Vegter en balling. Chris Schoeman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Schoeman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624056942
Скачать книгу
min of meer in die middel van die kom met die Witteberge wat die westelike grens vorm en die Rooiberge die oostelike grens. Die vernaamste toegangsroetes tot die kom uit die suide van Ficksburg se omgewing was oor Kommandonek en daarna Generaalsnek. Vanuit ’n noordelike rigting en die Bethlehem-omgewing kon die kom via Retiefsnek of Slabbertsnek bereik word. Die sui­de­like en noordelike roetes het in die Brandwaterkom by mekaar aangesluit en toegang tot Fouriesburg verleen.

      Die pad wat oos uit Fouriesburg geloop het, het anderkant Slaapkrans in twee gevurk met ’n roete na Nauwpoort (naby die huidige Clarens) en nog een deur Golden Gate. Die roete deur Golden Gate was egter minder geskik vir swaar verkeer soos waens en kanonne.

      Genl. Archibald Hunter het ná die Britse magte se oorwinning by Bethlehem ’n reuse-kordon om die Vrystaatse magte in die Brandwaterkom laat trek. Pres. Steyn, wat voor De Wet se mag in die kom aangekom het, se aanvanklike plan was om die natuurlike beskerming wat die kom gebied het, te benut en onbepaald daar te vertoef. Hy het gevolglik opdrag gegee dat loopgrawe en skanse ingerig moes word om die passe na die kom te beskerm. Kort ná die geveg by Beth­lehem is die eerste verskansing reeds by Slabbertsnek in die noorde opgerig.

      Die teenwoordigheid van ’n groot aantal vroue en kinders, asook vee, in die kom was vir die Boeremagte ’n groot risiko, veral as die kom beleër sou word. Gerrit Boldingh, ’n Hol­landse luitenant wat aan die Oranje-Vrystaatse Artille­rie­korps verbonde was, skryf dat die Vrystaat nie meer sy onder­geskiktes kon beskerm nie en dit wil voorkom asof hierdie groep burgerlikes noodgedwonge agter die Vrystaatse mag aan getrek het.64 Die burger Jan Brink, wat ’n lid van die Senekal-kommando was en sy ervarings gedurende die oorlog neergepen het, het hul kommer as volg verwoord: “Daar stonden wij nu tusschen hooge, angstwekkende bergwanden, geheel afgesloten van de buitenwêreld . . . Het was om er benauwd van te worden.”65

      Ná De Wet se aankoms in die Brandwaterkom het hy egter opdrag gegee dat die verskansing van die passe onmiddellik gestaak moes word. Hy was duidelik nie van plan om lank daar te vertoef nie. De Wet het op ’n krygsraad wat op 9 Julie gehou is – twee dae ná die val van Bethlehem – sterk kapsie gemaak teen die voorstel dat die Vrystaatse kommando’s in die kom moet bly.

      DIE BRANDWATERKOM

Brandwater_kaart.jpg

      Daar is toe ook besluit dat die sowat 7 700 Boere in drie verskillende rigtings uit die kom sou trek en die Britse spoor­wegkommunikasie opnuut probeer vernietig. Een groep sou onder De Wet deur die naderende Britse kordon van sowat 30 000 man breek na die noordoostelike distrikte van die Vrystaat. Die volgende dag sou ’n tweede groep onder asst.hoofkmdt. (ds.) Paul Roux van die Wepener-kommando na die suidelike distrikte gaan, gevolg deur ’n derde afdeling onder asst.hoofkmdt. Jan Crowther van die Ladybrand-kommando.

      ’n Vierde, kleiner mag onder asst.hoofkmdt. Marthinus Prinsloo sou in die Brandwaterkom agterbly om die passe te verdedig. Dié kleiner mag het Von Maltitz se Ficksburg-kommando ingesluit, wat toestemming van pres. Steyn gehad het om nie saam met Crowther uit te trek nie. Die opdrag aan Prinsloo se mag was om in drie te verdeel en die toegangsroetes te Slabbertsnek, Retiefsnek, Nauwpoort en Kommandonek te bewaak met die doel om die groot getalle vlugtelinge, vee en ander eiendom in die Brandwaterkom te beskerm.

      Daar was dus slegs ’n paar passe uit die Brandwaterkom: Nauwpoortnek in die ooste, met die bekende Golden Gate verder aan, Kommandonek en Generaalsnek in die suide, en Slabbertsnek en Retiefsnek in die noorde. Hierdie passe was moeilik begaanbaar en dus gevaarlike terrein. Soos een bur­ger dit beskryf: “Voor ’n mens die poorte ingaan, lyk die berge so na aan mekaar dat ’n mens nie daar kan deurgaan nie. ’n Mens kan begryp hoe so ’n pad tussen sulke groot gebergtes is. Plekke so gevaarlik dat dit lyk of ’n mens nooit daarlangs kan gaan nie. Ons moes menige rytuig vashou . . . Die aand na die eerste aftog was ek so bly asof ek by my dierbares aangekom het.”66

