“Lyk my hy ruik Kees se kind,” sê Blikkies. Die seuns loop vinniger. Dawie kyk oor sy skouer.
“Jissou!” roep hy uit. “Daar’s nou nie net een hond nie, maar vier!”
Die honde het onraad gemerk. Hulle storm blaffend op die seuns af. Dawie, Rooie en Blikkies bestook die honde met klippe, maar kry hulle nie weggejaag nie. ’n Groot bulhond spring teen Trompie op om Kees by te kom. Die bobbejaan begin histeries skreeu. Trompie skop na die hond, maar dit help niks. Skielik wip Kees van sy skouer af en daar trek hy in die pad af. Die honde sit hom agterna en die seuns hardloop agter hulle aan. Dis omtrent ’n gedoente. Kees se kind, die honde en die vier lede van die Boksombende kom by die kerksaal se hek en vlieg op dolle vaart daar in.
In die saal is die dominee besig om ’n groepie dorpsvrouens oor fondsinsameling en die eerskomende basaar toe te spreek. Die dames luister aandagtig na Dominee se keurige taalgebruik. Niemand vermoed iets van die drama wat buite die kerksaal afspeel nie.
Buite sleep die bobbejaan se ketting op die grond, maar hy is nog steeds voor. Die honde is kort op sy hakke en die vier hygende seuns vorm die agterhoede van die spulletjie wat óm en óm die kerksaal hardloop.
Kees word moeg. Hy sien ’n deur wat effens oopstaan en woerts – in is hy! Dominee sê net: “Dames, wat die basaar se opbrengs betref, moet ons natuurlik nie ’n wonderwerk verwag nie …” toe die vlieënde gedaante met die slepende ketting die gang af nael, reguit verhoog toe. Die dorpstannies gil en spring op die krakende stoele. Dominee staan die storie oopmond en aanskou en toe skree hy: “Gedoriewaar, dis mos my bobbejaan!”
Blaffend storm die honde by die saal in, gevolg deur die laggende seuns. Hier gaan hulle vir Kees voorkeer! Die verwilderde bobbejaan spring op die verhoog rond. Hy gil en skree, die honde blaf, die seuns juig. Dominee is doodsbleek en die tannies gil harder as al die ander geluide saam. Die lawaai is oorverdowend.
Die bobbejaan pyl op die predikant af. “Vang hom, Dominee!” skree Trompie. Dominee probeer, maar sy hande gryp net die lug waar Kees so pas was. Die honde spring oor die vrouens se handsakke en hoedens om by die bobbejaan uit te kom. Kees word in ’n hoek vasgekeer. Hy wip verbysterd rond en dan storm hy op die seuns af. Hulle gryp vervaard na hom, maar hy systap hulle. Kees bars deur die kordon en storm op die histeriese tannies af. Die honde, die seuns en die dominee sit hom agterna.
Die bobbejaan spring op die kollosale tant Grieta se skouer. Sy snak na asem, prewel “Ag jittetjie, help tog,” en sak met ’n plofgeluid op die plankvloer neer. Kees spartel, maar hy kan nie wegkom nie. Tant Grieta het op die ketting neergeslaan! “Ons het hom!” skree Trompie en Rooie wat eerste by is. Trompie gryp na die bobbejaan en Kees hap na hom. Die seun spring vinnig terug.
“Die ding is gevaarlik,” sê hy bang. Hy swaai om na Dominee. “Gryp hom!” skree Trompie. “Dis mos Dominee se bobbejaan!”
Dominee probeer die ketting onder tant Grieta uittrek terwyl van die vrouens haar lawe en Trompie en Rooie haar probeer wegstoot om die ketting los te kry. Dawie en Blikkies is besig om die honde met baie meer lawaai as wat nodig is uit die saal te verwilder.
Ná ’n lang geswoeg is die bobbejaan uiteindelik gevang. Die orde is herstel. Dominee stap pastorie toe met Kees onder sy arm.
Hy het vir die Boksombende gesê om hom te volg en Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kom sleepvoet agter hom aan.
“Ons is lelik in die moeilikheid, ouens,” sê Blikkies bek-af. Die ander knik moedeloos, maar Trompie grinnik, sit sy hande om Dawie en Rooie se skouers en sê: “Maar dit was darem groot sports ook, nè?”
Die seuns grinnik. Dit was omtrent ’n aardigheid om die tannies te hoor gil en op die stoele te sien spring toe die vlieënde gedaantes by die saal instorm. Hulle lag skielik hardop. Dominee kyk kwaai om. Die vier is dadelik tjoepstil.
