Vegter en balling. Chris Schoeman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Schoeman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Историческая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624056942
Скачать книгу
die nag aangeskuif het. Wat beteken dit?

      Laat die middag kom die berig dat genl. Prinsloo oor­ge­gee het en dat die burgers na hul wonings kon terugkeer, en dat diegene wat probeer vlug en gevang word deur die Engelse as rebelle en vrybuiters doodgeskiet sou word. Alle soorte gerugte was gou in omgang. Die oudstryders was weemoedig en wanhoop was op die meeste gesigte te bespeur . . .73

      Soos vroeër genoem, was die roete uit die Brandwaterkom via Nauwpoort reeds op 28 Julie deur die Britse magte afgesper. Enige kommando’s of vlugtende vroue en kinders kon vanuit hierdie posisie deur die Britse magte gebombardeer word. Hierdie besef sou waarskynlik die burgers se moraal verder verlaag het. Genl. Roux het aan genl. Prinsloo gerapporteer dat die weg deur Nauwpoort afgesluit was, maar Prinsloo het nogtans vir kmdt. Gerrie van der Merwe daarheen gestuur om te sien of dit wel so was. Dit dui op ’n wan­troue jeens Roux. Van der Merwe het die middag toe wel gesien Nauwpoort is deur die Britte afgesper.74

      Intussen het kmdt. Sarel Haasbroek wat met die Winburg-kommando naby Nauwpoort stelling ingeneem het, sy stel­lings ontruim. Dit het Prinsloo genoodsaak om die Senekal-kommando te beveel om die ontruimde stellings daar te beset. Toe die Senekal-kommando in die omgewing van Nauwpoort stelling inneem, was die kommando’s van Lady­brand en Ficksburg direk agter hulle.

      Genl. Roux het toe ’n krygsraad vir dieselfde aand (28ste) by Nauwpoort belê vir die verkiesing van ’n hoofkommandant, aangesien die teenwoordigheid van drie waarnemende aanvoerders – hyself en genls. Prinsloo en Frederik Hat­tingh – tot verwarring gelei het. Daar is besluit dat Prinsloo as hoof­kommandant sou optree tot tyd en wyl al die offisiere (van hulle was so ver as Golden Gate) die geleentheid gehad het om hul stemme uit te bring.75

      Volgens kmdt. Van der Merwe – een van vyf kommissie­raadslede van die krygsraad – is daar ook teen onvoorwaar­delike oorgawe gestem. ’n Voorstel is aanvaar dat Prinsloo ’n wapenstilstand van vier dae by genl. Hunter moes aanvra sodat hulle met genl. De Wet in verbinding kon probeer tree. Sou Hunter hul versoek weier, sou hulle aanhou veg. Dit was al dagbreek toe die krygsraad beëindig is.76

      Hierna is genl. Crowther en kmdt. Van der Merwe na Golden Gate gestuur om die orige stemme in die verkiesing van ’n hoofkommandant in te win. Daardeur is waardevolle tyd op minder belangrike sake vermors, te midde van gebrekkige lei­ding aan die burgers. Nadat al die stemme ingesamel is, het dit geblyk dat Roux die nuwe hoofkommandant sou wees.77 Op pad terug van Golden Gate na Nauwpoort het Crowther en Van der Merwe vir Roux teëgekom en hulle is saam terug na die laer.

      Intussen het genl. Prinsloo sonder hul medewete twee bur­gers onder die wit vlag na genl. Hunter gestuur om te vra vir ’n wapenstilstand.78 Op pad het Crowther, Van der Merwe en Roux ’n rapport van Prinsloo gekry dat hy met Hunter onderhandel. Hulle was nog nie by die laer nie toe hulle ’n tweede rapport van Prinsloo ontvang dat “hij zaken geregeld had”79, dat ’n onvoorwaardelike oorgawe plaasgevind het en dat die kommando’s versoek word om nie verder te trek nie. Toe hulle uiteindelik by Prinsloo aankom, lê hy ewe rustig onder sy verewa. Genl. Roux was “seer boos op hem en schold hem uit als een landsverrader”80. Prinsloo het beweer dat hy geen afskrifte van sy briewe aan Hunter gehou het nie81, wat moontlik die vermoede kon laat ontstaan dat hy iets gehad het om weg te steek.

      Die volgende dag het genl. Roux ’n amptelike protes teen die oorgawe aan Hunter gestuur, maar soos verwag kon word, het Hunter geweier om met hom te onderhandel. Hunter se argument was dat aangesien Prinsloo ook die Winburg-kom­mando – waaronder Roux ressorteer – oorgegee het, Roux geen keuse gehad het nie.82 Teen daardie tyd was hulle in elk geval feitlik omsingel.

