Die Von Maltitze se jonger broer Attie was op Wellington op skool toe die oorlog uitgebreek het, maar het in November 1900 by die kommando’s van genl. Christiaan de Wet aangesluit toe hulle op pad was om die Kaapkolonie binne te val. Hul jongste broer Friedrich was 16 jaar oud toe hy by die Senekal-kommando aangesluit het. Sy pa moes op daardie stadium weens siekte van die Natalse front terugkeer huis toe en het voorgestel dat Friedrich in sy plek aan die Vrystaatse front kon gaan veg. Friedrich se vuurdoop was die Slag van Sannaspos en hy het daarna aan verskeie veldslagte deelgeneem tot en met die oorgawe in die Brandwaterkom.
Die Anglo-Boereoorlog kan in drie hooffases opgedeel word. In die eerste fase het die Boere aanvalle in die Britse gebiede van Natal en die Kaapkolonie geloods en was daar belegte van die Britse garnisoene in Ladysmith, Mafeking en Kimberley. Boerekommando’s het ook die Oranjerivier oorgesteek om distrikte in die Karoo in te val, waaronder Colesberg op 14 November 1899 waar Charles von Maltitz ook geveg het. Die Boere het daarna ’n reeks taktiese oorwinnings behaal by Colenso, Magersfontein en Stormberg in ’n mislukte Britse offensief om die beleg van Ladysmith en Kimberley te beëindig. Daar word hierna verwys as die Britse magte se sogenaamde Black Week.
Die tweede fase is gekenmerk deur die instroming van groot getalle Britse troepe onder bevel van veldmaarskalk lord Roberts en hierdie keer is ’n suksesvolle offensief geloods om die beleg te beëindig. Hierop het Roberts die Oranje-Vrystaat binnegeval en Bloemfontein op 13 Maart 1900 beset, gevolg deur die Transvaal, waar Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem is.
In die finale fase van die oorlog het die Boere van die einde van Maart 1900 ’n uitgerekte guerrillastryd teen die Britte geloods wat ’n verdere twee jaar geduur het. ’n Deel van hul taktiek was om Britse troepekolonnes te plunder en spoorweë en voorraaddepots te vernietig. Charles en sy broers Pieter en Friedrich was in die eerste van hierdie aanvalle betrokke – die aanval by Sannaspos onder leiding van genl. Christiaan de Wet. In ’n poging om die Boere se toegang tot voorrade af te sny, het lord Kitchener met die verskroeideaardebeleid begin. As deel van dié beleid is opstalle afgebrand, vee doodgemaak en burgerlikes – hoofsaaklik vroue en kinders – na konsentrasiekampe weggevoer.
Met die uitbreek van die oorlog is die meeste Vrystaatse kommando’s na die Natalse grens gestuur waar hulle in Van Reenenspas stelling ingeneem het voordat Natal binnegeval is. Sommige burgers uit die distrikte wat aan Basoetoland gegrens het, is egter aangesê om die gebiede langs die Caledonrivier te patrolleer. Charles von Maltitz se Ficksburg-kommando het byvoorbeeld die Basoetolandse grens vir ’n maand gepatrolleer voordat hy – ná ’n bevordering tot veldkornet – na die Colesberg-front gestuur is.39
Aan die Colesberg-front was daar in Januarie en Februarie 1900 heelwat skermutselinge met die Britse troepe.40 Jan von Maltitz en die Senekal-kommando het ook aan die Colesberg-front diens gedoen, maar Jan het daar maagkoors opgedoen en moes tydelik terugkeer huis toe.
Daarvandaan is Charles na die wesfront waar sy kommando ’n Britse mag naby De Aar aangeval het as deel van ’n poging om genl. Piet Cronjé te hulp te snel.41 Cronjé is by Modderriver deur groot getalle Britse troepe omsingel. Kimberley is op 15 Februarie ontset en Cronjé het op 27 Februarie met sowat 4 000 man by Paardeberg oorgegee, waarna die gety teen die Boere begin draai het. Lord Roberts se magte was daarna onstuitbaar, ten spyte van De Wet se weerstand by Poplar Grove en Abrahamskraal.
Op 13 Maart is Bloemfontein deur die Britse troepe ingeneem. Ná die val van die Vrystaatse hoofstad is Charles tot hoof-veldkornet en assistent-kommandant van die Ficksburg-kommando bevorder. Hy het pres. M.T. Steyn en ’n groep Vrystaatse generaals na Kroonstad vergesel waar hulle op 17 Maart ’n gekombineerde krygsraad van die Vrystaat en Transvaal bygewoon het.42 Pres. Kruger en Steyn, kmdt.genl. Piet Joubert, genls. De Wet en Koos de la Rey, asook verskeie kommandante, waaronder J.B.M. Hertzog (die latere premier van Suid-Afrika) was by dié krygsraad teenwoordig.