“Ja-nee,” sug Trompie, “ons is diep in die sop; dis nou maar wors!”
In die pastorie se tuin staan die seuns en kyk hoe Dominee die bobbejaan aan die paal vasmaak. Trompie waag dit om vir ’n oomblik te wonder of hulle miskien weer eendag kan probeer om Kees in die hande te kry, maar hy besef dit sal nie gou wees nie. Nee, grootmense verstaan mos nie. Hier is hy en sy maats nou in die gemors en hulle het eintlik niks verkeerd gedoen nie. Hulle wou maar net met die bobbejaan gaan speel het! Hulle sou hom weer teruggebring het. Hulle bedoelings met Kees was eerlik en opreg. Maar grootmense verstaan mos nie sulke dinge nie!
Dominee sê die seuns moet na sy studeerkamer toe kom. Druipstert volg hulle hom.
Die predikant sit agter sy groot lessenaar. Die vier seuns staan voor hom. Hy voel glad nie gelukkig nie.
“Nou toe, wat het julle te sê?” vra Dominee met ’n kwaai stem.
Klein Dawie se oë is groot en sy stem klink ’n bietjie fyn: “Ons … ons wou maar net saam met hom pret hê, Dominee.”
Die leraar kyk na Trompie.
“Dit was natuurlik jy wat die bobbejaan uit my tuin kom gaps het.”
Trompie laat sak sy kop en mompel: “Ja, Dominee, maar onder die sterkste provo-… provokasie!”
Dominee glimlag. “Wat bedoel jy daarmee?”
“Ek bedoel, Dominee, ons wou regtig net graag met Kees gespeel het.”
“Maar hoekom het julle hom dan by die kerksaal laat los?” Die predikant se stem klink ’n bietjie vriendeliker.
“Dis die honde se skuld,” sê Trompie blitsig. “Hulle het ons aangeval!”
Dominee kyk voor hom uit. ’n Glimlag plooi sy mondhoeke. Hy dink aan die uitdrukking op die dames se gesigte toe die bobbejaan, die honde en die seuns die saal binnegestorm het. Dit was nogal iets om te aanskou. Die leraar kan nie help om te grinnik nie. Die seuns kyk vir hom, dan vir mekaar en begin giggel. Dominee lag hardop … die lede van die Boksombende ook. Maar dan sluk Dominee sy lag en kyk hulle weer streng aan. Die vier verstar.
“Julle kan gaan,” sê hy en probeer sy stem kwaai hou. “Ek sal julle hierdie keer oorsien, maar sorg dat dit nie weer gebeur nie. En maak seker julle is Sondag in die Sondagskool, anders is daar moeilikheid!”
“Ja, Dominee, dankie, Dominee,” mompel die seuns en is vinnig by die deur uit.
Toe hulle laggend agter die pastorie se tuin verbystap, kan hulle die versoeking nie weerstaan om deur die gat in die heining te loer nie. Vier vuil gesigte bekyk die bobbejaan wat nou houtgerus op sy paal sit.
“Ou Kesie, ons was amper in groot moeilikheid, maar eendag is eendag gaan ons jou nog kom vaslê,” sê Trompie. Dawie gooi ’n klip na die paal en die bobbejaan begin weer ’n keel opsit.
’n Paar minute later stap Trompie by sy ouers se huis in. Hy voel heel gelukkig. Dit was ’n lekker middag. Maar soos hy die voordeur agter hom toemaak en sy pet behendig deur die portaal laat trek om netjies op ’n stoel te lande te kom, merk hy onraad. Dis stil in die huis. Véraf hoor hy sy pa en ma se stemme. Hulle is in die studeerkamer en hy weet as hulle daar is, veral hierdie tyd van die dag wanneer sy ma gewoonlik in die kombuis is, praat hulle oor hom. Hy het weer iets aangevang! Maar wat? Trompie het nooit gedink sy kaskenades met die bobbejaan sal sy ouers die joos in maak nie. Dominee het hom mos al klaar voor stok gekry daarvoor! En hoe kan sy pa en ma nou al van die middag se dinge weet?
“Trompie!”
“Ja, Pa.”
Traag loop Trompie studeerkamer toe. Hoekom kan die mensdom hom nie net met rus laat nie?
“Dag, Pa; dag, Ma.”
Die ouers kyk die seun wat hulle altyd soveel probleme gee kwaai aan.
“Wat het jy nou weer vanmiddag aangevang?” vra Trompie se pa, die dorp se bankbestuurder.
“Ek?