“Is dit ál sport by daardie skool, net krieket?”
“En rugby. Maar ek speel nie rugby nie.”
“Wat van boks? Jy moet leer boks, man, dis die beste sport.”
“Ek wil nie boks nie, ek’s te maer vir boks.”
“Hoeveel weeg jy?” Booger meet Luca met sy oë. “Vyf en veertig? Jy kan vlieggewig boks. Jy sal gou gewig optel. Jy moet kom dat ek jou ’n paar dinge leer.”
Booger loer na die uitstalling van ou kalenderfoto’s teen sy kantoormure, pin-ups van klassieke modelle: ou V8’s met perde, ou boksers met spiere, ou sterre met kurwes. Daar’s ’n Rambler Rebel van 1957, ’n Dodge Polaro van 1960, ’n ’64-Pontiac GTO en natuurlik ’n ’65-Plymouth Barracuda. En beroemde swaargewigte, ysters, nie die sissies van vandag nie. Nee, manne in die klas van Rocky en Joe Louis die Brown Bomber, Ezzard Charles en Jersey Joe Walcott.
“My ma wil nie eintlik dat ek vir jou kom kuier nie,” sê Luca.
“Uh-huh,” sê Booger, suigend aan sy sigaar.
“Sy sê dis jy en my pa wat oom Floyd se vingers laat breek het.”
Booger leun terug in sy stoel. “Oom Floyd?”
“Jy weet, die akteur wat saam met haar op TV was, in En onder draai die duiwel rond?”
“Ja, ek weet. Ek mis ou Floyd met sy blink kuif.” Booger druk die sigaar in die olieblik dood en sluk aan sy Coke. “Biltong?”
“Kan ek vir Loffie ook vat?”
Booger sit die bruin kardoes met biltong van sy persoonlike slagter langs die Castrolblik neer, vat sy knipmes en begin kerf. Die rottweiler, op sy lêplek buite langs die trap, lig sy kop, kwylslierte uit sy bek, starend na die lem wat deur die dik geel vet sny. Booger hou ’n stewige plak na Luca uit, skiet ’n dikker stuk vir die hond by die deur uit en sê: “Jou ma hou nie van my nie. Dis al. Sy weet jy’s soos my eie kind, was dit altyd, selfs voor jou pa se … se ongeluk. Sy’s net bang jy leer slegte gewoontes by my aan.”
“Soos wat?”
“Wel … soos om nie te wil leer in die skool nie. Ek was nooit een vir boeke nie, dit weet jy. Jou pa was die een wat gaan leer het.”
“Ek leer by jóú, Booger. By wie moet ek leer, by die crappy skool?”
“Jy sê die skool leer jou om koers te kry.”
“Dis wat Miss Potts sê.”
“En sy’s reg, Loekman. Maar jou ma kyk neer op my ysters. Sy vergeet dat jy hier ook leer. Kyk daar in die werkwinkel, kyk hoe werk hulle met hulle hande. Sien jy? Dis eerlike, harde werk. Kyk hoe lyk my hande. Dis hande wat nie omgee om vuil te word nie. En dis niks om oor skaam te wees nie. Dis hier, op hierdie scrapyard, waar ek en jou pa as kinders al geleer het wat werk is.”
“Ma sê jy’s die swartskaap.”
“Ja, ek weet. Maar dis ék en die ysters wat jou pa deur universiteit gesit het. Wat gaan daar by die skool aan, Loekman? Steek jy iets vir my weg?”
“Dis nie ’n goeie jaar nie, Booger.”
Natuurlik is dit nie ’n goeie jaar nie, dis ’n kak jaar, dink Booger. Sleg begin, en vir Luca raak dit nie beter nie. Dis Eddie wat die slegte jaar begin het, Eddie met sy dêm ongeluk. Klein begrafnis, net ’n handvol kollegas, eerder daar uit pligsbesef as vriendskap en medelye, vermoed Booger. Van Eddie se familie was dit net hy, die swartskaapbroer, die res van die familie het uitgesterf. Hy het darem vir die geleentheid geskeer, sy hare gekam en sy vingernaels probeer skoonskraap. Heeltyd ontuis gevoel met die das om die pap kraag van sy ou flenniehemp.
Carlita-die-aktrise het op die begrafnis ’n nuwe rol vertolk, dié van vrolike weduwee, want sy en Eddie is lankal geskei.
Booger vermoed die enigste opregte trane was syne en Luca s’n.
Van Carlita se kant ’n groter opkoms: sy en haar pa, ou Mattia in sy rolstoel, en haar suster Roberta, die oujongnooi. Die derde suster, die vrou van die bakker, het nie opgedaag nie. Te duur om uit Italië te vlieg vir die begrafnis van haar eks-swaer.
