“Ester …”
“Toe maar, ek terg net.” Sy skud die verspottigheid van haar af en kyk skerp na Lize. “Hy het ons ten minste die kans gegee om bietjie te gesels. Jy lyk goed vandag. Voel jy goed?”
Lize haal haar skouers op. “Ek het goed geslaap. Dan gaan dit altyd beter.”
“Wanneer is die volgende … die volgende toetse?”
Die vel om haar mond trek styf en sy kyk vinnig weg na die venster. “Oor drie weke. Miskien ’n maand.”
“Dan sal jy weet.”
“Dan sal ek weet. Miskien.”
“En ons sal weg wees. Jy moet my bel. Sal jy?”
“Ja. Ek sal.” Sy draai terug en kyk na Ester. “Toe, ek het vanoggend gesê ek wil jou nie uit die werk uit hou nie. Ek het my boek om te lees, en jy moet die stoof gaan skoonmaak.”
“Behoede my. Die stoof. Watse verskil gaan dit aan my sieleheil maak as die stoof skoon is?”
“Ek weet nie, maar jy het vanoggend gesê jy het baie werk om te doen, en ek het belowe ek sal jou nie pla nie.”
“Jy pla my nooit nie.”
“Dis lief van jou om so te sê, maar ek wil nie die oorsaak wees van ’n aangepakte stoof nie.”
Ester lag. Sy gooi haar hande bokant haar kop en rek haar uit soos ’n kat. Lize kyk na die dik, swart krulle en die gesonde blos op Ester se wange, en haar gesig word stil.
Ester kyk na haar en vang die skielike verandering in bui. “Moenie so vreemd lyk nie, Lies. Wil jy hê ek moet my nou weer oor jou bekommer?”
“Nee.”
Ester buig oor die tafel en krap haar sigarette nader. Terwyl sy een aansteek, kyk sy deur die rook na Lize. “Maar ek gaan, weet jy. Wie sal hierdie twee maande na jou omsien?”
“Wie het na my omgesien voor julle gekom het?” vra Lize. “Ek kan na myself kyk.”
Ester se gesig word strak. “Ek dink nie jy kan nie.” Sy hou haar hand in die lug asof sy iets afweer. “Ja, goed, sê dit. Ek sê al twee jaar lank dat jy dit nie kan doen nie, en jy bewys al drie jaar lank dat jy kan.”
“Langer as drie jaar.”
“Goed. Langer as drie jaar. Maar dis nie reg nie, Lize. Jy weet dit. En John het dit al hoeveel keer vir jou gesê.”
“John is ’n liewe ding. ’n Kloekende hen.”
“Maar meer as dit,” sê Ester skerp. “Hy is ’n man wat weet. En jy weet hy is reg.”
“Dat ek op die platteland moet gaan sit en doilies hekel terwyl kloekende henne vir my koppies warm sop aandra?”
“Dit klink vir my heerlik,” sê Ester. “Kan ek nie in jou plek gaan nie?”
“Julle verstaan nie,” sê Lize. “Ek weet julle probeer, maar julle kan dit nie verstaan nie omdat julle nie in my posisie verkeer nie. Daar is net een manier om te veg en dis om alleen te veg. Dis al wat vir mý werk.”
“Ek probeer dit begryp en aanvaar, ja, maar dit is nie maklik nie. Vir my lyk dit na dwaasheid.”
“Kom ons praat oor iets anders,” sê Lize. “Ek voel vandag goed. Ek wil nie eens hieroor praat nie.”
Ester wil eers nog iets sê, maar sy bedwing haarself en bly stil. “Goed, ons praat oor iets anders. Eet jy vanaand by ons?”
“Nee. Dankie vir die aanbod, maar soos Aspoestertjie gaan ek aanstons in ’n pampoen verander, en dis beter as ek dan in my eie woonstel is.”
Ester lag. “Het jy darem kos?”
“O, ja. As ek die oggend wakker word en voel soos ek vandag voel, maak ek gebruik van my kanse. My spens is vol en my yskas ook. Jy kan maar kom kuier, ek het selfs koekies gekoop.”
