'n Uur van lig. Nina Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nina Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315861
Скачать книгу
mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ’n vonk wat opskiet. As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê.” – Job 5:7–8

      Elifas waarsku Job dat élke mens vir swaarkry gebore is. Tog troos hy Job uit sy persoonlike ondervinding en gee hom goue raad: gaan na God toe en stel jou saak aan Hom, raai hy hom aan (vgl Job 5:8). Dan verduidelik hy vir Job presies hoe wonderlik God is en hoe goed Hy vir sy kinders sorg. Ook wanneer Hy ons wonde toedien, verbind Hy hulle weer.

      In jou persoonlike swaarkrytye is dit die heel beste om die swaarkry met God te deel, met Hom daaroor te praat. Hy is die heel beste Trooster, en alhoewel Hy jou soms laat wag op uitkoms, vra sy kinders Hom nooit tevergeefs om hulp nie.

      Daar is egter twee dinge wat jy behoort te weet:

      Jy sal God nooit kan verstaan nie. Daarvoor is Hy te groot en magtig.

      Op aarde is elke mens aan lyding uitgelewer; ook jy gaan dit nie vryspring nie.

      Dat God nie met jou verstand raakgevat kan word nie en dat jy op aarde gaan swaarkry, is ’n gegewe, maar nou weet jy na Wie toe jy kan gaan sodat daardie swaarkry ligter kan word. Jy het boonop God se belofte dat Hy eendag in sy nuwe wêreld vir altyd ’n einde aan alle swaarkry gaan maak (vgl Openbaring 21:4).

      Here, dankie dat ek my swaarkry met U mag deel en seker kan wees dat dit eendag in u nuwe wêreld vir altyd iets van die verlede sal wees. Amen.

      23 Maart – Vlerke soos ’n duif

      23 MAART

      Lees: Psalm 55:1–12, 17–20

      Vlerke soos ’n duif

      Ek het gesê: “As ek maar vlerke het soos ’n duif, dan sal ek wegvlieg en rus hê!” … Verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate … Maar ek roep tot God, en die Here sal my verlos. – Psalm 55:7, 12, 17 (Nuwe Lewende Vertaling)

      In hierdie psalm vra die psalmdigter vir duifvlerke sodat hy uit sy omstandighede kan ontvlug. En die omstandighede klink nogal bekend: verwoesting is aan die orde van die dag, verdrukking en bedrog heers in die strate!

      Almal van ons het al by tye gewens dat ons vlerke soos ’n duif gehad het sodat ons ons negatiewe omstandighede agter ons kan laat en na ’n plek van vreugde en veiligheid kan vlug. Veral tans laat die toestande in ons eie land veel te wense oor, en soms lyk dit vir ons of dinge nooit weer beter sal gaan nie. Vir mense wat dreig om moed te verloor, is daar ’n oplossing in vandag se kernverse opgeteken: “Maar ek roep tot God en die Here sal my verlos. God sal hoor en antwoord.” As jou negatiewe omstandighede van die oomblik jou weer wil onderkry, volg gerus die raad van die psalmdigter. Dit is vandag nog net so relevant as toe hierdie psalm geskryf is. In gevaartye, moeilike tye, moedelose tye, kan jy steeds tot God roep. Hy waarborg vandag nog jou veiligheid. Alhoewel sy kinders nie van alle rampe en teenspoed gevrywaar is nie, het ons die versekering dat God bý ons is in hierdie omstandighede en dat Hy ons uiteindelik daardeur sal dra.

      Hemelse Vader, met U by my het ek nie eens duifvlerke nodig nie, ek kan maar net my kommer aan U oorgee. Dankie daarvoor! Amen.

