“Beduie maar hoe ek moet ry,” sê hy toe hulle die stad nader. Om hulle dreun die laatmiddagverkeer, maar gelukkig is hulle blykbaar die enigstes wat nou terugry, die res is haastig om uit die stad te kom.
Sy kyk na die hoë grys geboue, die nat klip en beton, die mense in reënjasse gehul, skouers teen die wind, gesigte moeg en verbete en sy wens sy is al in die bed. Die brander het haar nou uitgespoel, en daarby is sy bewus van ’n vae gevoel van naarheid. Seker al die koffie. En die stuk kaastert wat Ester haar gemaak eet het. Sy sluk aan die bewerige gevoel en druk haar hande onder die opgevoude reënjas op haar skoot in sodat hy nie moet sien hoe hulle ruk nie.
“Dis links hier,” sê sy fluisterend.
Hy kyk vinnig na haar. “Is alles …?”
“Nou regs,” sê sy duideliker.
Hy volg haar aanwysings en vra nie verder uit nie, maar toe hulle voor haar gebou stilhou, sien hy hoe die spiere in haar nek uitstaan soos sy teen iets baklei.
“Sal ek saam met u stap?”
“Nee,” sê sy met moeite. “Dankie. Dit was vriendelik van u om my te gebring het.”
Hy stap weer om om die deur vir haar oop te maak, en sy swaai haar bene uit, gooi haar handsak oor haar skouer en klim uit, maar toe albei haar voete op die sypaadjie staan, struikel sy tog.
Hy gryp na haar elmboog en ondersteun haar tot sy regop staan. En hy skrik, want daar is geen vleis aan haar arm nie, dis net been waaraan hy vat.
“Dankie,” sê sy weer. “Alles is nou reg.”
Maar hy luister nie verder na haar nie en hou sy hand onder haar arm tot sy met die trappies op is en voor die groot voordeur staan.
“Nommer veertien,” sê sy.
Hy druk die knoppie en vat die sleutel by haar. Toe die groot deur oopswaai, vat sy die sleutel beslis terug en kyk na hom. “Dankie, meneer Ashton. Jammer dat ek soveel moeite veroorsaak het, maar nou sal ek regkom. Tot siens.”
“Die hysbak is daar,” sê hy, ongemaklik soos ’n skoolseun. Dan ruk hy hom reg en draai weg, maar hy sluit die motor tog stadig oop sodat hy deur die glasdeure van die gebou kan sien hoe sy in die hysbak stap en na bo uit die gesig verdwyn. Net toe hy die enjin aanskakel, sien hy ’n lig aangaan op die eerste verdieping en hy verbeel hom dis sy wat die gordyne toetrek en vir ’n vlietende oomblik ’n skadu teen die gordyn gooi.
Hy ry diep ingedagte terug na die hoë toringgebou waarin sy kantoor is en toe hy onder in die parkeergarage stilhou, sien hy die boek wat op die sitplek bly lê het. Hy tel dit op en kyk voorin en sien haar naam en adres, en vir ’n sekonde hou hy die boek so in sy hand voor hy dit weer neersit. Die boek het meer soliditeit as die meisie aan wie dit behoort, dink hy afgetrokke, neem sy aktetassie op en sluit die motor.
Toe Lize in haar woonstel kom, verwens sy haarself vir haar swakheid. Wat moet die man tog van haar dink? Sy is sommer kwaad vir Gerrie ook dat hy haar saam met ’n vreemdeling laat ry het. Maar die kwaadste is sy vir haarself omdat sy voel soos sy voel. Omdat die heerlike gevoel van die oggend nie eens kan duur tot die son sak nie. Sy loop na die kombuis en maak die kassie oop waarin ’n versameling botteltjies en dosies staan en skud twee pille uit. Sy sal maar eers gaan bad en dan in die bed klim. Maar sy het nog skaars haar bloes begin losknoop of die deurklokkie lui.
Sy loer deur die gaatjie en sien die bloesende gesiggie van die ou vroutjie wat die woonstel oorkant hare het.
“Middag,” koer die vroutjie. “Ek het jou heeldag nie gesien nie. Ek was bekommerd.”
“Ek het by my vriendin gekuier, mevrou Badoux.”
“Alles is goed?” vra die dametjie, en haar ouwêreldse gesiggie is die ene deernis. “Het jy geëet?”
“Dankie, Mevrou, ek gaan netnou eet.” Sy weet as sy dit nie sê nie, gaan die liewe siel binnekort weer op die drumpel staan met een of ander rare Oos-Europese gereg wat sy as kind altyd moes eet wanneer sy siekerig was. Mevrou Badoux glo veral in die medisinale krag van rou eiers, knoffel en gort.
