Om vieruur word sy wakker. Sy staan op en neem ’n wandeling deur die dorp. Meer as vyf en twintig jaar gelede het sy die dorp beter geken. Hier het hulle gesin ’n paar somervakansies deurgebring – haar pa het hier navorsing gedoen. Hulle het ’n groot, ou, koel huis bo in die dorp gehuur.
Die dorp het merkwaardig onveranderd gebly. Dit het ’n eenvoudige, reghoekige uitleg. Die lang hoofstraat eindig bo teen die kerk. Die ander strate loop óf parallel aan die hoofstraat óf haaks daarmee. Die winkelsentrum het skynbaar nie veel verder as ’n blok of twee aan weerskant van die hoofstraat uitgebrei nie. Geen van die aanvanklike geboue is platgeslaan nie. Die sementsypaadjies voor die winkels is steeds breed, met ruim oorhangdakke, ondersteun deur dun gietyster- of dikker sementpilare. Die Oasis-kafee is egter daarmee heen – in die plek daarvan is ’n skryfbenodigdhedesaak. Nortjé se apteek is nou die Dorpsapteek. (In die een hoek is daar nog ’n paar stowwerige Kersgeskenke.) Is meneer Nortjé dood of afgetree? (Sy onthou hom nog.) En waar is mevrou? Behalwe die twee kafees en Nortjé se apteek kan sy die ander winkels nie meer onthou nie, maar die Pep Stores en die Spar is nuut, en die tak van Milady’s en Foschini, en nog ’n apteek ’n ent verder af aan die oorkant van die straat. Heelparty van die strate, het sy vanoggend gesien, is nog steeds ongeteer, en van die huise bo in die dorp het haar selfs bekend voorgekom. Die Avbob-geboutjie in een van die systrate, merk sy, is pienk geverf; die munisipale swembad kon sy nog nie weer vind nie.
Emosioneel het sy haar lank reeds aan die dorp onttrek, daar is niks waaraan sy haar meer hier kan heg nie. Die dorp met die strate van fyn bruin klippers en vrede op aarde het verdwyn. Dit het nou ’n ander gevoel.
Sy stap weer terug na die hoofstraat. Aan die bopunt daarvan pak swaar donderwolke agter die kerk saam. Sy ken niemand meer in die dorp nie. ’n Polisieman kom om die hoek met ’n blou crimplene-broek – of is dit terylene? ’n Sintetiese stof wat span oor die gulp. In blou, in blou geklee met ’n walkie-talkie in die hand. Hy kyk haar ’n oomblik lank stip aan.
Sy steek die straat oor om iets in die Rendezvous-kafee te gaan drink. Hoopvol maar met angstige voorgevoelens – sy het geen duidelike beeld meer van hoe die kafee binne lyk nie. Die voorste deel, sien sy, lyk soos alle kafees in hierdie dae, oral in die land; die teedrinkplek agter dateer uit ’n vroeër tydperk.
Ten spyte van die hitte is daar ’n yskoue trek van iewers. Van die plafon, baie hoog, oud en baie ornaat, hang ’n paar droewige Kersversierings. Sy gaan by ’n tafel sit direk agter die houtafskorting wat dié deel van die voorste deel skei. Sy merk dat daar iemand by ’n tafel in die oorkantste hoek sit. Dit is een van die mans wat vroeër vandag op die hotelstoep gesit het, die een op wie Willie sy geld sit. Hy knik sy kop in ’n groet. Sy knik terug. Hy lees verder in sy boek. Die wind lig ’n Kersversiering aan die plafon. Die eienares neem Karolina se bestelling. In die kombuis op regterhand is ’n rumoerige gewerskaf hoorbaar. Die vrou bring haar tee en vertel dat hulle besig is om voor te berei vir ’n troue laatmiddag.
Karolina vind dit moeilik om onselfbewus haar tee te drink. Sy is ongemaklik bewus van die man in die oorkantste hoek. Sy wil nie openlik na hom staar nie, maar sy wil probeer sien wat Willie bedoel het. Wat lees hy? ’n Boek met ’n rooi buiteblad soos vlamme wat brand. Dit pas by die rooi gloed wat sy vel afgee – dit lyk of hy onlangs te veel son gehad het. (Selfs in die halfdonker gee hy hierdie gloed af.) Toe sy weer ’n keer tersluiks in sy rigting kyk, kyk hy ook na haar. Sy drink haar tee vinnig klaar, staan op, knik ’n groet in sy rigting, betaal en stap uit.
