Die een oplossing vir die lewe. Henry Cloud. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Henry Cloud
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315854
Скачать книгу
toelaat dat dit met my gebeur nie.” As jy nie ’n goeie begrip van persoonlike perke het nie, is dit onvermydelik dat jou maatskappy, jou klante, jou vriende, jou take, jou missie, die mense wat jy liefhet en die mense wat jy “nie behoort lief te hê nie” jou begin definieer. Jy sal uiteindelik nie wees wat jy is nie, maar wat hulle besluit jy gaan wees. Jy sal beheer oor jouself verloor.

      Jou vermoë om perke te stel is allerbelangrik vir goeie grense en om as persoon suksesvol te wees. Dit is deurslaggewend om die streep te kan trek en te sê: “Ek gaan tot hiertoe en nie verder nie.” Dit is ’n groot deel van hierdie boek se boodskap. As jy dink aan die scenario’s in die eerste hoofstuk, is ontbrekende perke van die een of ander aard ’n faktor in elke situasie. As elkeen ’n streep kon trek en sê: “Tot hier toe en nie verder nie,” sou elke uitslag anders gewees het. In hierdie boek gaan ons noukeurig kyk na jou perke, hoe goed hulle werk en hoe om hulle te verbeter. Maar het jy al gedink aan wat sal gebeur as jy nie perke het nie of hulle oorskry word?

      • Wanneer iemand jou verdryf, swig jy en beland jy op ’n plek waar jy nie wou wees nie.

      • Wanneer ander meer eis as waarvoor jy tyd het, stel jy nie die perk nie en beheer hulle jou tyd en lewe.

      • Wanneer ander se disfunksie of probleme vir jou probleme en meer werk veroorsaak, skop jy nie vas en weier dat hulle jou verder beïnvloed nie.

      • Wanneer daar ’n morele of etiese dilemma opduik en iemand druk op jou plaas om iets te doen waaroor jy nie gemaklik voel nie, doen jy dit nogtans en voel teleurgesteld in jouself of beland in die moeilikheid.

      Ek kan eerlik sê dat ek nog nooit iemand teëgekom het wat op lang termyn suksesvol was wat nie sterk persoonlike grense gehad het nie. Dit is deurslaggewend. Iemand het gesê mense se sukses is direk eweredig aan hul vermoë om te konfronteer. As jy nie ’n probleem kan konfronteer en dit beperk nie, sal dit jou uiteraard inhaal. Perke red jou lewe. Die probleem in ons individuele ontwikkeling is dat ons perke tot niet gaan of betwis word of glad nie gestel word nie. As volwassenes, wanneer daar baie meer op die spel is, moet ons die wolwe dan sonder enige beskerming aandurf. Dan kry ons seer en word soms vernietig.

      In die volgende hoofstuk kyk ons na hoe jou grense afgebreek word of kragteloos raak. Vrees speel ’n belangrike rol, en ons sal sien hoe. Begryp vir eers net die konsep. Jou perke help om jou te definieer en bepaal die struktuur, vorm en uitslag van jou lewe. Hulle is die rede waarom maatskappye ’n missiestelling het om die identiteit en perke van wat die maatskappy is en nie is nie, te omskryf. “Ons doen dit nie” is een van die belangrikste dinge wat ’n maatskappy kan sê. Dit hou die aandag van sy belanghebbendes gefokus op wat hulle behoort te doen. Dit is ook van die belangrikste dinge wat ’n individu kan sê.

      Vraag: Waar word jy verby jou perk gedryf en laat jy toe dat iets gebeur wat jy nie wil hê moet gebeur nie, hetsy jy dit doen of ander dit aan jou doen? Watter grense van ander eerbiedig jy nie hoewel dit beter sou wees as jy dit doen?

      5. Waardes

      Ons waardes is nog ’n belangrike aspek van ons karakter se struktuur. Dit is die dinge wat vir ons waardevol is wat ons uiteindelik in stand hou en afdwing. Ons beskou dinge wat vir ons waardevol is as kosbaar en die moeite werd om voor te veg. Hulle is ook die strukture wat ons pogings orden tot gefokusde optrede om meer te lewer van dit wat vir ons waardevol is.

      As ’n gesin byvoorbeeld opvoeding as waardevol beskou, sal hulle werk om geld daarvoor te spaar en dan hul geld aan opvoedkundige aktiwiteite, ondernemings en ervarings bestee. Dit is gefokusde optrede. Hulle sê ja vir sekere dinge en nee vir ander. Daardie waarde definieer en organiseer hul hulpbronne in ’n gefokusde rigting. Die waardes vorm hul identiteit in hierdie opsig.

      As ’n maatskappy byvoorbeeld waarde heg aan uitnemendheid, fokus hy sy hulpbronne, stelsels en pogings op die bereiking daarvan. Hy dwing ook sy waardes af en sê nee vir gedrag, gesindhede of werk wat nie aan die waarde van uitnemendheid voldoen nie of dit weerspreek. Onbevredigende werk word verwerp of teruggestuur vir verbetering. Deurlopend onbevredigende werk word nie geduld nie. Dit word uitgesonder, beperk en afgekeur. Die waardes vorm die identiteit van ’n maatskappy.

