'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу
In u boek staan hulle opgeteken. – Psalm 56:4, 9

      Soos so baie kere tevore gaan die psalmdigter by God hulp soek as dit met hom sleg gaan. En in hierdie psalm maak hy ’n wonderlike ontdekking: God weet reeds van sy swaarkry, Hy het selfs elkeen van sy trane in ’n boek opgeteken! Om hierdie rede is hy nie bang nie, maar vertrou hy op God om dinge vir hom weer beter te maak.

      Daar kan nooit ’n ramp met jou gebeur waarvan God nie bewus is nie. Hy ken jou deur en deur, Hy weet álles van jou: of jy sit en of jy opstaan, of jy reis en of jy oorbly. Hy weet van elke woord wat jy gaan sê – Hy weet selfs wat jy dínk!

      Daarom mag jy die voorbeeld van die psalmdigter volg en op God vertrou as jy bang is. Meer nog, God beloof dat Hy die oorsaak van jou ellende sal wegneem en ’n einde aan jou trane sal maak: “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra,” beloof Psalm 126:5–6. Ook al verdwyn jou swaarkry nie terwyl jy nog op aarde is nie, het jy die belofte in Openbaring 7:17 dat die Lam jou herder sal wees en jou na die fonteine met die water van die lewe sal lei, waar God ééndag al die trane van jou oë sal afdroog.

      Here God, ek neem U nou op u woord dat U van al my trane weet en elkeen van hulle op u eie tyd sal afdroog. Baie dankie daarvoor! Amen.

      18 Maart – Meer geloof, asseblief!

      18 MAART

      Lees: Markus 9:14–26

      Meer geloof, asseblief!

      “As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” – Markus 9:22–24

      Die storie van die pa wat sy siek kind na die dissipels gebring het, stel hulle in ’n bra swak lig. Alhoewel hulle al baie kere in die verlede met groot sukses bose geeste uitgedryf het, kan hulle dit hierdie keer nie regkry nie. Daarom wend die pa van die kind hom na Jesus. Hy is self nie seker of Jesus sy kind gesond kan maak nie: “As U tog miskien iets daaraan kan doen?” vra Hy vir Jesus. Markus vertel hoe Jesus dit sonder moeite regkry om die seun te genees. As die dissipels agterna wil weet waarom húlle misluk het, vertel Jesus hulle dat hulle geloof en gebed kort.

      Die meeste Christene is kenners van geloof. Ons weet ook dat geloof berge kan versit, alles kan vermag en God se hart bly maak. Tog, wanneer dit óns beurt is om in swaarkrytye in God te bly glo, faal ons byna elke keer; kyk ons soos Petrus na die hoogte van die golwe en die sterkte van die wind, in plaas van na God, en begin ons sink! Om hierdie rede is dit so maklik om jou met die versugting van die siek seun se pa te vereenselwig: al glo jy in God, soek jy hulp op dié plekke waar jy nog ongelowig is. As jy jouself weer betrap dat jy twyfel, bid gerus om meer geloof – dit is ’n gebed wat elke keer beantwoord sal word.

      Here, gee my meer geloof, en help my waar ek nog ongelowig is. Amen.

      19 Maart – Maak ’n verskil in swaarkrytye

      19 MAART

      Lees: Ester 4:6–17

      Maak ’n verskil in swaarkrytye

      “As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” – Ester 4:14

      Mordegai bring vir koningin Ester allesbehalwe goeie nuus: die ko-ning het ingestem om al die Jode in sy koninkryk uit te roei. Maar Mordegai vertel Ester ook dat dit dalk juis “met die oog op ’n tyd soos hierdie” is dat God haar koningin gemaak het. As koningin is sy in ’n posisie om haar volk te kan help. Alhoewel Ester die koningin was, was sy ook ’n Jood en sou sy saam met die ander Jode doodgemaak moes word, maar ómdat sy met die koning kan praat, kon sy dalk ’n verskil maak in hierdie krisistyd.