“Fluks,” sê Ester asof sy met een van haar kinders praat.
“O, ja, voor ek hierheen gekom het, het die taximan sy geld verdien.”
“Ek is bly jy het nie probeer loop nie,” merk Ester op en begin die vuil koppies bymekaarmaak.
“Ek wens ek kon.”
“Ek weet, Lies, ek weet.” Ester kyk haar treurig aan en loop dan in die rigting van die kombuis. “Wel, as ek nie nou die kos begin opsit nie, kry my mense nie vanaand kos nie. Ek wonder waar bly daardie span van my?”
“Mag ek nou-nou ’n taxi bel?” vra Lize.
Ester bly staan, haar heup teen die deur. “Gerrie kan jou mos terugneem.”
“Gerrie is besig.”
“Ja, ek het vergeet. Maar hulle sal seker nie vir altyd besig bly nie. Wag maar nog ’n ruk, jy is mos nie so haastig nie?”
Lize tel haar boek op toe Ester verdwyn, maar sy lees nie. Sy sit weer deur die venster en staar en sien dat die reën opgehou het. Net bokant die toppe van die bome aan die onderpunt van die tuin is daar selfs ’n stukkie blou lug tussen die grys wolke. Maar sy weet dis van verbygaande aard. Die lug is hier baie na aan die aarde, en die grysheid is deel van die lewe. Sy wens die man het nie gekom nie, dan was sy nou al by die huis. Toe sy vanoggend wakker word, het sy so lewendig gevoel. So sterk. Maar noudat die dag ten einde begin loop, voel sy hoe die krag van die oggend haar begin uitspoel. Dis soos ’n brander wat haar vir ’n ruk lank op sy rug gedra het, maar nou moet hy breek en sy las op die strand afgooi. En hy sal terugtrek, dit weet sy. Hy sal terugtrek en haar alleen op die droë sand los. Dan duur dit soms weke voor die water weer hoog genoeg is om haar op te lig.
Sy byt op haar tande en lig haarself uit die stoel, maar net toe sy regop staan, gaan die ander deur oop en Gerrie se vrolike gesig loer na haar.
“Waar is Ester?” vra hy.
“In die kombuis.”
“Charles wil net groet. Waarom staan jy alleen hier?”
Sy glimlag. “Ek was net op pad om ’n taxi te bel. Dis tyd dat ek huis toe gaan.”
“Ag nee,” sê hy, “ek dog jy kuier vanaand by ons.”
“Ek is moeg, Gerrie.”
Hy staan nader en kyk haar skerp aan. “Ek sal jou huis toe neem. Kom net saam dat ek vir Ester kry en groet.”
Sy tel haar boek en handsak op en volg hom. Ester staan reeds met Charles en gesels, en hy lyk verlig toe hy vir Gerrie sien. Hy steek sy hand uit en groet, maar Gerrie kyk na Lize en haal sy eie reënjas weer van die kapstok.
“Wag, ons stap sommer saam,” sê hy. “Ek moet vir Lize terugneem.”
Charles Ashton kyk vinnig na die skimmige meisie wat half agter Gerrie staan. “Kan ek haar nie terugneem nie?”
Gerrie kyk na Ester, en sy kyk na Lize, en vir ’n lang oomblik weet niemand wat om te sê nie. “Ek weet nie,” sê Gerrie dan. “Sy woon in die stad, en dis darem ver uit jou pad uit as jy nou huis toe gaan.”
“Asseblief,” sê Lize. “Dit sal die beste wees as ek ’n taxi bel.”
“Ek gaan terug stad toe,” sê Charles strak. “Ek het nog heelwat werk om te doen.”
“Nou ja …” sê Gerrie en kyk na sy vrou vir hulp. “Is dit in orde, Lize?”
“As dit meneer Ashton nie sal verontrief nie,” sê sy, moeg vir die onsekerheid en gekibbel, en sy begin groet.
Hulle stap in stilte na die groot donker motor wat voor die deur geparkeer staan, en hy sluit vir haar oop en maak die deur weer agter haar toe voor hy omstap.
“Dis vriendelik van u,” is al