Mattia Rosati, al in die negentig, is self ’n paar maande later ingespit. Booger het van die ou man gehou, is selfs in sy testament genoem: “En aan Booger Thom laat ek my Bastari agter, die enigste een wat dit kan waardeer. Godere della fisarmonica!”
Booger, ’n man vir ysters en nie letters nie, het lank gewerk aan sy lofrede vir die roudiens van sy broer. Drie minute, het hy hom voorgeneem, dis so lank sy asem as prater sou hou. En hy het vir drie dae bloed gesweet aan daardie drie minute se woorde. Toe staan hy daar voor al die stywe lippe en geknypte poepholle en vergeet skoon sy woorde, praat sommer uit die hart uit.
“My broer was ’n goeie man, goeie man vir Carlita, goeie pa vir Loekman. Eddie het altyd gesê hy gaan eendag iets word, en hy hét. Wou gaan leer en ek het gesê dis ôraait, Eddie, gaan leer, ek sal betaal, die ysters sal betaal. En ná sy eerste graad is hy polisie toe, kaptein, nogal. Maar hy was nie klaar nie. Nee, het baie planne gehad, wou verder gaan leer en iets word, ’n kolonel. Eddie was nooit skaam oor waar hy vandaan kom nie. Smuts se Rooilisse het ons pa in Koffiefontein se kamp gesmyt, en ons ma’s in ’48 al dood, Eddie net een jaar oud. Pa’t later op die plaas by Standerton in die vierjaardroogte uitgeboer, en stad toe gekom en die scrapyard begin … skrootwerf. Het alleen vir ons gesorg, vir my en Eddie, en ons goed grootgemaak. Eddie was vyftien toe Pa dood is, ek in matriek, moes uit die skool uit om die skrootwerf oor te vat. Smiddae het Eddie kom help, en smiddae ná skool en naweke. Hy was nie skaam vir werk nie, dit sê baie van Eddie. En daar sit Loekman, Eddie se seun, vir wie ek lief is soos my eie, en ek wil vir Loekman sê, hier voor almal as getuies: Loekman, ek weet jou hart is vandag seer, en ek kan jou nie met woorde troos nie. Maar ek wil hê jy moet wéét dat jou pa ’n goeie man was, sodat jy nie skaam is wanneer sy naam genoem word nie. Soos ander mense wat vandag hier sit en hom nie wil geken het nie. Ja, hulle is hier, die fariseërs is oral, en die filistyne, dit sal jy nog agterkom, Loekman. Ek sit nie elke Sondag in die voorste gestoeltes soos party mense hier nie, maar ek ken die Goeie Boek, en daar staan geskrywe: Moenie kwaadpraat van die dooies nie, want eendag sal julle weer bymekaar wees.”
Booger vee oor sy oë en lig die Cokebottel op, vat ’n groot sluk. Hy beduie met sy wysvinger na die plakkaat langs die Pontiac.
“Sien jy daar, Loekman? The Rock from Brockton, beste swaargewig wat die wêreld nóg gesien het, is my persoonlike opinie. Kyk jy vir Rocky, of waarna kyk jy? Nee, jy beloer vir Betty.”
Luca probeer protesteer: “Ek kyk vir Rocky!”
“Jy kyk vir Rocky? Dis nie waar jou oë is nie. Maar ek neem jou nie kwalik nie, hoor, die ’40’s het die mooiste pin-ups gehad.” Hy vat die laaste sluk en smyt die bottel in die gellingkan in die hoek. “Dis eintlik húlle wat die oorlog teen Hitler en Mussolini en Hirohito gewen het. Dis daai pin-ups wat die lood in die GI’s se lope gesit het, spesiaal vir die troepe afgeneem.”
“My oupa het vir Mussolini geveg.”
“Ja, ek weet, ons twee het baie daaroor gesels. Ai, en kyk net daar vir Jane Russell. The Boobs, is sy genoem. Jy praat nie met jou ma hieroor nie, gehoor? Die een langs haar, dis Veronica Lake. Ek sal ook die vyand se loopgrawe bestorm om Peekaboo Veronica se eer te beskerm, sal jy nie, hè?”
“Ek sal ’n loopgraaf bestorm vir C.J. Parker. Ek sal drié loopgrawe bestorm om haar eer én haar boobs te beskerm.”
“Wie de moer is C.J. Parker?”
“Kyk jy nie TV nie, Booger? Weet jy ooit van Baywatch, die beste TV-reeks ooit? Ek het ’n pin-up van Pamela in die koshuis.”
“Pamela Anderson? Sy’s ’n bimbo, Loekman. Ek praat hier van gróót aktrises, nie van flossies nie. Anne Gwynne die Scream Queen, Ava Gardner die kaalvoet-contessa. Maar Betty Grable is die beste, daar langs Rocky en die Pontiac. Die mooiste en duurste bene destyds in Hollywood gehad, bobeen