      Soms beland jy in ’n situasie wat nie vir jou lekker is nie. Dink ’n bietjie daaroor of jy nie dalk, soos Ester destyds, in ’n posisie is om ’n positiewe verskil te maak aan die heersende krisis nie. Ester gryp in die situasie in en slaag daarin om die Jode te red, al moes sy éérs bereid wees om haar eie lewe op die spel te plaas. Indien jy bereid is om dieselfde te doen en soos Ester op God te vertrou om jou te help, kan Hy jou ook gebruik om ’n positiewe verskil te maak op die plek waar Hy jou geplaas het. Vertrou Hom daarvoor! Al wat Hy van jou vra, is gewilligheid om deur Hom gebruik te word.

      Here, vergewe my dat ek so huiwerig is om in te gryp in ’n krisis. Maak my dapper en bereid om ’n positiewe verskil aan die situasie te maak, omdat ek weet dat U dit vir my moontlik sal maak. Amen.

      20 Maart – Onverstaanbare swaarkry

      20 MAART

      Lees: Job 2:1–10

      Onverstaanbare swaarkry

      Die Here vra toe vir die Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.” – Job 2:3

      God sê hier Self dat Job onberispelik geleef het; dat hy ten spyte van die ondenkbare rampe wat hom getref het, God nie een keer verwyt het nie. Dit gebeur baie keer dat kinders van God swaarkry, terwyl dit baie goed met mense gaan wat hulle nie aan God steur nie.

      Net soos geloof in God ons nie van swaarkry gaan vrywaar nie, is dit ook nie ’n gegewe dat mense wat sonder God leef wel hul verdiende loon gaan kry nie. Oënskynlik gaan dit met die meeste van hulle heel goed! Tog is die boodskap van die boek Job juis dat swaarkry ons nie van God af mag laat wegdraai nie. Soms laat God juis swaarkry in ons lewe toe om ons weer van die feit bewus te maak dat ons nie sonder Hom kán leef nie. Die enigste troos vir ’n Christen in so ’n situasie is dat God ons nooit alleen laat met ons swaarkry nie, maar dat Hy ons hande vashou te midde van lyding. Jy het boonop die versekering dat jou onverstaanbare aardse swaarkry nie vir altyd sal aanhou nie, maar dat dit vir jou eendag op die hemel self gaan uitloop.

      Here, ek kan my swaarkry van die oomblik nie verstaan of verwerk nie. Dit voel vir my so onregverdig. Vergewe my en leer my net weer dat U te midde van die swaarkry by my is en my vashou. Amen.

      21 Maart – Aan die ontvangkant van swaarkry

      21 MAART

      Lees: Job 4:1–6

      Aan die ontvangkant van swaarkry

      “Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat. Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur, dié wat wou val, het jy weer opgehelp. Nou het die ramp jou getref, en jy is platgeslaan … Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie …?” – Job 4:3–6

      Elifas getuig dat Job baie mense gehelp het wat swaargekry het. Nou is hy egter sélf aan die ontvangkant van swaarkry. Snaaks genoeg vergeet Job gerieflik van die raad wat hy in die verlede aan ánder gegee het, en waag hy dit om God se handelswyse te bevraagteken.

      Dit is baie maal met óns ook die geval dat ons gewoond daaraan is om ander mense moed in te praat, maar as die swaarkry ons persoonlik tref, vergeet ons skoon van die goeie raad wat ons so kwistig uitgedeel het; dan is ons soos Job “verslae en gebroke”. As jy jouself in hierdie prentjie erken, volg gerus Elifas se goeie raad: glo dat God vir die mense sorg wat Hom dien. Dit is altyd ’n goeie plan om oor jou eie lewe terug te kyk en aan al daardie kere te dink toe die Here jou in die verlede gehelp het, soos die psalmdigters dikwels doen. Wanneer jy dit gedoen het, kyk op na God en vertrou Hom om jou weer ’n keer te help. Job se storie het ’n gelukkige einde en dit sal van jou ook waar wees indien jy jou persoonlike terugslae ervaar as dinge wat uiteindelik jou geloof gaan versterk en jou nader aan God gaan bring.

      Here, maak dit vir my moontlik om in swaarkrytye op U te vertrou en aan al die kere in die verlede te dink toe U my gehelp het. Doen dit asseblief nou ook. Amen.

      22 Maart – Stel jou saak aan God

      22 MAART

      Lees: