Gedurende hierdie Britse operasies is die Boere se plase op groot skaal verwoes en geplunder. Die briewe van die predikantsvrou Margaret Marquard van Winburg gee ’n goeie idee van hoe die plaaslike bevolking getraumatiseer is deur die vernietiging wat met hierdie aksies gepaardgegaan het. Op 15 Mei 1900 skryf sy: “Today and yesterday we have had visits from women from the country . . . some – especially a poorer one today – had horrible tales of the destruction and wholesale robbery on their homesteads: for wickedness they [the British] are hard to equal . . . The details seem too trying to go over – carts, horses, ‘trekgoed’, wagons, forage, ‘alles wat op een zolder is’, nothing spared.”52
Dit was ook in hierdie tyd dat Adriaan von Maltitz, Charles se pa, deur die Britte gedwing is om die eed van neutraliteit af te lê. Op daardie tydstip was daar ’n Ierse regiment op Wittekrantz gestasioneer. Op 22 Mei 1900 is twee burgers by Wonderkop in die Senekal-distrik aangekeer en na die Britse kamp op Wittekrantz geneem. Die twee burgers kon in die huis slaap, maar is regdeur die nag bewaak. Die volgende oggend het Alida von Maltitz hulle iets te ete gegee voordat Adriaan saam met die twee burgers na Clocolan geneem is waar hulle voor ’n paar offisiere verskyn het en die eed van neutraliteit moes aflê. Hierop het elkeen ’n pas ontvang wat hulle op “beskerming” deur Britse troepe geregtig gemaak het, maar later geblyk het waardeloos te wees.53
Adriaan het goed bevriend geraak met twee offisiere van die Ierse regiment, sir John Keene en maj. George Grey. Hulle het saans gereeld saam gekuier, en die offisiere het ook vir hom interessante literatuur gebring. Hul vriendskap het hom egter nie van latere gevangenskap gevrywaar nie. Meer as ’n jaar later, in November 1901, is Adriaan eers na die tronk op Winburg geneem waarna hy na die deurgangskamp Tin Town in Natal geneem is voordat hy as ’n krygsgevangene na St. Helena gestuur is. Hy sou eers in September 1902 na Ficksburg terugkeer. Soos die geval was met honderde ander plase het daar van syne niks oorgebly nie en hy moes van voor af begin.54
Op 29 Mei 1900 het die Slag van Biddulphsberg naby Senekal plaasgevind, waartydens die Britte gevoelige verliese toegedien is en genl. Leslie Rundle na Senekal moes terugval. Die deelnemende kommando’s was dié van Ladybrand onder bevel van kmdt. Jan Crowther (die grootste groep), die Senekal-kommando onder genl. Andries de Villiers, die Ficksburg-kommando (met Charles von Maltitz in sy geledere) onder kmdt. Paul de Villiers, die Wepener-kommando onder kmdt. Paul Roux, die Smithfield-kommando onder kmdt. J. Potgieter en die Thaba Nchu-kommando onder kmdt. Robert Crowther. In dié slag is genl. Andries de Villiers van die Senekal-kommando ernstig gewond en hy het later aan sy wonde beswyk. Kmdt. Paul Roux, ’n predikant van Senekal, is in sy plek as veggeneraal aangewys.55 Roux sou ’n belangrike rolspeler word in die gebeure wat hulle twee maande later in die Brandwaterkom in die omgewing van Fouriesburg afgespeel het.
Twee dae later was Charles weer op die slagveld toe die kommando’s onder genls. De Wet en Prinsloo die Britse magte by Lindley (Yeomanry Hill) oorval het. De Wet het op 7 Junie ook groot sukses by Roodewal behaal toe hy Britse goedere van £100 000 buitgemaak het. Hierop het Roberts ’n groot dryfjag op die Boere in die Oos-Vrystaat begin en feitlik die ganse Vrystaatse mag moes uiteindelik na die Brandwaterkom terugtrek (meer hieroor in die volgende hoofstuk).
Die Von Maltitz-broers het in daardie stadium vir agt maande reeds aan verskeie veldslae deelgeneem, tientalle kartetse sien ontplof en baie koeëls hoor fluit, maar ongedeerd daarvan afgekom. Op 10 Junie 1900 word hulle egter deur die noodlot getref toe die derde oudste seun, Jan, in ’n aanval op Engelse skanse by die spoorbrug by Virginia Siding doodgeskiet word. Jan moes in opdrag van genl. Paul Roux met ’n uitgesoekte groep van 200 Senekallers en Ladybranders van hul kamp naby Senekal uitgaan om die brug oor die Sandrivier te gaan opblaas. 56
Friedrich wou ook saamgaan, maar omdat sy perd te gedaan was ná ’n verkenningsveldtog in die voorafgaande dae, het Jan hom aangeraai om liewer te bly.
