'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ben Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158350
Скачать книгу
instruksies van die vorige aand; dat hulle sal verdeel en verskeie kontrolepunte langs die hoofpad beman. Hulle sal ook verkenningspatrollies in die nabye omgewing uitvoer, ingeval mense die kontrolepunte probeer ontduik deur boslangs te beweeg.

      ’n Hand skiet op en herhaal die steeds onbeantwoorde vraag. “Luitenant, waar de fok ís ons?”

      Die offisier besef hy sal hulle nie vir altyd in die duister kan hou nie. Hy hou dit kort en kragtig: “Suid-Angola. Die gebied word huidiglik beset deur gesamentlike Unita/FNLA-magte. Ons doelwit is om dit vir eers só te help hou. Julle is nie stupid nie, so moenie my vra waarom nie.”

      Dieselfde hand skiet weer omhoog. “Waarom al die geheimsinnigheid, Luitenant? En hoekom moet ons hierdie funny kak dra, en uit bewegende vliegtuie spring in die middel van die nag?”

      “Jy sê dit self, man: vir sekerheidshalwe. Die SAW is nie veronderstel om hier te wees nie. Nie amptelik nie, in any case.”

      ’n Ander soldaat steek sy hand huiwerig op. “Is daar vyandelike magte in die omgewing, en hoe sal ons weet as ons in hulle vasloop?”

      “Fokken tricky, daai ene. Ja, daar ís wel vyand in die omgewing. Hulle het nie gisteraand fireworks geskiet vir die coming of the virgins nie, jy weet. Hoe sal jy vyandelike magte van vriendelikes onderskei? Hulle dra almal min of meer dieselfde uniform, en het maar self moeilikheid daarmee. By and large dra die FNLA-boys – hulle is die good guys – groen kopdoeke en armbande en so aan. Die MPLA – hulle is die vyand – dra rooies. Dis húlle wat jy wil skiet. So, dis eintlik so easy soos ’n traffic light: groen laat jy deurgaan, rooi stop jy … verkieslik met ’n bullet. Maar moenie kanse vat nie. As jy twyfel wanneer jy op iemand afkom wat ’n gun dra, skiet eers en check dán die kleur van sy bandana. Enige ander vrae?”

      “Luitenant, vir hoe lank gaan ons hier wees?”

      “Vir so lank as wat nodig is. Luister, manne, ons moet aan die gang kom. Seksie Een, julle gaan noord hiervanaf; Seksie Twee suid. Drie clicks met die pad af, either way, sal julle die pantserboys kry. Daar sal julle verdere instruksies kry. Grawe behoorlik in. Jou loopgraaf gaan van nou af jou home from home wees. Good luck, chinas.”

      “Luitenant, gaan iemand hom begrawe of iets?” Blackie Swart knik in die rigting van die man onder die bos.

      “Wil jý dit doen? Hmm, ek het nie so gedink nie. As jy wóú, sou jy niks anders doen nie as stiffs begrawe vir die res van jou tyd hier.” Sóveel vir begrafnisreëlings vir die dooies. “O, en gooi hierdie loopgrawe toe voor julle loop.”

      Die luitenant maak met Blackie oogkontak. “Jy, kom hier. Kom gee my ’n hand.”

      Hulle kry elk ’n been van die dooie beet, sleep die lyk tot by die naaste loopgraaf en rol dit daarin, gehul in ’n wolk zoemende brommers. Dit lyk of die luitenant toe tóg ’n hart in hom het. Nadat die gat opgevul is, steek die offisier ’n stok in die sagte grond en haak die druppende helm daaraan. Hy ruik aan sy hande, trek ’n naar gesig en gaan was hulle uit ’n jerrykan op die naaste Land Rover.

      Laatoggend klim die soldate op die voertuie en vertrek in hul onderskeie rigtings. Oral is daar tekens van ’n onlangse, bloedige geveg, waarskynlik om beheer van die nabygeleë dorp, Pereira d’Eca. Die teerpad is oortrek van slaggate en kraters, die nalating van bomme, vuurpyle en myne. Die geboue langs die pad wat nog nie weggeblaas is deur grofgeskut of platgery is deur tenks nie, is vol koeëlgate en beverf met strydgraffiti.

      Die seksie wat noord gaan, ry verby die oorblyfsels van ’n lyk. Soveel voertuie het al oor die liggaam gery dat ’n papsagte, gryspienk maalvleis deur die verswarte uniform pers. Die weermagvoertuie jaag ’n swerm glimswart kraaie op wat besig was om aan die grieselige maal te pik.

      Blackie Swart ril. Roadkill, dink hy. Op die ou einde is die wonderbaarlike mens ook maar niks anders as roadkill nie.

      Hulle tref die pantserseksie aan die buitewyke van ’n feitlik vernietigde nedersettinkie aan. Langs die pad twee Eland-pantservoertuie oordek met kamoefleernet; hul 90 mm-kanonlope gluur onvriendelik in die twee verkeersrigtings.

