Mosman en die maer forensiese antropoloog is lank nie meer vreemdelinge vir mekaar nie, maar hulle groet mekaar ook nie op die voornaam nie. Hulle weersiens is sporadies, en áltyd om ou grafte en ou beendere, situasies wat nie joviale sosiale omgang aanmoedig nie.
In sy nekropolis van bene is die forensiese antropoloog, as’t ware ’n connoisseur van die dood, lankal gewoond aan die reuke van ontbinding en gasse, want selfs ou beendere gee gasse af. Nie Mosman nie, aan dié reuke kan hy nóóit gewoond raak nie.
Toe hy sy sakdoek uithaal en oor sy mond en neus druk, kyk die antropoloog op van sy werk. “Jy sukkel nog met die reuke, nè? Ek dog teen dié tyd is jy al gewoond daaraan, al die mengsels van metanol en ammoniak, koolstofdioksied, swaelwaterstof, organiese sure. Dis alles net chemiese reuke, behalwe daardie ander een. Ja, dis wat jy ruik, daardie dieper aroma, die onaangename een. Dis te wyte aan die aftakeling van die mineraal apatiet in menslike beendere.”
Toe Mosman nie antwoord nie, gaan die antropoloog voort: “My belangrikste missie, soos jy weet, is om te help om aan ’n onbekende dooie sy identiteit terug te gee. En die antwoorde op die vier groot kwessies van enige identiteit is ouderdom, geslag, afkoms en ras.”
“Jy klink beswaard, doktor. Ek dog teen hierdie tyd is dit al roetine.”
“Dit ís roetine, meneer Mosman. Of dis veronderstel om te wees. Ek bedoel, die beendere praat mos met ’n mens, niks bly lank geheim nie. Hulle sê vir my hoe oud hulle is, of hulle manlik of vroulik is, wie hulle familie is, en ja, selfs van watter ras.”
“Nou wat is dan die probleem?”
“Ras, dis die probleem. Daar is kollegiale kritiek, van sekere kulturele antropoloë, wat sê ras is ’n kulturele en maatskaplike verskynsel, dit kan nie as biologies onderskeidend beskou word nie. Maar ek is ’n fisiese antropoloog en moet juis na biologiese verskille soek. Sien jy my dilemma?”
“Jou dilemma is dat politieke korrektheid by jou werk inmeng.”
“Presies. Die skeletale struktuurverskille tussen Negroïed, Kaukasoïed en Asioïed is so oud as die beenkunde self. Dis nie verskille deur mý toedoen nie, meneer Mosman. Maar dank die Skepper vir sulke verskille, want was dit nie onderskeidend nie, sou dit soveel moeiliker gewees het om ’n identiteit te bepaal, selfs onmoontlik. Want wat is identiteit? Die Here weet – en ek sê dit met piëteit – net die beendere het die antwoorde, want dis al wat oorbly van ’n mens wat eens kon dink, wat onderskeidende kenmerke aan sy liggaam en voorkoms gehad het: die kleur van sy vel en oë, sy unieke vingerafdrukke.”
In die kelder van die antropologiese osteologie-laboratorium, onder die skerp teaterligte en met die effluvium van ontbindende beendere in sy neus, kyk Mosman na die vier vlekvryestaaltafels waarop elkeen ’n geraamte uitgelê is. Die genommerde beendere is ingepas soos in ’n legkaart, elke skedel, elke beenfragment wat behoue gebly het, nou skoongespoel van die grond van hulle jare lange graf in die veld.
In ’n hoek op ’n groen seil op die vloer is die oorblyfsels van hulle klere uitgelê, elke stukkie met ’n etiket gemerk en sorgvuldig gegroepeer volgens vae kleur en tekstuur van tekstiel en skoeisel. Ook hierdie kleretoiings lê in vier groeperings: flenters van hooftooisels, flardes van hemde, broeke, sokkies, skoene. Een groepering bestaan uit die skaars herkenbare oorblyfsels van ’n bloes en romp. Broos en verbleik en vuil van die moddergrond lê die lyflose klere op die seil.
“Ek het die beendere gegroepeer volgens die chronologie van ons in situ-foto’s,” beduie die antropoloog, “en volgens die nommers en diagramme op die kniplêers. Wanneer ek onseker was oor by watter geraamte die kleiner bene van ’n hand of voet moet inpas, het ek met die swart lig van die UV-lamp die fluoressensie van beenkleure onderskei en gepaar. Ek het kaliberpassers en osteometriese instrumente gebruik vir lengtes en diktes en deursneë, die dimensies van klavikels, tibias, ulnas, patellas, skapulas, ilia, werwels, ribbes.”
