Klassiek reeks: Karolina Ferreira. Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach). Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lettie Viljoen (Ingrid Winterbach)
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798160001
Скачать книгу
en Willie staan op om te gaan eet. Oor haar skouer sê sy tot siens vir Jess. Frans groet ook, met ’n gepynigde halfglimlag en ’n onpeilbare, talmende blik. In die eet­kamer vra Karolina vir Willie of hy nog steeds sy geld op die rooie sit. Willie lag weer en sê sy moet nie so onge­duldig wees nie.

      Donderdagmiddag gaan sy tee drink in die Rendezvous-kafee. Jess is reeds daar. Toe sy inkom, staan hy half op, trek ’n stoel vir haar uit. Sy gaan by hom sit. Hy bestel vars tee, vir hulle albei. Saam drink hulle die ondrinkbare tee. Bo hulle koppe draai die dakwaaier stadig. Dit is die moei­same uur van die miskruier. Die hoofstraat, die systrate, die omliggende veld lê doodstil in die moordende somerhitte. Voor in die kafee is oorryp mango’s en verlepte druiwe in strooikissies uitgestal. Die swaar, soet reuk van die mango’s vul die hele kafee. Jess vee die sweet van sy gesig met ’n sakdoek af.

      Op die tafel langs hom is die boek met die rooi buiteblad, die handleiding na helderheid.

      Sy vra hom of hy die tegnieke al bemeester het.

      Hy het ’n vreemde stem. Nogal aarselend, en nie baie diep nie, vir so ’n groot man.

      “Nee,” sê hy, “maar ek het groter gemoedsrus.”

      Hy vertel haar dat die Boeddhisme die een ding is wat hom die afgelope tyd hartstogtelik geïnteresseer het.

      Wat het hom dan vroeër geïnteresseer, wil sy weet.

      “O, vroeër,” sê hy. “Vroeër het ek gehoop op wêreldse sukses; vroue vrugteloos begeer. Ek het my lewe lank ge­wag op ’n deurbraak. Dit sou my ware, onvervreembare en superieure kwali­teite openbaar.”

      “Het dit ooit gebeur?” wil sy weet.

      “Nee,” sê hy, “dit het nooit gebeur nie.”

      Sy aarsel voor sy vra: “En die vroue?”

      “Die vroue het ook maar min opgelewer,” sê hy. “Min blywende vreugde.”

      “Is daar nou ’n vrou?” vra sy.

      Karolina weet dat hulle in die spieël teen die agterste muur ge­reflekteer word.

      Hy aarsel voor hy antwoord: “Daar was tot onlangs.”

      Karolina knik woordeloos. Die reuk van die mango’s is oorweldigend swaar en soet. Sy drink haar tee klaar.

      “Wil jy vanaand met my gaan stap?” vra hy, “die aande is so mooi. Dis dan nie so warm nie.”

      Karolina dink ’n oomblik na. “Dis goed,” sê sy.

      Toe staan sy op, groet hom, en stap buitentoe. Die hitte slaan haar soos ’n golf toe sy by die kafee uitkom. Sy voel of sy die enigste persoon op straat is; sy weet nie dat luite­nant Kielie­mann haar dophou van agter ’n pilaar aan die oorkant van die straat nie. Hy eet ’n pakkie grondbone en rosyntjies.

      Hoog in die wolklose lug is die maan sigbaar, so yl dat dit amper deurskynend is.

      Na ete die aand ontmoet sy Jess op die stoep voor die hotel.

      Eers stap hulle met Stiebeuelstraat op. Die maan begin vaste vorm aanneem. Hy sê die maan herinner hom aan ’n Sjinese film wat hy gesien het. Sy wil weet wat die film so besonder gemaak het.

      “Dit het mens heeltyd in aanraking gebring met die dood, met ’n verskriklike onafwendbaarheid, met hoe verskriklik dinge kan wees,” antwoord hy.

      Hulle draai links in Johanna Brandstraat op, begelei deur die maan. Die hemel het oopgegaan soos die pupil van ’n oog.

      Sy vertel hom hoeveel sy van sipresse hou.

      Hulle stap op die breë sypaadjies verby die groot, ou dorps­huise. Die huise lyk almal bekend, maar sy kan nie een eien nie, dit was te lank gelede.

      Sy vertel hom nie met hoeveel onwrikbare aandag sy daagliks en veral snags haar gedagtes aan dood en sterflikheid wy nie. Sy vertel hom nie hoe graag sy dans nie. Sy vra hom nie na Frans uit nie, hoewel sy nuuskierig is om meer omtrent hom te wete te kom.