Dit was nog donker en bitter koud toe Jan en sy manne die Engelse skanse onder die doringbome aangeval het en die Kakies was op hul hoede. Hulle was ’n garnisoen van die Royal Engineers en het ook koloniale troepe ingesluit.57 Jan het sy manne beveel om te skuil maar nie te retireer nie, maar nie voordat twee van hulle noodlottig gewond is nie. Jan en ’n paar van die burgers aan die voorpunt het in die rivier se syslote geskuil, maar hy is tussen die oë geskiet net toe hy hom effens gelig het om oor die sloot se walletjie aan te lê. Van die tien Boere in die voorste posisie is vier doodgeskiet en twee gewond.58
Dié vier, waaronder Jan, is deur die Britse soldate begrawe in die sloot waar hulle gesneuwel het. Die Von Maltitz-familie het in 1904 ’n grafsteen vir Jan laat maak, maar hulle kon nie sy beendere vind nie.59 Dit het vermoedelik in die rivier afgespoel. Sy grafsteen is daarna in die Virginia-kerkhof opgerig.
3
Oorgawe in die Brandwaterkom
Ten spyte van hul verlies het die oorlog vir Charles en die ander Von Maltitz-broers meedoënloos voortgegaan. Die Vrystaatse kommando’s het op daardie tydstip reeds na die Brandwaterkom naby Fouriesburg begin uitwyk om uit die kloue van die Britse kolonne te ontsnap. Verskeie kommando’s, waaronder dié van Bethlehem, Senekal, Winburg, Ficksburg, Harrismith en Vrede, het ’n onmiddellike belang daarby gehad om in die Brandwaterkom stelling in te neem aangesien hulle dan relatief naby aan hul eie distrikte was.
Een aand in Junie 1900 toe die kommando’s hulle aan die voet van die Leeukop by Ficksburg bevind het, het ’n blykbaar ywerige Charles ’n plan aan pres. Steyn voorgelê om die Kaapkolonie binne te val.60 Hy wou met 400 vrywilligers, wat hy self uit die kommando’s van Ficksburg en Senekal sou kies, deur die Engelse linies probeer dring en die burgers wat ná die val van Bloemfontein die wapen neergelê het, herorganiseer. Hulle sou dan aanvalle op die Kaapkolonie loods. Die streek anderkant die Oranje was natuurlik vir Charles bekende wêreld, veral rondom Colesberg waar hy gebore is en wat hy eers op 17-jarige leeftyd verlaat het. Pres. Steyn het egter Charles se versoek geweier, moontlik omdat hy in daardie stadium sy manne bymekaar wou hou.61
Die Britse magte het op 6 en 7 Julie ’n belangrike oorwinning oor die Boere by Bethlehem behaal. Hierna het die Vrystaatse magte finaal na die Brandwaterkom teruggeval. Oor sy verdediging van Bethlehem skryf genl. Christiaan de Wet:
Our line of defence began at the south of Wolhuterskop (a kop to the south-west of Bethlehem), and extended from there to the north-west of the town . . . So many of the horses were exhausted, that a large number of the burghers had to go on foot. Such of these Voetgangers as were not required to attend to the waggons, I placed at Wolhuterskop.
When I had done this I gave notice to the inhabitants of Bethlehem, that as the dorp would be defended, I must insist on the women and children leaving it at once. It was not long before a number of women and children, and even a few men, started out on their way to Fouriesburg.
At four o’clock that afternoon the advance guards of the enemy approached . . . Everywhere the burghers fought with the utmost valour; the Voetgangers on Wolhuterskop were perhaps the bravest of them all . . . But the next day a large force of English appeared from the direction of Reitz. This had come from the Transvaal, and, if I remember rightly, was commanded by General Sir Hector Macdonald. He had come up and joined Generals Clements, Hunter, Broadwood and Paget, with the object of once and for all making an end of the Free-Staters.
The attack was pressed with the greatest vigour on the positions held by Commandants Van Aard and Piet Fourie. It became impossible for these officers to maintain their ground; and, at about twelve o’clock, before I was able to send them any reinforcements, they were compelled to give way. Thus retreat became inevitable, and the enemy entered Bethlehem . . . We withdrew our commandos in a southernly direction to Retiefsnek [een van die toegangsroetes na die Brandwaterkom], whither President Steyn and the Government had already preceded us.62
Dit is insiggewend dat van die burgers op hierdie stadium reeds nie meer veel hoop vir die Boeresaak gehad het nie. Een moedelose burger word as volg aangehaal: “. . . voor ons hier weg is, kon jy vir ’n donkie vra of ons die oorlog sal wen en hy sou sy ore [nee] geskud het . . . Want dit was ’n hopelose ding nadat Bloemfontein en Pretoria ingeneem is en die Engelse by duisende en derduisende