      Van der Merwe, wat uiteindelik saam met Charles von Maltitz in die krygsgevangenekamp by Groenpunt sou beland, was self onwillig om oor te gee. “Ik weigerde eerst om over te geven, doch deed dit later op aanrading van generaals Roux en Crowther,” het hy geskryf. “De volgende dag legde de Ficksburg Commando [Von Maltitz en sy broers] de wapens neer en ik met de Senekal Commando de dag daarop.”83

      Waar staan Charles von Maltitz in hierdie saga? Volgens een historiese bron is Charles en van die ander offisiere van ver­raad beskuldig weens hul optrede. In sy biografiese bundel oor die Boere-offisiere, Die Boere-offisiere, 1899-1902, skryf Jacques Malan in sy bondige skets van genl. Jan Crowther as volg: “Jan Crowther was een van die generaals wat saam met hoofkommandant Marthinus Prinsloo op 29 Julie 1901 [die jaar was 1900, nie 1901] in die Brandwaterkom oorgegee het. Hy is in dié verband saam met kmdt. [Paul] De Vil­liers en veldkornet [Von] Maltitz van verraad beskuldig.”84

      Malan verskaf egter nie enige motivering vir dié aan­spraak nie. 85 Is dié aanklag geregverdig? Om dié vraag te probeer beantwoord, word vir eers langer stilgestaan by die Ficksburg-kommando waarin Charles as veldkornet gedien het en hul betrokkenheid in die Brandwaterkom-fiasko.

      Die Ficksburg-kommando onder kmdt. Paul de Villiers het ná die val van Bethlehem by pres. Steyn toestemming gekry om in die Brandwaterkom agter te bly.86 Kmdt. De Villiers het aangevoer dit sou weens sy kommando se stellingsposisies onmoontlik wees om hul posisie teenoor die Britse magte te ontruim.87 De Villiers het kort vantevore ook aan De Wet en Steyn gesê die burgers van die Ficksburg-kommando is oorlogsmoeg en die voortsetting van die oorlog sou net tot die vernietiging van die Vrystaat lei. Of hierdie moegheid vir al die burgers gegeld het, weet ’n mens nie. Dit is wel so dat daar ’n gebrek aan dissipline en ’n gees van défaitisme onder baie van die burgers geheers het ten tyde van hul skuiling in die Brandwaterkom. Dit het heel waarskynlik ook ’n rol ge­speel in Prinsloo en sy mede-offisiere se besluit om oor te gee.

      De Villiers het ná die verlies van die Slaapkrans-stellings op 28 Julie besluit om terug te val en nie opnuut stelling in te neem nie. Dit was egter nie ’n goeie besluit nie omdat hy daarmee die kommando’s en vlugtelinge se kanse verspeel het om via Golden Gate weg te kom. Hierdie onwilligheid van De Villiers om voort te veg dui daarop dat Prinsloo en sy offisiere nie meer hul hoop op militêre teenstand geplaas het nie, maar op onderhandelinge met die Britse magte. Dis wel ’n ope vraag of Prinsloo in daardie stadium enige ander keuse gehad het omdat die Britse grofgeskut op die vlugtende kommando’s sou kon losbrand ná die verlies van die Slaapkrans-stelling. De Villiers het trouens aan sy kommando gesê hulle was op 30 Julie heeltemal omsingel en die saak was “hopeloos”. Dit was ook weens die treurige toestand van die perde en trekosse wat dit sekerlik onmoontlik sou maak om vinnig deur Golden Gate te vlug.88

      De Villiers het dus vir Prinsloo gesteun in sy besluit om oor te gee. Dit blyk dat daar ná die geveg by Slaapkrans ’n vergadering was waar Prinsloo, De Villiers en ander offisiere besluit het om onderhandelinge te begin met die doel om oor te gee. Volgens De Villiers het die oorgrote meerderheid van die krygsraadvergadering ten gunste van oorgawe gestem.89 Vir De Villiers en waarskynlik ook vir Prinsloo was die voort­setting van die oorlog sinloos en sou dit net tot onnodige lewensverlies en skade aan eiendom lei.90

      Die eerste rondte onderhandelinge met die Britse magte oor ’n moontlike oorgawe is deur Prinsloo, De Villiers en S.G. Vilonel bygewoon. Prinsloo se keuse van onderhandelaars is insiggewend: De Villiers se handelinge het reeds daarop gedui dat hy die beëindiging van die oorlog voorgestaan het, terwyl Vilonel91 ’n veroordeelde landsverraaier was (hy was in werklikheid in aanhouding by die Vrystaatse magte). Prins­loo het moontlik vir Vilonel as gesant gebruik omdat hy geglo het die Britte sou eerder vir Vilonel as enige ander Boere-af­gevaardigde aanvaar. Lt.kol. P.W. le Gallais (Hunter se hoof van staf) en kapt. J.E.H. Balfour (aide de camp) was die Britse magte se verteenwoordigers.92

      Volgens G.P. Kriek, een van De Villiers se adjudante, het die burgers kennis gedra van die onderhandelinge en was hulle tevrede met die inhoud daarvan.93 Ná die vergadering is voorbereidings in die kamp getref vir die oorgawe wat die volgende oggend sou plaasvind. Hoewel oorlogsmoeë burgers ’n besluit tot oorgawe sou steun, moes dit geskied op voorwaardes wat vir die meerderheid offisiere en burgers aanvaarbaar was. Een voorwaarde was dat die burgers toegelaat sou word om na hul wonings terug te keer.94 De Villiers het uitdruklik verklaar dat dit die geval sou wees.95

      Die vraag is of Von Maltitz onder hierdie groep burgers getel het. In die lig daarvan dat hy skaars ’n maand tevore nog ’n plan aan pres. Steyn voorgelê het om die Kaapkolonie binne te val, is dit moeilik om te dink dat hy so skielik oorlogsmoeg sou word.