“Ek is jammer,” hoor hy haar dowwe stem. “Ek kan nie vanaand gaan nie.”
“Wag,” sê hy gebiedend. “Wat het gebeur?”
“Niks nie,” sê sy tam. “Ek was heeldag by die hospitaal vir toetse en dis … ek is te moeg. Jammer.” En sy sit die gehoorbuis neer.
Hy staan ’n ruk en dink en gaan trek toe vinnig aan en ’n halfuur later lui hy haar deurklokkie. Dit lok geen reaksie uit nie, en hy lui ’n tweede keer en toe ’n derde voor sy die deur stadig oopmaak.
“Ek het dan gesê …” sê sy. Sy dra ’n knielengte wit japon wat sy teen haar keel vashou en sy is kaalvoet.
“Ek weet,” sê hy beslis en stap verby haar die kamer binne. “En jy het tog nie gedink ek sal dit sommer daar laat nie, het jy?”
Sy druk die deur toe en skuifel agter hom aan, terug na die rusbank waarop sy gelê het. Sy trek haar bene onder haar in en gooi die kombers wat op die vloer geval het, weer oor haar bene.
“Dit kan nie so aangaan nie,” sê hy en bly voor haar staan.
“Nee,” sê sy en hy hoor die histerie in haar stem. “Jy is heeltemal reg. Sien jy daardie bruin botteltjie op die kombuistoonbank? Ek kyk al drie uur lank daarna. En weet jy wat is binne-in? Slaappille. Seker goed drie dosyn. Ek het vir John gesê ek wil dit nie hê nie, maar hy het aangedring en daar staan dit nou. En ek kyk daarna en probeer die krag bymekaarmaak om dit te drink. Almal.”
Hy loop na die toonbank wat die kombuisgedeelte van die sitkamer skei en tel die botteltjie op. Hy lees wat daarop staan en sit dit toe in sy sak. “Wat sal dit help?” vra hy onverstoorbaar.
Sy begin huil. “Dan sal ek nooit weer so moeg wees nie.”
“Snaaks,” merk hy op, “jy het my nie getref as die soort mens wat so iets sal wil doen nie.”
“Ek ís nie,” sê sy deur haar trane en hy is bly om ’n tikkie verontwaardiging te hoor. “Maar ek is moeg!”
“Ek kan dit sien, ja.” Sy stem word meer simpatiek. “Wat het vandag gebeur?”
Sy maak eers net ’n gebaar, maar praat tog. “Ek was heeldag by die hospitaal en ek het vergeet dat ons vanaand sou uitgaan. Jy weet nie hoe dit is nie. Die ewige toetse, die nimmereindigende gesukkel.”
“Ek neem aan dit het dus sleg gegaan?”
Sy begin lag. ’n Lelike lag vol trane en bitterheid. “Nee! John verseker my ons het die keerpunt bereik en nes die uitslae bekend is, sal ons definitief weet. Die laaste resultate was al goed. Ek moet bly wees!” Sy druk haar hande oor haar oë en huil dat haar skouers ruk. Dan skud sy haar kop. “John sê hy verstaan dit nie. Ek ook nie. Ek het nooit gehuil nie.” Sy vee oor haar wange en lig haar kop op. “Weet jy dit? Nooit. Nie in al die jare nie. Daar was nie ’n dapperder vegter as ek nie. Almal het so gesê. Haar vasberadenheid gaan haar red, het hulle gesê. O, ja. Die verpleegsters het my as voorbeeld genoem wanneer ander pasiënte bedruk of moedeloos raak. Kan jy dit glo? Wat sal hulle sê as hulle my nou moet sien? Ek is ’n goeie deelnemer, maar ’n swak wenner.” Sy vee weer oor haar oë en lê terug teen die kussing. “Ek is jammer. Ek gedra my nie baie goed nie. En ek dink nie ek sou regtig daardie pille gedrink het nie. Dis nie in my aard nie.”
“Dis wat ek ook gedink het,” sê hy en gaan sit. “Maar ek hou hulle maar.”
“Nes jy wil,” sê sy en haal ’n sakdoek uit haar sak. Sy snuit haar neus en droog haar oë af. “Maar ek kan nie meer voortgaan nie. Dis al wat ek regtig seker weet.”
“En ek glo jou,” sê hy. “Ek kon dit weke gelede al sien.”
“Charles,” sê sy. “Ek weet nie of jy dit kan verstaan nie, maar ek het nie die krag om gesond te word nie. Ek wil êrens gaan lê en slaap vir ’n jaar of langer.” Sy lig haar hand op en laat dit dan sak asof dit selfs te veel krag vereis. “Dis soos iets waarin ek verstrik geraak het. ’n Spinnerak. ’n Vermufte ou laken. Ek weet nie, ek weet net ek kan nie loskom nie.”