      24 Maart – Die beste plek vir jou bekommernisse

      24 MAART

      Lees: Psalm 55:21–24

      Die beste plek vir jou bekommernisse

      Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie. – Psalm 55:23 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Wanneer ons vir ’n lang ruk ons fisiese omstandighede as negatief ervaar, is dit feitlik onvermydelik dat ons uiteindelik mismoedig en bekommerd sal raak; dat ons later selfs vir God uit die prentjie sal laat omdat ons so bang vir die toekoms is. Die meeste Christene is dan ook op die oomblik, ten spyte van hul geloof in God, steeds bekommerd oor baie dinge. Ek betrap myself die afgelope tyd dat ek tob oor die naderende ouderdom: of ons gesond sal wees, genoeg geld sal hê vir die hemelhoë mediese kostes … Of ons kinders en kleinkinders nog veilig sal wees en werk sal hê met die regstellende-aksie-monster wat om elke hoek loer …

      Is jy ook ’n kommerkous? Gelukkig is al die lang lyste faktore waaroor jy jou so bekommer glad nie nodig óf relevant vir Christene nie. Jy weet mos reeds waar die beste plek vir hierdie bekommernisse van jou is. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus (1 Petrus 5:7). Hy gee sy lesers presies dieselfde raad as vandag se kernteks. Gee sommer nou elkeen van jou bekommernisse oor aan die Here, góói hulle na sy kant toe, en bespreek hulle met Hom. Hy sal vir jou sorg. Boonop weet Hy reeds van elkeen van hulle en Hy onderneem om jou nóóit teleur te stel nie. Vertrou Hom dus as kommer weer aan jou deur kom klop.

      Hemelse Vader, dis so gerusstellend dat U kinders maar elkeen van hul bekommernisse na U kan bring met die seker wete dat U sal sorg. Ek wil dit sommer nou dadelik doen. Amen.

      25 Maart – ’n Plek van veiligheid

      25 MAART

      Lees: Jesaja 10:1–4

      ’n Plek van veiligheid

      Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees? – Jesaja 10:3 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Israel het deur die eeue dikwels geweier om ag te slaan op God se waarskuwings. Die profeet Jesaja waarsku dat moeilike tye vir hulle wag, tye waarin hul skatte nie langer veilig sal wees nie.

      Daar was heel waarskynlik nog nooit ’n tyd in die geskiedenis dat ons so baie aan misdaad en geweld blootgestel is as in die laaste paar jaar nie. Baie mense verlaat die land op soek na ’n veiliger tuiste. Dié wat agterbly, voel onveilig en bestee groot bedrae geld daaraan om hul hulself en hul huise te beveilig. Die veiligheidskompleks waarin ons woon, het elke denkbare veiligheidsmeganisme: bemande hekke met kameras en kringtelevisie, ’n hoë elektriese omheining buite om, veiligheidswagte wat in die kompleks rondry … En tog het skelms al ’n paar maal daarin geslaag om ál die veiligheidsmeganismes te omseil en hier in te breek! Daar ís net nêrens meer waar ons aardse “skatte” veilig is nie.

      Miskien moet ons begin om op ’n ánder plek skatte bymekaar te maak; ’n plek waar hulle nie aan diewe blootgestel sal wees nie. Jesus vertel in die Bergrede dat ons vir ons hemelse skatte moet versamel, skatte wat nie geroof kan word nie. Hou dus op om besorg te wees oor aardse besittings en begin solank om vir jou skatte in die hemel bymekaar te maak. Dis die enigste plek waar hulle – en jy – werklik veilig sal wees.

      Here, vergewe my dat ek so onveilig voel en tog voortgaan om wêreldse skatte bymekaar te maak. Leer my om van nou af op dié ewigheidsdinge te konsentreer wat vir U belangrik is. Amen.

      26 Maart – God seën die treurendes

      26 MAART

      Lees: Matteus 5:3–12

      God seën die treurendes

      “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” – Matteus 5:4

      Wanneer jy hartseer beleef, ontdek jy meermale dat jy ín hierdie hartseer vir God ontdek, dat jy Hom beter leer ken, dat Hy ’n groter werklikheid vir jou word, dat dit net Hý is wat jou op die regte ma-nier kan troos. Jy het ook die versekering dat God jou deur en deur ken, dat Hy van jou hartseer bewus is en dat Hy ook weet hoe om jou weer beter te laat voel. Die hartseer waarvan Jesus in hierdie teks praat, dui eintlik op hartseer oor sónde. Meestal is dood of verlies wat jou hartseer veroorsaak dan ook ’n indirekte gevolg van sonde. Jou hartseer maak jou dus bewus van die feit dat jy in ’n sondige wêreld leef én self sondig is. Eers wanneer jy jou sonde