'n Nuwe wildernis. Ben Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ben Viljoen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798158350
Скачать книгу
se onderstel van die grond af lig.

      Wanneer die troepe se oë gewoond is aan die bietjie lig wat die sterre vanuit die oop hemelruim kaats, begin hulle die omgewing verken. ’n Entjie weg kan hulle die vae buitelyne van ’n paar geboue uitmaak. Twee vinnige flikkers van ’n flitslig ontbied hulle na die kant van die aanloopbaan, waar die Land Rovers nou geparkeer staan. Die enjins grom reeds toe die troepe daar aankom, asof iemand haastig is om weg te kom.

      “Klim, boys,” gebied ’n stem toe daar van elke troep rekenskap gegee is. “Die volgende Herc’ gaan ons squash as ons nie van die runway af kom nie.”

      Die gedreun van vliegtuigenjins word inderdaad hoorbaar; die soldate gooi hul uitrusting agterin die voertuie en klouter bo-op. Hulle hou voor een van die geboue stil. Te oordeel na die grootte en vorm daarvan, moet dit die een of ander loods wees. Binne moet daar ’n lig brand, want in die sinkplaatmuur gloei die oë van koeëlgate.

      Die bevelvoerder is ’n luitenant in sy vroeë dertigs. Hy spring van die voertuig af en glip die gebou deur ’n syingang binne. Dertig minute later is hy terug. Hy beveel die bestuurders om die voertuie sowat ’n kilometer van die terrein af te neem – slegs konvooiligte, verstaan! – waar die troepe hulle vir die nag moes ingrawe. Hy sê hulle sal van die volgende dag af kontrolepunte langs die hoofpad beman. ’n Aandklokreël is van krag in die gebied. Geen mens of voertuig mag tussen sononder en sonop rondbeweeg nie. Verder moet enigeen wat in die dag by ’n kontrolepunt verbygaan, ondervra en deursoek word.

      “Waarvoor moet ons soek?” ’n Doodnormale vraag in doodnormale omstandighede. Maar hierdie omstandighede is nie doodnormaal nie.

      Die luitenant sug asof hy met ’n gehoorgestremde kind te doen het. “Jy het nie gelúister nie, meneer; julle job begin môre-óggend. Ons sal julle dán sê, oukei?”

      Meteens helder ’n reeks blitse die noordelike horison op. ’n Minuut later rammel ’n geluid soos swaar donderweer oor die soldate se stelling. “Weerlig,” brom een van die manne. “Dít sal nou net ons fokken luck wees om in die reën te moet slaap ná als wat ons vandag al deurgemaak het. Ek hoop nie dit waai diékant toe nie.”

      “O, weerlig, nè?” Die luitenant lag sinies. “In your fuckin’ dreams, boy. Dís hoe ’n artilleriebarrage in die nag lyk, my ou. En dit spyt my innig om jou die kak nuus te bring, maar ek’s bevrees dit sál hierdie kant toe waai. Maak seker julle grawe behoorlik in vanaand.”

      “Wat skiet so?”

      “G3’s.”

      “Ja, maar wie s’n? Is ons nie die enigste weermag wat G3-kanonne gebruik nie, Luitenant?”

      “Ons weermag is nie hier nie, oukei? Onthou dit!”

      Agter hulle stryk nog ’n Hercules neer, die suis van die turbines byna uitgedoof deur die gedreun van die bombardement in die verte. ’n Senuagtige stilte het hom tussen die manne kom tuismaak. Oë soek mekaar in die donker. Dit is hul eerste kennismaking met konvensionele oorlogvoering. Hulle is Burgermagtroepe, manne wat op kort kennisgewing opgeroep is om ’n militêre kamp by te woon. Elkeen van hulle het al diens gedoen in die guerrillastryd van die Suidwesgrens, waar hulle soms vir elf van die twaalf weke van hul dienstydperk geen vyand gesien of ’n aanvalskoot gevuur het nie. Die primêre doel was om die terrein te oorheers en die vyand uit die gebied te hou. Hulle het voetjie-voetjie met die plaaslike bevolking gespeel as teenvoeter vir die vryheidsvegters se eie propagandapogings. Verder het hulle ’n fees gehad, hul dae in die basis omgedrink, patrollietyd in die skadu van groot bome verwyl, geswem in riviere waar hul kanse beter was om krokodilkos te word eerder as om deur vyandelike vuur platgetrek te word.

      Ja, daar was wél kontaksituasies. Onder die sagte sand hét inderdaad landmyne geskuil. Nou en dan het ’n patrollie tóg geweervuur uit ’n hinderlaag getrek. En ja, jong manne aan weerskante van die ideologiese skeidslyn het gereeld genoeg die lewe of ledemaat of verstand verloor.

      Maar dié situasie is iets heeltemal anders. Hulle bevind hulle opeens aan die rand van ’n skrikwekkende en meedoënlose getier met die lug gevul deur die natrillings van kanonne en barstende bomme. Die nagbries bring die reuk van plofstof, brandstof, verbrande plantegroei en verskroeide vlees. Oplaas vra een die vraag wat die laaste paar uur in elkeen se gedagtes was: “Luitenant, waar in die hel ís ons?”

