Ooggetuies van die gebeure in die Brandwaterkom soos Jan Brink en lt. Gerrit Boldingh, die Hollandse artillerie-offisier, beweer dit was op 29 en 30 Julie 1900 wel nog moontlik om deur Golden Gate te ontsnap.97 Of Von Maltitz-hulle wel vanuit hul posisie hierin sou slaag, is egter ’n ander saak.
Volgens Elizabeth (née Anderson) von Maltitz, Pieter se vrou, het albei broers geglo daar was nog ’n kans om uit die Brandwaterkom te ontsnap.98 Al was hulle dalk nader aan die gevaar, het nie Charles of sy broer Pieter dus blykbaar gedink dis nodig om oor te gee nie. Dit is ook opmerklik dat in die lywige doktorale tesis van J.H. de Bruin oor die oorgawe van die Oranje-Vrystaat se konvensionele magte gedurende die Anglo-Boereoorlog, die mees omvattende ondersoek na die gebeure in die Brandwaterkom tot nog toe, Charles se naam nêrens voorkom nie, ten spyte van heelwat verwysings na die Ficksburg-kommando.
In sy tesis, Winburg’s war: an appraisal of the Anglo-Boer War of 1899-1902 as it was experienced by the people of a Free State district, skryf J.G. Bojé die volgende in ’n voetnoot: “Crowther and De Villiers, together with Field Cornet von Maltitz of the Ficksburg commando, were suspected of treachery in connection with Prinsloo’s surrender.”99
Ter motivering haal Bojé vir Malan as bron aan. Bojé voeg dan die volgende oor Charles by wat betrekking het op die tyd wat hy in Simonstad aangehou is. “It is interesting to note that Crowther and Von Maltitz had a meeting with [governor Hamilton] Goold-Adams early in January 1901, and that Crowther subsequently met with the peace envoys Christiaan Laurens Botha and Piet de Wet.”100
Dit is nie duidelik wat Bojé met dié verwysing wou sê nie. Die blote feit dat Charles die goewerneur ontmoet het, beteken nie dat hy dislojaal was teenoor die republikeinse saak nie. Dit blyk boonop uit sowel Charles as Jacob de Villiers se dagboeke dat ander burgers ook na die vergadering met Goold-Adams gegaan het waar die goewerneur bloot aan hulle gesê het die anneksasie van die Boererepublieke is onomkeerbaar.101
Wat wel ter sake is, is dat Charles in werklikheid botweg geweier het om die vredesgesante C.L. Botha en Piet de Wet te ontmoet toe hulle die kamp in Simonstad besoek het.102 Hierdie feit is waarskynlik belangriker as enigiets anders aangesien dit ’n aanduiding is van hoe sterk sy afkeer was van diegene wat die stryd gewonne gegee het. Om Charles se karakter en lojaliteit te probeer peil, hoef daar slegs na sy optrede in die krygsgevangenekampe in Groenpunt en Indië gekyk te word. Dit weerspreek die aanspraak in Malan se boek en die suggesties in Bojé se tesis.
Uiteindelik het sowat 3 000 burgers onder Prinsloo by Verliesfontein op Slaapkrans (Surrender Hill) oorgegee en op 31 Julie meer as 1 000 man by Klerksvlei net anderkant Golden Gate.103 Teen 9 Augustus het die Britte 4 314 man, drie kanonne en 2 800 beeste in aanhouding gehad en sowat ses miljoen rondtes ammunisie vernietig.
Daar was egter Boerekrygers wat hulle nie met die oorgawe kon vereenselwig nie. Van hulle het in kleiner groepe verdeel en deur die Britse kordon gebreek.
Prinsloo se oorgawe in die Brandwaterkom was getallegewys van dieselfde omvang as dié van genl. Piet Cronjé by Paardeberg. Hoewel Cronjé se oorgawe nog altyd beskou is as ’n keerpunt in die oorlog, het die oorgawe in die Brandwaterkom ook ’n groot impak gehad. Prinsloo word dikwels van lafhartigheid en selfs verraad beskuldig.
Prinsloo en ook De Villiers se motiewe word veral bevraagteken weens die enkele uitsonderings op die bedingde voorwaardes van die oorgawe. Prinsloo en sy vrou, wat ’n invalide was, het Fouriesburg op 2 Augustus onder begeleiding van ’n Britse offisier verlaat om na Winburg te gaan. Prinsloo is kort daarna saam met die ander offisiere na die Groenpunt-krygsgevangenekamp in Kaapstad geneem, maar anders as die ander offisiere is hy later op parool vrygelaat. Sy vrou kon ook weer by hom aansluit, hoewel hy parool geweier is om na Bloemfontein terug te keer.
De Villiers is ná die oorgawe toegelaat om na sy huis in Ficksburg terug te keer. Genl. Hunter het aan die begin van Augustus 1900 parool aan De Villiers toegestaan en hy is dus nie soos ander offisiere en burgers na ’n krygsgevangenekamp gestuur nie. Volgens sy seun, P. H. de Villiers, sou daar aanvanklik ses dae verlof aan De Villiers toegestaan word om na sy siek vrou in Winburg (die aansluiting vir die Kaap) te gaan en hy moes daarna in dié dorp as krygsgevangene aanmeld.104 Deur die bemiddeling van vriende is hy egter toegelaat om op parool by die huis te bly aangesien hy daardeur glo armoedige families in die omgewing sou kon help.
De Villiers het nietemin van die veronderstelling uitgegaan dat die burgers ook toegelaat sou word om ná die oorgawe na hul wonings terug te keer. Hy het hom gevolglik tot die Britse opperbevel gewend om parool vir die burgers te probeer onderhandel.105 Die Britse opperbevelvoerder het hom egter daarop gewys dat talle burgers reeds misbruik gemaak het van die paroolvergunning soos verleen deur Proklamasie III van 1900. Juis om daardie rede is daar besluit om ook die burgers wat in die Brandwaterkom oorgegee het as krygsgevangenes weg te stuur. Volgens De Villiers se seun het sy pa selfs aangebied om saam met sy burgers in krygsgevangenskap weggestuur te word, maar die Britse owerhede het hom oorreed om in die Ficksburg-distrik aan te bly en hulp aan behoeftige gesinne te verskaf.106 De Villiers sr. is egter later deur die Britse owerheid na Basoetoland gestuur.
Prinsloo het dus nie persoonlik baat gevind by die oorgawe nie. Hy is self ook krygsgevange gehou en is ná sy parool in die Kaap nie toegelaat om na die Vrystaat terug te keer nie. Daarenteen is De Villiers wel toegelaat om terug te keer huis toe, wat die vermoede van hoogverraad in sy geval laat voortsluimer het.107
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.