'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ben Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158350
Скачать книгу

      

      ’n Nuwe wildernis

      Ben Viljoen

      Human & Rousseau

      Nagaanval

      Ovamboland, 1973

      here I am, just another white god of the border

      perched vigilantly atop my ungodly watchtower

      mostly I see only sky

      dirt roads and trees

      but sometimes I see the future

      that’s how I know that through this heaving chest

      soon now the bullet will rush to put me to my rest

       25/12/1971

      Die versie is met ’n bajonet op die betonkoepel van Oshikango se watertoring uitgekrap. Elke soldaat wat in die afgelope twee jaar hier wagdiens gedoen het, ken dit. Sedertdien het ’n paar talentvolle graffitikunstenaars – ’n hele paar hopeloses ook! – dekoratiewe rame, vredestekens en psigedeliese blomme om die vers aangebring en dit in ’n besonderse gedenkplaat omskep.

      Soos vele skildwagte voor hom bestudeer Felix Heyman dit in die maanlig. Hy sien die datum. “Bliksem, watse kak Krismis moes dié ou nie gehad het nie,” sê hy. “Ek wonder of hy dit toe gemaak het.” Al praat hy sag, dra sy stem ver in die stil, hoë lug.

      “Of hy toe wát gemaak het?” Skutter Cassie Carstens steur hom nie veel aan sy makker se bepeinsinge nie. Sy kop is met ander dinge besig. Belangrike dinge. Soos om uit te werk hoeveel dae nog oor is voor hulle van hierdie vervloekte plek kan wegkom. En te wonder of sy bokkie nie dalk al begin rondfok het terwyl hy weg is nie. Baie belangriker dinge as om hom te verknies oor die lot van die een of ander weird oudgrenssoldaat.

      “Net gemáák, man. Terug huis toe ná daai Krismis of so iets.”

      “Ag, wie sal weet? Maybe hét hy, maybe het hy nié. Who the fuck cares?” Cassie haal sy skouers op, ongeërg, soos alle soldate op vreemde sendings in vreemde plekke. ’n Vlermuis fladder digby sy gesig verby, vir ’n oomblik flikkerend sigbaar teen die maan. Hy klap na die vlietende skaduwee. “Die fokken goed gee my die creeps!”

      “Vlermuise?”

      “Ja, man. Hulle het die hele Caprivi om in rond te vlieg, maar hulle sal altyd om jou kop kom rondbliksem.”

      “Ja.” Felix vee met sy mou oor sy mond. “Hulle is aardige fokken goed. Die locals glo mos as jy heavy kak aangejaag het in jou lewe, jy in ’n vlermuis verander as jy die planke slaan.”

      “Mmm, hulle sál sulke kak glo, ja.” Cassie gril, en koes by voorbaat, net ingeval nog een van die gevleuelde gediertes dit naby sy kortgeskeerde kop sou waag.

      Die watertoring by Oshikango, in die verre noorde van Ovamboland, is ’n uitstekende waarnemingspos. Dit toring meer as vyftien meter die lug in en bied ’n driehonderd-en-sestig grade uitsig oor die omgewing. Van daar kyk jy reg af op die kaplyn, die strook skoongekapte grenslyn tussen Suidwes-Afrika en Angola. Maar hierdie vuilwit gekalkte baken in die stofgroen landskap van die sentraalwestelike operasionele gebied is ook ’n onweerstaanbare teiken vir die vyand. Die koeël- en skrapnelmerke en die uitgeskiete vensters in die skag is bewys hiervan.

      Cassie Carstens tuur van die plat betonblad bo-op die toring neer op die grondpad wat daarlangs verbyloop. In die doflig van die sekelmaan kan hy iets sien beweeg; ’n oomblik vat hy sy geweer vaster, maar eien dan die sluipende gestalte van ’n rondloperhond. “Jy weet, ou Felix,” sê hy sonder om van die hond weg te kyk, “as ek ’n terr in hierdie plek was, sou ek my soos ’n hond disguise het. Dan’t ek gegaan net waar ek wil. Enige plek, enige tyd. Honde het nie ’n saak met curfews en sulke kak nie.”

      Felix het hom op sy rug lêgemaak. “My pa het altyd gereken as jy ’n hond was, sou jy jou bal in die middel van die pad gaan sit en lek het,” sê hy en tuur op na die oneindige uitspansel bokant hom. Die lae, flonkerende sterre fassineer hom nie meer nie, nie soveel soos die oneindige donker daaragter nie. “… en nie verstaan het hoekom die kar jou vrek getrap het nie. Mind you, as ék ’n hond was, sou ek …” Sy sin breek stomp af toe hy iets uit die hoek van sy oog sien: Aan die westekant van die basis flits ’n lig. Weer. Dis ’n vreemde sein. Soos ’n wurgende hand klem vrees om sy keel. “Hei, Cassie,” sê hy skor, “wat de fok is ’it daai, ou?”