      Laatmiddag op 15 Julie het De Wet, vergesel deur pres. Steyn, met sowat 2 000 man, vyf kanonne en sowat 400 waens en kapkarre deur Slabbertsnek uit die Brand­water­kom gebreek nog voordat Hunter se mag teen hom kon optrek. Hulle het daarin geslaag om die Engelse te ontwyk, maar hul vertrek het die oorblywende burgers in wanorde gedompel. Benewens ’n broeiende leierstryd wat die burgers verdeel het, het genl. Marthinus Prinsloo blykbaar sy eie planne in die mou gevoer. Prinsloo het De Wet se planne blyk­baar reeds die dag ná sy vertrek só gedwarsboom dat die kommando’s onder Roux se bevel nie die volgende dag deur die Britse kordon kon breek nie. Prinsloo het hul vertrek na bewering bly uitstel totdat dit te laat was.67

      Die bekende Anglo-Boereoorlog-historikus J.H. Breyten­bach het Prinsloo beskryf as ’n man met min krygsvernuf en inisiatief. Volgens hom het Prinsloo in 1899 by Platrand tydens die beleg van Ladysmith “bedroewend min” leiding aan die Vrystaters gebied.68 Hy is ook deur Jacob de Villiers, ’n lid van die Vrystaatse regering te velde, as “eersugtig, agterbaks en vals” bestempel.69

      Die atmosfeer in die Brandwaterkom onder die sowat 5 000 burgers wat agtergebly het, is deur een burger beskryf as ’n “ellendige gees van tweedrag, jaloesie en ongehoorsaam­heid”.70 Ds. “vader” D.J. Kestell bevestig die tweedrag onder die burgers in die Brandwaterkom in sy herinneringe van die oorlog.71 Dit het ordentlike beplanning en die uitvoering van besluite grotendeels in die wiele gery. Daarbenewens het genl. Roux sy bes gedoen om ná De Wet se vertrek as hoof­kommandant verkies te word. Dit het verdere vertraging mee­gebring en het bygedra tot die mislukking van De Wet se voorgestelde strategie.

      In die week ná De Wet se vertrek het die Britse magte die meeste passe na die kom beset: Retiefsnek en Slabbertsnek in die noorde (24 Julie) asook Kommandonek (25 Julie) en Generaalsnek in die suide. Die Britse genl. Leslie Rundle het op 26 Julie ook Fouriesburg beset, die laaste setel van die Vrystaatse regering. Teen 28 Julie is Nauwpoortnek in die ooste ook afgesluit en die Vrystaters was vasgekeer. Hulle sou toe nog vir oulaas weerstand bied by Slaapkrans, maar hul situasie was eintlik hopeloos.

      Die net het al hoe stywer om die Vrystaatse magte gespan en by ’n krygsraad op 25 Julie is besluit dat ’n aantal kommando’s posisies tussen Fouriesburg en Slabbertsnek sou inneem. Dit was om te verseker dat die kommando’s van Lady­brand, Ficksburg en Wepener nie afgesny word nie. Daar is ook besluit dat genl. Roux Nauwpoort moes oop­hou. Vol­gens kmdt. Gerrie van der Merwe was die gees onder die burgers toe al baie sleg. Die posisie tussen Fouriesburg en Slabbertsnek is vir ’n dag en ’n nag gehou totdat die agterste kommando’s – genl. Prinsloo met die kommando’s van Sene­kal, Ladybrand en Ficksburg – deur was.

      Op 27 Julie het die Boere van Nauwpoortsnek af langs die Klein-Caledonrivier na Golden Gate probeer ontsnap, maar hulle is deur die mag van genl. Hector MacDonald voorgekeer en hulle moes na Slaapkrans uitwyk. Slaapkrans het ’n toegangsroete na die Caledonvallei gebied en van daar sou dit moontlik wees om die gebied via Golden Gate te verlaat.72 Kmdt. P.H. de Villiers van Ficksburg het bevel gevoer oor die kommando’s by Slaapkrans, terwyl genl. Prinsloo toesig gehou het oor die waens en kanonne wat teruggeval het.

      By Slaapkrans het genl. Hunter se voorhoede betrokke ge­raak in gevegte met die agterhoede van die Vrystaatse magte. Friedrich von Maltitz, wat saam met sy broers Charles en Pieter by Slaapkrans vasgekeer was, het die Britse aanval treffend beskryf:

      Die 28ste Julie 1900 sal ek nooit vergeet nie (ek was toe nog maar ’n seun van skaars 16). ’n Klompie van ons Ficks­burgers en Ladybranders moes die skok van die vuur van 23 kanonne van kort ná sonop tot laat die aand verduur. Ons het net twee kanonnetjies – van minder belang – gehad. Een is feitlik met die eerste skoot in die lug geblaas en die ander moes gou skuiling soek en ons het sy stem nooit weer gehoor nie.

      Bovermelde twee kommando’s het hulle posisies gehou en donker die aand is ons teruggeroep om nuwe stellings [Nauwpoort] vir die volgende dag in te neem. Vaal van die stof, honger en dors het ons drie broers – Charles, Pieter en ek met ons oom Pieter von Maltitz – ongedeerd uit die ‘in­ferno’ gekom. Vroeg die volgende môre is ons in nuwe stel­lings en ek kan sê van die beste wat ek op die veldtog gehad het. Broer Pieter was in bevel terwyl Charles ander posisies besigtig het. Teen elfuur kom daar berig dat ’n wapen­stilstand gesluit is en oombliklik is daar ’n doodse stilte.

      Ons