      Die offisier is duidelik nie in ’n bui om inligting oor te dra nie. “Reg in die middel daarvan, sou ek sê; slap bang in die middel daarvan. Kom, boys, grawe in! En as jy iets raakspit wat clank! maak, hier’s die dril: Skree vir die res van ons om te moer en gone pad te gee, en sê jou laaste gebedjie op.” Na dié gerusstellende woorde ken hy wagdiensbeurte toe vir die nag.

      Blackie Swart lê en rittel in sy loopgraaf. Sy agtergrond – christelik-nasionaal – het hom daarop voorberei om sy lewe vir volk, vaderland en God te offer. En hy is bereid, ja, maar nog nie gereed nie. Nie vanaand nie. Vanaand is hy so bang dat hy hom skaam vir homself. In ’n gevegsituasie kan die mens ’n mate van voorsorg tref teen die fisieke aanslag. Koeëlvaste klere en pantserstaal. Bunkers en loopgrawe. Maar hoe verweer jy die blootgestelde gees teen die vrees wat deur alles dring? Blackie se bene bewe onbeheersd, sy kake klem pynlik op mekaar.

      Dinge het weird begin raak kort voor hulle die diklywige vliegtuig in Kimberley bestyg het op pad na waar ook al. Hulle is beveel om langs ’n sloot aan te tree met elke stukkie weermaguitrusting en -toerusting in hul besit. Verstikkende rook het uit die sloot opgewalm. Hulle moes alles in die sloot gooi, alles – elke stukkie webbing in hul besit, elke pakkie kos, elke stukkie klere, tot die laaste stinkende sokkie. ’n Tegniese ordonnans het brandstof oor die spul uitgegiet en dit aan die brand gesteek. Derduisende rande se uitrusting het in vlamme en rook opgegaan; die ontploffende blikkieskos het herinner aan ’n gesimuleerde gevegsoefening.

      Van daar is hulle na die kwartiermeester se stoor gemarsjeer. Hier is hulle toegerus met die eienaardigste uitrustings: ligte kakiegroen gevegsbroeke en bypassende T-hemde, kakiegroen seilstewels en slaprandpette. Elkeen het ’n splinternuwe stel seiluitrusting ontvang, waarvan enige aanduiding van herkoms verwyder is. Selfs die blikkies en sakkies in hul rantsoenpakke was sonder enige handelsmerk, net ’n etiket wat die inhoud aangedui het.

      Dit was ook die groep soldate se laaste kontak met die res van die basis se manne. Hulle mag niemand gebel of op enige manier probeer kontak het nie. Hulle was stomgeslaan. Daar was g’n gesagsfiguur wat hul kon aanhoor nie en hulle het maar onderling gegis oor wat aan die gang was. Elkeen het sy eie mening gehad, en dit was onmoontlik om te besluit wie om te glo en wie om af te lag.

      Waar hulle nou twee-twee in ’n loopgraaf lê, is hulle steeds so dronkgeslaan soos toe. Hulle weet hulle is in ’n oorlogsone, iewers. Dáároor is daar ten minste geen twyfel meer nie. Maar waarom die snaakse uitrustings? In wie se oorlog is hulle, en wie sou die vyand wees? Sal hulle darem die vyand herken as hulle hom sien?

      Elke man kon netsowel op deurnagwagdiens gewees het, so min slaap kry hulle. Die veraf sarsies gordynvuur hou hulle wakker. Ook die onheilspellende stiltes tussenin.

      Toe die lug in die ooste begin verkleur, maak die manne blikkieskos en halfbekers koffiewater warm oor brandende Esbit-tablette. Hopelik sal die nuwe dag lig werp op hul situasie.

      Maar eerstelig bring afgryse. Van die hoop sand uit sy loopgraaf sien hy dit: iets in die skadu links van hom. Die lepel met boeliebief en blikkiesertjies stop halfpad na sy mond toe; sak terug na die dixie waaruit hy eet. Sy buddy hoor Blackie se keelgeluid en volg dan sy blik. Met ’n “jissis tog!” spoeg hy sy mond vol kos op die sand uit.

      Skaars tien meter weg, deels onder ’n bos in, lê ’n opgeblase lyk. Die reuk was heelnag om hulle, maar niemand het geweet waar dit vandaan kom nie. Die skewe staalhelm, driekwart vol swart gestolde bloed, ondersteun steeds die gevallene se kop. Brommers pak oor die lyk saam, terwyl maaiers in en uit die gesigsopeninge krioel, ook by die koeëlgat in sy voorkop.

      Van die troepe probeer hulle nonchalant hou. Hulle draai die rug en kou voort. Ander het niks om te bewys nie en by die aanskoue van die afstootlike gesig skud hulle die oorblywende kos in hul dixies op die grond uit. Een kniel ’n ent weg in die gras en gooi op.

      Die