Hy staan by een skedel en wys na die kaak sonder om na Mosman te kyk. “Verstandtande sny normaalweg eers op agttien. Hier is nog niks. En in die palatum kan jy duidelik sien die maksillêre nate het ook nog nie saamgesmelt nie.”
Sy palm beweeg strelend, teer en byna liefderik, oor die skedel.
“En kyk hoe klein en glad van tekstuur is die skedel, nog sonder prominente oogbankrif. Hier is die borande van die oogholtes skerp, en hier, hier agter die ore, is die mastoïedbene klein, die oksipitale been aan die basis van die agterkop sonder bult. Enige vrae sover?”
Mosman ontmoet die antropoloog se oë waar dié na hom opkyk vanuit sy gebukkende posisie oorkant die tafel. Hy skud sy kop en die antropoloog kyk tevrede af, die punte van sy maer vingers glad soos palings oor die skedelnate.
“By geboorte bestaan die skedeldak uit hierdie sewe verskillende beenplate. Op ouderdom vyf jaar is die plate al saamgehaak in sigsagnate. Teen ouderdom twintig is die eerste skedelnaat, die basilor, hier tussen die oksipitale en sfenoïdale been, volledig gesluit. Hierdie een, kan jy self sien, is nog oop.”
Die antropoloog se hande beweeg af na die armbene.
“Kom ons kyk wat sê die arms vir ons. Rondom ouderdom twaalf versmelt die distale gewrigsoppervlak van die humerusse met die skag van die boarmbeen by die elmboog. Hierdie proses, soos jy sien, het reeds plaasgevind.”
“Maar wat beteken dit alles?” vra Mosman.
Die antropoloog kyk op, lyk enigsins verbaas.
“Dit beteken hierdie skelet is van iemand ouer as twaalf, maar jonger as agtien.”
“Dis die een wat onder die groter skelet gekry is?”
“Hierdie een het op die rug gelê, ja, en die groter een het met die rug na bo gelê. ”
Die antropoloog se hande beweeg laer, oor die ribbekas en af na die heupbene van die kleiner skelet.
“Die kerwe hier in die laer heupe, sien jy, is vir die posisie van die heupsenuwees wat uit die ruggraat na die bene lei, en dit verbreed gedurende puberteit. Die nate aan die heupbeen en die konkawiteit in die subpubiese area van die pelvis bevestig my vermoedens.”
“En wat is jou vermoedens?”
“Dat hierdie skeletale struktuur reeds voorsiening begin maak het vir potensiële inkubasie. Dis die skelet van ’n jong meisie, miskien sestien of sewentien jaar oud toe sy dood is.”
“En die ander drie is manlik, ook nog jonk, maar ouer as sy?”
Die antropoloog knik en sê: “Dis nie my taak om die oorsaak van dood te bepaal nie, dis die terrein van die forensiese patoloog. Maar sien jy hierdie gat, ’n deursnee van net vier millimeter, hier aan die linkerkant van die skedel, tussen die skwameuse en koronale nate? Wie sou ’n jong meisie met ’n vuurwapen doodgeskiet het?”
3
Die Kaapse moordspeurder is terug in die Langkloof, in sy dossier reeds die blommeboer se verklaring aan die luitenant van Uniondale oor hoe hy die beendere oopgeploeg het. Op sy lessenaar in Kaapstad lê ’n stapel ander moorddossiere – vars moorde, nie van twintig jaar terug nie.
Maar hy was hier vir die opgrawing, en nou is hy terug om weer met die blommeboer te gesels, te kyk of hy die los drade op ’n manier kan saambind. Al is dit dan net om sy deel van die ondersoek netjies verpak aan die ander agentskappe te oorhandig. Want by hierdie soort ondersoeke is daar áltyd ander agentskappe betrokke.
Die speurder wys die uitnodiging vir middagete van die hand, maar aanvaar wel koffie. Hy sluk dit staande voor ’n montage van kleurfoto’s teen die boer se kantoormuur. Hy ken sulke foto’s, want ’n moordspeurder kom dikwels op plase, al is sy aandag dan gewoonlik nie op foto’s nie, maar op tonele wat hom laat sidder, tonele waarvoor niemand, hoe gesout ook al, ooit afgestomp raak nie. Al die bloed, oral, ook soms spatsels teen die geraamde glansfoto’s, trots uitgestal op kaggelrakke en teen mure, van kampioendiere met skourosette om die nek: stoetramme en stoetbulle, saalperde, selfs varke en hoenders.