'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ben Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158350
Скачать книгу
het hul geen saak meer met die Nasionale Party se Ontugwet nie. Hulle soek vróúmens. Maak nie saak watse kleur nie, solank dit net vróú is.

      Onbelemmer deur iets soos apartheid het die Portugese koloniste en Angolese boorlinge vryelik ondertrou. Daar is min wit meisies tussen die vlugtelinge, maar die halfwit Angolese meisies – let wel, halfwít, nie halfswárt nie! – is ’n onweerstaanbare versoeking vir die manne in uniform. Hoewel die soldate uitdruklik beveel is dat die vlugtelinge se dogters en vrouens buite “afloer-, praat-, flirt-, aanraak- of aanrandperke” is, probeer hulle deurentyd ’n gelukkie score. Min van hulle, indien enige, kry enigiets reg, en dis nie soveel te danke aan respek vir militêre instruksies nie as aan die waaksaamheid van die kêrels, mans en pa’s onder die vlugtelinge, wat die balhorige troepe se plannetjies heeltyd een voor is.

      Blackie sou ook saam met ’n vrou wou wees, maar nie sommer enige vrou nie. Sy eie vrou. Verdringde manlike hormone is nie sy groot probleem nie, maar verdringde weersin en vrees – die ergste soort vrees, daardie vrees wat hy nie durf erken nie. Die barbaarsheid, verwoesting en verguising van alle menslikheid bly in sy borskas klop. Hy vind dit toenemend moeilik om te slaap. Hy mis sy huis, sy vrou, hul ongebore baba wat eersdaags die lewenslig behoort te aanskou. Dit sal beslis ’n seuntjie wees, het hy reeds besluit. Hy het die kind se gesiggie een aand in die maan gesien, terwyl hy op sy rug in ’n loopgraaf gelê en wag het op ’n rooi-oogbombardement wat toe nooit gekom het nie.

      Hy mis sy skryfblok. Wanneer hy gekwel was, om watter rede ook al, kon hy nog altyd ’n terapeutiese uitlaatklep vind in die neerskryf van sy ervaring. Die gemaal in sy kop om eerstens die regte woorde te vind, en dan die regte volgorde vir daardie woorde, help om perspektief te bring. Maar hulle is nie toegelaat om skryfgoed op hierdie sending saam te bring nie. Die rede daarvoor was so belaglik dat hy nie eens kan onthou wat dit was nie; glo iets te doen met die klandestiene aard van die operasie. Hy het wel ’n pen saamgesmokkel, maar dié het langs die pad voete gekry. Seker self ge-awol! Voordat hulle uit die basis hierheen gevlieg is, was sy laaste skryfoefening iets wat die Weermag hom opgelê het: ’n testament, verpligte laaste brief aan naasbestaandes, ’n verklaring wat elkeen moes onderteken dat hy vrywillig op hierdie sending was en dat geen druk van watter aard ook al op hom uitgeoefen is deur enige persoon of persone of organisasie nie.

      Blackie het intussen min of meer agter die kap van die byl gekom: Amptelik sou die Suid-Afrikaners se teenwoordigheid in Angola ontken word. Daar is geen troepe van die Suid-Afrikaanse Weermag in die gebied nie, en diegene wat dít nie wil glo nie, kan maar die Republiek se minister van verdediging vra. Net voor hulle uit Pereira d’Eca weg is, het ’n Samil-lorrie vol standaard- Suid-Afrikaanse nutria-uniforms opgedaag en hulle moes vinnig verklee: sedertdien was hulle wél amptelik op Angolese grondgebied, maar op ’n humanitêre sending. Die Suid-Afrikaanse eerste minister sal dit self kan bevestig.

      Skaars ’n uur nadat die konvooi op die oggend van die vierde dag die tog hervat, raak die radiomaste van die grenspos bo die eindelose plaat boomtoppe sigbaar. Die weermagtroepe loop onmiddellik regopper, die treë langer. Maar onder die ouer vlugtelinge is nie dieselfde beroering nie. Talle van hulle kyk terug na waar hulle vandaan gekom het. Dit is asof hulle finaal moes kies tussen hul veiligheid en die vreemdheid, en steeds twyfel oor hul uiteindelike besluit.

      Die jonger garde Angolese se oë gloei. Vir die meeste van hulle was ’n besoek aan Europa nog altyd ’n droom, en nou is hulle op pad! ’n Groep uitgelate jong manne leun oor die kant van hul trok en beduie na die soldate. “Thees afta’noon,” daag een van hulle die troepe in sy beste Engels uit, “you, we, play football!”