      Jess vra haar uit na Willie. Sy vertel hom dat sy Willie opgelaai het op pad hierheen, dat sy hom nie vantevore geken het nie. Sy vertel dat sy en Willie soggens saam in die veld werk, dat Willie by ’n meneer Isayago bly, by wie hy verder van genees­middels leer. Dat sy Willie op dié ma­nier ontmoet het, beskou sy as voor­bestemming, hoewel sy tot op hede nie in so ’n verskynsel geglo het nie.

      So gesels hulle, terwyl hulle deur die breë strate van die dorp wandel, onder die lig van die stralende maan. Hulle stap tot aan die westelike dorpsgrens, tot by die draad waar die veld begin, voor hulle omdraai en teruggaan hotel toe.

      Hy vra of hulle weer kan ontmoet.

      Vrydagaand gaan Willie en Karolina snoeker speel.

      Eers gaan hulle in die dameskroeg iets drink. Die magi­straat, sien sy, is op sy plek in die hoek. Sy besluit sy het geen besondere begeerte om deur hom raak gesien of aan­gespreek te word nie. Pol is nog nie hier nie.

      In die snoekerkamer gaan dit reeds jolig.

      Kieliemann kyk vinnig op toe sy en Willie inkom, sersant Frik­kie Visser glimlag breed. Behalwe vir sersante Blaf Buyten­dach en Duif Visagie en die twee onderwysers Kriek en Botha, is daar va­naand nog ’n onderwyser teenwoordig, ene Balus­chagne (houtwerk en rugby), wat as Balletjies aan­gespreek word – ’n korterige, aantreklike kêrel met ’n breë bors en ’n vernietigende glimlag, ’n lady’s man, sonder twy­fel. Daar is ’n paar reisigers (in transit), ’n dokter Manie Maritz, een van die dorpsdokters (mank in die een been en wellustig van oog). Asook drie boere uit die om­gewing – die twee De Melck-broers is eienaars van ’n reuse­stoettelery in die distrik, en buitengewoon welaf, sal sy later ver­neem, ten spyte van die droogte. Die jongste broer is goudblond, strálend blond, soos ’n mens selde teëkom, maar sy merk dat hy hom eenkant hou, selfs in die geselskap van ander.

      Toe hulle ’n rondte uitsit, vra Karolina vir Willie of hy dink enige vroue kom ooit hier speel. O ja, sê Willie, as die miere be­gin vlieg, sal die vroue kom. Op daardie oomblik steek Pol sy kop by die deur in, sien Karolina, hou die kop soetig skuins en wuif glas in die hand vir haar.

      Vanaand speel Karolina roekeloos. Sy drink heelwat whisky. Wanneer dit haar beurt is, glinster haar skouers onder die swaar lig bo die snoekertafel. Haar donker haredos kry ’n lewe van sy eie. Die atmosfeer in die snoeker­kamer raak digter, soos die aand verloop, van die rook, van die spel, van die verskillende praatjies, van die gelag, van die liggaamshitte van die aanwesiges. Dit is ’n warm nag. Die vensters is wyd oop. Buite is die nag koel en blou. Die warm lig lok die motte; hulle kom in groot getalle, dring daarop aan om in te kom, geïdentifiseer te word.

      Die ruimte raak geleidelik meer kloustrofobies. Uit die dames­kroeg langsaan kom flardes van liedere na hulle aan­gesweef, af­gewissel deur ’n reëlmatige gelag waarvan die register elke keer hoër word. Dit is die magistraat in sy hoek wat so lag, sien Karolina later.

      Kieliemann hou haar onderlangs soos ’n valk in die oog. Waar moontlik probeer hy agter haar staan, sodat hy as sy voor­oor buig om ’n skoot te skiet, onopgemerk die blou terylene-bult teen haar boude kan aanvryf. Dokter Maritz met die mank been probeer ook sy bes om die een of ander liggaamlike kontak te bewerkstellig, maar hy is minder be­weeglik as Kielie­mann.

      Karolina speel roekeloser, haar kop begin draai, sy voel of sy hallusineer van die groen tafeloppervlak, die effek van die whisky en die hitte. Die mure weerkaats ’n gevaarlike geel, die lug is dik van die rook, daar word baie ge­praat. Die De Melck-broers be­spreek Hereford-stamlyne met die reisigers, drink bran­de­wyn. Hulle praat oor sperm­tellings en teelballe. Die onder­wysers praat oor rugby. Die vaalste van die drie (meneer Kriek) het twee brandende rooi kolle op die wange van opgewondenheid. Geleidelik begin die Boere-psiges uitrafel. Die lug word swaar van on­artiku­leerbare verlangens, diep verskuilde vrese en voor­oordele, en ’n latente histerie wat geleidelik na die oppervlak beweeg. Dit kan op verskeie maniere uitbars, vanaand of later. In ’n kaalswemmery, ’n klopjag of ’n middernagtelike stroop­tog. In die een hoek vertel Balletjies hoe