CHRIS SCHOEMAN
Vegter en balling
Boereoorlog-ervarings van
veldkornet Charles von Maltitz
TAFELBERG
Inleiding
Vegter en balling vertel die verhaal van vkt. Charles F.R. von Maltitz van die Ficksburg-kommando en sy ervarings as Boerekryger en latere krygsgevangene gedurende die Anglo-Boereoorlog. Von Maltitz het nogal getrou dagboek gehou tydens sy aanhouding van November 1900 tot Augustus 1902 in die krygsgevangenekampe in Groenpunt en Simonstad, asook in Trichinopoly in Indië.
Sy dagboek het vir jare grotendeels vergete in sy plek van bewaring in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein gelê. Dit is dalk te verstane omdat Von Maltitz se handskrif nie maklik leesbaar is nie en die dagboek geskryf is in die verafrikaanste Hollands wat in daardie jare gepraat is. Dit verklaar waarskynlik ook hoekom daar geen getikte transkripsie van die dagboek bestaan nie – dit sou ’n lang en veeleisende proses wees.
Ek is baie dankbaar dat Von Maltitz se kleindogter, mev. Estelle Lombard van Bloemfontein, ’n gefotostateerde kopie van die oorspronklike dagboek aan my beskikbaar gestel het. Met die vertaling en oorskryf van die dagboek in moderne Afrikaans is gepoog om so ver as moontlik by die oorspronklike bewoording van die dagboek te hou. Von Maltitz gebruik af en toe wel Engelse woorde soos “docks”, “refugeekampe” en “sentries” wat net so behou is. Hy het soms ook woorde in ronde hakies bygevoeg – woorde of kommentaar in vierkantige hakies is dus die skrywer s’n.
Die dagboek van 230 handgeskrewe bladsye begin op 14 November 1900, drie maande ná Von Maltitz se aankoms in die Groenpunt-krygsgevangenekamp. Dit was moontlik verveling wat hom daartoe gedryf het om ’n dagboek te begin hou. In die kampe het die krygsgevangenes nie veel gehad om te doen nie en Von Maltitz was ’n intelligente man wat altyd op soek was na sinvolle maniere om besig te bly. Kon hy maar destyds geweet het sy dagboek sou ’n eeu later herontdek word as ’n waardevolle toevoeging tot die Anglo-Boereoorlog-annale, veral met betrekking tot die lewe in die krygsgevangenekampe.
Von Maltitz het sy dagboek baie getrou bygehou terwyl hy in Groenpunt was. Hy beskryf onder meer die gees onder die Boere en hul frustrasie weens hul inperking, asook hul verlange na die huis. In sy meer bevoorregte posisie as offisier het hy nouer skakeling met Britse offisiere gehad en blykbaar ook groter insig in die oorlog as die gewone krygsgevangene. Von Maltitz het ook noukeurig boekgehou van hoeveel Boere as krygsgevangenes by die kampe ingekom het of dit verlaat het.
Von Maltitz het deurentyd tred probeer hou met verwikkelinge aan die gevegsfront deur die Kaapse koerante te lees en hy verwys gevolglik dikwels na berigte in die Cape Times. Dit is aangevul deur gerugte wat gereeld onder die krygsgevangenes die rondte gedoen het en waarna hy as “Kamp Nieuws” verwys. Dié gerugte was meestal nie net eensydig nie, maar ook vergesog. Daaroor skryf Charles se medekrygsgevangene Jacob de Villiers, ’n lid van die Vrystaatse regering te velde en die latere minister van mynwese en regter-president van die Unie van Suid-Afrika: “Rumours were constantly flying about. Their source could never be traced. I suspect there must have been some men of remarkable humour in the camp who set these rumours going.”1
Von Maltitz skryf ook oor sensitiewe sake wat vermoedelik in die openbaar meestal verswyg is. “Volgens briewe skyn dit dat die Boervroue- en nooiens maar nog vryerig is met die [Britse] troepe in die republieke, en meer as een arme krygsgevangene sal eendag teruggaan na ’n huisgesin waar sy geluk vir altyd gesneuwel het. Een van die krygsgevangenes hier kry ’n portret van sy twee klein kindertjies wat op die skoot van ’n Kakie sit, ’n bewys dat sy jong vrou goed bevriend is met sulke menere.”2
Op 15 Maart 1901 skryf hy dat hulle oorgeplaas is na die Bellevue-kamp in Simonstad, waar hy tot 5 April 1901 nog gereeld dagboekinskrywings maak. Daarna volg ’n onderbreking van meer as ’n maand tot 9 Mei waartydens hy nietemin steeds die bewegings van uitgaande en inkomende gevangenes en ander gebeure gedurende dié tyd oorsigtelik dek. Daarna skryf hy gereeld totdat hy op 3 November aan boord van die SS Armenia na Indië gestuur word.