“Dink jy nie dis tyd dat jy my vertel nie?”
“Ag,” skud sy haar kop. “Dis so … futiel.”
“Ek dink jy is dit aan my verskuldig.”
Haar oë raak weer vol trane. “Ek is jammer. Ek weet jy is reg. Wil jy nie iets drink nie?”
“Nee, dankie. Ek sal net luister.”
VIER
“Ek het as joernaliste gewerk,” begin sy langsaam. “In Johannesburg. ’n Doodgewone lewe. Eers universiteit toe en daarna by ’n koerant. My ouers het ook daar gewoon, maar ek wou onafhanklik wees en het in ’n woonstel gaan bly wat ek saam met ’n vriendin gedeel het. En ek was verloof.” Sy kyk vinnig na hom, maar hy verroer nie ’n ooglid nie.
“En op ’n dag bel hulle my by die werk om my te vertel van die ongeluk. My ouers was op pad na die Laeveld en het teen ’n vragmotor vasgery. Niemand weet wat regtig gebeur het nie, daar was niemand oor om te vertel nie.” Sy speel met die rand van die kombers en lê dan agteroor met haar oë toe. “Dit was ’n geweldige skok. Soos jy seker kan dink. My baas was simpatiek en het my ’n week vakansie gegee, nie dat dit eintlik gehelp het nie. Dit sou beter gewees het om maar aan te hou werk. En ek weet nie wanneer dit begin het nie, maar in die maande daarna was ek dikwels moeg. ’n Soort vermoeienis wat ek nie geken het nie. Wat niks te maak het met slaap of harde werk nie. En ek het hard gewerk. Báie hard. Dit het gehelp. Maar daar was meer en meer dae dat ek by die huis gekom het met die gevoel dat dit te veel krag vereis om my klere uit te trek. My woonstelmaat het gesê ek moet dokter toe gaan en ek wou nie. Ek was seker dis maar die nadraai van die skok. Een of ander sielkundige ding. Die gewigsverlies het ek ook daaraan toegeskryf. En daar was soveel dinge om te doen. My ouers se huis moes verkoop word, alhoewel ek dit eers oorweeg het om daarin te gaan woon. En die boedel …” Sy maak weer haar oë oop en kyk na hom. “Ek is goed nagelaat, iets wat nie toe van besondere belang was nie, maar wat een van die belangrikste aspekte van die hele … gemors geword het.”
Hy steek ’n sigaret aan en staan op om ’n asbakkie te kry. “Jy gee nie om nie?” vra hy hoflik.
Sy skud haar kop.
“Jammer. Gaan voort.”
“Nou ja, op ’n dag het ek tog na ons huisdokter gegaan, en hy het nes ek ook maar gedink dis ’n nadraai van die skok alhoewel hy tog ’n paar toetse laat doen het. Bloedtoetse en sulke goed. Ek was seker hy sou my ysterpille gee of ’n seevakansie voorskryf, en dan sal ons weer daarvan kan vergeet, maar toe hy my bel, was hy ernstig. Hy wou hê ek moet hospitaal toe gaan vir verdere toetse.” Sy strengel haar vingers inmekaar en haar oë kyk rusteloos rond. “Dis hoe dit begin het.”
“Waar was jou … e … verloofde?” vra hy.
“O, hy was daar. Baie simpatiek. Vol goeie raad en goeie bedoelings. Het vas geglo dis alles psigosomaties. ’n Lang vakansie – verkieslik saam met hom – sal my weer op die been kry en die blos na my wange terugbring.” Sy glimlag wrang. “Dis nie wat die dokters gesê het nie. Nie dat hulle besonder eksplisiet was nie, iets waaroor ek hulle nogal kwalik geneem het. Nou weet ek natuurlik beter. Hulle het nie regtig geweet wat verkeerd was nie. Niemand het nie. Eers het hulle gesê dis leukemie.”
Hy maak ’n skielike beweging met sy hand, en sy kyk vraend na hom. “Nee,” sê hy, “vertel verder.”
“Dit was ’n skok,” sê sy en haar stem raak gevoelloos. “Maar op ’n manier goed omdat dit so finaal was. Ek weet nie of jy dit kan begryp nie. Ek het geweet alles is verby en ek het met die grootste weersin na die hospitaal gegaan vir bloedtoetse en oortappings en al die ander dinge wat hulle nodig geag het. Wat mý betref, was dit onnodig. Ek sou op my eie en in vrede wou klaarmaak. Sonder dat mense gedurig