Die raad se vernaamste besluit was dat die Boeremagte met konvensionele oorlogvoering sou voortgaan, maar terselfdertyd ’n guerillastryd sou voer, wat verrassingsaanvalle op Britse voorraadlyne sou insluit.43 ’n Faktor wat ’n positiewe uitwerking op die guerillastryd sou hê, was dat daar weggedoen sou word met die waens (waarvan heelwat vroue en kinders vervoer het) en groot troppe vee wat die Boerekommando’s tot op daardie stadium vergesel het. Hierdie groot laers het die Boere se mobiliteit uiteraard negatief beïnvloed.
Volgens C.J. Asselbergs, ’n Nederlandse militêre attaché wat oor die besprekings verslag gedoen het, het De la Rey vas geglo die laers is ’n groot las en hy is daarin gesteun deur De Wet.44 Nie net moes die waens beskerm word nie, het De Wet gesê, maar hy het ook by Poplar Grove opgelet hoe die vegtende burgers op die vlug begin slaan sodra die laers terugtrek. Asselbergs skryf voorts De la Rey het voorgestel dat die kommando’s hoogstens 500 man sterk moes wees sodat hulle doeltreffend georganiseer kon word.
Ná die krygsraad het Charles von Maltitz tussen 4 April en einde Julie 1900 aan veldslae by onder meer Mostertshoek, Wepener, Jammerbergsdrif, Boesmankop, Hammonia, Leeukop en Slaapkrans in die Brandwaterkom deelgeneem. Hy het baie van die verkenningswerk self gedoen om hom van situasies te vergewis en het voorkeur gegee aan vrywilligers om moeilike take te verrig, eerder as om kommandolede te dwing om iets te doen.45 Friedrich von Maltitz het van sy broer Charles gesê hy was altyd “. . . baie besorg oor sy manskappe. Hul veiligheid en benodigdhede het gewoonlik sy persoonlike aandag geniet, selfs toe ons krygsgevangenes was en die meeste van die kommando-offisiere min in hul burgers belanggestel het. Charles het hom glad nie laat afskrik deur enige van die Britse offisiere nie [na hul latere gevangenisneming] en hy het gereeld gebruik gemaak van die woorde: ‘We expect British Justice’.”46
Ná die val van Bloemfontein het genl. De Wet sy burgers verlof gegee om huis toe te gaan, maar met die opdrag om op 25 Maart weer by die Sandrivier te hergroepeer. Ná die kort verposing het die eerste belangrike aanval deur die Boeremagte onder De Wet op 31 Maart plaasgevind. Die Britse garnisoen by Sannaspos se waterwerke is geteiken. Die Britte, onder genl. Robert Broadwood, het groot verliese in die aanval gely. Charles, Pieter en Friedrich von Maltitz was al drie betrokke by hierdie groot oorwinning.
Die aanval was die 16-jarige Friedrich se vuurdoop. Hy het dit as volg in sy memoires beskryf:
Vroeg in die môre het ons grofgeskut, nadat ons die hele nag getrek het, die vyand by die waterwerke aan Modderrivier onder stofwolke gehad. Die perderuiters moes storm en dit oor die kaal bulte. Die vyand was gou op volle vlug na Bloemfontein, maar genl. De Wet wag hulle in by Koornspruit. Dié wat nie krygsgevange geneem is nie, spring terug en ons stormjaers ontmoet hulle op ’n kaal bult tussen Modderrivier en Koornspruit.
Dit was ’n warboel: hulle te voet en ons op perde wat toe al sowat 20 uur onder saal was. Die vyand swaai regs in aflosformasie. Oral sak perde neer weens swakheid of koeëls – myne inkluis met ’n skoot deur die kop.
My kommandant, Gerrie van der Merwe, kry ’n skoot deur sy longe en sak net voor my inmekaar. Ek was te swak om hom staande te hou, maar kon sy hoof ophou tot ander hulp opgedaag het.
Ek was toe ook al uitgeput van honger, dors, vrees en wat meer en stap toe maar terug na waar ek my perd gelaat het.47
Hiervandaan het die jong Friedrich die ses myl (10 km) na sy laer teruggesukkel met sy gewonde perd en nog ’n lig gewonde Engelse perd wat hy langs die pad gevind het. Sy makkers het geskrik toe hulle hom sien, want hy was nog bevlek met sy kommandant se bloed en sprakeloos van uitputting.48
Op 4 April het De Wet ’n Britse kolonne by Mostertshoek verslaan.49 Vyf dae later het sy beleg van Brabant’s Horse50 by Jammerbergsdrif naby Wepener begin. De Wet moes ná 16 dae se gure weer egter die aftog blaas. Teen daardie tyd het die Britte begin om op die Oos-Vrystaat toe te sak.51
Lord Roberts het op 3 Mei met ’n mag van sowat 25 000 man noordwaarts vanaf Kareestasie (net noord van Bloemfontein) vertrek. Terselfdertyd het ’n ander mag na die ooste onder genl. Ian Hamilton en maj.genl. sir Henry Edward Colville parallel met Roberts se mag noordwaarts vertrek. Die volgende dag het lord Roberts