      Cassie bring die nagsigverkyker na sy oë. Van hier is dit haas onmoontlik om te sê of die lig aan hul eie kant van die grens flits of aan die Angolese kant. “Dis te ver; ek kan fokkol uitmaak. Ons beter die luitenant laat weet.” Hy klik die veldradio na die bevelvoerder se frekwensie. “Zero Sewe, dis Tango Vier; boodskap. Oor!”

      Die offisier se ordonnans erken ontvangs vanuit die slaapsak waarin hy toegewoel lê, en Cassie gaan voort. “Tango Vier, lig … lyk na ’n torch of iets. Omtrent een en ’n half clicks … wes. Wag op instruksies. Oor!”

      Luitenant Leo Steyn brom ergerlik toe die ordonnans hom uit sy droom wakker skud. Dit was ’n lekker droom, al kan hy nou glad nie onthou waaroor dit gegaan het nie. Die offisier het die ongebruikte pompkamer van die watertoringkompleks as sy kwartiere ingerig, al vereis operasionele orders dat alle personeel in die loopgrawe en bunkers slaap wat op die terrein ingerig is. Oor die jare heen het daardie veiligheidsmaatreël maar min kans gestaan teen die relatiewe gemak, die amperse gevoel van huislikheid, wat die baksteenmure, sinkplaatdak en gladde sementvloer van die leë pompkamer inboesem. “Wat’s ’it, De Beer?”

      “Die radio, Luitenant; die toring. Hulle’t iets gesien.”

      “Gee hier. Zero Sewe, sê weer. Oor.”

      Cassie herhaal die boodskap. Hierdie keer klink hy benouder. Al die kak wat hier in die operasionele gebied gebeur, begin altyd ongesiens, ongemerk. Altyd onder die dekking van struik- en boomgewas, onder die sluier van die donker, uit die oog uit. ’n Flitsende lig in die stikduister nag wil die aandag trek, en dis nie hoe dinge in hierdie oorlog werk nie. Hier is iets aan die gang, en hy like dit fokkol. Dit stres hom uit as vreemde dinge in die nag gebeur. Selfs as daar niks gebeur nie, is dit al erg genoeg. Eintlik stres álles omtrent die plek hom uit. Die stilte. Die spookagtige, oneindige stilte. Die bos. Die eindelose duister bos. Die ewige gevoel van onheil. So ver die oog en oor kan reik, hang die onheil oor die plek. Dit rys bedags soos klam vingers uit die andersins droë aarde op, en daal snags soos satanspis uit die lug neer. Dit kom pak aan die agterkant van sy nek, kriewel teen sy skouers af. Hy staar stip na waar die lig steeds in die verte flits. Wragtig, iets is nie lekker hier nie!

      Die luitenant lig die radio se mondstuk weer. “Zero Sewe, beweeg die lig? Oor.” As dit ’n voertuig is wat rondbeweeg, kan hy by Sektor navraag doen of dit toestemming het om daar te wees. ’n Aandklokreël in die operasionele gebied verbied die ongemagtigde beweging van mense en voertuie tussen sonsondergang en sonsopkoms.

      “Tango Vier, dit staan stil. Ek sê weer, dit lyk soos iemand met ’n torch. Wag, nou’s daar ’n vuur ook. Oor.”

      “Ag fok, laat ek self kom kyk. Gee my twee minute. Monitor die situasie. Uit!” Luitenant Steyn glip sy voete in die militêre groen tennistekkies wat hy onder sy kampbed bêre. “De Beer, kry almal op stand-to,” beveel hy die ordonnans.

      Toe hy ’n minuut later sy geweer oor sy skouer slinger, lê De Beer steeds in sy slaapsak. “Hei, man, ek het gepraat!” Hy vat die kant van die sluimerende troep se kampbed vas en kantel dit sodat hy soos ’n sak aartappels op die grond val. Hy is nie mal oor hierdie nuwe ordonnans van hom nie. Daar’s net iéts aan hom …

      Felix Heyman leun oor die borswering wat die borand van die toring omspan; tuur ondertoe om te sien of sy leier op pad is. Sy silhoeët is ’n oomblik lank duidelik geëts teen die maan. Presies op daardie oomblik dat hy luitenant Steyn en sy ordonnans uit die pompkamer sien kom, stamp die swaarkaliberkoeël deur sy bors. Hy voel hoe hy deur ’n magtige, onsigbare hand van sy voete gelig en teen die binneste toringwering vasgeslinger word. Die impak stamp die lug uit sy longe, vul sy mond met die dik smaak van bloed. Doodse skok doof sy sig uit. Asof in ’n vae droom verbeel hy hom hy hoor veraf salvo’s geweervuur. Hy kan nie dink nie, maar sy opleiding en instink sê vir hom hy moet dadelik in ’n loopgraaf kom. Gryp-gryp kruip