      Dieselfde geld ook vir jou persoonlike identiteit en karakter. Jou waardes vorm jou gedrag, fokus en rigting. In sekere sin word jy uiteindelik wat vir jou waardevol is. Dit sal jou ware noord wees, die kompasstelling wat jou in ’n bepaalde rigting laat gaan. Dit is waarom dit so belangrik is om sekere waardes by kinders in te skerp. Daardie waardes sal hulle lewenslank lei. Hulle sal uitdrukking daaraan wil gee en geleenthede soek om die waardes uit te leef sodat dit hul gedrag en keuses sal rig.

      Later, in Hoofstuk 5, waar ons die “oudit” bespreek, sal ons meer oor waardes en hul rol in die struktuur van jou grense praat. Onthou intussen net dat jy hulle op die een of ander manier uitleef. Jy bestee jou tyd, energie en hulpbronne aan wat vir jou belangrik is. As jy nie die gewenste resultate kry nie, is party van die dinge wat jy as waardevol beskou nie besonder nuttig of voortreflik nie. Dalk heg jy byvoorbeeld meer waarde aan mense se toegeneentheid as aan jou eie oortuigings sodat jy toegewings maak en word wat hulle op enige bepaalde oomblik wil hê jy moet wees. Gevolglik kry jy dit waarop jou waardes jou laat fokus: die onmiddellike vreedsame saambestaan met verskeie mense ten koste van wie jy as persoon is of van die verwesenliking van jou visie. Of dalk is dit vir jou belangriker om foute te vermy as om innoverend te wees (en moontlik foute maak voor jy dit regkry). Aangesien dwaalspore ’n noodsaaklik deel van die innoveringpad is, kom jy nooit buite die veilige gebied nie en bly dus getrou aan jou werklike waarde: geen mislukkings nie.

      In elk geval is ’n besluit oor jou waardes ’n belangrike deel daarvan om ’n ongeskonde, gedifferensieerde en versekerde mens te wees, asook die vermoë om daardie waardes in moeilike omstandighede uit te leef. Die oudit sal jou help om jou waardes te bepaal, en die res van die boek sal jou help om hulle te verwesenlik.

      Vraag: Watter dinge in die lewe beskou jy as die waardevolste? Sal jy weens jou optrede op grond van hierdie opvattings in ’n hof veroordeel kan word?

      6. Selfbeheersing, vryheid, selfstandigheid

      Woordeboeke definieer “selfbeheersing” as die vermoë om jou gevoelens, begeertes, gedrag en impulse te beheer. Party betrek konteks, byvoorbeeld om dit in moeilike situasies te kan doen. Hoe jy dit ook al definieer, selfbeheersing is die vrug van die soort struktuur wat ons reeds bespreek het. Per slot van sake plaas goeie grense jou in beheer van die enigste persoon wat jy kan beheer, naamlik jouself. Dus, selfbeheersing. Jy is vry van ander, ’n onafhanklike, selfstandige persoon.

      Selfbeheersing is die wese van ware mag. Die paradoks is dat mense in hul pogings om ander te beheer, wat hulle nooit kan doen nie, beheer verloor oor hulself, die enigste persoon wat hulle kan beheer. In die volgende hoofstuk sal ons kyk na hoe mag werk en, ewe belangrik, hoe dit in duie stort. Uiteindelik spruit dit uit beheer oor jouself.

      Ons konsentreer nou op die rol wat struktuur in selfbeheersing speel. As jy nie ’n stop-of-gaan-skakelaar in jou kop het nie, is jy nie in beheer van jouself nie. As daar vrese of konflikte is wat inmeng – of jy nooit met enige van bogenoemde strukture geprogrammeer is nie – sal jou selfbeheersing voor magte van buite of van binne swig. Jy sal dit onvermydelik verloor en die gevolge moet dra. Jy wil ’n stem in jou kop hê wat jou in die regte rigting stuur en op die regte oomblik kan sê: “Ja, doen dit,” of ander kere: “Nee! Bly weg daarvan.”

      Mense beland in die moeilikheid as die ja-en-nee-stem hulle in die verkeerde rigting stuur. Weens druk van buite of innerlike impulse of behoeftes sê hulle ja vir dinge wat hulle van koers af stuur of hulle in die moeilikheid laat beland. En om soortgelyke redes, gewoonlik vrese of behoeftes, sê hulle nee vir die keuses wat hulle behoort te maak. Ons besef dikwels nie dat hierdie vermoëns ook van buite geïnternaliseer word nie, nes al die ander strukture wat ons bespreek het.

      Jare gelede het ek by vriende gekuier en toe ’n wonderlike voorbeeld van hierdie soort ontluikende struktuur in die verstand van hul driejarige gesien. Ons het almal een aand televisie gekyk, ’n DVD van die beste jare van Saturday Night Live. Net omtrent toe die “Weekend Update” sou begin, het Billy besluit hy wil aandag hê en voor die TV begin rondloop sodat ons nie die skerm kon sien nie. Sy pa het gesê hy moet padgee