'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ben Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158350
Скачать книгу
net ’n kopknik.

      “Jy het dit so, nè?” Die luitenant wag hierdie keer nie vir bevestiging nie en lanseer homself met ’n gil by die opening uit. Hy val hom half winduit, snak na asem en wriemel dan vinnig vorentoe. ’n Stroom ligspoorkoeëls trek lae, grasieuse strale oor sy plat profiel, sny deur struikgewas, laat reën stukke takkies en blare op hom. ’n Mortierbom tref die sagte grond skaars twintig meter van hom af. Uit die silwergeel blitskern zwoer skrapnelskerwe in alle rigtings. Kookwarm sand en klippies spat teen Leo, byt soos ’n swerm siedende insekte in sy vel in. Hy wurm hom nog platter teen die grond vas. Die bunker is so naby en tog so verdeksels ver!

      Fritz de Beer wikkel naarstig aan die instelmeganisme van die veldradio, sy vingers bewend, sy verstand is beneweld. Die gedreun, die onaardse gekraak en geloei, ontsenu hom heeltemal. Hy is boonop nou alleen in die vertrek en dit maak hom nog meer beangs. Dit voel asof die gedonder en geskud intenser geword het die oomblik dat die luitenant buitentoe geduik het. Die gedagte dat hy sy skuilplek moet verlaat om die radio vir die offisier te neem word oorweldigend. Hy loer buitentoe, sien die vlammeflikkering van die brandende seil van die wagtent digby die basishek; sien hoe sy bevelvoerder die bunkerlinie bereik het en in ’n loopgraaf wegsak.

      Dan bars die stralevlam van ’n RPG-vuurpyl deur die pompkamer. Twee meter van die hurkende De Beer word die beskerming wat die muur gebied het ’n gapende gat vol baksteenfragmente, stof en rook.

      Dit is alles een te veel vir die ordonnans se oorbeproefde senustelsel; hy los die radio en struikel proesend buitentoe, sy voorarm beskermend oor sy oë. ’n Vlaag koeëls vel hom neer.

      Van die manne in die loopgraaf sien De Beer neerslaan. Een van hulle kruip doodsveragtend uit sy skuiling en trek hom aan sy skoppende bene die bunker binne. Hulle ruk sy hemp oop, staar hulpeloos verskrik na die gate in sy lyf. Twee koeëls het sy bors en buik deurboor, nog een het die onderhelfte van sy gesig weggeruk, die bloed uit die wonde pols met stof en sand vermeng.

      “O, Heretjie tog!” Een van die soldate kreun en draai sy gesig weg. Die ander druk die spartelende troep vas. Met repe geskeurde klere probeer hulle die polsende wonde toedruk. Tevergeefs. De Beer beur half regop en bloed uit die gaping waar sy kakebeen en mond was, spat oor sy bevange helpers. Dan knak hy agteroor; sy oë verglaas en rol terug in hul kasse. Hy sterf in spastiese rukkings.

      Bo-op die watertoring lê skutter Cassie Carstens steeds plat op sy maag. Hy het hom tussen twee lae gestapelde sandsakke ingewurm. Hoewel die toringskag vol koeël- en skrapnelmerke en ander strydletsels is, is daar tot dusver geen aangetekende geval van ’n mortier-voltreffer bo-op die toringblad nie. Nie dat so ’n moontlikheid ondenkbaar is nie. Geensins. Die toring is tog ’n stilstaande en opsigtelike teiken, en met die mortierpyp se grondplaat op ’n stabiele basis en die pyp teen die regte hoek opgestel, met die windspoed en -rigting bygereken en die korrekte aandrywingslading in die stert van die missiel, behoort dit tewens heel maklik te wees om ’n 60 mm-bom reg bo-op die watertoring te laat val. Maar in die donker, as jy te voet en aan die beweeg is, en boonop ’n aks kort is aan krygservaring, kan die tóring netsowel ’n bewegende teiken wees.

      Toe die skote begin klap, het Cassie die instinktiewe drang weerstaan om in die toring af te skarrel en vir ’n loopgraaf te maak. Nou is hy dankbaar dat sy lam knieë hom teruggehou het. Aan die koeëlstrepe wat net bo die grond daar onder verbyzoem, lei hy af dat hy vir eers veilig is. Dit sou een moerse frats wees as hy hier bo-op die toring getref word. Solank hy laaglê, natuurlik. Hy het benoud ineengekrimp toe ’n opslag-RPG ’n paar minute gelede bo-oor die toring geruis het. Ook toe ’n geweergranaat teen die geronde kant van die struktuur ontplof het. Nou dat hy egter bereid is om geld daarop te plaas dat hy die aanval gaan oorleef, kan hy die situasie betreklik nugter in oënskou neem.

      Dan dring dit tot Cassie deur dat hy net veilig sal wees solank die troepe op die grond dit uithou. Dalk is nóú die bestemde tyd om hulp te ontbied. Maar kán hy, dít is die vraag. In sy opleiding is dit by hom ingedril dat hy nie in die army is om te dink nie. Iemand anders sal dit vír hom doen – sy korporaal, sy luitenant … Maar nou is hier niemand anders nie. Ag, fok, dis mos ’n kwessie van lewe en dood. Sý lewe!