“Jy sal roep as jy my nodig het?”
“Ja, Mevrou. Ek belowe.”
Die vroutjie wuif vir haar en skuifel terug na haar oop deur. “Dan eers lekker bad,” sê sy.
Lize druk die deur stadig toe. Somtyds is die ou dame bietjie lastig, maar die meeste van die tyd is sy die ouma wat Lize nie meer het nie, die ouers wat sy nie meer het nie, die enigste mens in hierdie groot stad wat weet en omgee of Lize Bergen die oggend opstaan of bly lê. Want Ester en Gerrie het ’n eie lewe om te lei, en John kan haar nie dag en nag oppas en monitor nie. Al sou hy graag wou.
Sy loop terug en draai die krane oop, en terwyl die water inloop, draal sy in die kombuisie rond en besluit wat sy wil eet. Sy is nie regtig honger nie, is trouens nóóit honger nie, maar sy weet sy moet eet. Eet en asemhaal en opstaan en aantrek en sorg dat die klein woonstelletjie met sy standaardmeubels redelik skoon bly. Haar huis. Die enigste huis wat sy nog het. Meubels wat behoort aan die woonsteleienaars. Die paar goedjies wat haar eie is. Die prente wat sy gekoop het omdat hulle haar aan iets herinner. Of haar kan opbeur. Die spierwit rusbank wat sy gekoop het in ’n dwase oomblik toe sy lus was vir iets moois en wat nie eintlik pas by die twee leunstoele nie. Sy onthou hoe lus sy was om die twee stoele uit te gooi, te verban na die groot stoorkamers onder in die kelder. Dit was toe sy deur ’n stadium gegaan het van wil verander, wil verbeter, wil mooi maak om haar. Dit het verbygegaan. Sy het nie weer by die meubelwinkels rondgeloop nie, en mettertyd het die wit rusbank teësinnig by die ander goed aangepas. En as sy die dag blomme koop en daar is wittes en roesbruines by, lyk dit amper asof sy die kleurskema van die kamer bymekaargeknoop het.
“Wat maak dit tog saak?” vra sy vir haar beeld in die spieël waar sy haar hare in ’n poniestert bind en bo-op haar kop vassteek sodat dit nie nat word nie.
“Jy mag dit nie sê nie,” antwoord sy haarself. “Dit maak saak. Alles maak saak. Jy moet dit bly glo, anders beteken niks meer iets nie.”
Sy grinnik effens toe sy in die bad klim. Anders beteken niks meer iets nie. En wat beteken dít? Wat beteken iets? Iets is om dag vir dag en uur vir uur aan te hou baklei. Jaar na jaar tot godweet wanneer dit alles sal eindig. Sy wonder waarom sy so tob. Is dit omdat sy weer ’n dag tussen normale mense deurgebring het? Die wit rusbank tussen die gewone meubels?
TWEE
Dis donker in die koffiekroeg, maar omdat verskuilde geel ligte agter die pilare aangebring is, lyk die binnekant gesellig en amper sonnig. Herfstig. Veral omdat die tafeltjies van ’n glansende gelerige hout is en nie die gewone praktiese swart hout van die deursnee-kafee nie. Die eienaar is boonop so behep met sy klein koninkryk dat hy elke tweede dag vars blomme op die tafeltjies sit. Dit gee hom plesier wanneer hy klante sien wat versigtig aan die blomme vat om seker te maak hulle is eg. Dan kom hy altyd agter die toonbank uit en moedig hulle aan om te ruik ook. Hy wil al hulle sintuie stimuleer. Hulle moet sy vars appelkoek ruik as hulle binnekom, en wanneer ’n klant die plek verlaat, en die swaaideure ’n stuk kafeelug na buite stoot, wil hy hê die koffiegeur wat saam uitgepers word, moet nog meer mense lok. Dit gebeur dan ook. Mense wat buite, maar onderdak, rondslenter en kuier voor die winkelvensters van die kompleks, dink miskien nie eens aan ’n koppie varsgebroude koffie nie, maar as die geur hulle neuse bereik, word dit ’n dringende noodsaaklikheid.
Lize hoef nie meer gelok te word nie. Sy ken die koffieplek sedert sy in die stad aangekom het. Dis naby die hospitaal en naby die bushalte, en omdat die winkelkompleks op die grondvloer van die hoë toringgebou is, is dit altyd ’n skuilplek teen die wind en reën.