Hul reis via die Seychelle word volledig beskryf, asook hul aankoms in Bombaai (vandag Moembai) en die treinrit na Trichinopoly. Sy beskrywings van die landskap en die mense is besonder gedetailleerd. Gedurende sy aanhouding in Suid-Afrika en in Indië ontvang Von Maltitz heelwat briewe van familie en vriende, ook van ander krygsgevangenes, wat meestal welkome nuus oor sy naastes bevat.
Uit sy vertellings oor Trichinopoly blyk dit dat die kamplewe daar heelwat opwinding opgelewer het en nie net weens die unieke uitdagings wat die omgewing en vreemde kultuur aan die krygsgevangenes gebied het nie. Daar is meer as een ontsnappingspoging – met Von Maltitz wat betrokke is by een van hulle – en ’n tragiese skietvoorval waarin twee van sy medegevangenes sterf.
Uit sy dagboek is dit duidelik dat Von Maltitz ’n intelligente man was wat boonop ’n sin vir humor gehad het. Oor die uitdagings wat die Indiese insekteryk aan hulle bied, skryf hy byvoorbeeld: “Die eerste aand hier sien en voel ek dat dit ’n uitstekende landstreek is vir mosquitos, motte, krieke en alle soorte van vlieënde, lopende, kruipende, seilende, stekende, bytende, stinkende en ander soorte van walglike en onaangename diertjies – te veel om op te noem en wat seker ook nie almal name het nie.”
Sy dagboek eindig in Augustus 1902 – amper twee jaar nadat hy daaraan begin skryf het – toe hy vrygelaat word en na Suid-Afrika terugkeer. Ná sy aankoms in die Durbanse hawe moes hy en sy gesin hul boerdery van voor af opbou aangesien dit in die oorlog vernietig is. Die plaashuis het ten minste nog gestaan, maar daar was weinig vee oor en aanvanklik geen kapitaal nie.
Benewens sy merkwaardige dagboek, is daar nog ’n rede waarom Von Maltitz se ervarings gedurende die Anglo-Boereoorlog onder die vergrootglas geplaas kan word. In sekere geskiedkundige bronne word sy lojaliteit teenoor die republikeinse saak bevraagteken. Hy was een van die offisiere wat in Julie 1900 saam met genl. Marthinus Prinsloo en 4 300 man in die Brandwaterkom in die Fouriesburg-omgewing aan die Britse magte oorgegee het. Vir baie jare was Prinsloo se oorgawe ’n besonder emosionele saak en beskuldigings van verraad is maklik rondgeslinger. Die boek poog om weer na die gebeure te kyk wat aanleiding gegee het tot die gebeure in die Brandwaterkom en Von Maltitz se optrede daarna in die kampe om vas te stel of die bewerings van dislojaliteit en selfs verraad teen hom geregverdig is.
Von Maltitz het ná die oorlog nog ’n vol lewe gelei en het ’n versoenende houding jeens Engelse Suid-Afrikaners ingeneem in navolging van individue soos genls. Louis Botha en Jan Smuts. Hy het hom beywer vir ’n beter Suid-Afrika ná die verwoesting van die oorlog, al moes dit onder ’n Britse vlag geskied.
Met die totstandkoming van die Unie-weermag ná Unie-wording in 1910 het Von Maltitz ’n hoë offisiersrang beklee en hy was betrokke by die onderdrukking van die 1914-
rebellie. Hy was in dié tyd ook verantwoordelik vir die arrestasie van C.R. Swart, die latere staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, wat toe nog ’n onderwyser in Ficksburg was. Hierdie voorval en die feit dat hy vir die ou Suid-Afrikaanse Party gestaan het, het hom natuurlik in sekere Afrikaner-kringe ongewild gemaak.
Hy het nietemin ’n baie aktiewe rol in sy gemeenskap in die Ficksburg-omgewing gespeel, veral ten opsigte van die landbou. Sy afsterwe in 1929 is wyd betreur. Sy grootste nalatenskap is waarskynlik egter sy oorlogsdagboek waarin hy aspekte van hierdie traumatiese tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis so treffend beskryf.
Charles von Maltitz se stamboom
1
’n Duitser skiet wortel in Afrika
Charles von Maltitz se verhaal is in vele opsigte soortgelyk aan dié van tientalle Vrystaatse en Transvaalse Boerekrygers. As veldkornet in die Ficksburg-kommando het hy amper ’n jaar lank moedig teen die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog geveg voordat hy in die Brandwaterkom in die Fouriesburg-distrik krygsgevange geneem is. Hy is daarna eers by Groenpunt en Simonstad aangehou voordat