Luitenant Leo Steyn sein sy situasierapport deur na Sektorbeheer in Ondangwa. Hy vra dringende mediese hulp, en twee uur later kom ’n konvooi by die toring aan. Al was die gedreun van die voertuie van ver af hoorbaar, is dit steeds asof hulle uit die niet verskyn. Flou operasionele ligte glim soos bleek roofdieroë uit die donker.
Dinge is beslis besig om handuit te ruk in die operasionele gebied, dink Steyn. Dit gebeur nie maklik dat voertuie in die donker op sendings uitgaan nie. Goddank dat daar nog cowboys soos kolonel Bulldog Smuts in die bevelsgeledere is, manne wat staande orders sal verontagsaam ter wille van kamerade wat in die nood is.
Twee seksies infanteriesoldate bondel by die agterdeure van gepantserde Ratel-troepedraers uit. Hulle neem verdedigingsposisies om en binne die basis in. Twee ander troepedraers dreun verby om soldate aan die kaplyn te ontplooi sodat enige aanvaller wat nog nie oor die grens is nie se terugtog afgesny kan word.
’n Paar hondehanteerders wip van die bevelsvoertuig se bak af – hulle het hul hande vol om die twee kermende herdershonde in bedwang te hou. Bevele galm in die stilte. Personeel skarrel rond, struikel deur die puin en mortierkraters.
In die lig van ’n Landrover rits vier troepe die lyke van die gevalle soldate in kakiegroen lyksakke toe, dra dit dan na die byna verwoeste pompkamer en lê dit op die koue sementvloer neer. Hulle oorhandig die oorledenes se dog tags aan ’n administratiewe offisier wat die gebeure met ’n stroewe gesig volg, oë stipstarend na niks besonders nie.
Die gewonde Sakkie du Toit word gestabiliseer, hierdie keer deur ’n gekwalifiseerde mediese offisier. ’n Ordonnans help hom in ’n ambulans in. Hy sal later na die hospitaal op Oshakati afgevoer word. Dalk nog, so hoop hy heimlik, selfs na 1 Militêre Hospitaal in Pretoria. ’n Paar ander troepe kry behandeling vir mindere beserinkies en pyne. In die konsternasie en adrenalienvloed van die aanval het hulle nie eens besef dat hulle seergekry het nie. Nou soek hulle aandag, ’n simpatieke woord, ’n medemens se aanraking.
Kolonel Bulldog Smuts, bevelvoerder van Sektor Charlie, loop met sy vingers agter sy rug ineengevleg deur die basis. Luitenant Leo Steyn hou pas langs hom; effe senuagtig skets hy die besonderhede van die aanval. Die kolonel dra geen rangtekens nie, want dit kan hom die voorkeur van ’n vyandelike sluipskutter op die hals haal, sou een dalk nog iewers in die donker skuilhou.
“Jy besef natuurlik dat daai moerskonts julle vir ’n sucker gevang het, Luitenant.” Bulldog Smuts is omgekrap. Hoe langer hierdie stryd voortduur, smaak dit hom, hoe makliker laat sy soldate hulle deur die vyand se slimstreke uitoorlê.
Leo Steyn knik, asof kolonel Bulldog die gebaar in die donker kan sien. Hy is nie seker of die stelling ’n vermaning of net ’n waarneming was nie.
“Daai lig en vuur was net ’n slenter om julle aandag af te trek terwyl hulle oor die grens glip, reg onder julle neuse,” rammel die kolonel voort. “Die bliksems raak astranter by die dag.”
“Ek voel só kak oor die troepe wat dood is,” sê die luitenant floutjies. Voor die einde van sy sin begin sy tande klapper.
Die kort kolonel kom tot stilstand, draai na die junior offisier, lig sy hand en lê dit op sy skouer. “Dis ’n oorlog dié, ou seun,” sê hy. “Dié dinge gebeur in oorloë. Op die ou end is dit niemand anders as die oorlog se skuld nie.”
Die kolonel is dankbaar dis donker; dankbaar dat die jong man nie nou op sy gesig kan sien watse blatante snert hy besig is om kwyt te raak nie. Hy wéét immers wie se skuld die oorlog is! “En moenie dink die oorlog eindig hier nie,” sê hy met nuwe drif. “Een van die dae gaan julle huis toe, maar hoor my mooi, boetie, julle vat straks hierdie stryd saam met julle civvystraat toe.” Hy laat sak sy hand, tuur in die rigting van waar die aanval geloods is. “Dink jy julle het van hulle gekry?”
Luitenant Steyn knik. “Ek’s seker ons het. Hulle was baie naby; ek skat die Claymores het die ding gedoen.” Hy verbeel hom dat hy tussen die gedruis van voertuie en stemme deur pynkrete van anderkant die basisheining hoor. Hy besef egter ook dat dit dalk net geluide in sy kop kon wees, die doodsgekners van spoke. “Miskien moet ons die area gaan vee, daar kan gewondes wees.”