      Die aankoms van die troepe lok weinig belangstelling van die bewoners wat nog in die dorp is. Vroegmiddag verskyn ’n groepie verflenterde kinders vanuit die ruïnes en begin ’n oënskynlik splinternuwe sokkerbal tussen mekaar rondskop.

      Ná drie weke se wagstaan en patrolliewerk en ’n oënskynlik doellose rondswerwery van die een strydverrinneweerde nedersetting na die ander in die Angolese bos, word die Burgermagtroepe een oggend beveel om hul toerusting te pak en op gereedheidsgrondslag te wees vir ’n nuwe sending. Reeds voor die middaguur beweeg hulle onder swaar gewapende geleide na wat oorgebly het van die eens florerende Pereira d’Eca in die suide van Angola.

      FNLA-soldate met gewere oor hul skouers en granaatwerpers aan hul sye hang in die strate rond. Vanaf elke balkon, uit die vensters en deuropeninge van elke gebou wat die afgelope veldslag min of meer oorleef het, gluur hulle die Suid-Afrikaanse troepe met hatige, bloedbelope oë aan. Die vinnig saamgeflanste alliansie op leiersvlak het nie die grondvlakagterdog tussen velkleur en kultuur ongedaan gemaak nie.

      Die SAW-patrollie kry koers na ’n plein in die middel van die dorp waar ’n aantal voertuie reeds bymekaar is. Elke kar, bussie en trok wat in die dorp beskikbaar was, is hier, en elkeen is tot ver verby selfs abnormale kapasiteit gelaai met besittings, vasgebinde diere, hokkies pluimvee en ’n swetterjoel familielede, die een meer verwaarloos as die ander. Hulle is vlugtelinge, Angolese boorlinge met Portugese burgerskap, wat op die punt staan om te vertrek op ’n gevaarlike tog na die relatiewe veiligheid van Windhoek in Suidwes-Afrika, van waar hulle per lugbrug na Portugal gevoer sal word. Die Suid-Afrikaanse infanteriemanne se opdrag is om die vlugtelinge te begelei, eers tot by die grenspos by Oshikango in Suidwes-Afrika, en dan na Ondangwa in Sentraal-Owamboland. ’n Taakmag van die Verenigde Nasies sal die begeleidingswerk daarvandaan oorneem en die mense tot in Windhoek bring.

      Dinge begin nie goed nie. Die honde kan nie saam nie. Daar is maar geen manier dat ’n brak vol bosluise en hondsdolheid uit die Afrikabos op ’n straler na Europa toegelaat sal word nie. Die diere se eienaars protesteer heftig. Omdat nie een groep die ander se taal verstaan nie, word die argument weldra ’n Babelse oor-en-weer-beduiery en geskree op mekaar. Die ontruimingsoefening beland in ’n riskante skaakmat. Die horlosie tik meedoënloos.

      Die troepe beraadslaag onder mekaar. Dit is van kritieke belang dat die operasie sonder verdere verwyl aan die gang kom, en die besluit word met somber gesigte uitgevoer: ’n Paar soldate vorm ’n kordon voor die vlugtelinge, lig hul geweerlope ’n aks hoër. Kneukels span wit om die vuurwapens se handgrepe.

      Die res van die Suid-Afrikaanse soldate ruk die leibande en -toue uit die honde-eienaars se hande, sleep die diere wat tjankend vasskop tot agter die naaste gebou. Dit is asof die skote deur almal op die dorpsplein ruk. Toe die laaste dier se gekerm stil raak, sak die vlugtelinge se koppe. Selfs die FNLA-soldate kyk anderpad toe die mense sonder hul honde sitplek op die oorvol voertuie probeer kry.

      Oplaas stotter die konvooi uit Pereira d’Eca. Net buite die dorp swaai dit suid, en kronkel soos ’n reuse- moeë slang in die rigting van die Suidwes-Afrikaanse grens. Die pas is uiters langsaam. Voor die voorste voertuig vee sappeurs van die Suid-Afrikaanse Weermag se Geniekorps die pad vir landmyne. Infanteriesoldate verken die gebied vir hinderlae. In normale omstandighede en met ’n goeie motor sou die tog enkele ure duur, maar na drie dae is hulle nog nie by die grens nie. Etlike van die afgeleefde voertuie gee finaal die gees, wat verdere oponthoude meebring. Waar noodherstelwerk nie help nie, word die vrag oorgepak op van die ander reeds oorlaaide voertuie, en die gesneuwelde skedonke word net daar agtergelaat.

      Die Suid-Afrikaanse soldate gee nie regtig om hoe lank die reis duur nie. Al wat saak maak, is dat hulle op pad is na Suidwes-Afrikaanse grondgebied, Afrikaanse wêreld. Elke tree neem hulle weg uit hierdie vreemde onherbergsaamheid, weg van die doodsangs wat soos sweet en stof en vlieë aan hulle kleef.

      Sal hy iets hieroor kan skryf? wonder Blackie Swart. Oor sy deelname aan iets waarin hy elke dag ’n groter weersin ontwikkel? Oor hierdie ellendelinge wat saamgebondel in hul armoede die onbekende ingedryf word? Hy is gewoond daaraan om alles