      Hy grawe ’n rooi fakkel uit die houer op die toring, vuur dit in die windstil lug op. Dié noodsein volg hy onmiddellik op met ’n ligfakkel. Dit ruis die naghemel in, bars met ’n sagte plof hoog in die lug. Dadelik word die gevegstoneel verhelder. Terwyl die gloeiende fakkel aan sy valskermpie grondwaarts spiraal, vuur Cassie nog ’n ligfakkel boontoe.

      Nou, vir die eerste maal, huiwer die aanvallers. En nou, vir die eerste keer, het die weermagtroepe sigbare teikens waarna hulle kan vuur. Die voorste aanvallers staan eensklaps duidelik en binne trefafstand uit in die lig van die draaiende fakkels.

      Wanneer koeëls om jou begin verby zip, is die eerste instink om dekking te slaan. Die Swapo-aanvallers val plat, duik weg, spaander in alle rigtings. Vergete vir eers is die effektiewe vuur-en-beweging-maneuver wat hulle so byna tot in die vyand se stellings gevoer het. Met hul terugval neem die intensiteit en akkuraatheid van hul vuur vinnig af.

      “Claymores!” Luitenant Steyn se bevel galm oor die verdedigingslinie. “Vuuuur!”

      Die vier Claymoremyne, opgestel nét binne die basis se draadheining, word feitlik gelyktydig geaktiveer. Die naglug word geruk deur ’n boosaardige knal en ’n vlammewolk. Saamgeperste kruit en skrapnel vel mens en plant in oorvleuelende bane van vernietiging neer.

      Cassie Carstens stel die toringradio op Sektor se golflengte in. Feitlik onmiddellik is daar ’n respons, want iemand het reeds die noodfakkel opgemerk en gerapporteer. Cassie is nie seker oor die presiese omvang van hul nood nie; hy het ook geen idee hoeveel verliese reeds daar onder gely is nie. Radioprotokol was nog nooit een van sy sterk punte nie, daarom bevestig hy uitasem dat die basis aangeval word en die seksie hulp nodig het. “Zero, dis Tango Vier. Ons is in kakstraat! Kom help ons, asseblief!”

      ’n Gebiedende stem beveel Cassie om sy bevelvoerder op die lug te kry. Daar is geen manier waarop hy daardie instruksie kan ignoreer nie en hy klim skoorvoetend teen die trapleer af. Veels te gou na sy sin is hy onder. Al het die vyandelike geweervuur en bombardement bykans verstil sedert hy die ligfakkels afgevuur het, vertrou hy nie die vrede nie. Met die weermagtroepe steeds in hul loopgrawe sal hy nou die enigste bewegende figuur in die basis wees. In die verwarring kan hy deur sy eie mense platgetrek word. Hy huiwer gebukkend by die toringuitgang. Dan tree hy oor Felix Heyman se liggaam, gly in die gevalle soldaat se bloed en kom wydsbeen op die lyk neer, skarrel half regop, gril met sy hele lyf, en loer deur die toringdeur na buite.

      Die geveg het nou eensydig geraak. Net die basistroepe vuur nog sporadies op skimme anderkant die heining. Net toe Cassie genoeg moed bymekaar het om dit uit die toring te waag, gee luitenant Steyn die bevel om vuur te staak. Die geweergedonder vervaag tot ’n geknetter, enkelskote, en sterf dan heeltemal weg.

      ’n Dik, blou, bedompige stilte sak oor die basis neer. Dan, asof op bevel, bars ’n histeriese geklets los. ’n Troep begin triomfantlik, vuurwapen omhoog, in sy loopgraaf dans. Die soldate soek gerusstelling in mekaar se gesigte, in hul eie skril stemme. Hulle soek bevestiging dat hulle die aanval oorleef het. Dit is al wat nou saak maak; die gevallenes is vir ’n oomblik bysaak.

      Luitenant Steyn gaan van bunker tot loopgraaf om die verliese te bepaal. “Wel gedaan, manne,” prys hy twee troepe in een van die Claymore-bunkers. Hy hurk by Sakkie du Toit wat sy beseerde arm teen sy lyf vasdruk en van die pyn vorentoe en agtertoe wieg terwyl iemand probeer om ’n verband om die bloeiende ledemaat te bind. “Vasbyt, partner, ons gaan jou nou opfix,” probeer die luitenant troos, en skreeu dan: “Medic hierso, op die double!”

      ’n Briesie steek op. Dit ruis deur die blare en skuif die sluier van stof en rook oor die toneel weg. Aan die boomstamme gloei die kole rooier, knetter soos veraf geweervuur in die stilte. Vonkies jaag mekaar soos neonmiere oor die rokende seilskerm van die verrinneweerde toiletkraampie. ’n Soldaat urineer op die seil om die vonke te blus. Die plastiek-pislelies wat buite-om die toiletkraampie geplant was, is weggeskiet. Die toiletbakke aan die binnekant is vol koeëlgate.

      Die enigste ongevalle is die gesneuwelde Felix Heyman en Fritz de Beer, en dan die gewonde Sakkie du Toit. Leo Steyn kyk