toe die man weg is en net die knetterende vuur hul ruimte deel, praat hy weer. “Jy mag nie alkohol inkry nie.” Dis nie ’n vraag nie, hy konstateer ’n feit.
“Nee,” sê sy en voel hulpeloos toe haar oë vol trane raak. “Ek weet nie wat sal gebeur nie. Ek wil ook nie uitvind nie.”
Hy sien die trane en voel iets wat hy nog nooit in sy lewe gevoel het nie. “Dit maak nie saak nie,” sê hy stil. “Ek is bly jy het tog vanaand saam met my gekom.”
Sy kalmte laat haar ook kalmeer. Sy is hom dankbaar daarvoor en besluit om eerlik te wees. “Ek het byna nie gekom nie. Ek … wou jou bel.”
“Waarom?”
“Ek het baie min geslaap gisternag. Dit gebeur soms.”
Hy bly stil terwyl die man hul glase voor hulle neersit en beduie toe dat hulle later eers sal bestel, daar is geen haas nie. Toe praat hy weer. “Wil jy my vertel?”