Intussen word die lug donkerder, dreigender en blouer in die suide net links van die kerk aan die bopunt van die hoofstraat. Die verdonkerende lug is ’n skouspel wat dramaties aan die opbou is en die dorp geleidelik oorheers. Ook dié streek kan doen met reën – die droogte is besig om sy strop geniepsig nouer te trek.
Karolina stap vinnig terug na die hotel sodat sy nie deur die reën oorval word nie.
Langs die pad sien sy verskeie handgemaakte plakkate teen die straatligte vasgemaak, waarop staan:
Die Delarey en Beyers-toneelgeselskap bied aan:
DIE JALOERSE EGGENOOT
Gebaseer op ’n ou treffer.
Saterdagaand in die stadsaal.
Almal welkom. Verversings.
By die hotel aangekom, sien sy dat die donker, opgestapelde wolkemassas agter die kerktoring aan die verbytrek is. Die lug is nou ’n troebel grys. Van waar sy voor die hotel aan die onderpunt van die hoofstraat staan, met die kerk aan die heel boonste punt, neem die dorp ’n paar oomblikke lank ’n vertroude aansig aan. Karolina word deur ’n onverklaarbare verlange vervul voor sy die hotel binnegaan.
Toe sy laas hier was, was sy nog met slaperige onskuld gevul, hoewel sy toe reeds, op haar jeugdige ouderdom, die klassifikasie en taksonomie van die nege en twintig insekordes geken het.
Na aandete gaan Karolina in die dameskroeg sit. Sy het pas by die ingeboude kroegtoonbank plaasgeneem toe ’n korterige, donker man met sy glas in sy hand na haar aankom. Hy steek sy hand uit.
“Pol Habermaut,” sê hy. “Prokureur.”
Hy trek een van die kroegstoeltjies nader en gaan sit langs haar. Lank en aandagtig beskou hy haar. Sy kop hou hy effens skuins om haar beter te betrag. Sy hare en gesig is nat van die sweet. Sy kop is glad soos dié van ’n otter. Sy vel het die tekstuur van ’n waterdier. Hy wieg effens heen en weer.
“Het ons mekaar al in wat algemeen bekend staan as die Nuwe Bedeling ontmoet?” vra hy.
“Nee,” sê sy.
Hy vra wat die doel van haar besoek aan die dorp is.
Sy vertel hom dat sy insekte bestudeer en navorsing oor ’n bepaalde motsoort doen wat hoofsaaklik in hierdie omgewing aangetref word.
Hy kyk weer lank na haar. Hy lek sy lippe af en sê: “’n Siddering gaan nou deur my by die gedagte aan wat jy alles hier gaan aantref.”
“Ek hoop so,” sê sy.
Sy kyk in die vertrek rond. Behalwe die ingeboude kroeg met hoë stoeltjies is daar gemakstoele in groen en maroen kunsleer om plat, ronde tafeltjies gerangskik. Teen die mure is bokkoppe, in die hoeke is potplante op smeedysterstaanders, teen die een muur is ’n groot sebravel. Die vertrek word gesellig verlig deur klein liggies teen die mure en rooi ligte by die kroeg.
Daar is nie baie mense hier nie, waarskynlik omdat dit ’n weeksaand is. Karolina se oog val op ’n man in die verste, linkerkantste hoek van die kamer. Sy kyk lank na hom, aandagtig.
“Wie is dit?” vra sy vir Pol; beduie met haar kop in die man se rigting.
Pol bring sy kop nader aan hare. Hy praat sag, vertroulik, onderlangs.
“Ons magistraat,” sê hy.
Hy gee haar ’n gewigtige, sameswerende kyk.
“Nie ’n mater in wie se persoonlike slaai ons moet krap nie,” sê hy.
“Ek sien,” sê sy.
Die magistraat is ’n fors, middeljarige man. Hy sit aan sy glas se rand en suig, of byt. Sy ander hand is oopgesprei op die stoelleuning. Hy reageer nie opsigtelik op wat die man oorkant hom sê nie.
“Van die maters hier het groot sorge,” sê Pol.
Hy kyk weer veelbetekenend na haar. Sy kyk terug; diep in sy wateroë. Sy hou van hom.
“Ek sien,” sê sy.
Hy groet haar en gaan by ’n tafeltjie regs van haar sit. (In die hoek reg teenoor die magistraat.) Nie lank daarna nie daag sy vriende op, en sit hy sy eerste lied van die aand in. Hy het ’n diep en welluidende stem, en die vermoë om onskuldige liedere suggestief te laat klink.
’n Rukkie later kom Willie die dameskroeg binne; hulle het afgespreek om hier te ontmoet.
“Hoe