      “Cool,” skreeu een van die soldate bo die Buffel-enjin se gedreun, “and after that a game of rugby!”

      Die son het reeds sy middagdraai gekry toe die konvooi oplaas deur die grenspos is – te vroeg om uit te span vir die nag, en te laat om Ondangwa voor donker te haal. Met Angola agtergelaat, voel die oorlog eensklaps verwyderd, iets wat gister gebeur het en nou verby is. Verligting daal neer oor die lang stoet moeë reisigers.

      ’n Rooi son hang in die stofwolk wat opwalm agter die troostelose konvooi wat aankruie op wat in dié geweste bekend staan as die witpad tussen die Oshikangogrenspos en Ondangwa. By ’n Ovambokraal wuif die vlugtelinge vir ’n kind wat uit een van die hutte verskyn het om die prosessie oopmond gade te slaan. Dan word die son met ’n oorverdowende slag heeltemal uitgedoof. Die voorste burgerlike voertuig, ’n ou trok met houtbeslaande kante, steier soos ’n perd die lug in. ’n Wiel woer-woer oor die boomtoppe; matrasse, planke, meubels, stukke gereedskap word oor die veld gesaai. Die optog ruk tot stilstand, mense skarrel vervaard uit hul voertuie en vlug histeries die veld in.

      Die Buffel wat die konvooi gelei het, steek in sy spore vas. Hoe hy die landmyn gemis het, sal niemand weet nie. Die troepe vlieg van die bak af en neem weerskante van die pad stelling in. Agtertoe doen die flank-Buffels se soldate dieselfde. Die situasie is kritiek. Al is hul gewere gespan en gereed om ’n aanval af te weer, besef die soldate ook dat hulle nie durf skiet nie, want die bos wemel nou van gillende Angolese wat paniekerig op die vlug geslaan het.

      Die bevelvoerder se radio gons terwyl hy hom saam met die mediese ordonnans na die getroffe voertuig haas. Die bestuurder lê op die grond langs die verfrommelde stuurkajuit. Op die oog af moet elke been in sy liggaam gebreek wees; sy wangvleise staan in swartgekoekte repe van sy skedel af weg. Hy spoeg ’n paar onsamehangende woorde deur die ontvleesde kake en sterf op die toneel. Twintig minute later sak ’n helikopter in ’n oop kol langs die pad neer; die dooie word opgepik en afgevoer. Goddank daar was geen ander passasiers op die trok nie. Met die wegraak van die helikopter oor die boomtoppe, tree ’n mate van orde weer op die grond in.

      Die landmyn het die gevoel van veiligheid wat die Suidwes-Afrikaanse grondgebied gebied het aan flarde geruk, en daardie aand word streng veiligheidsmaatreëls toegepas. Die voorgenome sokker- en rugbywedstryde vind nie plaas nie.

      Soos die afgelope paar dae al sit Blackie Swart een van die vlugtelinge en dophou, ’n skraal man met ’n bokbaard en halfgrys hare wat hy in ’n poniestert bind. Elke agtermiddag, wanneer die nag se rendezvous bereik is, gebruik die man die laaste lig van die dag om te skryf aan wat bes moontlik ’n reisjoernaal moet wees. Hy bestudeer die omgewing ’n wyle, slaan die aktiwiteite van die émigrés in stilte gade, oorpeins oënskynlik sy woorde voordat hy dit versigtig neerpen. Selfs nou, ná die tragiese landmyninsident, volg hy dieselfde roetine.

      Blackie kan die versoeking nie langer weerstaan nie. Die middag se gebeure het hom geruk. Waarvan vlug ons so ylings weg as elke mens en elke hond uiteindelik tog maar sy dag kry? Hy skuifel na die ou man toe, vis ’n paar muntstukke uit sy broeksak en vra of hy ’n potlood by hom kan koop. Die man gee hom een verniet.

      Toe hy reken niemand kyk nie, skeur Blackie die kante van ’n Post Toasties-boks af en neem teenoor die vreemdeling stelling in. Hulle oë ontmoet en hulle wissel ’n vlietende vertroulike glimlag. Die ouer man slaan sy joernaal oop en Blackie sit die stuk karton op sy skoot. Skrywend begin die twee, elkeen ’n uitgewekene, hierdie wildernis in woorde verken.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

/9j/4RstRXhpZgAATU0AKgAAAAgADAEAAAMAAAAB