Kolonel Smuts swaai om. “Wel, as daar is, fók hulle! Dis te veel van ’n risiko om nou daar deur te gaan. Die plek is ten to one vol booby traps. Ons sal netnou gaan kyk wanneer dit ligter is. Ek gaan ’n klompie manne oor die grens stuur om ’n sweep te doen. Daar sal goeie spore wees om te volg. Dis tyd dat daai fokkers weer ’n slag leer met wie hulle te doene het.”
Leo Steyn sê niks, en hulle loop in stilte voort. In die ooste breek die lig van die nuwe dag floutjies bokant die boomtoppe. Veraf raak die gedreun van helikopters hoorbaar. Een van hulle sal by die watertoring neerstryk om die twee gesneuweldes se liggame af te voer, ’n paar ander sal die bosse langs die kaplyn van bo fynkam vir tekens van die nag se aanvallers.
Kolonel Smuts gaan staan, draai na Leo Steyn. “Ons het ’n infanteriepeloton saamgebring,” sê hy. “Hulle kan die plek verder bewaak. Vat jou boys saam met die voertuie terug Ondangwa toe. Laat hulle ’n bietjie unwind. Ek sal later vanoggend jou verslag by jou kry.”
“Dankie, Kolonel, ek sal hulle bymekaarkry. Dankie … nogmaals.” So byna salueer hy die senior offisier, maar dit val hom by dat hy die man se rang daardeur sou verklap. Hy laat sak sy hand. “’n Rustige dag verder, Kolonel.”
“Ja-ja, maar somehow dink ek nie so nie.” Die kolonel draai weg om ’n paar verdere orders te gaan gee. “Wat ’n fokop,” brom hy binnensmonds. Hy dink aan die twee liggame in die toegeritste lyksakke, die jong lewens wat so eensklaps kortgeknip is. Die onsmaaklike verslag wat nou weer op hom wag. Die ouers wat die nuus moet kry. Droeftrotse pa’s, hartgebroke ma’s. Hy glo darem nie daar sal kinders wees wat nou sonder ’n pa moet grootword nie – die eenheid bestaan grootliks uit dienspligtiges, basies nog ’n klomp skoollaities. Maar ’n mens weet nooit nie. En dan is daar nog die giftige media wat so maklik op loop gaan. Die koerante wat al hoe meer vingers wys na die bosoorlog en sy stygende dodetal. Kolonel Smuts wonder watse kakstorie die Weermag nóú weer gaan opdis om hierdie jongste ongevalle te verklaar. Dat die twee gesneuweldes onskuldig langs ’n swembad in Ondangwa gelê en tan het toe die verraderlike Swapo mortierbomme op hulle laat neerreën het? “Wat ’n fokop.”
Émigré
Suidoos-Angola, 1976
Die Hercules vlieg laag in oor die volslae duisternis. Die pneumaties beheerde laaibrug begin sak nog voor die wiele grond raak. Vier-en-twintig paar gesperde oë tuur agtertoe, gemesmeriseer deur die wyer wordende vragopening. Die troepe sit in gelid weerskante van twee Land Rovers wat deel uitmaak van die vrag. Namate die stukrag weens die landing afneem, knip die soldate hul veiligheidsgordels los en kom op wankelrige bene orent. Hulle begin seiluitrusting op hul rug en om die heupe vasgespe.
Die Land Rovers rol kort na mekaar by die vragopening uit. Vonke blits van die teerblad af as metaalonderstelle die aanloopbaan tref. Die voertuie slinger deur slaggate van die mortierverrinneweerde oppervlak, rol uiteindelik tot stilstand, oënskynlik sonder noemenswaardige skade.
Die einde van die aanloopbaan snel vinnig nader – die vliegtuig is steeds aan die beweeg – en dinge moet nou vinnig gebeur. Die gevegspersoneel moet almal uit. “Oukei, manne, let’s go!”
Met gewere voor die bors, steier die troepe na die vragdeur. Een vir een lig hulle hul wapens omhoog en lanseer hulself uit die bewegende vliegtuig na die onsigbare aanloopbaan daar iewers onder hulle. Hulle het hierdie sprong die afgelope paar dae oor en oor geoefen. Dit was tóé reeds moeilik genoeg, in daglig uit die oop bak van ’n stadig bewegende Bedfordtrok en waar jy die grond onder jou kon sien. Nou stort hulle in algehele donkerte na benede, steunend en vloekend wanneer hulle in mekaar vasstorm, of op die growwe, klipharde teerblad neerslaan. Toe die laaste man die grond tref, verskerp die geloei van die Hercules se turbines; die vliegtuig versnel en styg aan die ander punt van die aanloopbaan op sonder dat dit heeltemal tot stilstand gekom het.
Die soldate roep sag na mekaar. Hulle drom in klein groepe op die aanloopbaan saam. Dit is nie heeltemal so donker buite